Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Oom Huilwa, Ta’ Brieka en die walvis

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 23 Maart 2019 Aantal woorde: 2004 348 Kere gelees 2

Ek gaan nou nie so ongeskik wees om te sê Oom Huilwal was lelik nie. Ek gaan maar net sê sy gesig was onnetjies. Dit het half gevoel of al die parte op sy gesig nie mooi gesit het waar hulle moes sit nie. Ek kan ook nie veel meer sê van Ta’ Brieka nie. Daar is al gesê dat sy ‘n afdraande gesig het soos ‘n boerboel. Ek sê dit nie – ek sê maar net wat ander mense sê. Dit was toe ook nou geen verassing vir enige iemand op Kakamas toe die twee aankondig dat hulle die knoop gaan deurhaak nie. Dis maar net iemand met so ‘n gesig wat iemand anders met so ‘n gesig kan verstaan en onvoorwaardelik liefhê. En op ‘n klein plekkie soos Kakamas is die opsies maar min.

So is die twee getroud en het huis opgesit in ‘n klein huisie naby die poskantoortjie waar Oom Huilwal gewerk het. Hulle het nooit kinders gehad nie. Niemand is seker of dit weens mediese redes was en of dit ‘n tekort aan fisiese aantrekkingskrag (of fisiese aanraking?) was nie. Maak nie saak hoe groot die liefde is nie, daar is seker tekortkominge wat selfs die liefde nie kan oorbrug nie. Hoe dit ook al sy, meeste dorpenaars het gevoel dis beter dat daar nie kinders vir hulle bestem was nie – die paartjie sou waarskynlik nie kinders opgelewer het waarvan jy wou foto’s neem nie.

So het Oom Huilwal en Ta’ Brieka maar hulle lewe geleef. Oom Huilwal het basies die hele poskantoor man alleen beman. Hy’t die pos sorteer, seëls gelek, pakkies aangedra, stempels geslaan en ook self die pos afgelewer. Hy’t nooit soos ander posmense probleme gehad met die honde as hy gaan pos aflewer nie, want al wat ‘n dorpsbrak het stert-tussen-die-bene weggehardloop as hulle hom gewaar het – almal het maar aangeneem dis oor daai onnetjiese gesig.
Ta’ Brieka het weer gebrei vir ‘n ekstra geldjie. Hetsy dit nou ‘n matriekafskeidrok, rugbytruie vir die verbeteringskool se derde span of geheime babaklere vir nog ‘n tiener se hormoon probleem was, Ta’ Brieka kon enige iets met wol en ‘n nommer 9 breinaald regkry in rekordtyd. Sy het self met die (geleende poskantoor-)bakkie na die nabygeleë wolboere toe gery, en die skape met die hand gaan kies waarvan sy wou wol hê. Die skape het darem nie vir haar weggehardloop soos die dorpshonde nie – seker maar te dom om te onderskei tussen mooi en lelik.

Jaar in en jaar uit het Oom Huilwal en Ta’ Brieka hulle dae verwyl met briewe en venstertjie koeverte en klikkende breinaalde onderskeidelik. Die eenvoudige lewe het hulle nooit ryk gemaak nie, maar ten minste het hulle nooit honger gaan slaap nie.
Dit het Oom Huilwal jare geneem om agter te kom daar skort iets met Ta’ Brieka. Hy het waarskynlik al vroeër onraad vermoed, maar was nie seker of dit nou maar net was hoe Ta’ Brieka se gesig begin lyk het met die ouderdom saam nie. Jy vra nie iemand met so ‘n gesig hoekom lyk hulle bek-af nie. Dis dalk maar net hoe hulle lyk. Oom Huilwal se vermoede was egter bevestig toe hy agterkom Ta’ Brieka sug meer as gewoonlik. Sulke lang, diep sug. Van daai waar die gras nie weer groei waar hulle val nie.
Toe hy een oggend die kombuis instap kry hy vir Ta’ Brieka waar sy by die venster uitstaar en sug na sug uiter, skep hy uiteindelik genoeg moed bymekaar.
“Wat is fout, my Pompelmoes? Jy… Jy lyk… Jy lyk hartseer?”
“Ag my Pampoenstingel, dis niks. Ek’s sommer net laf.” Antwoord sy sonder om eers om te kyk, maar nie baie oortuigend nie.
“Praat met my, my Bokboudjie. Wat maak jou hart so swaar?”
Sy’t haar kop half in skaamte laat sak asof sy iets verkeerd gedoen het. “Ek wil op die boot gaan ry. As daar net een ding is wat ek in my lewe wil doen, is dit om op die boot te gaan ry. Maar ek weet daar is nie sulke soort geld nie.”
Oom Huilwal het sommer aan die glimlag gegaan. “Maar dis mos nie ‘n probleem nie, my Bosduifveertjie. Ek ken mos vir Dikfaan wat die toeriste op die boot op die Oranjerivier uitvat. Hy sal jou vir goedkoop of dalk verniet op die boot uitvat.”
Ta’ Brieka het weer diep gesug. “Nee Huilwal. Ek bedoel die skip. Op die see. ‘n Pretvaart op een van daai groot bote soos die Titanic.”
Oom Huilwal se gesig het geval. Hy wou eers antwoord dat die Titanic gesink het; vir wat wil sy nou sulke kanse vat. Maar hy’t stil gebly. Hoe lank voel Brieka al so? In die 30 jaar van getroude lewe was hulle nog nooit met vakansie nie. Nie een van hulle twee het eers al die see in lewende lywe gesien nie. Hulle het doodeenvoudige nog nooit geld gehad vir sulke luukshede nie.

