Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Hoe Pyndrumpel

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 25 April 2018 Aantal woorde: 1506 487 Kere gelees 3

ʼn Hoë pyndrumpel

Ek lees nou onlangs ʼn rubriek oor die pyne wat mense beleef, en wat hulle als doen om dit te bekamp. In my familie moet jy tog net nie waag om te kla oor jou groottoon se liddoring nie, want spoedig sal elke gebore en aangetroude Uys vir jou op hul erger en seerder skete wys. Dit wil my voorkom jy kry twee tipes mense. Eerstens is daar die “Ek het seer en jy sal alles daarvan weet, of jy nou wil of nie!” tipe pyn-lyer. Dis hulle wat by partytjies die hemde oplig, kouse aftrek, bloese oopknoop en ritssluiters aftrek net om die littekens of die steke van pynlike gebeure te wys. Dis hierdie tipe mense wat op sosiale media dinge sal skryf soos: “Dokters sprakeloos en raadop… “ of “Lê en krul terwyl ek wag vir x-strale… “ of “Het sopas my longe in die toilet verloor!” – laasgenoemde het my deurmekaar gehad. Hoe op aarde verloor jy jou longe in die toilet, maar jy het nog tyd en lus om dit op sosiale media te plaas. Hierdie kort informatiewe grepe word gewoonlik sonder verdere verduidelikings geplaas. Net die kort inligtingsgreep in die era van vrye en maklik bekombare informasie. Menigmaal wou ek al terugskryf: “Who cares?”, maar dalk is die persoon regtig besig om met sy een hand sy longe uit die toilet te vis, terwyl hy of sy met die ander hand desperaat probeer om hul aanhangers en navolgers op die hoogte te hou van die mediese krisis wat hul beleef! Dan klink ek straks onsimpatiek en onsensitief. Nou gee ek maar net ʼn duimpie na bo, en gaan na die volgende plasing. Soos ek sê, in my familie is weggespoelde longe nie iets wat eers ʼn ooghaar sal lig nie. Net nou die dag sit my pa en ʼn aangetroude oom met ʼn stophorlosie om te kyk wie se hart hardloop die meeste weg met hulle, so asof dit nou die nuwe sport is vir mans oor sewentig. Pa het gewen, en die oom en sy kinders moes elk vir my R100 betaal; ʼn weddenskap is darem ʼn weddenskap, selfs al hardloop jou hartklop sleg in die rooi. Dit sal hulle sommer ook leer – in my familie moet jy nie spog met siekte as jy nie dit kan staaf nie. Ons weet hoe om siek te wees.
Dan kry jy natuurlik ook die ander tipe mense; die “Ek byt op my tande en gaan huil later alleen by die huis” tipe mense. Dit is hulle wat sonder enige hulp met hul afgesnyde linkerhand in ʼn plastieksak by die hospitaal aankom en vra dat iemand asseblief na hulle sal kom kyk as hulle ʼn tydjie het. Dan gaan sit hulle rustig in die wagkamer terwyl die arme skoonmakers hul bes probeer om die bloed wat by hul gapende wonde uitspuit van die vloer af te hou. Dis dan ook gewoonlik hierdie mense wat so grootpraat oor hul hoë pyndrumpels. Dis hierdie tipe mense wat spog oor hoe hulle sonder narkose kinkels en knope uit hul hare kam, of hoe hulle sonder hittewerende handskoene skottelgoed was. Hulle laat trek sommer hul tande terwyl hulle besigheid doen oor hul selfone – sonder verdowing en met die bloed, tandarts se hande en tang alles nog in hul mond! Dit is hulle wat sommer self ʼn naald en gare gryp en ʼn oor vaswerk wat tydens ʼn vriendelike huweliks-skermutseling afgeruk is. Ek het ook so ʼn hoë pyndrumpel; baie hoog! Miskien is dit omdat ek in ʼn familie van smartvrate en pynspogters groot geword het, of miskien is dit net my ingebore ingetrokkenheid en inhibisies, maar ek is nie ʼn man wat maklik kla oor pyn nie. Ek sal nie heeldag en aldag almal loop en vertel van die skete wat my daagliks na gees, siel en liggaam aftakel nie; nee nie ek nie! Ek is die stil sterk cowboy tipe wat in die skemering van die toneel af verdwyn, en as die kameras ophou rol, van die perd afval met ʼn pyn in die… agterwêreld. Daar is egter een ding wat my onderkry, soos ek gister weereens agtergekom het, en dit is neushare pluk. Die ding staan so; met ouderdom verdik en verleng jou neushare, tot so ʼn mate dat sommige so dik word dat dit mag lyk of iemand se pinkie by jou neus uitsteek. Nie net verdik die haar nie, selfs die wortels word dikker en sterker. Dit is ʼn alombekende feit dat neushare se wortels in jou