Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Nokkie Andreas se trek.

Deur Zeekoesteek
Datum gepubliseer: 7 Augustus 2016 Aantal woorde: 1346 837 Kere gelees 3

Nokkie Andreas se Trek.

Nokkie Andreas is blind. Hy is ’n Xhosa. Hy is nie meer jonk nie maar hy onthou goed. “Nee dit was daai tyd toe die mense van Potjiestroom hier kom en sê hulle wil vir Riemvasmaak hê. Toe’t alle mense bymekaargekom en ons Andreasse van Bok-se-puts ook. Toe sê die mense ons moet maar trek. Ons broerse praat toe en besluit ons trap vas. Hond se moer. Maar later het die ander broerse ook gepak en getrek.”

In 1973 het die Riemvasmakers gehoor hulle moet die plek ontruim. Sommige sou na Namibië verskuif word om by hul voorsate gevestig te word. Ander sou na Ciskei om daar gevestig te word.

“Khorigas! Die Jirre innie Jimmel alleen weet waar daai plek is. Gelukkig moes ons Oos-Kaap toe. Khorigas kon net so ver soos Sjina gewees het. Die klomp wat in ’74 getrek het, moes syntoe.”

“Mar lat ek jou vertel hoe ons eerste hier op Bok-se-puts gekom het.” Nokkie kry lekker as hy die storie vertel.

“Nou ons het hier gekom toe die spoor gelê is van doer onner af. Van King Williamstown het ons gekom, saam met die grootmense, ons jong mannetjies. So het ons gewerk-gewerk, Draghoenner, Putsonnerwater, tot teen die Grootrivier. Net met die kakiehemp en kakiebroek, kaalvoet. So het ons die spoor neergelê. Onse Xhosa mannetjies.”

Nokkie en sy groep was deel van ’n groep jong werkers wat vanuit alle dele van die Oos-Kaap gekom het. Hulle was hoofsaaklik Xhosas maar het gou geleer dat aanpassing die enigste manier is om te oorleef. Die sterkes het oorleef.

Terselfdertyd het Damaras vanuit Namibië hulself in die omgewing gevestig. Hulle was op hul beurt aan’t vlug vir die Duitsers wat op daardie stadium “Duitswes” beheer het en teen wie die Damaras in opstand gekom het.

Natuurlik was die verloop van sake meer kompleks as dit en stamgevegte het ook ’n groot rol gespeel. Nokkie Adreas en sy groep was egter opportuniste wat die beste van omstandighede probeer maak het.

“Toe ons by Upington kom het ons die brug daar gebou. Met die pont het ons die spoorlyn daar oor gebou. Net Louisvale se brug was daar. Toe’t die spoor aangegaan Duitswes toe, tot by Nakop.”

“Toe ons daar kom toe moet ons ’n staanplek soek. Toe sê die grootmense ons kan nie verby Nakop gaan nie, dis die Namas se grond.”

Die klompie Xhosas was verdeeld. Waarheen sou hulle gaan? Die Regering van die tyd het sy rug op hulle gedraai. Om die waarheid te sê, op daardie stadium was dinge nie so georganiseer soos later nie. Nokkie en sy groep was bloot werkers wat aan die einde van die pad gekom het. Party het gedink om terug Oos-Kaap toe te gaan maar die gedagte het nie veel aftrek gekry nie. Dis reeds van swaarkry dat hulle daar weg is.

“Toe wys die groot mense vir ons die baken van die Donker Malgasse. Hulle was Damaras. Hulle was deel van Die Bondel Swarts. Toe gat ons hier af, by Bok-se-puts. Sommige is af rivier toe, !Hûbu-!Hûb se kant toe. Toe sê David Malgas ons moet daar bly, dis die Malgasse se grond. Hy was hoeka die hoofman van die daai tyd. Dis hoe ons hier op Riemvasmaak gekom het.” Nokkie Andreas lyk so selfvoldaan as wat ’n blinde kan lyk. Dit lyk of hy ‘n saak in die konstitusionele hof gewen het.

Dan vat hy weer die storie se lyn. “Toe ek later trek moes ek my vee aan Plessis verkoop. Net ’n klein bietjie kon ek hou. Toe ek daar op King Williamstown kom sien ek nee, hierie plek sal nie werk nie. Die skape en bokke sal nie daar akkedeer nie. Die plek was te nat. Die groot mense het gedood op ’n streep. Dit was nie onse plek nie. Tot die hout was nat. Toe gaan ek na die Hofkantoor en sê vir hulle ek wil trug. Hulle sê toe: ‘nee, wag ’n bietjie,’ maar ek wag nie. Ek was hoeka nie ’n Roomse nie.”

