Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: November 2019 projek – Laat-lente – Uitslae en Kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 2 Januarie 2020 Aantal woorde: 4425 93 Kere gelees 3

OPDRAG:
Aangesien ons by die voorlaaste maand van die jaar is, is die projek tema hierdie maand “Laat-lente”. Al die kategorieë moet dit as tema gebruik.

1. DIGTERS: Skryf ‘n 16 lyn, 4 strofe gedig.
(Geen voorskrifte oor rympatrone.)

2. VERHAALSKRYWERS:
Skryf ‘n liefdesstorie met die bogenoemde tema.
800 – 1200 woorde.
Dui woord telling aan.

3. RUBRIEK/ARTIKELSKRYWERS:
Gebruik die tema.
Nie meer as 800 woorde nie.

4. GORRELS:
Gebruik die tema.
Minder as 800 woorde.

WENNERS
GEDIGTE:
GOUD:
WENNER: No 10 – Carma Shaw met Novemberaand
2 DE: No. 13 – Anzé Bezuidenhout met Lentedans
3 DE: GEEN

SILWER:
WENNER: No. 14 – Barbara Smit met Amper somer
2 DE: No.24 –  Charleine Collins met Die Dopperkiaat
3 DE: GEEN

BRONS:
WENNER: NO. 8 – Morne du Preez met Lente-Spook
2 DE: NO. 5 – Andries Fourie (Seirdna) met Jou naam is Lente
3DE: NO. 22 – Recayla met Laat lente

GORREL: GEEN INSKRYWINGS

ARTIKELS: GEEN INSKRYWINGS

RUBRIEKE:
WENNER: NO. 1 – Kiekies met Liewer laat as nooit

VERHALE:
WENNER: NO. 2 – Riaan Palmer met Die storm aan die einde
2DE: NO. 3 – Martha Poller met In die somer van ons liefde

Baie geluk aan hierdie 10 lede!
INK moderator

KOMMENTAAR:

GEDIGTE:
BRONS-
1.laat-lente droom

in sagte aandskemering neurie
die melodieë van nuwe seisoene
op die horison wink louter vreugde
van laat-lente sonskyngeel vir my

agter my voetspoor die herinneringe
van vervloë wintersdrome: nou verby
die deuntjie draal eensaam stil
my ‘onthou’ gesnoer in kroonjuwele

blye ontwaking: diamant in druppels dou
lente glimlag sag as sy sonskyn strooi
vrolike gekwetter van voëltjies vry –
nuwe lewe ontwaak in sonneskyn

velde bloeisel-bloos vrolik-bly
hul kans op nuwe lewe dartel-dans
op viooltjie-vreugde in purper-pers
lewe in die laat-lente ʼn groot geskenk …

Dit is ‘n aangename vers. Daar is slegs ‘n paar punktuasie voorstelle wat ek sal wil maak. Die gebruik van dubbelpunte is nie noodwendig die beste keuse nie. Jy kan dieselfde toon skep deur of van die komma-punt of selfs nét ‘n enkele komma te gebruik. Verder, die ellips teen die einde van jou vers moet omsigtig gebruik word aangesien dit die vers oop laat en nie die vers sluit nie. Dit laat ook ‘n opening vir verdere interpretasie vir wat volg. Dit is nie verkeerd nie, maar jy moet seker maak dat dit is wat jy wil bereik.
Goeie gedig. Welgedaan.

2.Laat lente

Ek het myself geblik in jou laat opsluk
jou fynbos en dwarrelwind verstik
sonder A.Vogel met ‘n snotdoek
agterstevoor aan die onderkant van ‘n donderwolk verloor

maar jy wou van niks weet
jy wou aanhou-aan kou
en my in jou blommelyf versteen
en sonnebrilletjies vir jou lente verruil

die hooi is jou koorsige woorde
onder die geel van die son
en jou trane jou vingers
wat om my geblikte lyf weef

en as ek maar soos ‘n tortelduif kon sweef
sou ek sweerlik oor jou lyf sweef
na waar ek myself gebonde lê
aan jou laat lente reën

Die gedig lees vir my op plekke onsamehangend, asof daar nie ‘n geheel is nie. Woordkeuse, die afwesigheid van punktuasie en woordoorbodigheid maak die lees ervaring moeilik. Ek dink jy sal baat by goeie redigering om ‘n sterker vers te skep.

