Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Nageslagte. Nie vir my nie, dankie!

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 26 Augustus 2019 Aantal woorde: 1166 71 Kere gelees 1

Dit is vir my nogal moeilik om oor “nageslagte” te skryf met die dat ek – om tegniese redes – nooit ‘n “nageslag” van my eie gaan hê nie. Die Liewe Vader het in Sy wysheid geweet ek is nie Pa-materiaal nie.
Sien, ek het ‘n natuurlike vrees vir kinders. (Of is dit nou eintlik ‘n “onnatuurlike” vrees?) Dalk is dit omdat die monstertjies, ag-askies-ek-bedoel mensies, so onvoorspelbaar is. Met volwassenes weet ek gewoonlik wat in ‘n situasie gaan gebeur – volwassenes is redelik voorspelbaar.
Maar kinners? Nee. Hulle kan enige oomblik enige iets sê, of doen. En dit maak my senuweeagtig, want ek wil in beheer wees van ‘n situasie. Kinners maak dit onmóóntlik om in beheer te wees.

As ek mooi daaroor dink het my vrees ontwikkel in my laaste jaar op Varsity. My broer het my gevra om hom te help verf. Nou ek is nie vreeslik groot op fisiese handearbeid nie. Ek hou nie van iets dra of optel of neersit of was of verf nie. (My Ma meen my ‘lui-klier’ is ooraktief.) Nietemin belowe my broeder my dat daar gaan drank wees. En kos. Maar meer belangrik drank. As student is jou prioriteite mos maar bietjie anders, en ek stem toe in, met die vooruitsig dat ek gaan verniet kan wyn vir die dag.
Nou, my broer het ‘n beeldskone vrou, en hy sukkel nogals om van sy vrou af te klim Met die gevolg dat hy 4 kinders het. 4 meisietjies om presies te wees met ‘n effense variasie in ouderdomme. Die 5 vroue in een huis het my broer se moed, gees en wil bietjie gebreek, wat veroorsaak het dat sy ouerskap-styl tot “Gods water oor Gods akker” ontaard het.

So kom ek vroeg die afgesproke Saterdagoggend daar aan. Dit alleen was alreeds pynlik vir my, want as student is ‘7 uur die oggend’ iets wat met ánder mense gebeur, nie met my nie. In die kombuis is die vrou besig om die nagevolge van ontbyt te probeer skoon kry. Soos dit vir my lyk was daar ‘n oorlog tussen eiers en toast. Of ‘n dragtige hoender en ‘n brood is geoffer? Dis onduidelik.
Dadelik raak die 6-jarige en 4-jarige lus vir chit-chat toe ek daar aankom. Soos gewoonlik word daar oor totale lukrake onderwerpe gepraat.
“Ek het my eerste tand gewissel.” Spog die 6-jarige. “Ek het dit vir die tandmuis gegee, toe bring hy vir my geld. Maar eers die tweede aand. Hy’t die eerste aand vergeet.”
My broer vermy my kyk.
“O. En hoeveel het jy gekry?” Vra ek nuuskierig.
“Nie genoeg nie.” Kom die antwoord. Net om my broer te herinner dat hy vir die volgende – ten minste – 21 jaar totaal platsak gaan wees, danksy die 5 vroumense in sy huis. Maar ek het nie simpatie nie. Hy moes nie met so mooi vrou getrou het nie.
“Is dit more my verjaarsdag?” Wil die 4-jarige weet. Ek kyk vir my broer en hy antwoord sommer “Nee.” Sy vra dit glo elke dag. Selfs op die dag van haar verjaardag.
“Ek dog julle sou teen die tyd al aangetrek gewees het?” Vra hy sommer om hulle rigting te laat kry.
“Ek dog Pappa sou teen die tyd al beter geweet het.” Antwoord die 6-jarige snip.
Skoonsus gee “die kyk” en sonder ‘n woord verder verdwyn die hele lot van hulle.