traankliere ingroei. Hoe dikker en sterker die haarwortels word, hoe sterker is hul greep op jou traankliere. So sit ek gisteroggend op pad werk toe en radio luister. Ek vryf so onder my neus, net om te voel of alles skoon en droog is daar, toe voel ek iets dik en hard in my neus. Ek besluit toe om sommer so in die ry die ding wat pla te verdryf. Gou besef ek egter dat hierdie nie ʼn los stukkie onnoembaarheid is nie; hierdie ding wat pla is ʼn neushaar; ʼn gesonde en volgroeide neushaar. Ek wag tot ek by ʼn rooi verkeerslig kom, toe haal ek die motor uit rat en skuif my truspieël sodat ek die ellendige neushaar kan bekyk. Ek is half trots toe ek die meneer gewaar, want daar is bome in Sappi se plantasies wat nie sulke omtrek bereik nie. Ek kyk so en besef die haar is dalk die rede dat dit voel of ek nie kan asemhaal die laaste ruk nie, dit veroorsaak ʼn verstopping reg in die neusopening. Ek besef dat die ding dringend moet uit, dit veroorsaak straks mediese komplikasies vir my, en wie weet hoeveel nutriënte en vitamiene gaan in so ʼn neushaar in? Ek vat die haar vas tussen my duim en wysvinger, en gee net so ʼn oefenloop trekkie om seker te maak ek het die regte haar beet, en dat my greep sal hou as ek rêrig trek. Ek voel my greep is stewig, vat ʼn lekker diep asemteug, en pluk my hand afwaarts. My vingers gly ongelukkig af van die haar en my hand slaan vas op die toeter presies op dieselfde oomblik as wat die verkeerslig groen slaan. Die groot kêrel in die bakkie hier voor my steek sy indeksvinger se buurman by die venster uit en skree iets vir my wat te doen het met voortplanting. Ek moet egter hier erken ek het amper ʼn traan gestort reeds met daardie oefenloop trekkie en die vinger en taal is in die pyn so half en half by my verby. Maar nou pla die ding in my neus my verskriklik, dit voel of ek nie die pad duidelik kan sien nie, en ek sukkel om verby die ding asemgehaal te kry. As ek my kan kry, dan vind ek my vinger hier onder my neus. By die volgende verkeerslig groet die skoolhoof my met so ʼn geelgroen kleur op sy gesig, eers later besef ek dit moes vir hom lyk of ek ‘n onnoembaarheid uit my neusgat probeer worstel. Te oordeel aan sy gesigsuitdrukking gaan hy nie binnekort weer my hand wil skud nie. Ek maak ʼn nota in my kop dat ek maar later vir hom moet bel en verduidelik waarom my vinger en neus vanoggend so vriendelik is met mekaar. By die werk gekom groet ek almal terwyl ek my hand so half oor my neus hou – netnou steek ek iemand se oog uit met hierdie vergroeisel, en ek is nie seker of my persoonlike aanspreeklikheid versekering daarvoor sal uitbetaal nie. Ek stap reguit badkamer toe en sluit die deur agter my. Ek kyk in die spieël, maar moet eers my brille opsit voor ek die booswig kan raaksien. Ek het meer spasie hier as in die kar, so ek neem die regte posisie in met my vingers en kry my staan. Na twee lekker diep asemteue pluk ek daardie neushaar wortel en tak uit my neus, Nog voordat ek my vingers op die wasbak se rand blou slaan, skiet die trane reeds my oë vol, en die tref van die wasbak is amper ʼn welkome verligting, want dit neem my gedagtes weg van die onaardige pyn wat deur my skedel pols. My visie is geblur, en dit vat ʼn minuut of wat voor ek weer mooi kan fokus terwyl ek die stroom trane wat uit my oë uitloop probeer stop. Dit wil my voorkom dat daar ʼn groot moontlikheid bestaan dat ek hier in die badkamer kan sterf aan dehidrasie, so traan my oë. So ʼn paar minute later voel ek weer of ek die lewe in die oë kan kyk, en ek besluit net daar en dan nooit ooit sal daar weer enige neushaar kans gegee word om so uit te groei en sulke pyn te veroorsaak nie.
Dit is waarom ek nou hier voor die spieël in my badkamer staan, met Liefie se warm waks haarverwyderaar wat my handpalms rooi brand. Ek reken as ek nou so ʼn redelike groot eetlepel vol van hierdie kokende waks in elke neusgat kan ingesnuif kry, behoort ek al die hare mooi uit my neus te kry. Sjoe, die waks brand my hande, ek sal moet gou snuif…




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 91
Kommentaar telling: 5

Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 98 gaste aanlyn

Bydrae Totale