Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Net regs van Orion

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 24 April 2018 Aantal woorde: 2289 444 Kere gelees 7

Net regs van Orion, deur Stephan Uys

“Eet jou ertjies, Boeta. Jou kop is alweer by die sterre”, hoor ek Pa se stem deur my gedagtes beur.
“Nee Pa, ek is net besig om klaar te kou”, verweer ek myself halfhartig.
“Het jou ma die ertjies in die vorm van Orion uitgeskep?” vra my pa met sy kenmerklike skewe glimlag. Uitgevang! Ek kan nog miskien vir ander mense stories vertel oor hoekom my ertjies so rondgestrooi lê en koud word op my bord, maar my pa is nie sommer enige mens nie. My pa is professor doktor by die Universiteit van die Kaap. Sy vakgebied is astronomie, of sterrekunde soos dit algemeen bekend staan. Voor ek hom kan antwoord praat die professor in hom: “Daardie ertjie daar heel regs hoort in jou maag Boeta, hy is nie deel van Orion nie.”
Wat Pa nie weet nie is dat dit juis daardie eenkant ertjie is wat my so diep in gedagte het. Hoewel ons tydens semesters in Bellville woon, migreer ons gesin na die familieplaas in die Prins Albert omgewing sodra die vakansies aanbreek. Hier is die lug skoon en die aande nog redelik donker. Hier het ek my ouers se liefde vir die sterre leer verstaan en deel. Pa het jare terug al ʼn oopskuif luik in die solder se dak laat insit en die vloer laat versterk. ʼn Kragtige teleskoop het daardie vakansie deel van die solder se meublement geword. Daar was reeds ʼn hele paar volumes boeke in die solder se boekrakke wat handel oor die sterrestelsels in die hemelruim. Pa het verduidelik dat dit makliker is om ʼn teleskoop na die boeke te bring, as om al die boeke elke keer na die teleskoop toe te vat as ons dit buite op die gras wil opstel. Pa was reg! Ek het ure gespandeer om dan na die sterre, en dan na die boeke te kyk. Ek was gefassineerd en het probeer om soveel sterre moontlik te identifiseer, in die hoop dat ek een kan sien wat nog nie geïdentifiseer is nie. Toe kry ons internet op die plaas en skielik was die hemelruim nog meer hemels en nog ruimer as ooit van tevore. Soos alle astronome voor my, en almal wat na my vir ure in die lug in sal staar, het ek elke aand gesoek na ‘n onbekende ligpunt in die hemelruim. Ek is seker daarvan ek het drie aande gelede daardie ligpunt 1,3 ligjare ver van die aarde af langs die Orion nebula gevind. Ek is egter nie heeltemal seker nie en wou eers sien of dit beweeg voor ek iets sê. Ek besluit om my ouers te vertel van my ontdekking: “Nee Pa, ek is nou al drie dae besig om na daardie ertjie te staar. Ek mag my verbeel, maar ek is seker ek sien iets wat dof skyn daar langs die Orion nebula.”
Pa vryf met sy hand oor sy ken terwyl hy nadenkend na my bord staar. “Is jy seker, Boeta? Kan dit nie dalk… nee, jy sal dit herken het”, val hy homself in die rede. “Reg Boeta, vanaand gaan ek en jy daardie ertjie naby Orion soek”, belowe Pa my voordat hy weer begin smul aan Ma se heerlike skaapboud.
Later die aand, toe dit al mooi donker is, gaan ek en Pa solder toe. Die teleskoop is nog die heeltyd op die Orion nebula gerig, en Pa stel net die fokus gou reg. “Hm, dit lyk nogal of daar iets daar kan wees Boeta”, gee hy toe. Hy haal sy foon uit en soek op NASA se webwerf vir foto’s van daardie gedeelte van die hemelruim. Na ‘n redelike gesoekery en swerwery tussen foto’s en webwerwe kry ons egter niks wat vir ons meer duidelikheid gee nie. “Môre ry ek en jy SALT toe”, belowe pa my nadat hy tevergeefs vir meer inligting en foto’s gesoek het. Daardie aand kan ek amper nie slaap nie, so opgewonde is ek.

