Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Dag saam met die afgetredenes.

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 11 Junie 2019 Aantal woorde: 2940 104 Kere gelees 3

“Het Pa al die een gehoor?” val Isak my in die rede. Ek rol my oë en bly gedwee stil. My storie is onbelangrik in die groter prentjie. In die begin het dit my omgekrap, selfs grensloos geïrriteer, maar ek het tot die besef gekom; dit help nie om kwaad te word nie. As Isak ‘n storie het om te vertel dan moet dit nou gebeur. Wag en geduld is nie deel van sy woordeskat nie.

Dit is ‘n daaglikse gebeurtenis: storie vertel. Tussen my Pa en Isak word ek oorval met verhale van gister, grappies of die nuutste brokkies nuus. Ek kyk min TV, maar is altyd op hoogte met die gebeure in die wêreld danksy die twee.

“Man en vrou ry in hul kar, al twee dae kwaad vir mekaar. Hulle sien bobbejane langs die pad. Man vra vir sy vrou: ‘Familie van jou?’ Sy: ‘Ja, my skoonfamilie.” En die twee lag kliphard. Vrek snaaks. Ek sit maar ‘n glimlag op my gesig en stap weg. Ek het werk om te doen. Tyd vir ginnegaap het ek nie, want aftree is nog nie deel van my bestaan nie.

“Wat is vir aandete?” vra Isak vir sy skoonpa. Omdat my lessenaar langs die kombuis staan hoor ek alles. Soms voel ek soos die vyfde wiel aan die wa met hulle saam. Die twee gesels land en sand oor alles en nog wat.

Kosmaak is ook ‘n liefde wat die twee deel. So, elke middag sak hulle die kombuis toe en bespreek eers die gereg in fyn detail. Dit wat hulle nie het nie vervang hulle met iets anders tot hulle tevrede is. Elkeen kry ‘n taak en dit word pligsgetrou uitgevoer, iemand sorg dat die drankies gegooi word en dan skerts dit omtrent soos wat elke kap hul terugvat, of word daar politiek gesels so tussen deure wat klap en kastrolle wat uit die kas gehaal word.

Hoe ookal, kosmaak is ‘n avontuur in sigself.  Ek sit soms net en lag oor die mannewales. Die berge skottelgoed in my geestesoog groei met elke toeklap van ‘n kasdeur en ek sug innerlik. Hulle ken nie van briek aandraai nie.

Tussen my pa en my verloofde is daar ‘n twaalf jaar ouderdomsverskil, die twee verstaan mekaar en kuier lekker. Toe ons lewe ‘n draai maak bied my pa my ou kamer aan as blyplek. Ek moet erken dat ek gewonder het hoe dit gaan uitwerk; met ‘n beklemming om my hart. My pa is ‘set in his ways’ en Isak beslis ook. Elkeen redelik hardkoppig. Maar bo verwagting gaan dit goed.

O ja, ek moet nie van my broer vergeet nie, dié is die jongste in die huishouding, dus is die ouderdomsgaping groot tussen hom en Isak. Vier generasies in een huis en elkeen het sy eie manier van dink, maar dit daar gelaat.

Jannie is amptelik die enigste broodwinner in die huis en is elke dag, net na 6 saans by die huis. Die dag se gebeure word dan herhaal sodat hy darem ook kan weet wat aangaan. Alhoewel die twee soms lekker kan kuier is die twee afgetredenes meer dikwels in mekaar se geselskap en onthou-jy-nog-staaltjies so deel van elke dag.

Jip, julle het reg gehoor. Ek bly saam met twee afgetredenes. 77 en 65, en my broer is 43. Ek hoop iemand kry my jammer.  Nee, ek grap net, dit is darem nie so erg nie, want dit het sy voordele. Ek maak weinig indien ooit kos. Net die kombuis se skoonmaak word vir my gelaat, darem net soms – maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander keer. Berge en berge skottelgoed. Wel, julle kry die prentjie.

“Kan pa nog onthou jare gelede het ‘n mens…” dit is hoe dit gewoonlik begin of, “Onthou pa vir Jannie Engelbrecht…”  dan word daar in detail vertel van die drie of skop of wat ookal die geheue geprikkel het.

“Wag laat ek nou eers vir jou vertel…” is gewoonlik my pa se inleidende woorde. “Wragtig waar, dit is so…” bevestig hy sy eie storie so asof ons hom nie gaan glo nie. In een middag kan ek plekke soos Port Elizabeth of die Baai, Kanoneiland, Augrabies, Tsitsikamma, Johannesburg of Kimberley besoek sonder om die huis te verlaat.

