Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Nagmerrie van Pyn

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 28 November 2016 Aantal woorde: 868 777 Kere gelees 17

Tyd het geen betekenis nie. Roetine maak dat een dag in ‘n ander in loop en selfs naweke nie van mekaar onderskei kan word nie. Partykeer is dit ‘n goeie ding, hierdie lewe waar daar skaars gedink hoef te word. Veral die dae wanneer pyn regeer en dit moeilik is om een woord agter die ander te vorm.

Die manier hoe party mense vir my kyk wanneer swart kringe om my oë gevorm is – soos iemand wat gereeld partytjie hou – kan ek maklik miskyk soos aura wriemelende stukkies lig in my gesigveld hou. Ek wens die uiterlike simptome van pyn was eerder omdat ek ‘n dronklap was. Ek wens dat pynpille help. Ek wens dat die verskeie toetse en skanderings wat gedoen was nie skoon was nie – dan kon daar dalk iets gedoen geword het vir hierdie nagmerrie wat nooit ophou nie.

Mense verstaan nie pyn nie. Hulle dink dis als in my kop. Wel, dit is die deel van my wat die meeste pyn… As ek weer moet hoor “sluk ‘n pil en kom daaroor” doen ek dalk iets wat ek sal berou.

Daar is geen patroon tot my, kom ons noem dit maar, hoofpyne nie. Gelukkig is daar ‘n patroon tot my lewe: staan op, oefen, ontbyt, werk, huis, slaap. Daar is ‘n paar goedjies tussen-in, maar hulle hoef nie genoem te word nie – nes hande was iets is wat gereeld gedoen word sonder om aangeteken te word.

Ek weet dat ek stadiger werk die dae wanneer die pyn so erg word dat ek nie kan sien nie. Ek weet ook dat ek nie altyd alles onthou wat ek moet nie – na alles kry die brein seer elke keer wanneer ‘n mens ‘n hoofpyn het.

“Ag, sluk ‘n pil en kom daaroor.”

Ek drink ‘n handvol pille elke oggend en elke aand. Ons praat nie eens oor die pynpille wat ek sjuutjies tussen-in gebruik nie. My pyndokter weet. Ek is baie eerlik met hom. Hy verstaan pyn. Hy verstaan dat daar dae is wat ek nie wil opstaan nie – hy verstaan ook dat dit absoluut nodig is vir my om iets te hê wat my dwing om op te staan in die oggend. Hy verstaan dat daar nie altyd ‘n duidelike fisiese rede is dat mense pyn verduur nie. Nuwe studies het gewys dat dit ‘n gaping in DNS is wat maak dat party mense hoofpyn kry en ander hulle hele lewe kan gaan sonder om dit te ervaar.

Ek beny die mense wat min of nooit hoofpyn kry nie. Ek wil ook hê dat hulle in hul volgende lewe moet terug kom in my posisie van pyn. Dis na alles hulle wat dink dat pyn nie ‘n werklikheid is nie. Baie soos ‘n sekere groep wat glo dat aardsverwarming nie ‘n regte ding is nie – hulle moet ‘n bietjie die effekte daarvan ervaar en nooit van dit kan ontsnap nie.

Die nuutste sosiale kwessies wat bespreek word – ek sal weet, ek werk elke dag met die data wat opgeem word oor alle sosiale media – gaan meesal oor hoe treitering en selfmoord aanmekaar gekoppel is, veral tussen hoërskool leerlinge.

En tog is hulle wat so baie van so baie weet absoluut blind vir die skade wat hulle berokken deur pyn as niks af te maak.

Silwer vang my oog en ek glimlag wrang. Dit sal so maklik wees om die nagmerrie wat my jaag te ontvlug. Ek sal dit nooit weer hoef te ervaar nie. Ek sal nooit weer die hoonlag hoef te hoor wanneer donker kringe my oë omsirkel en ek skaars op die rekenaarskerm kan sien nie. My huis is skoon, my sake in orde. Selfs die mense wat my sal mis verstaan nie die pyn wat ek ervaar nie – hulle dink ek sit aan.

‘n Sug – van verligting? – onstnap my soos die wriemelende lig-wurmpies my sig verlaat saam met die donker kolle en ek weer kan sien. Ek maak die laai toe en sluit dit.

‘n Vriend wat ook deur hierdie nagmerrie van pyn gejaag word het my vertel dat hy een aand op die dak van sy woonstelgebou, stormdronk, gedans het naby die rand. Die reën het oor hom gespoel en die weerlig het in die lug gespeel. En hy het sy kans gevat: as hy oorleef tot die oggend toe, sal hy aanhou veg teen die pyn wat daagliks aan hom vreet.

Hy stuur nog gereeld vir my eposse.

Ek speel daagliks ‘n kat-en-muis-speletjie met die pyn: wanneer dit te erg word sluit ek my lessenaarlaai oop. Partykeer wyk die pyn. Ander kere wink die silwer rewolwer sterk deur die kolletjies wat ek sien.

Soos ek by die trappe af loop na die parkeerarea, wonder ek of daar nie dalk ‘n beter opsie is nie. Miskien moet ek toelaat dat ‘n neurosjirurg deel van my brein uitsny in ‘n ongetoetste operasie en deel van myself verloor. Nee. As ek gaan opgee, gaan ek dié wat dink pyn is nie eg nie eers wys hoe verkeerd hulle is.

Ek gaan ‘n groter geweer nodig hê. Of dalk gif…

‘n Spieël reflekteer die skalkse glimlag om my mond. Partykeer help my donker fantasieë om deur die ergste pyn te kom.




TEMAS
5 Kommentaar
  1. Ronel Janse van Vuuren

    28 November 2016

    Ek ken so baie mense wat met pyn – fisies en emosioneel – rondloop en tog word hulle gesondheidkwessie afgemaak as niks. Dalk klink hierdie nie vir almal na ‘n probleem nie: probeer jy met ‘n migraine jou daaglikse take doen, dan praat ons weer. Ek hoop hierdie verhaal help om lig te werp op ‘n kwessie wat baie mense raak.
    *Soos altyd is hierdie nie op enigiemand gebaseer nie, net my eie observasies en ervaringe.*

  2. Anze

    28 November 2016

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die ‘n Stem vir Gesondheid projek

  3. Kiekies

    28 November 2016

    Pyn, soos enige iets anders in die lewe, sal mens slegs verstaan as jy dit ervaar het. Dankie dat jy hierdie gedeel het! Seblief tog, hou daai laai gesluit, want daai ding bing die ergste pyn ooit!

  4. neels

    28 November 2016

    Pyn kan n mens se grootste vyand word om mee saam te leef

  5. Ronel Janse van Vuuren

    29 November 2016

    Dankie Anzé, Kiekies en Neels vir die saamlees en kommentaar. Ek’s bly hierdie verhaal het so baie emosie ontlok. Partykeer kyk ons pyn – ons eie en ander s’n – mis omdat dit makliker is as om ‘n gebreekte been te ignoreer.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 95
Kommentaar telling: 265

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 43 gaste aanlyn

Bydrae Totale