Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Bitter knal van verlossing

Deur LieslSaayman
Datum gepubliseer: 22 Januarie 2020 Aantal woorde: 1899 87 Kere gelees 2

Mismoedig sak Gideon in sy rusbank in. Die sagte stopsel omvou sy lyf en ‘n gebrek aan ondersteuning van jare se uitgeleefdheid sluk hom byna in. Die moeë rusbank is omtrent al wat hy oor het. Dit en die deursigtige gordyne met verbleikte, verwelkte blomme op, breek darem die eggo van sy eie stem in die bachelors wat hy vir die laaste 3 jaar huis noem. ‘n Adres is eintlik al wat dit is, ‘n huis is groter, het lewe in en is ‘n plek waar jy wil wees. Gideon wil nie hier wees nie. Hy wil nie die laaste drie jaar se baklei gehad het nie, die eindelose baklei vir niks, terwyl prokureurs al meer kry en hy al hoe minder vir sy baklei sien.
Dit lyk vanaand alles so sinneloos en donker eintlik duister. Ja, Gideon se gemoed is meer as donker vanaand. As hy met homself eerlik is, besef hy dat hy vanaand op die rand van ‘n afgrond staan. En die val onder toe lyk bevrydend en of hy uiteindelik die eindelose stryd wen, deur homself los te koop, deur net eenvoudig op te gee. Voor hom is ‘n omgedopte krat, swart soos sy siel. Bo-op die krat lê drie goed. ‘n Sleutelhouer sonder sleutels. Vandag nadat hy van die hof af teruggekom het, is hy begroet deur die balju wat sy kar kom neem het. Hy het nie eers gestry of probeer verduidelik dat hy nie kan betaal nie, dat hy al vir drie jaar lank stry om net sy kinders te kan sien, dat hy elke liewe sent wat hy het, alreeds op prokureursfooie gespandeer het, dat hy alles betaal wat hy kan in onderhoud om seker te maak hy doen sy deel. Dat hy niks meer oor het nie. Hy het net die motorsleutels van die sleutelhouer afgehaal en dit oorhandig. ‘n Geseëlde bottel KWV 10 jaar, nou al KWV 15 jaar en vir ‘n oomblik wonder hy of dit nou meer werd is, al staan dit die laaste 5 jaar in ‘n kas. ‘n Kersgeskenk van toe alles nog goed was. Brandewyn vir die pyn het sy oom Ollie altyd gesê. Wel as dit gewerk het, moes oom Ollie nooit pyn gevoel het nie, want die brandewyn en bloed was ewe veel in daai oom se are. Miskien help dit nie vir pyn nie, miskien is dit eerder ‘n kruk wat keer dat ‘n lafaard sy eie beeld in die spieël moet aanskou, dink Gideon. Is dit wat hy beplan vanaand lafhartig? Hy dink vir ‘n oomblik daaroor, maar dan dwaal sy geestesoog weer oor die afgrond en dit lyk soos salige verlossing. Die derde, sy Beretta. Twee jaar gelede het tannie Annette hom gevra om van ‘n paar goed van oom Ollie ontslae te raak. Hy was reeds ‘n paar jaar oorlede en sy was oud en het nie meer krag oorgehad nie. Tussen alles was sy Beretta, ongelisensieerd en op niemand se boeke nie. Hy wou dit nog vernietig of ingee, maar het nooit daarby uitgekom nie. Nou lê dit voor hom. ‘n Uitweg, ‘n stille antwoord op pyn, ‘n punt aan die einde van sy sin.
Hulle het mekaar in hul finale jaar op universiteit ontmoet. Albei Maties, albei gevul met hoop vir die toekoms en gereed om drome te gaan verwesenlik. Sy was finale jaar BA met Sosiologie as hoofvak, hy was besig met sy Honneurs in B.Comm. Hy het vir Gina by ‘n braai van ‘n huismaat ontmoet. Sy was die huismaat se meisie se vriendin en hulle was onmiddellik gebonde deur beide verliefdheid en plek van oorsprong. Pretorianers van geboorte, maar Kapenaars uit keuse het hul altyd gespot. Dit en die feit dat hul beide nie ver genoeg van hul ouers af kon kom nie. Getroud en gestry, nou geskei en nog steeds aan die stry het hy altyd gedink.