Vir dae daarna het Oom Huilwal met hangskouers rondgeloop, gelyk asof hy konstant teen ‘n opdraande loop. En net ewe skielik, een dag was daar ‘n glinster in sy oë. Hy het met so ‘n huppel in sy stap geloop. Party mense het selfs gesê dat sy gesig bietjie netjieser begin lyk het.
So begin Oom Huilwal spaar. Mense wat pakkies pos se pakkies weeg skielik swaarder as wat hulle gedink het. Oumas se verjaardagkaartjies aan hulle kleinkinders met 2-Rand note in begin verdwyn.
“Seker daai klomp in Jo’burg se sorteer pakhuis. Grootste klomp skelms ooit. Steel al wat ‘n ding is – behalwe natuurlik venstertjie-koeverte.” Verduidelik Oom Huilwal as die dorpsmense navraag doen.

‘n Jaar later tik Oom Huilwal vir Ta’ Brieka op die skouer waar sy by die venster staan en sug.
“Pak jou tas. Ons gaan op die boot.” Sê hy vir haar met ‘n oor-tot-oor glimlag.
Die feit dat sy nie ‘n reistas besit het nie was aanvanklik ‘n struikelblok om die opdrag uit te voer, maar minute later staan sy voor ‘Tasse, sakke & goete (Pty) Ltd’ se deur in Kakamas se hoofstraat om een aan te skaf. Sy loop van winkel om voorraad vir die reis te koop. Naar pilletjies want haar lyf ken tog niks anders as vaste grond onder haar nie. Biltonge en sout koekies want ‘n Afrikaner se kake moet mos altyd beweeg. Sonbrand olie want die see se son is mos harder as die Karoo se son. Sy stop selfs by die klerewinkel om vir haar ‘n bikini en vir Oom Huilwal ‘n Speedo te koop. Die verkoopsdame probeer hard om eerder ‘n eenstuk baaikostuum aan Ta’ Brieka af te smeer (vir die onthalwe van almal wat haar ter aanskoue moet neem – ‘n bikini is mos maar eintlik bedoel vir sag-op-die-oog mense) maar Ta’ Brieka verduidelik dat alles moet oop wees vir die vars lug op die water. Sy kon seker maar ‘n bikini gebrei het, maar sy’s nie seker wat maak wol in die see se soutigheid nie. So word die tassie vir weke lank in en uitgepak totdat sy uiteindelik tevrede is dat die regte goedjies gepak is vir die belangrike reis.

Drie dae voor die paartjie die bus moet vat Kaapstad toe, kan Ta’ Brieka nie meer slaap nie – van die opgewondenheid – en sy gaan sit by die voordeur langs die tas en begin een swem mussie na die ander een vir die bemanning van die boot brei. Oom Huilwal sien dit gaan probleme veroorsaak en gooi maar ‘n slaappil in Ta’ Brieka se tee om seker te maak sy’s uitgerus wanneer hulle op die boot klim. Hy weet egter nie van dosisse af nie en Ta’ Brieka word eers wakker soos die bus die afdraai vat Paarden Eiland toe – drie dae later.

