Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Koue wintersaand

Deur Palet
Datum gepubliseer: 7 Junie 2019 Aantal woorde: 498 66 Kere gelees 1

Lank staan Werner op die balkon, en kyk hoe die koets in die donker verdwyn. Dit is ‘n knerskoue wintersaand Junie 1833, die mis hang laag oor die berge met die son wat sy laaste goud daaroor verf. Hy draai om, en stap in sy studeerkamer in. In sy boonste laai haal hy ‘n swart boek uit, maak dit sorgvuldig oop, soek versigtig na woorde en begin skryf.

Liewe Adelle

Ek mis jou vreeslik baie, elke dag voel soos ‘n ewigheid sonder jou. In die nag vlug ek vir die donker, en in die dag kruip ek weg vir die sonskyn. Al die herinneringe wat eens was, al die mooi is al wat ek wil onthou van jou, ons almal maak foute maar om te vergewe is soms so moeilik.

Dit is nou ‘n jaar wat ek jou laas gesien het, die egskeiding is nie maklik nie. Dit was ‘n moeilike jaar, ek besef mens kan nie alleen deur die lewe gaan nie. Om hardkoppig te wees vererger net dinge, ek wil graag omverskoning vra vir alles wat ek verkeerd gesê het. Tyd kan mens nie terugdraai nie, maar tyd is kosbaar om net so weg te gooi.

My verlange raak groter, en die leemte in my bestaan is ondraaglik. Ek het vandag ‘n lang ent langs die see gaan loop, my kop probeer skoonkry van al die vrae. Al wat ek vra, is nog een laaste kans. Soms is daar nie ‘n reg of ‘n verkeerd, maar wat in jou hart aangaan is al wat tel. Ek is lief vir jou.

Liefde groete
Werner

Hy skeur die bladsy uit vou dit toe, en sit dit in ‘n koevert. Nog lank het hy daar gesit tot die kers se vlam versmoor.

Vroeg die volgende oggend vertrek hy te perd na die dorp om die brief te pos. Dit is ysig koud, die sneeu lê spierwit oor die berg se rug, die snerpende koue sny deur hom. Die sonsopkoms vang sy oog, en hy bring sy perd tot stilstand.

“Dis darm maar mooi, Pegasus.”

Die perd runnik sag, so asof hy verstaan wat in sy baas se kop aangaan. Verlangs kan Werner sien hoe die son se strale in die branders speel, dit gooi ‘n goue baan oor die water. In ‘n droom sien hy Adelle, met haar blonde hare en vinnige stappie. Hy sien hoe sy tussen die branders speel, vrolik lag en vir hom waai.

“Ek wens jy was hier, ek wil jou wys wat in my hart aangaan. Ek wil jou vertel hoe mooi is jy vir my, met jou sprankellende persoonlikheid en positiewe uitkyk in die lewe. Winter het koud in my hart kom lê, en ek voel soos ‘n boom se kaal takke weerloos in hierdie koue seisoen. Ek pos vandag ’n brief vir jou, en al lyk woorde klein op papier stuur ek vir jou emmers vol geduld, bokse vol liefde en die wêreld se omgee saam met dit. Ek mis jou baie.”




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    7 Junie 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2019 projek

  2. morne du preez

    7 Junie 2019

    baie goed gepen het geniet om dit te lees.

  3. Palet

    12 Junie 2019

    Dankie Morne

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 338
Kommentaar telling: 347

Waar die see en die horison ontmoet, sal die gedruis van die oseaan in die suis van die wind stil raak.. Dis hier waar my drome my woorde in die binnekant van my siel kom lӗ  

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 32 gaste aanlyn

Bydrae Totale