Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Oom Kiewiet en Ta’ Makkie se lanterfantery.

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 6 Oktober 2019 Aantal woorde: 1202 96 Kere gelees 2

Oom Kiewiet was ‘n kraakvars teologie student toe hy Ta’ Makkie ontmoet het. (Toe was hulle natuurlik nog nie “Oom en Ta’” nie.) Hy was so vars dat hy nog ‘n Bybelversie opgesê het as hy sy toon stamp, in stede van vloek soos die res van ons. Sy was ‘n sekretaresse vir een of ander staatsamptenaar in die piesangraad. (Jy’s dalk so jonk dat jy dink daai is ‘n grappie. Dit is nie. Vroeër jare was daar ‘n “Raad” vir al wat ‘n vrug, groente en proteïen is. Ek weet nie wat het hulle nou eintlik gedoen nie, want na die Rade almal ontbind is, toe proe ons aartappels, piesangs en eiers nog presies dieselfde.)
Ta’ Makkie was dalk 10 jaar ouer as Oom Kiewiet, maar dit het nie die liefde gekeer nie. Sy was beeldskoon en ervare en hy was vol energie en gewillig om te leer. (Maar nie alles op een slag nie, want ‘n dominee wag mos eers dat daar getrou word. Of so sê hulle.)

Oom Kiewiet het sommer self die preek en seremonie gedoen, want hy ken mos al die vrae en antwoorde; hoekom sal hy nou iemand anders betaal as daar niks met sy hande fout staan nie?
“Beloof ek hier dat ek soos ek vir Makkie belowe het, dat ek altyd by haar sal bly? Ja ek belowe.”
Dit was effe vreemd om ‘n Dominee sien so praat met homself. As die res van ons so met onsself praat by die werk, dan dink die ander mense mos ons is mal.

Die huwelik was een waaroor daai boeke geskryf word. Alles was perfek. ‘n Huis vol liefde en kort voor lank vol kinders – want selfs ‘n dominee se geduld moet vergoed word. Die jare het gekom en gegaan. Oom Kiewiet het die harte van die gemeente gewen en net gepreek oor geld as daar ‘n lek in die kerk se dak was. Ta’ Makkie het ge-sekretaresse en na ure die gemeente se dames aangevuur om die lekkerste koeksisters te bak en die warmste mussies te brei.
Selfs die kinders was oulik en voorbeeldig en nie te veel van die gemeente se kinders geleer om die Nagmaalwyn soos shooters te drink of tabak te pruim nie. Die paartjie se kinders is naderhand uit die huis en die nodige pligte gedoen om te sorg dat daar kleinkinders was. Of dit nou vóór of ná die huwelik was, is nou regtig nie belangrik nie.

Toe die piesangraad se skille getel is, en die deure toegeslaan word, word Ta’ Makkie maar ‘n tuisteskepper. Sy het egter die konsep heel verkeerd verstaan. Toe sy haar werk verloor, toe besluit sy sommer om heeltemal haar hande neer te lê. Niks is tuis geskep, afgestof, gesuig, gewas of gebak nie. Maar Oom Kiewiet het nie omgegee nie. Hy het Ta’ Makkie op sy hande gedra want na al die jare was sy liefde vir haar steeds vurig. En boonop is daar nog op die troudag beloftes gemaak…
Die ewewig tussen liefde en geduld is tot die uiterste toe beproef toe Ta’ Makkie so lui word dat sy vir haar ‘n rolstoel aangeskaf het. Dis nie dat daar fout was met haar bene nie. Loop was net hopeloos te veel werk vir iemand wat nie meer werk nie. Oom Kiewiet moes alles doen in en om die huis so tussen die aankeer van geestelike skape en vang van menslike visse.