5.Jou naam is Lente

daar is lente in jou geur
en in die roer van elke omdraai van jou lyf
daar is lente in jou son
en in die some van die lyne in jou vel

daar is lente in jou lag
en in die wieke van geheime in jou siel
daar is lente in jou wyses
en in die ritme van die nadraai van jou pad

daar is lente op jou lippe
en in die heuning in die hoeke van jou mond
daar is lente in jou roep
en in die eggos van die klanke in jou sang

daar is lente op jou voorstoep
en lente waar jy gaan
…en daar’s laat lente
In die wysheid van jou naam!

Dit is ‘n aangrypende gedig en alhoewel daar baie herhaling is, pla dit nie die leser nie. Dit help inteendeel die proses aan om tot by die crescendo.
Ek sou nie ‘n hoofletter voorstel in die laaste sin nie. Ook, indien jou vers met ‘n leesteken sluit MOET die vers met ‘n hoofletter begin. Jou metafore is uitstaande. Werklik ‘n besonderse gedig. Dankie.

6.Laat-lente tuin

Laat lente het jy haar gevind
Waar sy in jou tuin
Van blom tot blom dwaal
Soms ‘n bietjie langer stil staan

Jy het na haar gegaan
In bepeinsing oor waarna sy daar so staar
Langs haar stil gaan staan
In stille verwondering die prag aanskou

Teer vat jy haar hand – spreek sy tot jou hart
Wys sy jou die laventel van verdraagsaamheid, pluk sy vir jou ‘n bossie kappertjies vir begrip
Laat sy jou af buk na die kleurvolle gesiggies van liefde
Hou dan na jou uit ‘n spierwit roos van hoop

Dit kan maar laat lente wees in jou tuin
Die somer lê nog voor
Al taan die lente blomme . . .
Vir jul is daar nog vele uitbundige sonskyn dae oor!!

Die gebruik van hoofletter by die aanvang van al die sinne in jou gedig is ‘n groot nee-nee. Hoofletters word slegs gebruik as dit deur punktuasie voorafgegaan word of by die begin van jou gedig. Die metafore wat jy gebuik is vars, maar die sinkonstruksie is lank en lomp. In hierdie geval verloor jy die werklike begrip van die sin en lees dit ook moeilik. Jou gedig het ongelooflike potensiaal en kan ontwikkel word tot ‘n treffer. Moenie bang wees om eerder minder as meer te sê nie. Die deursnit leser is meer skrander as wat ons as skrywers besef. Dankie vir jou deelname.

8.Laat lente-Spook

Dis die ouwinde oor helshoogte
wat die herfsblare wegdra
van ‘n ou-akkerhoutboom
wat vir die koue nat wag

en die druppel nag
wat sag afsypel
aan sydrade vol winter akkoorde
van ‘n gewebte nagwagter in sy repertoire

die oes van lente
stil stil tingel rus
om vir die oggend son
die verhaal te tolk

van die laat somer fees
en wegfladderende blare
van die gees van ‘n ou-akkerhoutboom
en winde wat spook.

Dit is ‘n vars aanslag tot laat lente. Sommige verse staan uit omdat hulle afwyk van die norm en ou geykte idees. Joune is so ‘n gedig. Ek kan hierin geen kritiek vind nie. Die metrum is gepas, die ritme vloeiend en die inhoud lees bekoorlik. Jy kan jouself op die skouer klop oor hierdie vers.

9.Liefde in laat lente

In die winter het ek my saad gesaai,
diep onder donkergrond versteek,
waar roet en roes nie kon vreet
en vyand nie met verwoesting breek.

Daagliks het ek my vrug gewater,
met omspit van gebed die grond versag.
Geduldig het ek op goue gerwe gewag,
waak gehou oor my hemelprag.

In die blos van sonskyn
skiet die groen deur aardkors
en groei tot magtige liefdesfors.
Kom heel alleenheid sy droewige dors.

Nou staan ek onder die snoesig van kim
waar liefde my in sag omhels toevou
met druppels van nuwe oggenddou
In laat-lente waar ek aan liefde bou.

As digters maak ons soms die fout om oorbodig beskrywend te probeer wees. Jou gedig is mooi, maar nie woordekonomies nie.

