Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ʼn Blom in my hare.

Deur Taai
Datum gepubliseer: 14 Desember 2019 Aantal woorde: 1949 120 Kere gelees 5

Nee, kyk! Ek sit nou al drie dae met ’n refrein wat nie uit my kop wil wyk nie. Dit het vasgehaak soos klitsgras wat wegkruipertjie speel binne-in jou klere en jou grensloos bly irriteer. Nou, kom ek verduidelik my moeilikheid vir julle. My dogtertjie het die jaar by die skool se koor aangesluit en julle weet mos hoe dit dan gaan. Daar word tydig en ontydig aan hulle liedjies geoefen en dan word mamma se ore tot die uiterste beproef en dit is net ʼn wonderwerk dat my verstand nog nie op vakansie gegaan het nie. So hoor ek heeldag my dogtertjie sing ‘Die Byeboerwa’. Daardie bekende treffer van die vroeë tagtiger jare van Anton Goosen wat bekend gemaak is deur Carika Keuzenkamp. Net daar haak dit vas in die kronkels van my brein en kry ek dit toe nie weer uit nie.

Sedertdien loop ek met die refrein rond, al swaaiende (soos ’n etiket) heen en weer aan my brein en dit koggel my. Op die koop toe vang ek myself tydig en ontyd sommer spontaan in sang uitbars met: “Die byeboer, byeboer, byeboer-wa. Blom in die hare en bye wat pla.”. Ek dink nie eers ’n naald en gare, of gom gaan die verhouding tussen my lippe en brein keer nie. Het al oorweeg om ’n grafie, skalpel of vurk op te neem in dreigement, maar twyfel of dit dié, die skrik op die lyf gaan jaag. Ek het ’n sterk begeerte om in ’n kas te gaan klim en weg te kruip in die hoop dat dit my nie weer sal vind nie. Verlore vir altyd. Jy weet mos, soos daardie kar- of huissleutels wat jy iewers verlê het en met jou waansinnige gesoekery kry jy dit nêrens nie. Nou daardie refrein moet my sommer verlê soos karsleutels en nie weer vind nie.

Maar die afgelope drie dae het dit my ook baie aan die dink gesit. Veral toe ek ’n baie paniekbevange blou Maandag tref en in nood moet afsak na Binnelandse Sake toe. Net die naam Binnelandse Sake laat my in sweet en angs uitslaan, want dit is lank se sit en langer se wag en jy hoop dat jy hopelik iewers daardie dag geholpe gaan raak. Dan moet hulle sisteem nie aflyn gaan nie, want dit beteken dan jy sal die hele proses weer moet deurmaak op ’n ander dag. Ek weet mos hoe dit daarso gaan, want laas keer het ek vyf keer (oor ’n tydperk van drie weke) daardie hele drama moes deurmaak en my geduld was toe al tot die uiterste beproef. So ek weet hoe dit daar gaan (maak ek myself wys) en ek raak sommer obsternaat net aan daardie gedagte. En as dit nie erg genoeg is nie, jaag ek self my bloeddruk verder op as ek dink hoe benoud ek gaan voel met die mense wat (voor en agter my in die ry) letterlik bo-op my gaan staan (al vermoed ek hulle is bang ek raak weg en dit maar ’n veiligheidsmaatreël is om te verseker dat ek nie vermis sal raak nie) en dan die ergste is die woer-woer kore van neusslym wat oorverdowend opklink. Ek wil net rondhol en snesies uitdeel in applous. Moenie vergeet van die ondraaglike hitte, die sweet wat teen jou tempelhoof pêrel en teen jou ruggraat af kriewelkielie nie, want lugreëling bestaan nie daar nie. So my nerwe sal tot die uiterste beproef word.

Sweet slaan oor my uit, angs omklem my hart, my geduld word sommer net daar korter (nog voor ek daar kom), ek hark sommer ’n beneukte humeur nader want netnou het ek haar nodig om dinge aan die gang dalk te kry met haar vloermoer persoonlikheid. Want ek weet mos hoe dit daar gaan wees. Of so dink ek.