Die huwelik van 40 jaar het aangeloop 50 jaar toe. Oom Kiewiet het ook afgetree en die tweetjies het ingetrek by die naaste ouetehuis – Huis Hierfo Kenrusons. Wanneer Oom Kiewiet nie vir Ta’ Makkie moes bad, aantrek en rondstoot van skinder sessie na skinder sessie toe nie, het Oom Kiewiet vir die oues van dae versies gelees en help vergifnis vra vir hul tienerjare se sondes. En herinner dat “buite-egtelik” nog steeds “buite-egtelik” is, al is jy 80, 3 keer geskei en verveeld.
Dit was nie lank na die sestigste huweliksherdenking nie, toe slaan Ta’ Makkie se rolstoel ‘n ‘bearing’ (soos hulle in die Noorde sal sê). Ta’ Makkie vlieg – op 90-jarige ouderdom – van die rolstoel af soos ‘n gekreukelde Batman en koop ‘n stuk grond voor die eetsaal se tuin. Die dokter is laat kom, en na ‘n bietjie voel en druk is die kleinkinders en agterkleinkinders ook laat kom om totsiens te kom sê. Oom Kiewiet het solank die preek begin skryf vir die begrafnis. (Want hy kan mos.) Niemand is seker of dit ‘n wonderwerk was nie, en of Ta’ Makkie net te lui was om dood te gaan nie, maar sy het deurgetrek.
Oom Kiewiet se geduld het einde se kant toe begin staan, nie dat hy dit hardop vir iemand sou sê nie. Hy het byvoorbeeld wanneer hy gebid het, nou en dan genoem dat “Ta’ Makkie is nog hier” met die vrees dat daar dalk van haar vergeet is. Elke keer as Ta’ Makkie net ge-kugge het, dan het Oom Kiewiet sy preek vir die begrafnis uitgehaal en weer deurgegaan. Maar Ta’ Makkie was nie van plan om iewers heen te gaan nie. Sy was te bang dat daar gewerk moet word in die hemel…

Ta’ Makkie was 97 toe sy oorlede is. Die dokter meen dis maar ouderdom, maar Oom Kiewiet het geraai dat sy maar net te lui geraak het om asem te haal. Oom Kiewiet het teen die tyd die begrafnis-preek al uit sy kop geken en die begrafnis is foutloos gelewer. Selfs die mense wat nie vir Ta’ Makkie geken het nie (en net daar was vir toebies) het haar gemis na aanhore van Oom Kiewiet se preek.

‘n Week na die begrafnis bel hy sy oudste kleinkind. Hy wil sy verkyker hê wat dié geleen het. Die kleinkind se gedagtes het begin loop in die rigting van Oupa Kiewiet wat by die ouetehuis die buur-tannies met die verkykers sit en dophou. Oom Kiewiet het egter nog voor die vrae kon kom verduidelik dat hy wildtuin toe gaan. Hy’t ‘n vakansie nodig. En sommer genoem dat hy self gaan ry, en nie saam met die ouetehuis se toergroep nie. Hy was nie lus vir ‘n spul oumense nie.

‘n Week later sit Oom Kiewiet op ‘n bankie by Satara. By hom het hy Ta’ Makkie se as, sommer in ‘n Tupperware bakkie. Hy’t die bakkie oopgemaak en vir ‘n oomblik na die sterflike oorblyfsels van sy liewe vroue gekyk, voor hy gepraat het.
“Makkie, jy weet ek is baie lief vir jou, maar ek is nou moeg. Ek is klaar daarmee om jou te vat waar jy wil wees.”
Oom Kiewiet het die as in die lug opgegooi, maar dit het doodeenvoudig voor hom op die grond geval.
“Moenie so lui wees nie. Jy’t lank genoeg net daar gesit. Toe, gaan sien die wêreld.”
‘n Wind het opgekom die as opgetel en oor die apiesdorings se takke gedra na verre plekke. Sonder dat Ta’ Makkie ‘n hand of voet moes lig.
Oom Kiewiet het tevrede geglimlag. Vir ‘n oomblik het hy gewonder wat hy volgende moes doen, toe onthou hy: Niks. Vandag doen hy niks.

* * * *
Met apologie aan Leonore se Oupa wat die inspirasie was. Dis meestal fiksie. Meestal.




TEMAS
6 Kommentaar
  1. Kiekies

    9 Oktober 2019

    Jinnekie ek het did alweer soooo geniet!! Flym-flippieng-sleep! Veral daai ouetehuis se naam. Ek giggle agter my hand!

  2. Riaan Palmer

    9 Oktober 2019

    @kiekies BAIE dankie! Bly jy’t dit saam geniet! 😉

  3. Kiekies

    9 Oktober 2019

    @ Riaan Palmer ai tog sien nou eers hoe die program my woorde verkeerd gemaak het!

  4. Nico Schamrel

    15 Oktober 2019

    Goed gedoen, mooi geskryf Riaan!

  5. Riaan Palmer

    15 Oktober 2019

    @nicos Baie dankie Nico!!

  6. Ano

    31 Oktober 2019

    Hahaha! :-))))))) LOVED IT!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 138 gaste aanlyn

Bydrae Totale