Elke storie eiesoortig en uniek wat jou vêr terug vat na vanmelewe se dae, in die meeste gevalle het ek nog nie bestaan nie of te jonk om te onthou maar die heimweë lê diep in my hart en in hul stemme. Maar deur hulle herlewing is dit lekker want ek hoef nie tasse te pak of vêr te ry nie of met die moegheid opgesaal te wees nie. Nee, sommer net daar op die stoepkamer, voor my lessenaar, reis ek die land vol. Lekker verby.

Soms word ek ingetrek in die gesprek, vernaamlik wanneer die voorbereidings van die kos klaar is, dan kom sit hulle daar by my, ysblokkies klinkel in die glase ‘n goeie aanduiding dat hulle nou gearriveer het en dan vertel hulle verder. Die stories hou net nie op nie terwyl verruklike geure die huis vul. Die koerante lê oopgesprei op die tafel, leesbrille so halfpad op die neus praat hulle die nuus.

“Het pa gesien wat het Zuma nou weer gesê…” dan word daar ernstig gesels. Die nuus in die fynste detail bespreek met hul indrukke en gedagtes ingelas in kleur. Soms word daar gelag, soms word die koppe net geskud en vir ‘n wyle daal daar ‘n eerbiedige stilte oor die stoep. Die geklinkel van ys ‘n rustige metronoom in die agtergrond terwyl daar diep gedink word. Totdat daar weer ‘n “trigger” afgaan.

“Jannie vra aan tafel, ‘Pa, is dit goed om wurms te eet?’ Pa vervies hom op die plek, ‘Hoeveel keer het ek al vir jou gesê om nie van sulke goed aan tafel te praat nie! Bly nou stil en eet jou kos.’

Ma is nuuskierig en vra na ‘n rukkie vir Jannie hoekom hy so ‘n vraag vra. ‘Ag Ma, ek het maar net gewonder toe ek een op pa se slaai sien, maar nou is hy weg.” En die twee lag uit volle bors vir Isak se grap. Ek kan nie anders nie en lag saam.

“Dit laat my nou dink aan my ma…” begin my pa deur die gelag en geproes deur. “Jy weet daardie tye het ons nie geweet wat is yskaste nie. Maar tog was die kos koud gehou. Regtig waar. My ma het ook met hoenders geboer. Ek onthou daar het altyd ‘n boks opgedaag by die huis, so eenmaal ‘n maand vol kuikens en dan het my ma die man betaal. Haar blik met geldjies was altyd byderhand, hoe sy gespaar het en wat sy gedoen het om die geld te kry weet ek nie, ek was te klein. Maar die boks met kuikens sal my altyd bybly, dit was altyd stiptelik afgelewer. Regtig waar. Dit was swaar tye maar ma het nooit gekla nie.”

“Dit laat my dink aan my pa,” begin Isak. Alle grappies is nou vergete… die gedagtes loop vêr draaie en so word die middag om gesels tot iemand onthou van die kos. Dit is ‘n geskarrel en gewerskaf daar binne en dan word ek nader geroep vir aandete. Die tafel is klaar gedek en my pa alreeds besig om in te skep. Ek weet nou nie van julle nie maar ek geniet die bederf. Jy moet net nie kla oor die porsies nie. Jy eet wat jy kry. “Moenie skaam wees nie, kry genoeg.”

“Ja pa,” en ek sug. Is my enigste antwoord. Die dieet in sy maai.

Kosmaak, stories en ‘n yskoue glasie drinkgoed is die ding wat mense saam snoer. Dit bring mense saam in ‘n minsame gemeensaamheid van onderlinge vertroue en respek. Dit is die dinge wat ons kultuur skep en waarde gee. Dit is ‘n ervaring om net te kan behoort dat ons nie anders kan as om met heimweë na vergete stories te luister nie. Dit hou ons nederig, vul ons hart met trots en gee ons sin aan ons lewe.

Stories anker ons, dit gee ons vastigheid en die versekering dat, ongeag die probleme van vandag daar hoop is vir ons toekoms. Dit is hierdie tye wat altyd kosbaar sal bly, en eendag, wanneer ek alleen is sal dit die loop van my gedagtes wees. Die onthou van vandag ‘n kosbare kleinnood wat my sal verfris net soos wat dit die twee oumanne versterk het. Om te onthou maak ons wyser, gee ons die kennis vir nou en help ons om vorentoe te gaan. Dit is goed om te weet waar ons begin het en waarheen ons oppad is. Vandag se probleme word more se stories wat saam leef in elke gedagte. Dit maak ons besonders.

Op die ou einde, om saam met afgetredenes te bly is nie so erg nie, dit hang af hoe jy daarna kyk. Dis eintlik groot pret – as jy die geduld het.

