Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Storie vir sommeliers

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2019 Aantal woorde: 629 48 Kere gelees 2

“Ek weet nie of ek jou vertrou nie.”
“Jy kan my vertrou met jou lewe, my liewe Zin.”
“Maar natuurlik nie met my wyn nie. Gee dit terug!”
** ** **
Zin van Dell is gebore op die familie plaas, Pienno, duskant Uitenhage (daai tyd net “Tage” genoem). Ek kan nie die presiese geboortejaar onthou nie, en ek wil ook nou nie vir julle staan en lieg nie. Zin was nie gebore met ‘n silwerlepel in die bek nie. Nee, nee. Zin se lepel was 30 karaat roosgoud (daai tyd was die goud nog suiwerder as die afgewaterde goed van vandag) versier met die helderste granaatstene, robyne en ‘n spinel wat uit Koningin Victoria se kroon geval het, toe sy destyds op die plaas gekuier het.
Niemand weet presies hoe groot die plaas was nie – ons weet net hy was báie groot. ‘n Staljong, Nebbie Hollo, het eenkeer van grensdraad tot grensdraad probeer ry te perd. Nebbie het die Westelike hoekpaal gekry langs ‘n pandjieswinkel, in ‘n dorpie met die naam Dakar. Hy moes egter tou opgooi toe sy perd doodgeskop is deur ‘n kangaroe in ‘n woestyn, in die Suid-Ooste. Die punt is, die plaas was baie groot en al wat ‘n gewas is, was op die plaas verbou. As jy al ooit ‘n aarbei, kersie, tamatie, beet, radys of brandrissie naby jou lippe gehad het, dan het jy al iets van dáái plaas in jou hand gehad.

Zin is basies grootgemaak deur sy kinderoppasser, Me Louw. Dis nie dat sy ma-hulle nie omgegee het nie, dis net dat die huis so groot was. Zin se ouers het in die oggend begin stap van die hoofslaapkamer na die babakamer en het dan eers teen skemer by die babakamer opgedaag, dan is die dag weer om. So hulle het lateraan maar net boodskappe per posduif gestuur om te hoor hoe gaan dit met die kind.

Zin het natuurlik die plaas en die oneindige rykdom geërf na sy ouers se dood (dié het gaan stap in die voortuin sonder om genoeg drinkwater vir die reis saam te vat). Hy was skaars 18 toe staan daar ‘n ry gewillige meisietjies, en tannies, in die oprit – wat agter die reuk van rykdom aan, daar opgedaag het. Zin het besluit op enetjie met ‘n bos gemmer hare, Mona Strell. Ook nie lank nie toe is daar ‘n skreeubekkie, gedoop Katrien, in ‘n kot. (Alhoewel Mona ‘n kakie-Afrikaner uit Pofadder was, het sy gedink sy is vrééslik grênd en die stomme kind in gebroke Engels as Miss K van Dell voorgestel.)

Zin het alles gehad het wat geld kon koop, maar dit altyd gevoel of daar iets in sy lewe kort. Tot die dag wat die besending Muskaat druiwesaad geplant is. Maar, soos al die ander groente en vrugte wat in die plaas se vermiljoen grond geplant is, was die druiwe nie wit soos dit moes wees nie. Zin het teleurgesteld die blosende druiwe in ‘n vat laat gooi en op weens ‘n administratiewe fout het almal van die misoes in die vat vergeet.
Paar jaar later kom Zin weer op die vat vol vergete druiwe af. Verward was daar aan die vreemde vloeistof geruik en allerhande geure is voorgestel na wat dit moontlik kan ruik, soos “gerookte eikehout” en “donker sjokolade”. Dit was ‘n betowerende reuk! Toe word die vloeistof versigtig geproe, in die mond gerol en weer uitgespoeg in emmertjies. Nie dat dit nodig was nie, want die osbloed-vloeistof was heerlik! So het Zin ontslae geraak van al die ander gewasse op die plaas en boorde druiwe geplant om nét van die tower vloeistof te verbou. Zin se lewe was uiteindelik volmaak.

En dit liewe leser was die begin lekker dinge langs vele vure en laataande saam met goeie vriende!




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    17 Oktober 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2019 projek – Kleur

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 37 gaste aanlyn

Bydrae Totale