“Hier gekom het Ereward Mosterd vir my staanplek by die van Rooyse van Noupoort gekry. Doerie kant toe. Dis goeie mense daai. Daar het ek gebly tot ek weer hier ingekom het. Toe is die soldate hoeka klaar hier. Daai tyd het ek nog die Chev bakkie gehad. Die ander een het ek vir vyftig pond verkoop. So het ek gekom, eers Witklip langs, toe Naroegas toe, gekyk, gekyk. Toet ek weer hier by Bok-se-puts gekom het. Onse voetspore lê hier tussen die klippers.” Nokkie Andreas herleef weer die storie asof dit gister gebeur het.

“Toe ek hier kom het ek met ’n paar bokke en ’n paar donkies wat ek by die van Rooyse gekoop het met daai ou Chev se geld, weer gebeginne. Hierie kant toe getrek, daarie kant toe getrek, al weg van die soldate af. Jirre ons het swaar gekry. Maar ons was nog jonk. Partykeer moes ek die heeldag wag vir die soldate om te trek voor ek die bokke kon afvat water toe. Maar so het ek en die vrou en die kinders hier gebly.” Nokkie het in die lug met sy hande geswaai terwyl hy praat. Hy was in sy eie woorde “te hardegat” om op te gee.

“Hulle het my toegesluit, klompe kere. Ou Swart Jordaan was die magistraat. Hulle het my donkies op ’n streep vrekgeskiet en vyf pêre. Hulle het my skape geskut en dan moes die swaer hulle daar loop uitgehaal.” Nokkie Andreas skuif rond op die bankie asof hy weer die landdroskantoor voor sy oë sien.

Eenkeer wou Magistraat Jordaan by Nokkie hoor hoekom hy nie maar liewer wil trek nie. Hy het mooi en stadig met Nokkie gepraat. “Die Regering gaan jou nie uitlos nie. Trek liewer en begin ’n nuwe lewe iewers. Jy hoef nie weer Ciskei toe te trek nie, Riemvasmaak is Weermag grond. Ons weet nie wat met Suid-Wes gaan gebeur nie.”

“Aikôna, die grens loop daar oor Bok-se-puts, dis waar die lyn loop. Dis so afgesny. Dis waar ek gebly het. Ek het nie diékant gekom nie. Daai grond is vir ons gegee. Die Donker Malgasse se baken. Onse voetspore loop daar tussen die klippers.” Nokkie het voet by stuk gehou. Magistraat Jordaan het sy kop geskud en nie weer met Nokkie gepraat nie.

Op 8 SAI in Upington het die bevelvoerder besluit om van Nokkie ontslae te raak deur die wêreld moeilik te maak. “Hy sal gee-pad as die koeëls rondom hom klap.” Nodeloos om te sê, dit het nie gewerk nie.

“Toe skiet hulle so oor my, maar ek het gebly. Jirrie jong, dit het partykeer soos oorlog geklink. Dan was ons skytbang maar ons het maar koes-koes aangegaan. Later het hulle luitenant by my gekom, hy was ’n Botha, en vir die vrou gesê ek moet net ’n bietjie diékant toe skuiwe, dan sal hulle my uitlos. Toe skuif ek, maar ek het nooit getrek nie. Onse voetspore lê hier tussen die klippers.” Nokkie beleef weer die gebeure en hy sit regop terwyl hy die storie vertel.

“Elke keer het hulle weer gekom en gesê ek moet trek en dan sê ek nee, die lyn loop daar by die blou banke uit. Dis my grond dié. Hulle het my weer geloop toegesluit en ’n krippel bok van my doodgeskiet. En ’n skaap wat krippel was van die ver loop. Oe ek was kwaad maar dit het net gemaak dat ek nog meer hardegat gewees het. Jy moet weet elke dier wat hulle doodgemaak het moes ek eers weer terug wen voor ek kon dink aan trek. En daai wêreld het gereënt soos hy wil. Jy het nie eens altyd goeie veld gehad nie.” ’n Mens kon sien dat Nokkie nie ’n plan gehad het om te trek nie.

Later het van die ander broers by Nokkie aangesluit. Sommige het op ’n afstand gebly en ander was meer dapper. Stadig maar seker het die groepie groter geword en het die Weermag hulle maar uitgelos.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Toom

    8 Augustus 2016

    Baie mooi vertel.
    ‘n Waardevolle dokument, meen ek.
    Dankie. GvT

  2. Anze

    8 Augustus 2016

    dit was nou wraggies n lekker lees hierdie! Dankie vir die deel

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 8
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 125 gaste aanlyn

Bydrae Totale