Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Om te sê of nie te sê nie

Deur Ano
Datum gepubliseer: 18 Desember 2019 Aantal woorde: 954 94 Kere gelees 1

Terwyl ek in die ry langs die besige toonbank staan, loer ek so versigtig moontlik of daar enige tekens is dat die winkeleienaar of personeel ʼn seëngroet sal waardeer. Ek meen nou maar net dat ek nie wil hê hulle moet Sekuriteit roep omdat ek dalk die vervloekte “K” woord gebruik het nie want dit lyk so al asof almal se nerfies aan die einde van elke jaar effens dunner raak.

In die doodsnikke van hierdie dekade (dankie tog dit is byna verby), staan ek weereens (soos menige ander jare tevore) in verstomming hoe liefdeloos ons wêreld eintlik is. En baie spesifiek Suid-Afrika. Miskien is ons net baie gestres en misdaad-voos, dié dat ons mekaar nie ʼn staanplekkie in die son kan of wil gun nie. En ek is seker dat hierdie onderwerp iets is waaroor ek elke jaar ʼn eier lê. Nie asof dit enigsins ʼn verskil maak nie.

Op die oppervlak druk en soen ons vir elf maande lank dat die spoeg spat – totdat Desember aanbreek. Onderlangs is dit ʼn kookpot van borrelende en onderdrukte woede, wat dikwels aan openlike liefdeloosheid grens. Dit is veral in die laaste maand van elke jaar baie meer sigbaar as die res van die tyd en die katnaels kap na elkeen wat durf waag om anders oor die laaste week van Desember te dink.

Hoekom? Wel, om mee te begin het Kersfees gedurende die laaste twee dekades stil-stil ʼn vloekwoord geword. Mens kan kwalik waag om daai veragtelike woord te gebruik want voor jy nog klaar gepraat het, is jou tong reeds uit jou mond geruk en soms word mens se kop ook summier afgeskeur en uitgespoeg. Die openlike vyandigheid wat rondom hierdie feesgety heers is dikwels skokkend. En op sosiale media kan die hare ook maar goed waai!

Is dit dan nie so dat liefde die afwesigheid van veroordeling is nie? Veroordeling / judgement / haat, noem dit net wat jy wil want die uiteinde bly dit toevallig dieselfde begrip. En hierdie vinger-wysende houding is verseker nie liefde nie, wat nog te sê iets so wonderskoon soos ONVOORWAARDELIKE liefde? Elkeen verbeel homself dat hy daardie gawe ontdek het, maar soos skoonpa telkemale daarop gewys het, “the proof is in the pudding”.

My gesin van oorsprong is jare lank reeds deel van hierdie liefdeloosheid en ek loop so gereeld onder hul skerp tonge deur dat kontak tussen ons doelbewus vervaag het tot ʼn jaarlikse oppervlakkige “geluk met jou verjaardag” sms. Selfs ʼn oproep is te gewaagd want daar is altyd die moontlikheid dat ek dalk onwetend weer aan een of ander heidense gebruik toegegee het en dat dit hul plig is om my (vir die 100e keer) te berispe.

Ag, hulle lyk soos engeltjies met hul vroom glimlaggies en goed versorgde handjies pragtig saamgevou – totdat hul uitvind dat jy dit so wragtag nog steeds waag om die geboorte van Christus saam met die res van die sondige wêreld te vier! Dan is dit gort gaar en word jy sommer uitgekryt dat jy “die boom aanbid” en vele ander bitsige opmerkings. Hul geestelike hoogmoed bereik soms skrikwekkende hoogtes en teen hierdie tyd is my geplaveide paadjie hel toe ook al duidelik uitgestippel. Ek is seker dat indien 25 Desember as ʼn datumlose dag verklaar kon word, sou dit al gebeur het.

Deel ons daardie dag uitspattige geskenke uit? Nee.
Geniet ons ʼn Christus-gevulde dag saam met familie? Ja.
Maar waarom word ons steeds met klippe gegooi net omdat ons iets geniet waarvoor ander hul neuse optrek?

Elke persoon wat vir homself kan dink weet darem seker al teen hierdie tyd dat 25 Desember nie die presiese dag en datum van Christus se geboorte was nie. Maar iets wat ek baie graag wil weet, is wanneer sit hierdie heilige koeie ʼn spesiale dag opsy om Christus se geboortedag te herdenk? Bestaan daar so iets vir hulle? Ek sien geen teken daarvan onder my sibbe nie en ervaar dat hulle so blind-gefokus op die eindtyd is, dat die onthou van die begintyd verlore geraak het.

Dit is jammer dat ons so liefdeloos met mekaar omgaan en jaar na jaar wens ek dat my tyd hier op aarde nou sy einde kan bereik – al is dit net om weg te kom uit hierdie dam van veroordeling en suur braaksels. Immers gaan dit nie werklik oor Kersfees of die viering daarvan nie, maar veel eerder oor die kleinlikheid waarmee ons met mekaar omgaan. Na soveel jare se twak oor wie reg en wie verkeerd is, is ek nou lewensmoeg. Moeder het gesê ek is ʼn rebel en moeilikheidmaker en elke jaar lyk dit asof sy dalk die waarheid gepraat het. My hele wese wil uit pure halstarrigheid tien bome met blink liggies oral in die tuin staanmaak en die hele buurt se kragtoevoer onder druk plaas.

Maar eendag, daardie dag wat jy uiteindelik voor die Groot Regter gaan staan, wat sou jou gewaarwording dan wees? Gaan jy breë bors wag om te hoor dat jy “reg” was? Wat sal gebeur as ek nou reeds kan sê dat dit minder belangrik is hoe ander verkies om hul lewe te leef as wat die houding in jou eie hart is. Dalk gaan ons nie soseer veroordeel word omdat ons Kersfees vier of nie, maar eerder gemeet word aan die grootte van daardie liefdelose klip in jou borskas.

Is die wortel van hierdie jaarlikse kookpot nie dalk ʼn diep, maar onontdekte vrees wat keer op keer dieselfde twis veroorsaak nie? Deur te dink dat as ons “reg” leef en op die “regte tye” die “regte dinge” doen, sal die Here ons genadig wees en van ons uhm, vyande verlos, min wetend dat ons dalk self die vyand is.

Vertel my wat jy van Kersfees dink en ek weet hoeveel onvoorwaardelike liefde in jou hart vir jou medemens lê.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    18 Desember 2019

    …En die grootste hiervan is die Liefde…..

    Dankie vir hierdie deel!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 47
Kommentaar telling: 94

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 84 gaste aanlyn

Bydrae Totale