Kopiereg ©LynelleClark2019

 

 

_____________

OU EEN ‘n Dag in die ouetehuis.

“Het Pa al die een gehoor?” val Isak my in die rede. Ek rol my oë en bly gedwee stil. My storie is onbelangrik in die groter prentjie. In die begin het dit my omgekrap selfs grensloos geïrriteer, maar ek het tot die besef gekom; dit help nie om kwaad te word nie. As Isak ‘n storie het om te vertel dan moet dit nou gebeur. Wag is nie te vinde in sy woordeskat nie. Dit is ‘n daaglikse gebeurtenis: storie vertel. Tussen my Pa en Isak word ek oorval met verhale van gister, grappies of die nuutste brokkies nuus. Ek kyk min TV, maar is altyd op hoogte met die gebeure in die wêreld danksy die twee.

“Man en vrou ry in hul kar, al twee dae kwaad vir mekaar. Hulle sien bobbejane langs die pad. Man vra vir sy vrou: ‘Familie van jou?’ Sy: ‘Ja, my skoonfamilie’.” En die twee lag kliphard. Vreksnaaks.

Ek sit maar ‘n glimlag op my gesig en stap weg. Ek het werk om te doen. Tyd vir ginnegaap het ek nie, want aftree is nog nie deel van my bestaan nie.

“Wat is vir aandete?” vra Isak vir sy skoonpa. Omdat my lessenaar langs die kombuis staan hoor ek alles. Soms voel ek soos die vyfde wiel aan die wa met hulle saam. Die twee gesels land en sand oor als en nog wat.

Kosmaak is ook ‘n liefde wat die twee deel. So, elke middag sak hulle die kombuis toe en bespreek eers die gereg in fyn detail. Dit wat hulle nie het nie vervang hulle met iets anders tot hulle tevrede is. Elkeen kry ‘n taak en dit word pligsgetrou uitgevoer, iemand sorg dat die drankies gegooi word en dan skerts dit omtrent soos wat elke kap hul terugvat, of word daar politiek gesels so tussen deure wat klap en kastrolle wat uit die kas gehaal word. Hoe ookal, kosmaak is ‘n avontuur in sigself. 

Ek sit soms net en lag oor die mannewales. Die berge skottelgoed in my geestesoog groei met elke toeklap van ‘n kasdeur en ek sug innerlik. Hulle ken nie van briek aan draai nie.

Tussen my pa en my verloofde is daar ‘n twaalf jaar ouderdomsverskil, die twee verstaan mekaar en kuier lekker. Toe ons lewe ‘n draai maak bied my pa my ou kamer aan as blyplek. Ek moet erken dat ek gewonder het hoe dit gaan uitwerk; met ‘n vladder in my hart. My pa is ‘set in his ways’ en Isak beslis ook. Elkeen redelik hardkoppig. Maar bo verwagting gaan dit goed.

O ja, ek moet nie van my broer vergeet nie, die is die jongste in die huishouding, dus is die ouderdomsgaping groot tussen hom en Isak. Hy werk en is net na ses saans by die huis. Die dag se gebeure word dan herhaal sodat hy darem ook kan weet wat aangaan. Alhoewel die twee soms lekker kan kuier is die twee afgetredenes meer dikwels in mekaar se geselskap en onthou-jy-nog-staaltjies so deel van elke dag.

Jip, julle het reg gehoor. Ek bly saam met twee afgetredenes. 77 en 65, en my broer is 43. Ek hoop iemand kry my jammer.  Nee, ek grap net, dit is darem nie so erg nie, want dit het sy voordele. Ek maak weinig indien ooit kos. Net die kombuis se skoonmaak word vir my gelaat, darem net soms – maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander keer. Berge en berge skottelgoed. Wel, julle kry die prentjie.

“Kan pa nog onthou jare gelede het ‘n mens…” dit is hoe dit gewoonlik begin of, “Onthou pa vir Jannie Engelbrecht…”  dan word daar in detail vertel van die drie of skop of wat ookal die geheue prikkel.

“Wag laat ek nou eers vir jou vertel…” is gewoonlik my pa se inleidende woorde. “Wragtig waar, dit is so…” bevestig hy sy eie storie so asof ons hom nie gaan glo nie. In een middag kan ek plekke soos Port Elizabeth, Kanoneiland, Augrabies, Tsitsikamma, Johannesburg of Kimberley besoek sonder om die huis te verlaat.