Kyk as voorbeeld jou 2de kwatryn, na redigering:
“Daagliks water gegee,
in gebed die grond met omspit versag.
Geduldig op gerwe gewag,
waak gehou oor die prag.”

Goue gerwe hoef nie beskryf te word nie. “Hemelprag” hou gad nie verband met die res van die inhoud nie. Waak daarteen om nie woorde te gebruik nét om ‘n rympatroon te voltooi nie. Maak altyd seker dat dit betrekking het met die geheel anders lyk dit soos soos dwangrym. Jou gedig het baie potensiaal. Redigeer bietjie en ontsluit die prag daarin.

11.Lied van die natuur

Lente is amper verby
Al’s lyk groener en mooier
die laaste vasvang van lente hang in die lug
so ‘n mooi son en ek asem in al die ja

Ja vir môre se nuwe drome
Ja vir vandag se oor begin
Ja vir gister se gebeure
en ja vir die somer wat nog kom

Skielik raak my gedagtes windstil
gaan lê sag in ‘n laat lente liedjie
en waaraan jy glo sal dans in jou oë
ek mis die somer na al die seer-seer-seer

Laat lente bring ‘n rede
wat deur nuwe skoonheid sing
reëndruppels wat val op ‘n sinkdak
voeëltjies wat chirp in die oggendson se lewe

Kom ons praat oor die klein jakkalsies wat jou gedig verniel:

Lukrake hoofletters regdeur jou gedig sonder dat dit deur punktuasie voorafgegaan word.
Herhaling van woorde wat nie bydrae tot die gedig nie. Die ontbreking en tekort aan nodige punktuasie. Sonder funksionele punktuasie maak die inhoud soms nie sin nie. Spelling!!  Jou gedig kort ernstige redigering om die skate daarin te ontsluit.

16.Sonne’droom

Ek stop langs die pad om die laaste
van lente diep in te asem
met my fiets heuwels op en heuwels af
nog ‘n genade dag vir ‘n kaalvoetkind wat eenkant langs die pad sit en wag….wag

Hy wag daar elke dag vir sy ma
sy’t hom daar gelos toe hy nog klein was
teen die einde van nog ‘n dag
omvou die vrees hom soos ‘n donker nag

Godverlore sit hy daar
met een groot verlange in sy hart
en wanneer die son wegsink in die vlaktes
hy ken die stiltes en die eensaamheid, en wag….wag

Soos my wiele al verder wegrol van hom
sien ek hoe die son ‘n silwer glans oor sy kop skyn
en ek voel hoe die reën oor my stroom
in hierdie laat lente se sonnedroom

Jou titel kan sonder ‘n apostroof geskryf word.
Die inhoud van jou vers, alhoewel ek dit verstaan, is effe onsamehangend.
Jy maak ook gebruik van idees wat nie sin maak nie. Kom ek gee een voorbeeld:
In jou laaste kwatryn praat jy in die tweede sin van die son wat op die karakter se kop skyn. Dan direk in die volgende sin, sonder motivering praat jy van reën. Dit maak nie sin vir die leser nie.
Let op sulke dinge.

17.Laat lente

sou ek nie graag in jou arm wou wurm nie
jou liefde teen my hartklop kon voel klop nie
sou en nie graag jou warm asem teen my nek wou vasvang nie
jou liefdes melodieë in jou stem wou hoor prewel nie

sal ek nie vir jou kon koester met lewens akkoorde
in die wingerde van ons liggame se boorde
wanneer die maanligaand se strale ons vasboor
in gister se woeste stormjag se woorde

sou ek jou nog kon voel as die winde om ons vou
as ons polsende liggaams hitte deur die storms kou
vasgevang in stormwoorde se harde knou
sou ek jou nog kon voel pols wanneer die wind ons los in sy vou

sal ons die onheilspellende smartwoorde van gister oorleef
om vandag in ons laat lente hand aan hand te wandel in verwoeste velde
gesaai met dorings woorde wat ons voete vermorsel
om ons laaste laat lente te begrawe . . .

Woordoorbodigheid hinder ‘n vers en ontneem die leser die wonderlike geleentheid om self bietjie vertering aan die vlees te doen. Minder is altyd meer.