Vroeg-oggend vat ons die pad na Sutherland. Ma het besluit sy kom saam en dit word ‘n lekker uitstappie. Dit is omtrent drie en ‘n half uur se ry daarnatoe, en ons eet sommer ontbyt langs die pad. Ma skink koffie terwyl ons ry en eenkeer moet pa stop sodat ek ‘n verdroogde bossie kan water gee. Ek was nog besig om die bossie se lewe te red toe kom help Pa my. Ma het egter vir ons laat verstaan die arme bossie sal vrek van die dors voor sy hom help lawe. Pa moes toe ietwat harder op die versneller trap, want Ma het hoeka begin kla sy voel soos ‘n waterkar. Ons eet eers gou ‘n vroeë middagete in Sutherland voor ons die paar kilometer na SALT toe aanpak.
‘South African Large Telescope’ pryk in groot letters by die ingang. Pa is ‘n ou-bekende hier en die sekuriteitswag groet hom op sy naam. Ons word ingeteken en vat koers na die vierkantige gebou wat die grootste alleenstaande optiese teleskoop in die suidelike halfrond bevat.
Dit vat ‘n ruk om die teleskoop op die regte plek gefokus te kry. “Jou wragtie Boeta, daar is jou ertjie!” roep Pa verstom uit. Ek voel ek gaan bars van opgewondenheid. Sê nou net ek het ‘n nuwe ster ontdek, of dalk ‘n meteoriet wat naby die aarde gaan verbygly! Ek hou Pa opgewonde dop terwyl hy nog verstellings aan die teleskoop aanbring. Na ‘n uur se stel en soek kan ons steeds nie veel meer sien as net ‘n kol wat lyk of dit naby aan Orion is nie. Pa is erg gefrustreerd.
“Boete, hierdie ertjie van jou is ‘n splinter nuwe ertjie sover dit my aanbetref, maar ek kan net nie uitmaak presies wat en waar dit is nie!” sê Pa terwyl hy my hare deurmekaar krap. “Dit is so jammer dit is naby Orion, want die Noordelike hemisfeer kan nie Orion baie duidelik sien die tyd van die jaar nie.”
Pa maak ‘n oproep na ‘n kollega wat by NASA werk. Hy gaan staan eenkant in die vertrek en praat onderlings met sy vriend. Hulle is ‘n hele ruk besig voor Pa aflui.
“Sover my kollega weet is daar nog nie vantevore enige iets daar opgemerk wat ons met gewone teleskope kan sien nie, Boeta. NASA gaan ook nou loer na daardie ertjie van jou. Die enigste ding wat so groot kan wees soos jou ertjie, is ‘n sterrestelsel, maar hoe verskyn ‘n sterrestelsel oornag? Ek het opdrag gegee dat jou ertjie dopgehou word hier by SALT, en NASA gaan dieselfde doen. Ons sal die slim mense so drie dae kans gee om uit te werk wat dit is en om seker te maak dit is rerig iets nuuts op ons sterrekaart”, sê Pa vir my met ‘n knipoog. Miskien dink Pa hy steek dit weg, maar ek kan sien hy is verskriklik opgewonde oor my ontdekking.
Ons dwaal nog so ‘n rukkie daar rond, hoopvol dat iemand vir ons meer inligting kan gee, voor ons in die pad val terug huis toe. Ons eet sommer van Ma se oorskiet skaapboud, en daar is so baie om oor te praat dat my ertjies wraggies weer in my bord lê en koud word. Daardie aand kyk ek lank na die ertjie langs Orion. Iets is net nie reg nie. Die kol moes al sy posisie teenoor Orion verander het, maar dit het nie. Ek kan nie wag vir die drie dae om verby te gaan nie, die nuuskierigheid brand ‘n gat in my slaap-patroon.

Ons hoef nie drie dae te wag nie. Ons is besig om ‘n laat ontbyt te eet twee dae later toe my pa se selfoon lui. “Dis NASA” sê hy met groot-oë en stap buitentoe vir ‘n beter ontvangs. Ek hou hom dop terwyl hy op en af stap en elke nou en dan met sy hand deur sy hare vryf. Iets is groot verkeerd, my pa is beslis meer bekommerd as opgewonde! Hy het groot nuus toe hy die huis inkom.
“Boeta, daardie ertjie van jou het die mense met die dik brille en baie penne se koppe deurmekaar. NASA weet nie wat dit is of waar dit is nie. Hulle het allerhande toetse gedoen en seine gestuur, maar hulle kan glad nie die afstand na die voorwerp bepaal nie. Hulle kan net sê dat daar wel ‘n lig-kol is. Dit bly op presies dieselfde plek staan teenoor die aarde en Orion. Dit beteken dat dit vir ons lyk asof dit nie beweeg nie, maar in werklikheid is daardie voorwerp die heeltyd besig om van posisie te verander.” Pa bly vir ‘n oomblik stil voor hy verder praat. “Dit lyk amper asof dit daar wag om raak gesien te word!”