Ons raak aan die verf en dis ook nie lank nie toe besluit ons die eerste vliegtuig is al oor. Tyd vir bier. Op ‘n stadium is daar ‘n geskreeuery in die ander vertrek.
“Gaan jy nie kyk wat aangaan nie?” Vra ek.
“Dit help nie. As jy daar kom weet niemand iets van niks af nie. Dis soos ‘fight club’. Hulle praat nie oor wat gebeur nie.” En hy trek sy skouers op.
Ook nie lank nie en een van die girls raak aan die huil. My broer laat sak sy kop, sug en loop dan met gesakte skouers om ondersoek in te stel. Minute later kom hy kopskuddend terug.
“En?” Vra ek nuuskierig.
“Hulle baklei oor wie volgende die ‘imaginary’ dolfyn mag ry…”

So verloop die dag en een na die ander vertrek kry ‘n nuwe laag verf. Ek leer ook die een na die ander les oor kinders. Ek leer byvoorbeeld dat ‘n kind sal ‘n droë ertjie wat al ‘n maand onder die yskas lê eet, maar nie ‘n vars wortel nie. Ek leer dat as jy “We will rock you” vanuit die badkamer hoor, dan vra jy nie watter mylpaal vandag behaal is nie. Ook dat ‘n tweejarige suiker wat op die vloer gemors het sal oplek; ten minste het hulle nie ‘n mier probleem nie.

Uiteindelik is ons klaar, maar omdat daar omtrent dieselfde hoeveelheid drank as verf gevloei het besluit ons ek kan nie terug huis toe bestuur nie. Ek sal op die bank kamp vir die aand.
Danksy my toestand raak ek moeiteloos aan die slaap – maar so 1 uur die oggend skrik ek verward wakker. Nou, as jy, soos ek, genoeg horror movies gekyk het, dan wéét jy al ‘n kind wat alleen in die nag rondloop, is bad news. Een of ander monster of demoon gaan enige oomblik toeslaan of uitspring.

Ek word wakker van iets – daai sesde sintuig. Reg by my gesig bekyk een van daai horror movie kinders my woordeloos. Chucky’s bride? Daai meisie van Poltergeist? Daai een van The Exorcist? Haar demoniese oë verraai dat sy oomblik my gesig gaan verslind. Altans, dis wat deur my kop gaan.
Ek gil verskrik, spring op en gee haar ‘n karate skop – alla Jean Claude van Damme – vol in die gesig. Of eerder: Dit was die plan. Maar in my dronkie toestand kry ek dit net reg om van die bank af te val, sonder om iemand skade te berokken. Die demoon-meisie staan steeds bo my en kyk amusant na waar ek paniekbevange op die grond lê en spartel.
Volgende oomblik hou sy haar wysvinger reg voor my neus.
Ek begin by my sinne kom.
Dis die 4-jarige.
Vir wat druk sy haar vinger hier reg voor my neus?
Ek dink nie mooi nie, en ek byt haar vinger. Nie byt-byt nie. Net saggies, speel-speel byt.
Sy trek haar hand terug en kyk met groot oë na haar vinger. Haar lip begin bewe. Dan kom die trane. Ek het duidelik nie mooi gedink nie!
“Ek is jammer!” Sê ek verskrik. “Ek het nie bedoel om jou seer te maak nie!” Ek vat haar handjie en soen saggies die vinger. “Toemaar. Kyk daar’s nie eers bloed of ‘n merkie of iets nie!” Paniek stoot in my op.
Wat de moer gaan ek vir haar Pa sê? “Nee, daar is niks fout nie. Ek het net jou 4-jarige se vinger amper afgebyt in die middel van die nag…”
Uiteindelik kry sy woorde uit tussen die snikke… “Nee… snik… dis nie… snik… seer nie… Jy’t my… snik… snot geëet wat ek vir jou gewys het… snik…”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 22

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 144 gaste aanlyn

Bydrae Totale