Ek gaan met jou eerste kwatryn omgaan en vir jou demonstreer wat ek met my kommentaar bedoel:
“sou ek in jou arms kon wurm,
jou liefde teen my hart kon voel vibreer,
jou warm asem teen my nek wou vang
en liefdesmelodieë op jou stem wou hoor prewel”

Verstaan jy, met die voorbeeld hierbo wat ek probeer verduidelik?
Moenie gedwing voel om elke mootjie inligting vir die leser te voer nie. Suggestie is ‘n wonderlike instrument om te gebruik. Jy het baie potensiaal, ek kan sien, en daarom wil ek jou aanmoedig om aan te hou en elke greintjie raad te verorber en jouself daardeur te laat groei.

18. Bevryde Somer

daars ‘n laterige lente
wat die somer stuurs weerhou
en die droogte soos ‘n dryfsand
deur valleie in laat vou

(tussen hierdie lyne stuur ek my woorde
na ‘n klam rivierloop en droom ‘n misreën
teen my voetval vas;
wyl ek sagkens kniediep in ‘n
sagte stroom liefdeswater struikel,
skuif ek die laat lente opsy)

en

dié laterige lente
wat hardnekkig vas wou trap
laat ‘n somer sonder weerga
uit sy ystergreep ontsnap!

Die opdrag was 16 reëls in vier kwatryne.
Alhoewel ek BAIE van jou gedig hou kan ek dit nie beoordeel nie.

19.Leepoog Lente

die winters leer my
van die bitter en die goed
om my hart te stroop
vir die soet van somer

in die stilwees van elkde dag
waar die droogte dapper
deur my siel kom waai
vind ek my antwoorde

daar waar lente verslaap
en die winter sy vaal kleed om my hang
is dit na die somer
waarna my hart smag

onder die eerste reëndruppels
juig lente laat en leepoog
oor die koesteroomblikke in die lewe
waarmee die somer my kom seën

Met ‘n klein verandering kon jy mooi rympatrone geskep het in jou gedig. Dit was nie die opdrag nie, maar dit kon ‘n mooi bonus gewees het.

Sien my voorstelle hieronder:
“die winters leer my
van die bitter en die goed
om my hart te stroop
vir die somer se soet

in die stilwees van elke dag
waar die droogte dapper
deur my siel kom waai
vind ek my antwoorde

daar waar lente verslaap
en die winter sy vaal kleed om my hang
is dit na die somer
waarna my hart verlang

onder die eerste reëndruppels
juig lente laat en leepoog
oor die koesteroomblikke in die lewe
waarmee die somer my kom seen

Twee klein veranderinge. Let asseblief ook op spelling. Selfs die kleinste foutjie kan jou werk slordig laat lyk.

20.Laat-lente ontwaking

Na die nanag se ontwaking
glim die son in sagte goud,
verheug hom oor die reën
wat heelaas sy seën gebied het.

Die natuur is ‘n skoon palet
wat bars in kleur aksent
van maagdeblom sneewit geklee,
geringe spatsels van purper en pink.

Fladdervlerk vlinder kus blomme,
drink die druppels van oggenddou.
Veraf koer ‘n tortelduif
sy sagte danksegging gebed.

Ritmies dans bottelgroen blare
en sing vrolike lirieke
op maat van die wind
wat walsend flankeer.

Laat-Lente het
in volle ontluiking gekom
om vreugde te bied
aan alles wat asem haal.

Die opdrag vra vir ‘n 16 reël, 4 kwatryn gedig. Alhoewel jou gedig potensiaal het kan ek dit nie beoordeel nie.

21.Miskende vrou

te lank was jy ‘n wurm
kruipende voor hom
gehang aan ‘n spindraad
papie verstrik in ‘n kokon

te lank was ons nie-siendes
gesus in ons winterslaap
ons ore horende doof
om jou kreet te hoor

jy was geslaan met stomheid
maar nou is dit jou tyd
dat lente ook vir jou sal kom
jy, mishandelde vrou

ons breek jou kokonne oop
vrou-tot-vrou is ons jou vlerke
jy maak van ons krygers van hoop
wat veg vir ‘n somerson

Die onderwerp is een wat vir my baie belangrik is, en vir ‘n lang tyd sal bly. Dit MOET aangespreek word. Die beoordeling het dus niks met die inhoud te doen nie, maar eerder met die akademiese.
Die opdrag was laat-lente, en alhoewel jy lente aanspreek kry ek nie die indruk dat dit onder die loep geneem is nie. Dit is dus vir my moeilik om werklik jou vers te beoordeel volgens die kriteria.
Ek moet jou egter geluk wens met ‘n goeie gedig.