Ons bly nog twee dae op die plaas voor ons terug gaan na Bellville toe. Presies sewe dae na ek die ertjie ontdek het, ontdek ‘n joernalis die storie. My en Pa se foto’s pryk groot op die voorblad van ‘n nasionale koerant. “Prof se seun ontdek Ertjie”, staan in dik swart letters bo ons foto’s geskryf.
“Sulke halwe waarhede. Kan die man nie eers sy feite regkry nie?” brom Pa nadat hy die artikel hardop vir ons gelees het. Die joernalis beweer dit is waarskynlik ‘n nuwe sterrestelsel wat ontdek is. Die artikel gaan egter meer oor my wat as jong seun reg gekry het wat die sterrekundiges met al hulle toerusting nie kon doen nie. “Jy gaan vandag baie gewild wees by die skool, Boeta”, waarsku Ma my terwyl sy vir my en Pa elk ‘n koppie koffie skink. Daardie dag kom ek tot die oortuiging dat Ma die toekoms kan voorspel! Teen die tyd dat die skool uitkom wens ek eintlik ek het nooit die ‘ster’ ontdek nie, want almal wil hê ek moet die storie vir hulle vertel. Kinders wat nog nooit met my gepraat het nie, kan nie ophou om met my te gesels nie. Dit gaan vir twee dae so, en toe beweeg my ertjie nader na die aarde!

Die kol wat ek ontdek het word deur almal ‘Ertjie’ genoem, selfs NASA gebruik die naam in hul publikasies. Ek dink dit is miskien omdat niemand kan sê presies wat dit is nie. Ek en Pa sit en TV kyk terwyl ma skottelgoed was, toe sy foon lui. Hy is ook al moeg vir al die oproepe wat hy die laaste paar dae kry, maar toe hy sien wie skakel antwoord hy gou. Ek hoor hy praat met iemand by SALT. Ek luister met gespitste ore en probeer my bes om die gesprek te volg: “Dit het net verdwyn?…Tien minute gelede? Hou my op hoogte van wat aangaan asseblief.” Opgewonde lui Pa af en vertel vir my en Ma dat die Ertjie tien minute gelede net spoorloos verdwyn het. Elke liewe teleskoop op die aarde is glo besig om naarstigtelik te soek na my ertjie. Twintig minute later skakel SALT hom weer; hulle vermoed Ertjie is gevind net buite die aarde se voordeur.
Die maan is ongeveer 384 400 km van die aarde af. SALT ontdek ‘n vreemde voorwerp agter die maan, omtrent 1 200 000 km van die aarde af. Die voorwerp is groter as die maan en dit is duidelik dat iets of iemand dit gebou het. Die helder lig waarmee dit gloei laat dit nog groter lyk as wat dit werklik is. Skielik besef die kundiges en regerings van die aarde ‘Ertjie’ is nie ‘n sterrestelsel, ‘n planeet, of ‘n metioriet nie, dit is ‘n VVV; ‘n vreemde vleënde voorwerp! Wie of wat dit gemaak het, is net so onbekend as waar dit vandaan kom of wat dit hier soek.
Die nuus veroorsaak chaos op ons planeet. Regoor die wêreld word oud weermaglede opgeroep vir militêre diens. Jongmanne wat nog besig was om te studeer of te vry, vind hulself oornag in die weermag, besig om ‘n geweer intiem te leer ken. Pa, Ma en ek gaan neem privaat skietlesse, en Pa koop vir ons ‘n hele klomp wapens. Reg oor die wêreld word daar reg gemaak vir ‘n moontlike oorlog, terwyl al wat predikant is preek oor vrede en die eindtyd. Daar word ‘n spesiale waarskuwings-sein uitgebring wat internasionaal erken word. Almal op aarde weet as jy “whoep – whoep – whoooop, whoep – whoep – whoooop” hoor, beteken dit die Ertjie, of iets in Ertjie, het ons lugruim binnegedring.

‘n Paar maande gaan verby en reg oor die wêreld raak mense gewoond aan die Ertjie agter die maan. Die lewe gaan voort en hier en daar het party lande al weer met mekaar begin oorlog maak – hulle kon skynbaar nie wag vir Ertjie om eerste moeilikheid te maak nie.
Ek en Pa is een aand besig om Ertjie deur ons teleskope te bestudeer toe daar ewe skielik duisende kleiner piering-vormrige voorwerpe van agter Ertjie te voorskyn kom! Oomblikke later begin die “whoep – whoep – whoooop, whoep – whoep – whoooop” van die VVV waarskuwing deur die strate te weergalm. Dit voel vir my of die grond my vassuig terwyl die serene se geluid oorverdowend in my kop weerklink. Ek kan Pa se stem so vaagweg hoor sê: “Dis tyd, Boeta, dis tyd!” Die wêreld begin ruk en skud en Pa se stem word al dringender: Kom Boeta, dit is tyd!”
Terwyl ek sukkel om my oë oop te maak, soek my hand na my wekker. Pa sien ek is wakker en hy hou op om soos ‘n stout kind op die bed rond te wip. Ek kyk so deur die slaap na my horlosie; dit lees “11:54”. Ek spring uit my lekker warm bed en hardloop sommer kaalvoet na die solder toe. Miskien is vanaand die aand wat ek daardie ertjie ontdek wat ek elke aand van droom!




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 89
    Kommentaar telling: 5

    Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 44 gaste aanlyn

    Bydrae Totale