Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Brief aan jou

Deur Martha
Datum gepubliseer: 5 Desember 2018 Aantal woorde: 850 17 Kere gelees Hou van

Hoe begin die belangrike briefskrywers ‘n brief as hulle nie weet aan wie om dit te rig nie?
AAN WIE DIT MAG AANGAAN
Nou, daar het jy dit! Hierdie brief kan dan selfs vir jou ook wees, nie waar nie? Maar ha-a, ek wil nie ‘n brief wat ek vir jou skryf, so amptelik begin nie. Kom ek begin weer voor, dan lyk dit dalk beter.
Liewe mens wat hierdie Kersfees alleen gaan wees!
Ek sit met ander dinge, maar my kop wil nie vanaand regte, egte goed doen nie. My kop wil ‘n slag my hart volg – die ver paaie van alleen-wees en (soms) alleen wil wees. Ek wil daardie paaie loop en kyk wie ontmoet ek daar. En dalk, net groot miskien, kan ons twee mekaar so ‘n klein bietjie opbeur?
‘n Goeie skoolmaat werk in annerland. Hy kry vanaand die nuus van ‘n familielid wat uiters siek is en die dokters is raadop. Hy is stoksielalleen, sou onse David Kramer sing, maar sonder die vrolike riel wat daarmee gepaard gaan. Hy soek vanaand na die warmte van sy huis en sy mense. Want sien, as die lewe druk, wil jy mos méns voel rondom jou. Sulke tyd help die telefoon en die internet g’n niks om jou beter te laat voel nie. Jy wil jou liefde in die oë kyk en jou prate praat … of dalk sommer net sit en jou dinke dink, so saam met jou geliefdes.
Maar ek dwaal af, sien ek. Eintlik is ek mos op pad, of hoe het ek dit nou?
Ek kry my vriend van annerland so amper half onder ‘n bos ingebuk. Ja, hy wil my nie eintlik aankyk nie, maar sy hart roep na ‘n klein bietjie bekendheid van iewers af. Ek sien dadelik ek moenie talm hier by hom nie, want dit is nie wat hy vra nie. Ek kry darem kans om hom ‘n bemoedigende tikkie op die skouer te gee – ‘Niks nader as dit aan my nie!’ waarsku sy hele houding. Ek loop omkyk-omkyk verder, maar hy is reeds weer kop-onder-sy-eie-bos besig met sy eie dinge.
Ek sien hom van ver af al. Hy sit asof hy die ganse heelal besit en asof niks op aarde hom nog ooit gepla het nie. Mmmm, dink ek by myself, hierdie ou het nie my afdraai langs die pad nodig nie.
Ek is amper al verby toe ek in daardie oë kyk. Ai tog man, ‘n alleen-mens se oë lyk mos anders as ander mense s’n. Het jy dit al opgemerk? Jy weet, dis net asof daar so ‘n amperse verslaentheid iewers daar ver agter skuil. Nie dat hulle dit aan jou sal erken nie, hoor.
Hy is nie veronderstel om alleen te wees nie, maar die lewe het hom ‘n lelike streep getrek toe hy dit die minste verwag het. ‘Nou vat ek dit soos ‘n man,’ laat hy my gou genoeg hoor. Ek gaan saam met hom sit en ons gesels kort voor lank dat die biesies bewe. Dis lekker om met hom te gesels, maar weereens is die skerm om die hart so dig dat jy onmoontlik daar kan uitkom.
So loop ek hulle een vir een raak. Die vrou wat liewers in ‘n kamer bly as by haar man wat haar so ongenadiglik verniel. Die man wat dag in en dag uit by sy siek kind in die hospitaal sit, al het hulle hom gewaarsku dat kindjie nooit weer daar sal opstaan nie.
Die ouers wat hier net voor die vakansie hulle baba-kind verloor het aan die dood. O hemeltjie tog, hoe stop ‘n mens en gesels met hulle? Hoe kan jy ooit probeer verstaan as jy self nog nooit op daardie pad was nie?
Is dit nie dalk die kruks van die saak nie? As ek nie in jou skoene daardie pad geloop het nie, kan ek nooit as te nimmer vir jou sê dat ek verstaan hoe jy voel nie, kan ek?
Maar! Vanaand wil ek graag vir jou vra om, terwyl jy daar langs die swaarkry-pad sit, net ‘n slaggie op te kyk. Kyk op en sien die ander voetgangers – elkeen op sy eie, vreemde pad.
Kyk, daardie een sit vir jou ‘n blommetjie neer. Nee, hy sal nie nader kom nie, hoor. Maar daar op ‘n afstand het hy tog vir ‘n oomblik gestop uit eerbied vir jou … en die blommetjie vir jou gelos vir later se optel. Iemand anders het reeds vir jou ‘n koel lafenis gelos. Daar oorkant is een besig om vir jou ‘n plekkie in die skaduwee te maak.
Jy sien, ons kan nie jou pad namens jou loop nie, maar tóg probeer elkeen op sy eie manier vir jou die swaar pad makliker maak.
Ek rus ‘n oomblik en, sowaar! hier stop iemand by my en gee vir my die mooiste glimlag. Net dit. Die glimlag. Niks anders nie. Net die glimlag.
Opeens voel ek uitgerus en reg om my pad vorentoe te loop.
Jy wat so alleen jou sit daar eenkant sit, kyk net so ‘n klein bietjie op, sal jy?




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 26
    Kommentaar telling: 6

    Ek is 'n Namibier in murg en bloed. Ek hou my lewe lank skook, met hier en daar 'n kort tussenpose. Ek is getroud, het drie kinders en (op die oomblik) drie kleinkinders. Dit het my my lewe lank gevat voordat ek die moed gehad het om te begin skryf. PUBLICATIONS Books: Tuiskoms, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2018), 193 pages. ISBN 978-1-928413-65-3 Hagar, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2017) 270 pages, ISBN 978-1-928413-70-7   Short stories: ·         My lewe in ink – ‘n versameling van inspirerende dagstukkies. Published by Carpe Diem Boeke (2002) ISBN 1-919912-07-X Martha’s contribution: Jesus, ek is blind! (page 180) ·         Keur van verhale 4 – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers. ISBN 978-1-928413-40-0 Martha’s contribution: Die Misverstand (page 72) ·         Kierangspruit se Sirkus – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers ISBN 978-1-928413-90-5 Martha’s contribution: Rocco se hartseer vertoning (page 82) ·         Verspeelde Matriekafskeid Published by Huisgenoot (8 February 2018) and read on Maroela Media  (2 February 2018) ·         In die grasie van jou wese – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers   ISBN 978-1-928415-57-2 Martha’s contribution: (V)oorbegin

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 55 gaste aanlyn

    Bydrae Totale