22.Laat-lente

Sak en pak,
(met ‘n see vol blare,
‘n hand vol kleur)
groet somber Winter ons.

Met lang vingers streel
hy die gras en laat dou
druppel soene agter
as ‘n gedagte van hom.

Die kleurgestroopte takke
lag hom uit
want hy’t gevat sonder vra,
langer gebly as wat hy moes

Want die son se arms groet ons,
met ‘n breë glimlag wink die
wolke verder weg
Nou blom laat-Lente .

Die vers is besonders mooi. Let op die gebruik van hoofletters sonder voorafgaande punktuasie.
Ek dink jy het jouself mooi gekwyt van jou taak en die opdrag getrou nagekom. Baie geluk hiermee.

23.Draaibos

Laat lente het ‘n draaibos haar takke grondwaarts gebuig
dit opgeswier met trossies bloupienk blom en blink blare
asof sy die lente wou nadertrek, en verlaas bemin –
o, laat my liefde nog één dag wees!

Diep teen die hellings trap haar suiers, oor die vlaktes
verby die skalie tot waar die son afloop;
sy staan in ʼn droom van horisonne, onvoltooide einders.
In die wind ritsel haar bekende swaarsoet geur

soos ʼn sussing, binnekort sal haar stamme bessievrug groei
sal sy met dun, groen lote nuwe mandjies vleg.
My hart, soms probeer ons om ʼn seisoen in die hand te hou
die skoenlappers, die stuifmeel en die bye

maar word ons ouer, ken ons ʼn seisoen se afsterf
die kwynende kleure van laat lente;
en sal ons somer baldadig natlei, die oranje bessies bring.
Die oomblik, my hart, is tog immers al wat ons het.

Ek hou van jou gedig. Ek dink egter dat jou sinkonstruksie, en meeroor die lengte daarvan, jou ritme kortwiek. Die inhoud is mooi maar té swaar. Met swaar bedoel ek, jy forseer-voer die leser met sensoriese oordadigheid. Minder is soms meer. Die gedig beskik oor grenslose potensiaal en kan baat by ‘n goeie snoei. Dankie vir jou delname.

25. November die nuwe September

Soos n natgereënde hoender staan ek in die reën
November se druppels val op my soos n seën
Die warm wind maak dit beter
Ek voel die verskil, vir seker.

Soos n natgereënde hoender staan ek in die reën
My voete staan enkel diep in modder
My bak hande vang die druppels
En drink n bietjie, van die hemel water.

Soos n natgereënde hoender staan ek in die reën
Ek sien blomme se kleur lyk beter
voëltjies speël in `n plas water
Die bome stoot weer nuwe blare.

Soos n natgereënde hoender staan ek in die reën
Herken die natuur, se wonder werk
Die lewe is weer terug in die aarde
September, jou November laat lente!

Die gebruik van hoofletters by elke sin is ‘n nee-nee. Maak seker, indien jy van hoofletters gebruik maak dat dit ten minste voorafgegaan word deur een of ander punktuasie. Die [‘n] moet ‘n hakie kry.
Let op spelling: “wonderwerk” “hemelwater”… Herhaling van woorde moet funksioneel wees.

26.Laat lente

Jy bars uit jou nate;
baldadige uitbarsting van kleur
uitspattig en oordadig
wonderskoon in volle fleur.

‘n See van oorvloed,
onbeheers; oorrompelend.
Jy sleur my mee en ek staar
oopmond; bewonderend

na die polsende skoonheid;
die volheid en volmaaktheid
wat jy voortbring; die wonder
van die skepping in sy volheid.

Hoog bou dit op – tot hoog,
hoog verby die verste kim
bars jy uit in spektrum van
kleur en skone hersenskim.

Ek hou van jou gedig. Die ritme daarvan en selfs die herhaling van sekere woorde. Die gedig bou mooi tot ‘n goeie klimaks. Dankie vir jou deelname.

