Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Ons sal lewe, ons sal sterwe…

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 8 Mei 2019 Aantal woorde: 831 154 Kere gelees 2

’n Koue grys dag, maar ons durf nie sissies wees nie. Ons het ’n plig. Ons het ’n reg. Ons het ’n voorreg. Dis stemdag en die mense daag in hulle hordes op. Sommige by stemlokale waar daar bokkerol aangaan. Die deure is gesluit en die ligte is af.

By ons stemlokaal het daar ook ’n verskuiwing plaasgevind. Gelukkig sien ons die plaat motors twee strate weg. Kort voor lank is ons in die ry. Lank eerder as kort. Mens kan nie eers die deur van die lokaal sien nie en staal onsself vir lank-staan.

Ons stem in die tradisioneel kleurling gebied van onse baai. Dit maak geen sin nie, want nege-en-negentig persent van die mense in die ry, woon nie hier nie. Terwyl ons wag bekyk ek die spulletjie.

Weerskant van ’n smal straatjie is HOP huisies. In baie erwe is daar ook ‘hokkies’ soos wat die mense dit noem. Hout strukture. Soms twee vertrekkies. Meesal net een. Stukkende ruite is aan die orde van die dag. ’n Ou lap of handdoek word in die raam vasgeknyp om die koue te probeer uithou.

’n Vaal hond lê in die stof. Daar is geen tuin of gras in sy baas se erf nie. Ek sien hom eers raak toe hy sy kop oplig. In sy oë lees ek sy gedagtes: ‘wat de joos gaan hier aan vandag? Wat soek al hierdie bleek mense met die dik jasse en baadjies in onse strate?’

In ’n dwarsstraat moet ’n swart amper-Labrador teef haar draaie skerp hou om haar vroulikheid te beskerm. ’n Hele string reuns ruik haar gereedheid en probeer hulle voorpote op haar heupe kry. Kort-kort hap hulle grommend na mekaar.

Kinders hol opgewonde in die strate rond. In ’n venster gaap ’n klein seuntjie ons oopmond aan. Sy neus loop en sy bolip blink. Een dogtertjie se warm klere is óf in die was óf bestaan nie. Of dalk gebruik sy net die geleentheid om te spog met haar warm japon. Bo-oor haar klere, maar g’n skoen aan haar voete nie. Die wit kinders van voornemende stemmers, speel op die klimraam of glyplank in die parkie. Die bruin kinders jaag mekaar met stokke en planke. Waar jy grootword bepaal seker maar hoe jy grootword.

Uit een van die huise donder doef-doef musiek. Aanhoudend en luid. My hart en my polsslag neem naderhand die ritme aan en elke slag hamer in my ore. Waffer soort mens luister daarna en hoe voel sy kop teen vanaand?

Een van die enkele bruin manne in die ry antwoord, toe iemand verbykom en hom sterkte toewens met die lang stanery: ‘Dja, maar gelukkig is hier-ie ’n klomp swartes-ie. Dan maaind ek mos nie.’ Rassisme leef en staan penorent.

’n Groot viertrek voertuig kom van agter af en druk-druk sy pad oop om tot by die gebou te kom. Almal wonder wat sy plan is. Wie gee hom die reg? Een ou dink hardop: ‘Hy dink seker dis ’n drive-through stemplek die.’

En ons wag. Het ’n hele dertig meter in die afgelope driekwart uur gevorder. En dan kom daar nog kwansuis ou mense ook, wat tot voor mag gaan en eerste geholpe raak. ’n Spesiale vergunning vir mense bo sestig. Vandag gee niemand om om oud te wees nie.

Ek kwalifiseer ook, maar dan sal Bokka alleen in die ry moet staan. Nou staan ek maar. Ons sal staan vir jou Suid-Afrika. Om sy dank te betoon glip hy vinnig weg en gaan koop ’n wegneem koffie en verdien sommer baie Browny punte in my boekie.

Die dame voor my is in pyn en sy hang kort-kort vooroor om die spanning op haar lae rug te verlig. Ek gesels lekker met haar en die vrou agter my ook. Hier is ons mos almal vriende.

Toe ons die hek in die draadheining bereik, kom een van die IVK dames met haar skandeermasjientjie nader. ‘The paper role is finished and nobody is bringing us new rolls yet,’ verkondig sy. Kan jy nou meer? Ons kan ons ore nie glo nie en net toe ons hoorbaar teëkanting maak, kom ’n man vinnig nader. Hy bekyk die laaste stukkie papier om die rolletjie en stel ons gerus. Hy het einste papier rolletjies in sy motor, net om die hoek. Almal juig hom toe en sug van verligting.

Voor die lendelam deur van die laaste huisie in die straat, sit ’n eenbeen man in sy rolstoel. Hy hou die bedrywigheid dop. Vandag het hy ten minste ’n bietjie afleiding en ek wonder of hy ander dae maar net sit. En tuur en sit. Om so te moet lewe en uiteindelik so te moet sterwe.

Die goeie nuus is dat ek dankbaar hier in pophuisie sit, swart streep op die linker duim en die 2019 verkiesing agter die blad. Presies twee ure later. Ons het oorleef en wie weet wat die lewe in hierdie land vir ons inhou. Oë na bowe gerig, vertrou ons vir positiewe verandering. Hy het ’n plan.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    9 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Ano

    11 Mei 2019

    Oh liewe dierbaarheid, ons stemdag het toe ook nie sonder n goeie skoot humeur (meestal myne) verby geglip nie. En elke keer sweer ek dat ek nooit-ooit weer vir twee ure in n ry gaan staan nie, en elke keer doen ek dit maar weer. Ok maar lekker stupid! 😀

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 38
Kommentaar telling: 521

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 95 gaste aanlyn

Bydrae Totale