Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: OOM JAN KARRETJIES EN DIE DUIWEL

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 30 Augustus 2019 Aantal woorde: 1456 122 Kere gelees Hou van

OOM JAN KARRETJIES EN DIE DUIWEL

Oom Jan Karretjies was ‘n formidabele figuur in sy tuisdorp daar in die High Karoo. Lank, seningrig; met ꞌn welige weglê snor en deurmekaar hare – enne sy winkbroue het nogals herinner aan Genis van die tv s’n.
Maar net mooi niemand iemand het – nie eers daai skinderbek van ‘n taꞌ Dottie, wat vir jou selfs sou kon sê hoeveel suiker die duiwel in sy koffie drink, het geweet waar die Karretjies deel van oom Jan se reputasie vandaan gekom het nie. Al sou sy nou ook haar beste kerkhoed gegee het om dit te kon uitsnuffel … Uhm, maak dit haar tweede beste, want ag, sy kan g’n Nagmaalsondag gaan staan en afsteek by ou Anna Dikgat nie. Nee-nee hede, dit het nou nie (met permissie) verwys na ou Anna se bates nie, maar dit was haar en Gert se plaas se naam. Daar was drie Annas – Anna Dikgat, Anna Kolkdraai en Anna van der Merwel. 
Nou dit kon nie gewees het omdat oom Jan geweet het hoe ‘n kar se binnegoed werk nie; want as hy net so ‘n half baster loer gee na ‘n kar se binneste dan verseg daai mouterkar om weer aan die gang te kom. Selfs nie eers die gebede van die wyksbidure kon weer oom Sorsie se DKW aan die gang kry nie; kompleet of die ding ‘n aspris-klap van die duiwel weg het.
Maar, so het klein Robert van taꞌ Fien gemeen, per dalks was oom Jan Karretjies in sy jonge dae ‘n befaamde reisieskarjaer wat stof in die oë van sy mededingers gewheely het! 
Taꞌ Fien het egter gemeen dat die ou sening-mens eerder een van daai Stokkar gedoentes gery het waar die een mens die ander ene so met die mouterkarre stamp en stoot dat die rook en die karparte rondvlieg … En so het almal bly wonder, maar niemand geweet nie. 
Almal het darem goed geweet om nie met oom Jan te wil staan en sukkel nie, want sy lont was bitterbaie kort enne ja, hy sou vir jou so goed opvryf dat jou stukke sou blink tot doer onderkant die plaasdam, daar by oom Arrie-hulle.
Maar dit het nie die plaaslike ongehudes afgeskrik nie. Sommige dae het dit omtrent gelyk nes Pick ‘n Pay se Pensionaris afslag-dag soos wat die weduwees en die klompie oujongnooiens toustaan daar by die huisie slap regs van oom Willie-hulle; so halfmas teen die baster heuweltjie op.
Nouja, oom Jan Karretjies het hom dit laat welgeval. Die slaphakskeentjies, die skaaplewertjies in netvet, melkterte en soetkoekies. Als sondig lekker. 
So het oom Jan al ‘n munstuk opgeskiet om nou die lot te werp tussen die weduwee Gertruida se afval – blinksag en so skoon so ‘n baba-engeltjie se boudjies; ook nounet as engeltjie wel doeke dra. En die bleek oujongnooi de Waal se hertzogies – mensig, dis koningskos. Maar toe’t hy tot sy sinne gekom en besluit hy kan mos nie so partytrekkerig en sonder enige piëteit wees nie – hede, hy is tog ‘n kerkmens. 
Hoe kan hy nou die arme wese (oujongnooiens is tog maar wees so sonder man) en weduwees in die verdriet dompel deur hulle hoop te verydel. Dis onchristelik om so net aan homself te dink; hoe kan hy nou sy ewemens hulle vreugde ontneem?!
Tog, sommige kontreimense het gewonder of dit werklik gegaan het oor die huwelikbed en nie eerder oor dit wat onder die bed was nie? Volgens oorvertel (maar dis vertroulik, mens; jy vertel dit oor nie) het die einste oom Jan Karretjies daar onder sy bed, net so ietwat duskant (nou met permissie gesê) die koos met die halfmaan tjip daar so by die linkerkant bolangs, was glo ‘n bliktrommeltjie propvol Krugerponde … Mens!
So besluit klein Robert (van taꞌ Fien, mos) en sy boesemmaters om nou te gaan kyk of die oorvertelstorie lieg, bedrieg of evangelie is.
En die Saterdagaand is Robbie en die Blixembende (hede nee, los vir Dominis uit die saak, dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag se oorvertel) behoorlik opgedress. Mens kan maar sê soos vir ‘n skoolkonsert wanneer die skoolinspekteur deurgery kom al die pad van Garies se kant af.
Robert homself het twee roomys horinkies op sy donkerkop vas gesuper glue en sy seunsgesig van voorkop tot kinnebak bloedrooi gepolish, met swart roet sulke groot kolle rondom sy blou oë. Hy was vas oortuig dat geen mens enige verweer teen die bose sou hê nie. Veral nie met sy pa se myle te groot manelpak baadjie aan nie – hoewel hy veel eerder gelyk het na ‘n verkeerd-om hanswors as die ou verleier. En die res van die Blixembende was van ‘n witlaken (as Dries se ousus geweet het van die spierewit, splinternuwe laken gedêps uit haar troukis, was hy nou ‘n rêrige gees) spook tot ‘n baie verdagte lykende zombie. 