Hulle het vir ‘n rukkie in die stad gewoon, in ‘n te duur woonstel, middestad. Sy naby haar werk in Buitengrachtstraat en hy ook nie ver van sy kantoor in een van die stad se hoë geboue wat uitkyk oor die hawe, af nie. Kort daarna het hulle getrou, sommer so ‘n weghol troue met net ‘n paar vriende teenwoordig. Sy was so mooi in haar linne rok, sonder pretensie, met ‘n krans van die fynste wit blommetjies op haar kop. Dit was ‘n gelukkige dag in Gideon se lewe, ‘n dag wat hy geweet het hulle is nié sy ouers nie, hulle gaan nié dieselfde foute maak nie, hulle liefde is vir ewig en ewig. Die dag se geluk is egter vinnig oorskry toe Gina kort daarna aankondig dat sy swanger is. Sy vreugde was so groot en volmaak dat hy moontlik nie eers agtergekom het dat dit nie is wat sy nou al beplan het nie. Hulle het besluit om hul duur woonstel op te gee vir voorstedelike bestaan en het koers gekies na die Afrikaanse noordelike voorstede toe. Kort nadat hul ingetrek het in hul huis in die kompleks is Alex gebore. Sy pragtige seun, sy rugbyman, die een wat sy van gaan voortdra. Gina het haar werk in die stad bedank en hy het elke oggend ekstra vroeg vertrek, want die verkeer was ‘n nagmerrie vir elkeen wat die N1 moet aanvat elke dag. Saans het hy later gewerk om seker te maak dat sy gesin nie finansieël moet te kort skiet nie.
Desember het hulle gaan vakansie hou op Hartenbos. Enigiets om nie Pretoria toe te moet gaan vir Kersfees nie. Nie een van hulle het krag gehad vir hul families nie. Gina se ma die neurotiese hipochonder wat almal mal gehad het met onbekende kwale en selfgediagnoseerde simptome, in ‘n krampagtige soeke na aandag deur simpatie. Sy ouers, nog steeds aan die stry. Dit was lieflik in Hartenbos. Alex kon al lekker loop en in die vlak branders speel. Die son het vir Gideon geskyn en die nuwe jaar het die nuus gebring dat Gina weer swanger is, hierdie keer met Mika. ‘n Blonde krulkop met die mooiste blou ogies, net soos haar ma sin. Hy het nooit gedink dat hy vir nog ‘n vrou so lief kan wees soos wat hy vir Gina was nie, maar dié meisiekind het sy hart met haar eerste gilletjie gewen.
Twee Desembers later het hulle tuis gebly. Gina was ongelukkig. Sy het gesê dat sy dit haat om arm te wees en dat sy ‘n breuk nodig het. Gina het gesê dat sy in die nuwe jaar weer gaan begin werk en die kinders in ‘n nasorg gaan sit, sy het talente en hulle moet gebruik word. Gideon was gelukkig en wou vir Gina gelukkig sien en toe stem hy in. Dit was ‘n gespanne Desember en irritasie en sporadiese konflik het die glans van hul drome laat afsplinter. Dit was soos ‘n antwoord uit die hemel toe Otto, ‘n skoolvriend van Gina hulle bel en laat weet dat hy in Langebaan vakansie hou. Hy en sy verloofde het planne gehad, maar sy het haar belangstelling in hom verloor net voordat hulle op ‘n vliegtuig Kaap toe geklim het en hy het op sy eie gekom. Die huis wat hy gehuur het is groot en leeg en hulle moet kom Kersfees hou saam met hom. Hulle het gegaan vir Kersfees en op Gina se versoek aangebly tot na Nuwe jaar. Hulle het geëet en gekuier en gedrink. Otto het gaan duik en vir Gina geleer hoe om te snorkel, Gideon het sy kinders opgepas. Gina het joga gedoen op die strand soggens wanneer die son opkom en vir Otto geleer hoe om te ontspan. Gideon het gebly en ontbyt voorberei. Otto het geflankeer en Gina het dit geniet en Gideon het gedrink, want dit was Ou jaarsaand. Otto het vir Gina ‘n werk aangebied in sy besigheid se Kaapse kantoor en Gina het dit aanvaar en Gideon het uitgesluit gevoel. Otto het genoem dat Gina gereeld sal moet opvlieg Johannesburg toe en dan sommer in sy groot huis kan oorbly, Gina het dit waardeer en Gideon was woedend. Gideon het geskreeu, Gina was ontsteld en Otto het haar getroos. Gideon het tasse gepak, Gina het gegil “Jy is dronk!”, hy wou die kinders vat, sy het gekeer, hy het terugbaklei, ‘n glas het gebreek, daar was bloed, hy is weg.