Uiteindelik is die twee ingeboek op die boot en voor jy kan sê “mes” is Oom Huilwal in sy Speedo en Ta’ Brieka in haar bikini, altwee op ‘n sonstoel en ‘n drankie met te veel sambreeltjies, kersies, strooitjies en rum in, in die hand. Ander passasiers se monde hang oop en kinders gaan aan die huil in aanskoue van die tweetjies, maar met gesigte soos daai gee mens na jare nie meer om wat ander mense dink nie.
“Ek is lief vir die see.” Sê Ta’ Brieka terwyl sy grootoog oor die oneindige blou water staar. “Ek weet nie of ek ooit weer sal kan Kakamas toe gaan nie.” Oom Huilwal knik net ingedagte.

Dag twee, net na middagete kan Oom Huilwal dit nie meer inhou nie. Dis tyd vir die “pièce de résistance”.
“Kom Brieka. Ek het ‘n verrassing vir jou.” Sy volg hom vraend deur die gange van die boot tot by die Spa se deure.
“Give her the whole treatment. Everything.” Sê Oom Huilwal vir die verskrikte Filippynse meisietjie agter die toonbank, terwyl hy stout vir Ta’ Brieka knipoog en sy skoon aan die bloos gaan. Die meisietjie lei Ta’ Brieka na so ‘n kamertjie toe en beduie dat sy moet lê, maar met haar gesig na onder toe asseblief en dankie. Ta’ Brieka voel soos ‘n prinses en gaan lê op die bedjie wat ook maar steun en kreun om die boertannie bo te hou. In die agtergrond speel panfluit musiek. Of is dit nou walvis geluide? Net die geoefende oor ken in elk geval die verskil. ‘n Ander meisietjie kom in en begin olies oor die tante se lyf smeer. Dan druk sy hier en masseer daar. Dan word daar ander eksotiese olies en kruie aangevryf. Ta’ Brieka is in vervoering met die reuke. Haar lyf ken mos ook maar min van fisies aanraking en die gevrywe maak die tante se lyf weer half aan die lewe kom in plekke waar die leweloosheid reeds jare skuil.
Na ‘n paar uur kom Ta’ Brieka uiteindelik te voorskyn in die Spa se portaal waar Oom Huilwal geduldig sit en wag. Hy kyk haar op en af. Sy blink en gloei. Hy’s nie seker of dit al die gesogde olies is of wat nie, maar sy vrou lyk vir hom pragtig. Dalk is dit die breë glimlag op haar gesig wat die mooiheid laat uitkom? Sy vrou is gelukkig. Hy is gelukkig.

Saam gaan lê die tweetjies weer op die dek van die skip. Oom Huilwal haal die bottel sonbrand olie uit en begin Ta’ Brieka se rug smeer. Soos wat hy smeer begin Ta’ Brieka rondskuif. ‘n Stoom wolk slaan uit haar rug uit.
“Wat maak jy!?” Gil Ta’ Brieka en spring regop soos ‘n nuuskierig meerkat. “Dit brand!”
Oom Huilwal tree verskrik agteruit. Die stoom wolk verander in ‘n rookwolk soos wat die vlamme op Ta’ Brieka se rug staan. Oom Huilwal sien die vlamme maar staan versteen. Hy dink aan hoe hy die mense wat pakkies gepos het ingedoen het. Hy dink aan klein Mattewisiena wat met trane in haar oë kom vra het of haar Ouma se verjaardag-geld al gekom het. Elke sent wat hy by die mense gesteel het is nou ‘n vlam op sy vrou se rug. Dan gooi Ta’ Brieka haar hande in die lug, hardloop twee keer in ‘n sirkel en spring oor die reëling in die see. Daar is mense wat skree. Alarms wat loei. En chaos.

Na 3 dae gooi die soekspan die handdoek in. Ta’ Brieka is weg. Geen lyk. Geen ledemaat met haai-vormige bytmerke nie. Geen bikini oorblyfsel. Niks. Sy is net weg.
Die ondersoekbeampte meen die sonbrand olie wat vir 47 jaar op Kakamas Korporasie se rakke gestaan, het ‘n chemiese reaksie met al die eksotiese spa olies gemaak en aan die brand geslaan.
Oom Huilwal sien en hoor niks wat om hom aangaan nie. Hy staar net die diep blou see in. Hy weet wat hy gesien het. Sy’t dalk nou nie in ‘n pragtige meermin verander nie, maar dis die beste wat sy kon doen. Daar is nou nog ‘n walvis in die see. ‘n Groot, onooglike vis vol knobbels wat nooit weer vir Kakamas gaan sien nie.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 126 gaste aanlyn

Bydrae Totale