Daar gekom, heilig oortuig dat hulle oom Jan Karretjies so sal kan verwilder dat hulle kans sal kry om daai trommeltjie mooi te bekyk en per dalks vir eenkeer in die geskiedenis van die ganske High Karoo meer te weet as taꞌ Dottie Oorvertel. 
Soos ou gesoute inbrekers klim hulle deur die altyd oop sitkamervenster. Behalwe vir Sarel wat hom byna katswink struikel oor ‘n blessitste (hoewel hy ‘n heel ander woord gebruik het) voetstoeltjie! Gelukkig oorleef hy die onvoorsiene ongeluk en vat sy eina soos ‘n stil, bedaarde man; veral nadat die’ bose’ hom met ‘n wysvinger oor die keel getrek, tot stilswye gedreig het.
Oom Jan Karretjies slaap die slaap van die dooies, so wil dit voorkom. 
Robbie seil halflyf onder die bed in terwyl sy ander handlangers uit die onderwêreld gereed staan om oom Jan die skrik op die lyf te jaag sou die nou bewus word van duiwel onder sy bed – die ene wat nou skeefbek trek omdat hy ampertjies sy hand binne-in die halfvol koos gedoop het, tsk! 
Maar soos wat die voorsienigheid dit nou wou hê, vlie oom Jan Karretjies om en gryp die duistere mag aan sy pa se te groot manelpakbaadjie. Terwyl hy met die ander hand ‘n sambok gryp van wie weet waar en begin inklim onder sy besoekers uit die onderwêreld. Oom Jan Karretjies skrik duidelik nie die duiwel en sy trawante nie. 
Jy sien net spoke en zombies spat! Op ‘n manier kry Robbie hom losgewikkel uit oom Jan se groot hand, maar ongelukkig ook uit sy pa se manelpakbaadjie. Wat hy eers agterkom toe sy mede werkers van duisternis uitasem by hom aansluit. O gorrelgatbewerasie, hy’s so goed soos morsdood. Sy pa gaan hom sonder kos of water onderste-bo aan ‘n boomtak ophang – hy sal so gehok wees dat hy toestemming sal moet vra om toilet toe te gaan. Dit wil nou ook sê as die regte duiwel hom nie iewersters voorlê nie. Of nog erger, as hy nie permanent uit die Hemel uitgeban gaan word nie. As oom Jan nie almal voorspring en hom morsdood maak voordat sy pa hom vreeslikbaie dood gaan foeter nie! 
Die Sondag is dit ‘n baie bedeesde Blixembende wat reg voor in die kerk sit. Hulle het vir eers besluit om liewerster te swyg oor als wat Saterdagaand gebeur het. Sondagmiddag sou hulle laaste maaltyd wees sonder ‘n kriminele rekord en Siberië se soutmyne. 
Die somtotaal van hulle sakgeld word in die kollektebordjie gegooi; Robert probeer om nie te begin huil en die ou bordjie verwytend agterna te kyk nie … Grootoog sit die seuns en luister na Dominis Venter se preek oor die Hel en die lot van die sondaar. 
Na kerk sleepvoet die vyfstuks wye draaie om die grootmense, veral oom Jan Karretjies en die predikant. Die volgende oomblik kry die duiw… skuus, die einste oom Jan, hom aan die kraag beet. Hy praat net hardgenoeg dat Robbie en sy mede donker konkelaars hom kan hoor: “Jou pa se baadjie is in ‘n blousak daar onder die braambos en vir die volgende maand werk julle swerkaters elke Saterdag in my tuin,” en daarmee draai hy om en stap in die weduwee Vlok se rigting. 
Ja, glimlag oom Jan selfvoldaan by homself oor sy lewensfilosofie. Hmmm; hy gee sy tiende, betaal sy belasting, stook sy ou lekseltjie mampoer (waarvan hy vir Dominis ook ‘n ongevraagde botteltjie gee, die deler is maar net so goed soos die steler) en die res; ja, die res is duiwelskennis. 
So het die dae daar in die High Karoo sy normale gang gegaan, sonder dat enige iets verander of enige iets dieselfde gebly het. Net van oom Jan Karretjies mag niemand iemand ooit weer voor Robbie en sy Blixembende iets slegs gesê het nie … 
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; saggies doedoe vanaand, veilig in die sloep van Sy ewige Wees.
©Liza Daniells




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Nico Schamrel

    19 September 2019

    Liza, wat ‘n pragtige, beeldryke verhaal vol woordeskat so eg aan jou. Ek het dit werklik geniet.

  2. GhwarriegatQueen

    1 Oktober 2019

    Waardeer jou mooierste woorde oor my en my Sielsambok, dankie baie. Mag passie drentel in die mistieka van jou Godgemaakte wese, laf joe ☕🌹💝

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 68
Kommentaar telling: 21

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 103 gaste aanlyn

Bydrae Totale