SILWER

3.Laat-lente se stof

my delila lippe lag fyn
my voorkop is nat van bid, God en sweet
en ek kyk weer in Sy oë; op
na ‘n gewone wêreld wat niks weet

nou jaag jou asem deur my are
soos vroeg vanoggend
toe die poue vêraf êê-êê
met hul bont vere en deftige verwar

my siel probeer die vrou in haar vind
en ek skuif nader; of dieper teen jou warm kant
want my spore het mekaar verloor
te sensitief vermoed ek, jy en ‘n paar ander

laat-lente se lyne skilder prente
oor die bed, oor jou kaal bors en oor my
opwinding vaar skemerend oor my lyf
in jou arms word my monsters soms verdryf

Daar is ‘n paar vreemde “konsepte” in die gedig wat my verwar, nl. “my voorkop is nat van bid, God en sweet” Hoe kan ‘n voorkop nat van bid en van God wees? Die eerste kwatryn praat oor ‘n “geestelike ervaring” en dan sonder behoorlike motivering kry dit ‘n seksuele ondertoon in die tweede? Die karakter identifisering bly vir my ‘n uitdaging. Dalk is ek net dom maar die vers verwar my.

12.Klimaatskuif

Die woeswind waai
wes suid oos noord
bly blare deur bome
droog oor dakke draai,
verander laat-lente
se bloeisel bloedwyn
gepars uit druif
van die laaste boord
in die wingerdbruin
van vroegherfs
se skyn –

en skielik word ‘n droom
van hoogsomer
witwinter
se stille pyn.

Die opdrag was duidelik: 16 reël, 4 kwatryne.
Ek kan nie hierdie vers beoordeel nie.

14. Amper Somer

dis amper somer in jou lewe
so skielik word jy groot
eens sou jy op ‘n droom kon swewe
maar manword druk jou menswees dood

die wye wêreld is jou speelplek
jy weet so als van als
as donkerte jou enkels lek
staan jy so fors en vreesloos stil

ek, hier eenkant swyg maar eerder
‘n stil gebed tot Hom
want jy vlieg elke dag al verder
ek sukkel om jou op te som

ek bid dat jy bekleed met wysheid
jou stap sal stap op aarde
dat jy lewe tussen dood sal soek
sal sien nie als wat blink het waarde

Onthou van die dubbel ontkenning in Afrikaans. Jou laaste sin sluit daarsonder. Die inhoud van jou vers is persoonlik, en jy suggereer laat-lente, maar ek wonder tog of jy dit bemeester het? Ek hou van die gedig.

15. LAAT-LENTE ALLEEN

“Ek het lank gesoek, om myself in jou te vind”
Sag sluip sy deur jou are
drup, drup saam jou jare
tussen lewe en dood
bewe haar asem
lewend oor jou lyf
sy weet dis soms verkeerd
om eg te wees
veral wanneer haar hande
verkeerdom soek na jou siel
en laat-lente ‘n onvanpaste winter baar

terwyl jou mond om haar lippe vou
wonder sy weer waar steek jy jou wilskrag weg
of is dit jou manier
om deur die dampe van haar hart te daal
die ompaaie skrep te sny
soos daardie dae
toe jy nog in alles eerste kon wees

en dan swyg sy weer
met haar alleen skoot
van eenwees
reg deur die kop

Die opdrag is duidelik: 16 reëls.
Ek kan dus nie hierdie vers beoordeel nie.

24.Die Dopperkiaat

Na ‘n laat-lente, deurdag, deurnag,
noag-reën se nat,
het die lowerreus (al dig verskuil bebot),
na so ‘n heil’ge doop, spontaan in songeel
vreugdejubels uitgespat,

volmaak ons vroegsomer en snerpwinter ruiswind
oor ‘n doodgaan droë seisoen,
vol konfetti-spikkels, nuut, so mooi,
in ‘n skittergoue eg oor groen gestrooi,
verbind.

Maar die dopper is maar ook ‘n fopper.
Die blompies kwyn met songang
in die grasperk en verskyn
weer lukraak na ‘n bui –

sikleer my in sy pynverbond
totdat die einde kling-klang lui.

Die gedig is interessant.  Ek hou van die herhaling in die eerste kwintet en die assonansie wat mooi inspeel met die ritme. Daar is ‘n paar woorde wat vir my vreemd is:

Bebot: waar dan dalk ‘n speling is op gebot.

Sikleer: Bedoel jy siklies of sirkuleer?

Blompies: Is dit ‘n versamelnaam vir bome en blommetjies?

