Jongste aktiwiteit:

My Skrywerspad deur Lynelle Clark

Ek is besig om ‘n Skryf-outobiografie te lees van Steven King. Dit is ‘n lywige boek wat begin by sy eerste storie se ontstaan. Reeds van ‘n baie jong ouderdom af kon hy onderwerpe eien en neerpen en het hy die stories tussen sy klasmaats verkoop. Fliek en teaters was nog in hul kinderskoene toe hy begin kyk en leer het. Dit was ‘n weeklikse uitstappie wat sy skryfstyl sou ontwikkel asook die storielyn sou bou het. Toe sy eerste deurbraak kom met Carrie, was hy eintlik al voos gespartel en het ‘n sukkelbestaan gevoer tot daar. Om die waarheid te sê, as dit nie vir sy vrou was nie, sou Carrie nooit eers klaar geskryf gewees het nie. Sy opgang van snippermandjie tot beroemdheid vasgevang in die leerskool van sy eie lewe.
Dit is wat elke skrywer beroemd maak. Daardie loop-en-valproses wat hom/haar laat opstaan om dit weer te gee wat die wêreld kan lees, hetsy in storievorm of by wyse van motivering.
Die tweede gedeelte van die boek gee hy belangrike insae oor die skryfproses, wat om te vermy en waar om te verbeter. Die idee van ‘n ‘toolbox’ word gebruik in beeldspraak om die boublokke uitmekaar te haal sodat jy as skrywer dit die beste kan verstaan. Sy skryfstyl is uniek en tot die punt terwyl hy jou touwys maak oor die fynere punte van die kuns.
Ek het gehou van sy verduidelikings. Sinne en paragrawe wat in hul samestellings ritme as te ware aan ‘n boek gee. Wisselende lengtes tussen lank en kort word die leser (in getrek) ingetrek sodat jy nie aan die slaap raak tydens die leeskuier nie. Definitiewe sinne sonder illusies en slapgatgeid. Dit is sy aanbeveling. Daar is net geen pretensie te bespeur in sy werk nie en seker die rede hoekom hy ontpop het as sulks. Hy spoor jou aan om jou eie stem te kry en die uniekheid daarvan te behou.
Dit is so maklik om weg te raak tussen die duisende stemme op die boekrak. Skrywers van weleer wat jou beïnvloed het om die skrywerspen op te neem. Mense wat deel was van my ontwaking is Ena Murray, Konsalik, FA Venter, PG Du Plessis, Wilbur Smith, Francis Rivers, Ruth Ann Nordin, Robert Ludlum, Stieg Larson en selfs nie-fiksie skrywers soos Zig Ziglar, om net ‘n paar te noem.
My eie werklike pogings het op die mooi ouderdom van 44 begin. As groentjie was my eerste tree wankelrig en lomp. ‘n Tipiese baba wat met kwylende mond hard moes konsentreer om net daardie eerste sin neergepen te kry.
Om op daardie ouderdom te kom en dan te besef jy sal opnuut weer moet leer van taalleer en sinkonteks, dinge wat jy eintlik op skool al geleer het maar nooit toegepas het nie, is ‘n oog-oopmaker.
Wanneer ek vandag my eerste stories lees, dan weet ek, ek het al ‘n vêr pad geloop vanaf daardie eerste pogings. Dit is so maklik om iemand anders se skryfstyl na te boots, maar om jou eie stem te kry kos ontwikkeling.
‘n Mens kan dit seker aan baie dinge toeskryf, maar kortom, as jy nie skryf nie verleer jy die basiese beginsels. Daar was tye voor dit wat ek ook probeer het om te skryf, maar o wee, die woorde wou net nie rol nie. Dit het gevoel soos ‘n ou motorkar wat jy aan die brand moet stoot net om ‘n sin te kry, om nie eers te praat van ‘n paragraaf of hoofstuk nie. ‘n Boek het soos die berg Everest gelyk … totaal onontganklik.
Maar op 44 het ek al geleer om deur te druk, aan te hou tot waar ek darem al ‘n paar sinne kon neerskryf. Skryfwerk het my meer geleer oor myself as enige ander area in my lewe. Aan die eenkant is dit vervullend, gee dit my ‘n doel en verryk dit my lewe. Aan die anderkant is dit ‘n avontuur wat jou toets. Die dinamika van woordbou en sinkonstruksie ‘n blywende soeke om die perfekte sin te skep.
Dit is hoe dit is om berge uit te klim. Eers moet jy oefen om darem net fiks te word. Dan moet jy jou voete, bene en rug oefen om die kilometers en rugsak te kan hanteer. ‘n Spesifieke pas moet gehandhaaf word binne ‘n dag anders maak jy dit nie. Elke pad word gevorm om jou kragte en vaardighede nog verder te toets tot jy bo staan. Dit maak nie saak hoe jy daarbo kom nie, die punt is jy moet net nie ophou nie.
Net so is dit met skryf. Dit is ‘n proses wat jou menigmaal op ‘n alleenpad plaas, weggeraak in jou eie gedagtes om dit neer te pen wat ander kan lees. Sommige vind dit in verskillende genre stories, ander in motivering, nog ander in gedigte en ‘n paar bring die storie in ‘n komiese stem. Daar is net nie perke in skryfstyl nie.
Skryf is in sy totaliteit ‘n spreekbuis vir wat in jou kop aangaan. Gedagtes en stories vasgevang in die verstand wat net jy kan skryf. Ons samestellings is in wese uniek wat ons die uitlaatklep gee sodat mense aanklank kan vind met ons.
Min skrywers word werklik verstaan. Elkeen se pad is gevul met die duiwels van gister en ‘n soeke na aanvaarbaarheid. Uit dit uit vloei daar ‘n werkbare storie, ‘n leesbare verhaal uniek aan die stem in jou eie kop.
Maar die kuns is om aan te hou. Immers is daar twee biljoen mense op hierdie aarde. As jy een mens nie raak nie, bly daar nog baie ander moontlike lesers oor. Die geheim is om nie mismoedig te word oor daardie een kritiese persoon wat nog nooit sy hand aan ‘n pen gewaag het nie.
Maar dit is belangrik om die regte boublokke te ontwikkel. Daarom is lees een van die belangrikste blokke in jou arsenaal. Daarsonder sal jy nie jou stem vind nie.
Wees geduldig, maak daardie foute en leer. Elke storie bring jou nader aan die eindproduk.
Kopiereg voorbehou.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed