Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ʼn Boog vir Hartbeespoortdam

Deur Ano
Datum gepubliseer: 31 Maart 2020 Aantal woorde: 476 26 Kere gelees 1

Ons was seker al ʼn honderd maal by Hartbeespoortdam en het elke keer onderdeur daardie boog gery, min wetende wat dit eintlik verteenwoordig. Dit was egter die blanke pioniers wat gedurende 1836 die potensiaal van die water raakgesien en die idee gevorm het om dit te ontgin. Riviere en poele se vloei is verander en bymekaar gebring om in een enkele dam bymekaar te kom sodat daar altyd water tydens droogte sou wees en om die dorp, industriële area, sowel as die uitgebreide landbou bedrywighede te voed. In daardie tyd was dit die grootste dam in die suidelike halfrond en het Hendrik Schoeman in 1898 ʼn allemintige 10 000 pond uit die sak gejaag.

Ongelukkig het die Sweedse ingenieur, August Karslon ʼn fout met die opmeting gemaak en het die oorspronklike dam tydens ʼn vloed in 1902 weggespoel. Die bou van die dam is oor ʼn hele paar dekades om verskeie redes vertraag en is uiteindelik eers in 1921 voltooi. Die triomfboog en pad wat oor die dam loop, is in 1923 voltooi en het die hoofroete tussen Pretoria en Rustenburg gevorm.

Om die dam te voltooi was 250 000 sakke sement per trein na Brits vervoer en daarna verder met osse en muile vervoer. Sand en water was geredelik beskikbaar sodat die sement aangemaak kon word, maar ʼn pyplyn moes aangelê word om die werkers (verarmde Afrikaanssprekende blankes) van drinkwater uit ʼn nabygeleë fontein te voorsien. Hiervoor moes hulle self ʼn plan maak en die pyplyn bou. Dit het bestaan uit ʼn kilometerlange konstruksie van leë konfytblikke wat met sement bedek was.

Met die oopmaak van twee sluise in die oostelike kanaal (66km) en die westelike kanaal (58km), het water teen 5700 liter per sekonde die dam binne gevloei. Vandag bevat Hartbeespoortdam nagenoeg 205 kubieke meter water en voed ondermeer die dorpe Brits en Hartbeespoort sowel as die groter Johannesburgse gebied vir industriële en huishoudelike gebruik.

Die sogenaamde “Victory Arch” aan die westelike kant van die dam is spesiaal en word nêrens anders in Suid-Afrika aangetref nie. Hierdie boog simboliseer die stryd en uitdagings om die dam te voltooi en ook die stryd teen armoede. Dit is ʼn nabootsing van die gewilde Romeinse triomfboë en het baie in gemeen met die Arc de Triomphe van Parys, Frankryk.

Aan die oostelike kant van die boog staan daar in Latyns geskryf: “SINE AQUA ARIDA AC MISERA AGRI CULTURA” (sonder water is landbou ellendig en verdor.) Die westelike kant het ʼn uittreksel vanuit die Latynse Bybel, Jesaja 44:3: “DEDI IN DESERTO AQUAS FLUMINA IN INVIO” (Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge.) Die Anglo-Boereoorlog was pas verby en dit was nie juis ʼn tyd van verdraagsaamheid en eenwording nie. Latyns is dus gebruik omdat dit ʼn neutrale taal sou wees en die regering van die dag het ʼn baie moeilike tyd gehad het om Afrikaans- en Engelssprekende groepe te verenig.

(Woordtelling 501)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    1 April 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2020 – Triomfboog projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 53
Kommentaar telling: 94

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 37 gaste aanlyn

Bydrae Totale