Elke storie eiesoortig en uniek wat jou vêr terug vat na vanmelewe se dae, ek was te jonk om te onthou maar die heimweë lê diep in my hart en in hul stemme. Maar deur hulle herlewing is dit lekker want ek hoef nie tasse te pak of vêr te ry nie of met die moegheid opgesaal te wees nie. Nee, sommer net daar op die stoep, voor my lessenaar, reis ek die land vol. Lekker verby. Soms word ek ingetrek in die gesprek, vernaamlik wanneer die voorbereidings van die kos klaar is, dan kom sit hulle daar by my, ysblokkies klinkel in die glase ‘n goeie aanduiding dat hulle nou gearriveer het en dan vertel hulle verder. Die stories hou net nie op nie terwyl verruklike geure die huis vul. Die koerante lê oopgesprei op die tafel, leesbrille so halfpad op die neus praat hulle die nuus.

“Het pa gesien wat het Zuma nou weer gesê…” dan word daar ernstig gesels. Die nuus in die fynste detail bespreek met hul indrukke en gedagtes ingelas in kleur. Soms word daar gelag, soms word die koppe net geskud en vir ‘n wyle daal daar ‘n eerbiedige stilte oor die stoep. Die geklinkel van ys ‘n rustige metronoom in die agtergrond terwyl daar diep gedink word. Totdat.

“Jannie vra aan tafel, “Pa, is dit goed om wurms te eet?” Pa vervies hom op die plek, “Hoeveel keer het ek al vir jou gesê om nie van sulke goed aan tafel te praat nie! Bly nou stil en eet jou kos.”

Ma is nuuskierig en vra na ‘n rukkie vir Jannie hoekom hy so ‘n vraag vra. “Ag Ma, ek het maar net gewonder toe ek een op pa se slaai sien, maar nou is hy weg.” En die twee lag uit volle bors vir Isak se grap. Ek kan nie anders nie en lag saam.

“Dit laat my nou dink aan my ma…” begin my pa deur die gelag en geproes deur. “Jy weet daardie tye het ons nie geweet wat is yskaste nie. Maar tog was die kos koud gehou. Regtig waar. My ma het ook met hoenders geboer. Ek onthou daar het altyd ‘n boks opgedaag by die huis, so eenmaal ‘n maand vol kuikens en dan het my ma die man betaal. Haar blik met geldjies was altyd byderhand, hoe sy gespaar het en wat sy gedoen het om die geld te kry weet ek nie, ek was te klein. Maar die boks met kuikens sal my altyd bybly, dit was altyd stiptelik afgelewer. Regtig waar. Dit was swaar tye maar ma het nooit gekla nie.”

“Dit laat my dink aan my pa,” begin Isak. Alle grappies is nou vergete… die gedagtes loop vêr en so word die middag om gesels tot iemand onthou van die kos. Dit is ‘n geskarrel en gewerskaf daar binne en dan word ek opgeroep vir aandete. Tafel gedek en my pa alreeds besig om in te skep. Ek weet nou nie van julle nie maar ek geniet die bederf. Jy moet net nie kla oor die porsies nie. Jy eet wat jy kry. “Ja pa,” en ek sug. Is my enigste antwoord. Die dieet in sy maai.

Kosmaak, stories en ‘n yskoue glasie drinkgoed is die ding wat mense saam snoer. Dit bring mense saam in ‘n minsame gemeensaamheid van onderlinge vertroue en respek. Dit is die dinge wat ons kultuur skep en waarde gee. Dit is ‘n ervaring om net te kan behoort dat ons nie anders kan as om met heimweë na vergete stories te luister nie. Dit hou ons nederig, vul ons hart met trots en gee ons sin aan ons lewe.

Stories anker ons, dit gee ons vastigheid en die versekering dat, ongeag die probleme van vandag daar hoop is vir ons toekoms. Dit is hierdie tye wat altyd kosbaar sal bly, en eendag, wanneer ek alleen is sal dit die loop van my gedagtes wees. Die onthou van vandag ‘n kosbare kleinnood wat my sal verfris net soos wat dit die twee oues versterk het. Om te onthou maak ons wyser, gee ons die kennis vir nou en help ons om vorentoe te gaan. Dit is goed om te weet waar ons begin het en waarheen ons oppad is. Vandag se probleme word more se stories wat saam leef in elke gedagte. Dit maak ons besonders.

Op die ou einde, om saam met afgetredenes te bly is nie so erg nie, dit hang af hoe jy daarna kyk. Dis eintlik groot pret — as jy die geduld het.

Kopiereg (c)LynelleClark2019

 

 




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Kiekies

    11 Junie 2019

    En duidelik het jy die geduld.

  2. Lynelle

    12 Junie 2019

    Ek sukkel maar met dit by tye. Dankie vir jou lees, Kiekies.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 61
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 139 gaste aanlyn

Bydrae Totale