Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Nastergal Wolfram en die 72 Maagde

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 21 Oktober 2019 Aantal woorde: 1412 99 Kere gelees Hou van

“Dis nie dat jy lelik is nie, dis net dat… nee, ek kan tog nie so oopbek lieg nie. Dis oorlat jy so lelik is.”
“Ons sit die ligte af en jy maak toe jou oë…”
“Nee dankie.”
“Wat van ‘n stukkie geel vet biltong?”
* * *
Soos dit mos maar op ‘n klein dorpie met net ‘n kerk en ‘n bottelstoor gaan, was daar dosyne stories oor wie Nastergal Wolfram se pa nou eintlik was. ‘n Lekker skinderstorie loop mos halfpad om die wêreld voordat die waarheid ‘n kans het om sy broek aan te trek.
Nastergal se ma was die besprekingsklerk by Nababeep se stasie. Nababeep se bevolking het uit meer vrouens as mans bestaan. Mens dink mos nie regtig oor dié goed nie, mens neem nou maar aan daar is ewe veel mans as vroue op ‘n plek, sodat elke pot ‘n deksel kan kry. Op Nababeep was daar egter meer potte as deksels wat beteken het dat baie van die vroue maar kort hare, gemaklike skoene en hemde met knope moes dra as hulle ook bietjie liefde in die lewe wou hê. Maar Nastergal se ma was nie hiervoor te vinde nie, so sy het maar in alleenheid in die ou spoorweghuisie gebly. En so in haar alleenheid het sy begin bult wys op ‘n manier wat ‘n alleen vrou nie kan bult wys nie. Die tonge het geklap. Party meen die pa was ‘n Duitse toeris wat op pad Wildtuin toe verdwaal het, en na te veel regs draaie in Nastergal se ma se bed beland het. Ander meen weer daar is genoeg matriek seuns op die dorp wat meer hormone as gesonde verstand het. Nastergal se ma het egter geswyg, en sonder skuldgevoelens of verduidelikings die kind die wêreld ingebring.

Nastergal Wolfram was nou nie regtig sag op die oog nie. Dit was nie veel van ‘n probleem toe hy ‘n klein kind was nie, want sy ma kon hom darem uit die gemeenskap se oog en die skindertonge se bekke hou. Maar hy moes uiteindelik kleuterskool toe gaan Die hele klas het vir ‘n week trauma berading gekry kry nadat hulle hom die eerste keer gesien het, maar hulle het darem naderhand gewoond geraak aan sy gesig. Niemand wou met die stomme kind maatjies wees nie, wat Nastergal genoodsaak het om maar ‘n denkbeeldige vriend, Akkedis, op te maak net vir bietjie geselskap. Akkedis wou egter ook nie saam met Nastergal gesien word nie, en het weggeloop om met die bure se kinders te gaan speel. Nastergal se ma het toe nou maar ‘n hond gekoop, en dit reggekry dat die hond met Nastergal speel deur ‘n stukkie geel vet biltong om sy nek vas te maak.

Puberteit is vir almal maar vreemde en angswekkende jare. Jou ledemate groei mos maar in vreemde fases en verskillende tempo’s in die tyd tussen kind wees en mens word. Vir Nastergal was dit tien maal erger. Op ‘n stadium was sy een arm sommer korter as die ander een en sy voete het soos ‘n paar waterski’s gelyk. Boonop het hy nog die vloek van puisies ook gehad. Op ‘n goeie dag sou ‘n blinde mens die volledige werke van Willem Wikkelspies op sy gesig kon lees.
Soos elke ander seun op die planeet aarde was Nastergal se hormone ook oordadig. Nastergal het die ander seuns hoor praat, in die aantrekkamer, oor hul prestasies en ontdekkingstogte saam met nuuskierige en wulpse meisies. ‘n Gesteelde soen agter die fietsloods. Die binnewerking van buustelyfies. Beloftes van “as jy lief is vir my sal jy”. Vir die eerste keer het die depressie vir Nastergal platgetrek oor sy lelikheid. Geen meisie het belanggestel in Nastergal Wolfram nie. Hy het selfs by Maklike Magriet se deur gaan aanklop. Maklike Magriet was net so breed as wat sy lank was, en sou stil lê vir so lank as wat ‘n boks Quality Street tjoklits haar gehou het. Maar selfs sy wou niks weet van Nastergal nie – nie eers vir ‘n stukkie geel vet biltong nie.

Nastergal het ‘n broek vol onskuld gehad waarvan hy moes ontslae raak. Hy was net duskant agtien toe hy hoor van die ‘terroriste’. Die terroriste van die Midde-Ooste is mos konstant de moer in vir die Amerikaners. Elke nou en dan, dan kry ‘n ekstremistiese gelowige ‘n bevlieging, bind ‘n bom aan homself vas en gaan blaas iets in Amerika op. Dit alles vir die belofte van 72 maagde in die hiernamaals. Nastergal se drange het soos wilde storms enige teken van logika en gesonde verstand weggewaai. Hy het besluit dat die enigste manier om ontslae te raak van sy onskuld, was om ‘n martelaar te word. 72 maagde? Wat kan ‘n tienerseun nou meer voor vra? Asseblief en dankie.