Dis nog baie vroeg, skaars agt-uur toe ek voor Binnelandse Sake stilhou. Maar daar is net drie mense wat buite wag. Ek kyk rond en soek die naambord wat voor die gebou pryk net om doodseker te maak ek is wel nog by die regte plek, Mens weet nooit, hulle kon laasnag skielik verskuif het. Nee … sien ek. Dit is beslis die regte plek, maar daar is dan net drie siele voor die deur. Hoe is dit moontlik? Nee, probeer my brein my wys maak, dit is net die staf wat hier werk, alhoewel logika vir my fluister “Watter mens sal meer as ’n uur voor werkstyd buite wag vir die deure om oop te maak”. Op nadere inspeksie van die kennisgewing bord sal ek sien dat die deure eers nege-uur oop maak. Ek is heeltemal te vroeg en boonop moet die kinders by wees met hulle paspoorte se aansoek. Maar dis nog lank nie te sê dat daar nie lang rye én rye gaan wees nie. Nege-uur sal daar hordes mense wees en die ry sal tot in die Kaap strek.

Ek maak waaragtig ’n tweede rit deur die loop van die oggend soontoe om my te vergewis van die elle lange ry en vir die wis en onwis jaag ek sommer my bloeddruk weer hemelhoog nog voor ek daar kom. En toe? Niemand! Niemand voor die hoofdeur of buite nie? Dit is net te goed om waar te kan wees. Ek sluip na binne, bang dat daar netnou ʼn ry by die deur gaan uitblom sodra hulle my gewaar. In algehele skok staan en staar ek na die drie mense wat verdwaald rondstaan in die groot saal. Drie! ’n Hele somtotaal van drie? Die sitplekke is leeg en daar is geen wagtende rye nie. Wat gaan hier aan? Dit kan mos nie wees nie. Die saal moet tjok en blok vol mense wees. My brein wil dit amper nie registreer nie. Op ’n vraag van een van die werkers, mompel ek iets van ‘ek wou net kom hoor van die werksure’ en ek laat spaander vinniger as wat daai Roadrunner kan hardloop.

Terug op kantoor bel ek omtrent die hele wêreld wild en wakker warm in die hoop dat ek dalk ’n nóg makliker oplossing, manier of persoon kan kry om my te help met hierdie storie. Ek skarrel rond op die internet en ontdek dat ja, jou wraggies waar, Binnelandse Sake het nou skielik ’n amptelike eHomeAffairs webblad. Ek kan jou wrintie waar elektronies die kinders se paspoorte vir aansoek doen. My hart klap sommer hande in blydskap en doen ’n opgewonde dans in my borskas en die son skyn weer oor my. Dit kan mos nou nie so moeilik wees as mens dit elektronies kan doen nie. Dalk spaar dit my gesondheid en word my lewe net weer ʼn aks verleng as ek nie hoef te gaan sit by Binnelandse Sake nie. Ek voltooi al die vorms elektronies en voel baie in my noppies met myself. Ek klop myself sommer op die skouer omdat ek so ʼn slim ding kon doen, maar die blydskap was van korte duur. ʼn Elektroniese boodskap stel my in kennis dat ek nogsteeds die kinders na die naaste kantoor moet vat vir foto’s en vingerafdrukke. My moed syfer sommer in die grond weg. Ek dag ek kan dit dan vryspring. Na ʼn paar tellings praat ek myself weer moed in. Hoe erg kan dit wees? Dis tog net vingerafdrukke en foto’s. Dit kan maksimum 10 minute tog net neem. Dan nie?

Met my derde rit, en my kleinspan by my, hou ek die hele pad my asem op in angs. My senuwees is behoorlik op hol, veral met twee klein kinders in aantou wat permanent rooi miere huisvesting gee in daai klein lyfies van hul. Ek sien al hoe daar gestoei en baklei, geknyp en hare getrek en rondgehol gaan word asof hulle op hul eie planeet is.

