Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: ‘n Ongemaklike spul

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 17 Mei 2019 Aantal woorde: 1026 106 Kere gelees 5

So anders as wat mense is, so is hulle ook maar almal dieselfde… En spesifiek nou as dit kom by sosiale interaksie wat dinge nou vir my vreemd raak.

Ek staan en luister vir iemand wat vir my hulle langdradige storie vertel. Vir ‘n begin is dit een van daai mense wat geen benul het van persoonlike spasie nie. Nee, hulle dring daarop aan om neuslengte van jou af te staan. En hoe meer ek so onopsigtelik moontlik agteruit retireer, hoe meer skuifel sy saam. Naderhand staan ons 10 meter verder van waar ons gesprek (eerder – die monoloog) begin het soos wat ek probeer wegvlug-skuifel en sy my agtervolg. En sy praat dat die spoeg spat. Letterlik. Soos wat sy babbel en net asem skep na elke paragraaf, beland daar ‘n sproeisel spoeg -bloep – op die punt van my neus. En daar is mos nou ‘n ongeskrewe reël dat as iemand jou per ongeluk raak praat-spoeg, dan maak jy asof niks gebeur het nie. Hoekom? Ek weet nie. Jy wil nie die persoon in die verleentheid stel nie? Maar op daai oomblik hou jy in elk geval op met luister want al waaraan jy kan dink is die druppeltjie spoeg. Jy is totaal uitgefreak. In jou kop het jy ‘n gesprek met jouself oor hoe disgusting dit is. Jy voel hoe kieme, bakterieë, en ‘n onbekende variant van sifilis oor jou gesig loop. Jy het ‘n behoefte om dit onmiddellik af te vee. Maar jy hou jou pose. Maak asof niks fout is nie en knik instemmend so asof jy nog enigsins luister wat sy sê. Jy begin dink hoe lank tyd nodig is voor jy “toevallig” jou neus kan krap sodat dit nie obvious lyk nie… Uiteindelik maak ek asof ek nies en in die proses vee ek vinnig die druppeltjie van my neus af. En in dieselfde proses van kamma-nies sproei ek haar so van die spoeg, dit lyk of sy deur ‘n Kaapse misreën bui gestap het…

Dieselfde mos as jy tussen ‘n klomp mense is en iemand vir jou waai. Jou verstand hardloop verwoed op en af opsoek na ‘n file, want jy herken die persoon van g’n kant af nie. Maar jy waai onseker, tog vriendelik terug. Dan sien jy uit die hoek van jou oog dat hy eintlik vir die girl hier agter jou gewaai het, en jy probeer maak asof jy nie gewaai het nie maar jou hairdo mooi wou maak… Hoekom daai nou so embarrassing is, weet g’n mens nou eintlik nie.

Dan is daar die kere wat jy nie kan hoor wat iemand vir jou sê nie.
“Woh gyuos oias kdsil huuhdhj keyetr gsoiuo?”
Jy weet hulle het ‘n vraag gevra, maar jy’t geen idee wat nie, so jy doen net ‘n beleefde “Ekskuus?”
Hulle praat bietjie harder. “Weet gyuos ons kdsil huuhdhj harte gsoiuo?”
Daar is ‘n oomblik van stilte om jou ore en brein tyd te gee om kop of stert uit te maak van die klanke, maar jy weet nog steeds nie wat die vraag is nie. “Sê weer, ek kan nie hoor nie, ek’s doof in die oor…” En jy draai jou “goeie oor” in die rigting van die mompelaar (alhoewel daar net mooi niks met jou gehoor fout is nie).
Nou raak die persoon ongeduldig en mompel harder in sulke lettergrepe. “WEET. GYUOS. ONS. KDSIL. HUUHDHJ. HARTE. GSOIUO?!”
Jy’t nog steeds geen idee wat hulle gesê het nie, maar apparently is die sosiale norm dat jy nie meer as 2 keer kan “ekskuus” sê nie. So jy antwoord net met ‘n onsekere “Nee, ek weet nie” en hoop maar vir die beste. Die vraag kon netsowel gewees het “Wat is jou Ma se naam?” maar die antwoord na die derde probeerslag is altyd “nee ek weet nie”.

En van nies gepraat. Het jy al een van daai niese gehad wat jou so onverwags getref het? Jou kry net betyds jou hand voor jou mond, maar jy voel die drillerige ghwel jou hand tref. Jou hand is sop nat… Maar nou’s jy in ordentlike geselskap, so jy kan nie reageer en jou walging uiter of dit iewers afvee nie. So jy vou maar jou hand toe en balanseer die glibberige nat spul in jou hand totdat jy alleen is en iets daarmee kan doen…

Ek sal ook nooit die oomblik vergeet wat ek met ‘n bemarker op die foon was, en glad nie geluister het wat sy gesê het nie… Toe die gesprek tot ‘n einde kom en die goodbyes gesê word, toe sê ek so ewe uit (gewoonte uit?), “Ok, love you. Bye!” Gevolg deur ‘n baie ongemaklike stilte, red sy toe darem die situasie deur te sê “I like you, but maybe just as a friend…”
Of as die waiter by die restaurant jou kos vir jou bring en vir jou sê “Geniet dit!” en jy volg op met ‘n “Dankie jy ook”… Sug.

Los hande was egter die mees embarrasing-ste oomblik toe ek ‘n probleem wind gehad het… Die ding moes uit. Ek was alleen in my kantoor, en ek ontspan toe nou maar die kleppe laat die winde van veranderinge gebeur. Ek weet nie hoekom nie, maar die spesifieke uitlating het die nasmake van ‘n lyk gehad wat nou al ‘n week fermenteer (gewoonlik ruik myne soos potpourri) en die doodsreuk gaan hang so genadeloos in my kantoor… Die volgende oomblik loop my baas se vrou by my kantoor in en begin om vir my iets te vertel. Fok. Sy stop sommer in die middel van haar sin toe die reuk haar tref en ek kan sien hoe haar verstand oortyd werk oor hoe om die situasie te hanteer. Sy besluit toe om maar aan te gaan met haar storie en probeer gepynig maak asof niks pla nie. Maar die feit dat haar oë getraan het, het boekdele gespreek.

Ek het nog nooit ‘n Tannie Emsie Schoeman boek gelees nie, maar ek raai daar is nie etiket reëls oor hoe om hierdie sosiale verleenthede te hanteer nie? Dalk moet ek so ‘n boek skryf?
“Wêreld sluk my tog in?”




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Kiekies

    21 Mei 2019

    Ai jinne, drup my lagtrane nou my hele keyboard vol en dis jou skuld! Ek gaan nou weer aanhoudend giggel.

  2. Riaan Palmer

    22 Mei 2019

    Baie dankie @Kiekies – dis heerlik om te hoor iemand geniet dit saam! Jy moet maar die rekening stuur vir ‘n nuwe keyboard… 😉

  3. Ano

    28 Mei 2019

    Oh my word, hoe lekker gril ek nou! Van die een wat in mens se broeksak wil klouter tot die spoegbad. Jip, ken ook van daai’s.
    Jy sal maar vir tannie Emsie moet vra oor die res :-))))

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 14

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie.Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses.Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie...Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 65 gaste aanlyn

Bydrae Totale