So het Nastergal by die kopermyn se kantoor ingebreek en ‘n halfdosyn dinamiet gesteel. Hy het die dinamiet in sy broeksak gedruk en met ‘n boksie vuurhoutjies in die hand gestap na Oom Henrie se Ford bakkie toe. Want Ford kom mos van Amerika af. Nastergal het ‘volgens tradisie’ uitgeroep “Allan Takbar!” en met bewerige hande die lont van die dinamiet aangesteek. Die probleem was egter die dinamiet was nie dinamiet nie. Dit was maroen Yankee Candle kerse wat die mynbaas persent gekry het van ‘n vriend in die stad. Nastergal het sy ore toegedruk en gewag vir sy einde en die daaropvolgende 72 maagde. Al wat egter gebeur het was dat die heerlikste reuk van kersiebloeisel oor hom gehang het. En tóé die reuk van corduroy wat brand. Nastergal het versigtig afgeloer na die ‘dinamiet’ en gesien sy broek is aan die brand. Met die reuk van hare wat skroei wat by die geure aangesluit het, het Nastergal vir ‘n oomblik helder begin dink. Hy het net daar besluit dat hy nie 72 maagde nodig het nie. Ook nie eers 72 los meisies nie. Hy het mos twee gesonde hande waarmee daar niks skort nie. Nastergal het met die spoed van ‘n heilige hadeda uit sy klere gevlug en in sy adamsgewaad langs die vuurtjie van klere geëindig, stomgeslaan dat corduroy so gevaarlik kan wees.

Oom Henrie se dogter, Marra-Marra, was nie pragtig nie, maar darem ook nie lelik nie. Sy was egter al 21 en soos baie vroue op die dorp, enkellopend. Sy was bitter spyt dat sy op skool haar neus vir al wat ‘n seun was opgetrek het. Sy het te laat besef dat daar minder seuns as meisies op die dorp was. Marra-Marra het met ‘n sug by die venster uitgestaar en diep gedink oor ‘n brandende begeerte in haar wat sy nie mooi kon plaas nie. Haar gedagtes is onderbreek toe sy daai Nastergal seunskind voor haar venster sien verby sluip.
“Wat op dees aarde!?” Het sy geprewel, die flits gegryp en saggies deur die huis beweeg, by die agterdeur uit. Sy het Nastergal by haar pa se Ford sien staan en hom in stilte, vanuit die donker van die nag, dopgehou.
“In die dag is hy darem vreeslik lelik, maar in die donker kan mense half vir hom kyk.” Het Marra-Marra gedink, amper soos iemand wat haar opsies oorweeg.
Die volgende oomblik trek die jong man voor haar ‘n vuurhoutjie, steek ‘n kers in sy sak aan en druk sy vingers in sy ore. Oomblikke later slaan Nastergal se broek aan die brand. Marra-Marra kon nie meer uithou nie en het uitgebars van die lag. Sy’t ‘n tree nader gegee en die flits aangesit terwyl Nastergal met ongelooflike spoed uit sy vlammende klere klim.

Nastergal het met groot oë omgedraai, net om verblind te word deur die flits se lig, soos ‘n haas in ‘n kar se kopligte.
“Wat maak jy?” Het ‘n jong vrouestem uiteindelik gevra. Die flitslig het gesak sodat dit nie meer reg in Nastergal se oë skyn nie.
“Ek…” Nastergal het probeer woorde soek, maar sy gedagtes het ander rigting ingeslaan toe hy besef dat die flits skyn reg op sy ‘onskuld’ geskyn het. Hy het lomp probeer toehou, maar selfs sy groot, lomp hande was nie genoeg om alles toe te hou wat moes toe wees nie.
“Sjoe…” Het die vrouestem met ongeloof gepraat. “Jy’s groot!”
Nastergal het nie verstaan nie. Hy was nie vreeslik fris nie en een van die kortste seuns in sy standerd. Wat praat sy?
“Wil jy nie inkom nie?” Het sy weer gepraat, met ‘n stemtoon wat Nastergal nog nooit gehoor het nie. “Ek het ‘n liniaal in my kamer. Ek wil meet.”




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Paula

    28 Oktober 2019

    Riaan, ek het nou gelag dat ek bly le! Briljant – ek het dit vreeslik geniet. Jou sin vir humor hou van myne!

  2. Riaan Palmer

    29 Oktober 2019

    @paula – Baie dankie! 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 112 gaste aanlyn

Bydrae Totale