My maag maak drie bollemakiesies met die aanskou van die leë hoofingang. Wat as ek vanmôre heel verkeerd gekyk het en die plek is stampvol? Daar was genoeg tyd tussenin om daardie saal te vul van hoek tot kant. Verligting spoel oor my toe ek besef ek is heel eerste in die ry. Ek gee amper ’n gil van blydskap. Nou moet jy ingedagte hou dit is net so voor twee die middag. Ek verduidelik kortliks my storie en word ’n nommer gegee. Ek gaan sit ook heel voor, baie bly, want ek gaan nou gehelp word.

“Mevrou, waar is die kinders se pa? Hy moet teenwoordig wees.” My verwarrende (sommer vies) brein se tor voeter van die kurkprop af en versuip amper. Ek sukkel om haar met my dom vingers weer terug te sit op die prop. Iewers deur die gespartel om my tor terug op die prop te kry, oorhandig ek my selfoon aan my seun met die bevel dat hy sy pa moet bel en dié beter vinnig hiernatoe kom, terwyl ek lugborrels moet hap oor hoekom een van die belangrikste persone van my kinders nie teenwoordig is nie. Met ’n glinster in my oë en met meer bravade as wat ek voel kyk ek die personeellid vierkantig in die oë. “Hy is op pad en sal nou hier wees.”

Let wel. Ons plaas is nie om die draai nie. So dit gaan hom ’n ruk vat om by ons uit te kom. Die vorige nag het ek vir hom gesê dat ek vermoed hy moet teenwoordig wees, maar nee, die man ‘is mos slimmer’ en boonop vermy hy die dorp soos pes en stuur my gewoonlik in sy plek. Want om te boer is baie lekkerder as om dorp toe te gaan vir sake. Vroulief sal alles uitsorteer en reg kry. Wel, hier misgis hy hom. Binnelandse Sake soek sy lyf vir die aansoek. My teepot in my kop wil al amper oorkook, gedeeltelik weens die staatsdepartement wat my nou keer omdat wederhelf nie teenwoordig is nie en andersyds vir manlief, wat nou nie meer man’lief” is nie. Ek voeg hom stil ’n paar ‘gedagtes’ toe saam met die ‘ek het jou mos gesê’ verwyt. Maar dalk moes ek nie daardie ‘gedagtes’ vir my man telepaties gestuur het nie, want nou jaag dit al die werkers weg op ete. Ek sit heel eerste in die ry en moet geduldig wag tot etensuur verby is en my bloed wil net-net weer begin kook. Ek loer kort-kort op my horlosie en kyk dan rond om te sien of enigiemand my raaksien en hopelik besef dat ek haastig is, so asof dit hulle vinniger gaan laat terugkom van etensuur. Maar om ’n lang storie kort te maak. Die personeel was toe hulpvaardig en dit het toe op die ou einde van die dag net so oor ’n uur geneem vir ons om alles uitgesorteer te kon kry (teenoor 10 ure in ʼn ry se wag van ‘n vorige keer). Natuurlik met pappa se teenwoordigheid as bewys dat hy die pa van ons kroos is.

Dit was ’n pynloser proses die keer en ek het dit soos ’n blom in my hare gesteek, nadat ek die bye wat pla self onnodig uit die byenes gaan haal het. Ons kom almal van tyd tot tyd onsmaaklike situasies of situasies wat ons na opsien teë, maar partykeer word ons ook aangenaam verras deur die blom in ons hare situasie, waar ons gedink het die bye wat pla situasie gaan vierkantig voor ons staan en ons opdraandes gee. Hoe lui die gesegde: “Moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie.” Haal diep asem en steek ‘n blom in jou hare vir die bye wat pla. En ja, ek bars nog steeds van tyd tot tyd spontaan uit met: “Die byeboer, byeboer, byeboer-wa. Blom in die hare en bye wat pla.” En ek vermoed dit gaan my nog lank bybly.

© Taai Bonthuys




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    18 Desember 2019

    10 / 10! Dankie vir die lekker skryfstuk wat jy gedeel het <3

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 1

Digter, Skrywer en professionele rekenmeester.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 117 gaste aanlyn

Bydrae Totale