Otto en Gina het drie dae later haar en die kinders se goed kom haal. Die vliegtuigkaartjies is reeds geboek, sy gaan saam met Otto, Gideon is ‘n gevaar, sy en die kinders moet weg. Gideon het gesmeek, Gina was doof, Otto was in die pad. Gideon het vir 3 ure op die lughawe gewag om net sy kinders te kon groet. Hulle het gehuil, hy het gehuil, Gina … het by Otto gestaan.
Tien dae later was Gideon terug op kantoor toe dit op sy lessenaar beland. Hy het geweet wat is in die koevert nog voordat hy dit oopgemaak het. Gina wil skei, Gina wil die kinders hê, hy is ‘n gevaar en Otto is ‘n ooggetuie. Hy het laat weet dat hy opkom Johannesburg toe, hy het gesê hy wil met Alex praat, hy het gesê hy wil met Gina praat, hy het daardie naweek na sy pa se huis toe gery in Centurion met sy huurmotor, want Gina en Otto was weg die naweek … met sy kinders … Magoebaskloof toe.
Vir die laaste drie jaar het hy sy kinders al vier keer gesien. Vandag by die hof was egter die laaste. Nie oor hy weer eens onsuksesvol was om homself te verdedig nie, maar omdat Mika nie geweet het wie hy is nie en gehuil het vir haar pappa toe hy nader kom, terwyl sy al hoe stywer in Otto se arms in klim. Omdat Alex hom nie wou groet nie en verskrik agter Otto se been weggekruip het. Sy hart het daar versplinter op die sypaadjie voor die Hooggeregshof en die suidooster het die skerwe see toe gewaai. Hy kon nie meer baklei nie, Gina het gewen. Gina, die vrou wat hy nie meer ken nie, Gina wat elke maand vra vir haar deel van onderhoud, omdat sy haar werk opgegee het om na die kinders te kyk, terwyl sy Gucci op haar arm dra en ‘n diamant op haar vinger. Gina het vir hom baie gegee, maar Gina het meer geneem.
Gideon kraak die nek van die bottel KWV, hy weet nou hoe verloor voel. Hy weet nou hoe stukkend voel, hy weet hoe dit voel om nie meer te kan asem haal nie, want jou vlees is weggeskeur en jou longe sit soos gapende oop wonde, jou ingewande lê buite jou, maar jy is reeds leeggebloei en daar is niks meer oor om jou hart aan die klop te hou nie.
Gideon kyk weer oor die afgrond en hy sien die verlossing van laat gaan soos ‘n uitnodiging na die hiernamaals. Hy voel die koue metaal van die Beretta in sy palm, hy dra die sweet van angs soos ‘n kroon op sy voorkom. Vir ‘n oomblik voel Gideon reeds dood nog voor hy die sneller kan trek, maar dan wanneer hy die koue metaal tussen sy tande vasbyt weet hy, laat los is genade en die skoot ‘n pynlose begrip van vryheid.
Die knal bring stilte wat ‘n kombers trek oor ‘n verlore lewe, oor ‘n einde wat bereik was reeds lank voor dit volbring is.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    22 Januarie 2020

    Pragtige diepseer verhaal wat my ongelooflik diep geraak het, maar daar word slegs 2 inskrywings vir elke maand projek aanvaar per afdeling per lid.

    Jy het die kuns bemeester om mens so diep in jou verhaal te trek dat dit voel of jy ‘n ooggetuie is van die toneel wat voor jou afspeel. Puik !

  2. LieslSaayman

    22 Januarie 2020

    Dankie Anze. Ek verstaan en dit is reg so. Dankie vir die mooi woorde. Ek is bly nog iemand kon die verhaal ervaar.

    Groete

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 4
Kommentaar telling: 1

Woorde is my verfkwas waarmee emosies, herinneringe en gedagtes gekleur, geskep, geglans en gepoets word totdat daar 'n trilling van begrip, van stille onthou by die leser vibreer

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 38 gaste aanlyn

Bydrae Totale