Die bogenoemde woorde is nie noodwendig verkeerd nie, en kan neologismies aanvaar word, maar as dit so na aan die oorspronklike is kan dit verwarrend wees en bloot as ‘n spelfout gesien word. Ek hou van die vers.  Ek sou na die punktuasie oplet, en veral in die tweede kwintet, want dit wil lyk asof “verbind” van die reël afgeval het net om die 16 reël opdrag na te kom.

Dankie vir jou deelname

GOUD
4. die houtbankie

naby die houtbankie in die park,
dáár het jy vir my ‘n toorbos geplant
met jou glimlag het die bome laat bot
terwyl die wind uitbundig die blare tart

in die duiwe se kir is jou naam gespel
en tussen die boomblare
het die son soos blokkiesglas
geflenter en stom na jou geroep

jou kreukelhande het blind die pad gesoek
na my wat neffens jou in die skadu sit,
ons was mekaar se anker en kompas
wat in elkander skuiling kon vind

skugter het die bloeisels in jou oë
tot vrug gekom; die geluk het helder
oor jou oumensmond gebreek
waar ons koeksistergevleg sit

Lees jou eie sin:
met jou glimlag het die bome laat bot”
Is dit korrek?
Ek hou baie van jou gedig maar ek lees nie “Laat-lente” hierin raak nie. Nie direk of suggestief nie.

7.Uit die bloute

Teen die einde van die lente
het die wind noordwes gedraai
en donker wolke van die see af
oor die Boland ingewaai.

Die dag het vreemd en koud gevoel;
die grond was klam van reën.
En as Novembermaand ’n vrou was
sou sy oor dié verlore sonskyndag
’n ballade uit kon ween.

Want, hoe ampersomer skielik winter
sal sy nimmer kan verstaan nie

ook nie hoe die mooiste liefde
(in die laatheid van die lente)
so abrup
tot niet kon gaan nie.

Die opdrag is duidelik: 16 reëls, 4 strofes.
Ek kan dus nie hierdie vers beoordeel nie.

10.Novemberaand

vyf flaminke oor die swart rivier
hoe blink blink die blinkwit maan
hoog bo die vuil van vaal fabrieke
en die grys van die teer
wat daarnaas baan

sewe ganse teen die silver lug;
reeds lê die son in die see –
vér onder meeue op hul skemer vlug
en ’n brug wat sement oor die lou N 2

’n blouvalk fladder – eenalleen
(die aandster het verskyn)
op soek na prooi tussen gruis en gras
voor die laaste lig
in die nag verdwyn

dis bo Simonsberg waar dit so amber gloei
as die laatlente-aand teen die wolke bloei

Dit is ‘n onoortroffe vers waarvoor ek nie ‘n kriesel kritief het nie.
Baie dankie. Lieflike werk.

13. Lentedans

spoorloos het winter
sy asem uitgeblaas;
die son het vuur gepak
teen die blou-blou lug

as die dag se spore mank raak
onder die hitte van die twaalfde uur
stuur ek ‘n *bloedrooi koesterbrief
vir jou my lam – my lief

dan dans die wind vandag sy
eenbeen flaminkedans
oor die botsels groen
wat soos manna aan bome hang

onder sagte tortels van die duif
lag die kim skemertyd in oker;
vou ons hande origami vlegsels
as ons met rooiwyn ons liefde vier

*Interteksualiteit – Breyten Breytenbach

Dit is ‘n besonderse teer vers. Is die tema aangespreek? Ek dink tog so.
Welgedaan met ‘n besonderse mooi vers.
Baie dankie vir ‘n lieflike vers.

GORRELS – GEEN INSKRYWINGS

RUBRIEKE
1.Liewer laat as nooit  Jou skryfsel is heerlik en lente aanbiddend. Dankie.
2.Laat lente se klanke Let asseblief op spelling. Dit is die enigste wapen in jou skrywersarsenaal.

ARTIKELS – GEEN INSKRYWINGS

VERHALE
1.Laat lente in Parys – Let asseblief op spelling. ‘n Skrywer het min wapens in sy/haar arsenaal, en daarvan is spelling DIE belangrikste.
2.Die storm aan die einde – Pragtige verhaal.
3.In die lente van ons liefde – ‘n Besonderse verhaal met goeie karakterontwikkeling. Jy het jouself goed gekwyt van jou taak.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 240
Kommentaar telling: 2708

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 83 gaste aanlyn

Bydrae Totale