Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Plekkie op die muur

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 10 September 2018 Aantal woorde: 1200 376 Kere gelees 6

ʼn Plekkie op die muur, deur Stephan Uys

So ʼn week of wat gelede gaan haal ek my afbetaalde voertuie se eienaarskappapiere by die hoofkantoor van ʼn groot handelsbank. Ek vat my oudste saam vir geselskap. Die seun van my het ʼn dik streep kunssinnigheid wat deur sy are vloei en dit veroorsaak dat hy soms goed raaksien wat ek onderstebo sou loop. Ons stap saam in en ek soek onmiddellik vir die ontvangstoonbank. Ek stap ook sommer reguit na die dametjie toe om uit te vind waar ek heen moet gaan, en wat die kortste roete daarnatoe is. Toe ek dubbel seker gemaak het ek weet waarheen ek moet gaan, besef ek my oudste is nie by my nie. Ek wil net begin wonder waar ek hom moet gaan soek, toe ek hom sien staar na ʼn drieverdieping hoë prent teen die een binnemuur van die gebou. Ek laat my oog so vinnig oor die prent gly. Dis nie sleg nie, maar die detail is nie baie skerp en duidelik nie – so al asof daar te min pixels in die oorspronklike foto was. Na my mening was dit ʼn oordeelsfout om die prent soveel te vergroot. Ek roep my seun en hy antwoord my met ʼn simpel teenvraag: “Sien Pa dit?” Ek wonder of hy dink ek is skielik met blindheid geslaan; natuurlik sien ek die skildery! “Kom kyk”, nooi hy my om na hom toe te gaan. Ek stap nader en verduidelik vir hom dat die prentjie te veel vergroot is, en daarom is die detail effe uit fokus. Ek lees stomme verbasing op Oudste se gesig: “Sien Pa dit nie?” Duidelik sien ek en hy nie dieselfde ding nie! “Kyk mooi Pa” moedig die knaap my aan, so al asof hy ʼn dowwe twaalfjarige wil leer hoeveel is een plus een. Ek wil-wil my eers vererg, maar stap nog nader na die muur sodat my oë mooi kan fokus – my oë is nie meer negentien jaar oud nie en wil nie meer so lekker vanself fokus nie. Skielik besef ek waarna ek kyk. Ek kyk nie na een foto nie, ek kyk letterlik na duisende foto’s!
Die hele muur is ʼn mosaïek van klein foto’s wat elkeen sy eie skakering van kleur het, en saam vorm almal hierdie pragtige drieverdieping hoë prent. Ek stap nog nader, want ek is nog nie so naby dat ek die gesigte op die foto’s kan eien nie. Ek kyk daardie foto’tjies een vir een deur tot waar my oë dit toelaat. Met verwondering besef ek dat nie een foto gedupliseer is nie, altans nie sover ek kan agterkom nie. Waar hulle aan die duisende mense se foto’s gekom het sal ek nie weet nie; ek mag dalk self teen daardie muur pronk en dit nie eers besef nie. Dit laat my wonder: Weet die mense op die foto’s dat hulle deel is van die pragtige mosaïek op die handelsbank se muur?

Dit laat my dink aan Paulus. Paulus is ʼn strafafwagtende gevangene as hy sy brief aan die Efesiërs skryf. Ek sou dink hy sal oor baie dinge iets wil skryf, maar hoor wat is sy hartsbegeerte: “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Efesiërs 3: 18,19)
Wat makeer Paulus? Is hy te hard teen die kop geskop? Hier sit hy as ʼn gevangene en sy grootste gebed is dat die Efesiërs God se ongelooflike liefde moet verstaan en leer ken. Ek sou vir seker ook gebid het, maar my gebede sou heelwat meer gefokus wees op my eie verlossing en bevryding. Ek is nie seker of ek eers werklik die vrymoedigheid sou hê om iets oor God se liefde te skryf nie. Kla en murmureer, dit doen ek gereeld en met ʼn sekere mate van geoefende bedrewenheid. Ek twyfel gereeld aan God se goedheid en liefde, al was ek nog nooit in die tronk nie. Die naaste wat ek aan ʼn tronk gekom het, was die aand toe ons Matriek-afskeid in Modder B Gevangenis se saal gehou is. Ek vermoed Paulus het iets van God se liefde leer verstaan wat ek en jy dalk nog moet leer.

Weet jy wat is ʼn kettingreaksiebaan? Dit is daardie rye domino’s wat een na die ander val, of albasters wat heen-en-weer, en op-en-af rol totdat daar aan die einde van die baan ʼn vlaggie regop staan. Ja, jy weet presies waarvan ek praat! Ons is almal deel van so ʼn kettingreaksiebaan. Die eerste domino weet nie waarom hy omgestamp word nie, maar as hy nie val nie sal die vlaggie nooit gehys word nie. Paulus het geleer dat hy maar net nog ʼn domino in die Vader se hand is. Paulus verstaan die liefde van God is vir die ganse Wêreld, en nie net vir hom alleen nie. Paulus verstaan hy is net nog ʼn albaster in God se kettingreaksiebaan. Dis ʼn vreesaanjaende gedagte… tensy jy verseker is van God se liefde vir jou!
Tensy ons rêrig God se grootse liefde verstaan, ken, en vertrou, sal ons baie gereeld in die donker put van selfbejammering en murmurering val. Daardie put het die volk Israel die Beloofde Land gekos! Hulle het nie God se goedheid en liefde vertrou terwyl Hy en Moses hulle uit slawerny uitgelei het nie. Geen wonder Paulus bid dat ons God se liefde se volle omvang moet verstaan en leer ken nie!

Met ons hart het die meeste van ons God lief, maar met ons verstand kan ons nie altyd Sy liefde verstaan nie. As ons met die verstand na dinge kyk, wil dit voorkom of ons nie werklik God kan vertrou nie, alhoewel ons harte nog steeds lief is vir Hom. Dit is waarom geloof so belangrik is – geloof is die brug tussen jou hart en jou verstand. Sonder geloof kan ons nooit God se liefde met die hart glo én met die mond bely nie, want ons verstaan eenvoudig soms net nie God se werke met ons nie. Ons is net die teenoorgestelde van wat ek was daar in die handelsbank se ingangsportaal. Ek het die groot prent gesien, maar die klein prentjies misgekyk. In hierdie lewe sien ons net ons eie klein foto’tjie raak, maar ons staan nooit ver genoeg terug om God se pragtige mosaïek raak te sien nie.

Soos Paulus bid ek dat jy God se liefde sal leer ken sodat jy Hom kan vertrou. God is lief vir jou. Al verstaan jy nie aldag Sy werke met jou nie, kan ek jou waarborg Hy weet van jou en gee om vir jou. Dit is tyd om in die Vader se liefde te glo en bietjie terug te staan. “Sien jy dit?” wil ek jou vra. “Sien jy dat jou foto deel is van God se groot mosaïek?”
Elkeen van ons dra by tot God se mosaïek, en hoe meer ons saamwerk, hoe duideliker word die prentjie. Jy is kosbaar en spesiaal, en net jy kan jou plekkie op God se muur volstaan!

©Stephan Uys 2018/09/09




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    11 September 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2018 – Spyse vir die siel projek

  2. Kiekies

    12 September 2018

    Baie goed bedink en goeie vergelykings!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 103 gaste aanlyn

Bydrae Totale