Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NOODRYP

Deur Toom
Datum gepubliseer: 19 November 2019 Aantal woorde: 767 87 Kere gelees 2

[Nog ene uit „die oude doos”, wat in samehang met my ander skryfsels oor kreatiwiteit en die wêreldgees wat mens pak, gelees kan word.]

Aangesien ek op ‘n dorp grootgeword het en nie die platteland nie, het ek hierdie begrip kleintyd nie geken nie. Eers oorsee het ek dit leer ken, waar ek op ‘n klein boere­dorpie tussen die plase en plasies woon: „Notreif”. Is dit ‘n bekende Afrikaanse uitdruk? Watse ding is dit dan, noodryp? In die Wörterbuch staan by Notreif „te vroeg ryp”. Is dit al?

Die verklaring wat ek van ‘n kleinboer van hier gekry het, is ongeveer soos volg:
As ‘n plant gekwes of beseer word, probeer hy om in weerwil daarvan soveel energie as wat hy nog het in die bloeisel te steek, sodat hy in herfs tóg ‘n vruggie dra, en volgende jaar kan minstens één saadjie weer opstaan en bloei. Dit skyn ‘n natuur­wet te wees, en ons praat byvoorbeeld in tye van droogte daarvan, of as die skoffel sy werk gedoen het, en die onkruid lê hulpeloos tussen die rye, as graanhalme of die stingels van tuin­blomme geknak word, wanneer hoefdiere of slakke dele van die plant wegvreet, of as ‘n groter plant ‘n kleintjie wil verdring of versmoor. Soms is die poging sukses­vol, soms nie. Soms word ‘n enkele plant bedreig, soms ‘n groep.

As dit ‘n mens was, sou ons sê, dis ‘n ramp of ‘n katastrofe in sy lewe. Ook by groepe: ‘n Gesin of grootfamilie, ‘n skool of ‘n myn, ‘n vereniging of ‘n firma. Sommige vind die nodige energie en veg tot hulle weer kop bo water kry — en klim dan uit die moeras uit. Andere hou die buitengewone, onverwagte druk nie uit nie — en gaan dan ten gronde.
Wat kan so ‘n ramp in ‘n mens se lewe veroorsaak? Heel moontlik iets uit sy kindheid: ‘n Ongeval of ‘n onreg wat vir so ‘n mensie ondraagbaar is, die verlies van iemand wat hy liefgehad het, die skeiding van die ouers, of soiets. Maar as ons ouer word, kan ons nog altyd onreg speur en verlies beleef, nie net die kleintjies nie. Die verlies van ‘n hand kan vir ‘n tennis- of klavierspeler, busbestuurder of mynwerker rampspoedig uitloop, of as iemand vals aangekla en onskuldig bestraf word. . . Slegs ‘n paar voorbeelde wat vir duisende moontlikhede staan.
En hy of sy wat dit kan oorwin, wat daaroor kan klim, kom op die ander kant as „’n ander mens” aan. Ons sê hy of sy het ervaring versamel, het dalk „wys” geword.

En ‘n volk? Wat se rampe kan ‘n volk oorval? Oorlog? Epidemie? Aardbewing? Kan ‘n volk ten gronde gaan of herstel na ‘n gewelddadige inbreuk in sy bewussyn as volk?
Soos by die Feniciërs und Azteke kan ‘n volk uitgeroei word. Hy kan homself oplos en in die navolgervolk asook in die buurvolke sy kulturele spore laat, soos by die ou Grieke en Romeine. Of hy kan homself opbreek en in klein splintergroepies deur die wêreld wandel, soos by die Hebreërs, met tweeduisend jarelang net een doel: Volkwees.

Maar, ‘n mens? Wat kan ‘n mens — wat aanhou lewe nadat sy „halm gebreek” is – wat kan uit hom word? Wat kan hy doen en bereik in sy „tweede lewe”? Ás hy nie ondergaan nie, ás hy nie alkohol of dwelms verval en ás hy nie in die psigiatrie of as klein boef in die tronk beland nie? Wat kan hy maak? Wat kan hy skaf?

Party mense maak ‘n volkome omkeer, ‘n 180 graad-omwenteling, soos by Stefan von Jankovich, nadat hy ses minute lank „breindood” was. Waarskynlik met reg is die strengste anti-alkoholiste die „bekeerdes” by voorbeeld. Sulke en soortgelyke mense het ‘n missie en predik of skryf hulle eie belewenisse op om hulle van ‘n inner­like druk te bevry. Ons kan sê, ‘n besondere weergawe van die „workoholic” ontstaan, wat iets, enigiets moet doen om net nie by dom gedagtes terug te beland nie. Al hierdie mense verdien ons agting, dit kry hulle ook, maar alte dikwels gepaard met ‘n dosis medelye. En dit is wat krenkend of selfs beledigend kan wees: „Al jou mooi woorde, goed en wel, maar daai trek om jou mond, daai blik in jou oë. . .”

Hulle wat in die kuns opgaan, kan ook soos die workoholic aangedryf word. In hulle binneste — mag hul kuns die skildery, musiek, dig, dans of tuinbou wees — werk die kreatiewe kragte. Hulle bloei nogmaals op, hulle dra toekomssaad, hulle word vrugbaar. Geestig vrugbaar. Ryp.
Noodryp.

©.2013/November2019___…oöÔöo…_____________________.tje




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 202
Kommentaar telling: 199

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 99 gaste aanlyn

Bydrae Totale