Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: My rolmodel deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 16 Julie 2019 Aantal woorde: 859 66 Kere gelees 1

Gisteraand het ek vir die eerste keer na Uit klip gekap deur Corlea Botha geluister. Soms hoor ‘n mens liedjies so in die verbygaan en jy slaan nie ag op die woorde nie. Ander kere luister jy daarna. Dit is dan wat dit met jou praat. ‘n Hart gesprek en skielik het jy aanklank met die sanger en lied. Jy dink WOW, onbeskryflik mooi.
In my soeke na ‘n rolmodel vir hierdie stuk moet ek eerlik wees; ek het nie werklik so iets nie. Ja, ek bewonder baie mense. My ouers, my kinders, familie, vir Isak, hartsvriende en dan mense wat my motiveer soos Zig Ziglar, Oprah, Janine Shapiro, Konsalik, John Green, Wilbur Smith, en Frances Rivers. Die lys is eindeloos.
Maar my rolmodel, niemand nie behalwe… en ek sê dit met die grootste eer en respek. Vroue. Vroue is my rolmodel. Daarom ook my program Diamant Divas, waar ek met vroue gesels oor hul struikelblokke, hul worstelinge en oor die vrae. Ek wil hulle inspireer om uit hul kassie te klim en werklik te skitter. Die rede vir die naam, Diamant Divas. Juis sodat hulle tot hul volle reg kan kom.
Tydens ‘n baie moeilike en donker tyd in my lewe het die Bybel se vroue en ons eie vrouem wat die konsentrasiekampe oorleef hetm uitgestaan. Hulle het my gemotiveer om nie op te gee nie. Om deur te druk. Om te glo in myself. Hul lewens het my soveel geïnspireer dat ekself nie anders kan as om in hul voetspore te volg nie.
Vroue is my rolmodel juis omdat hulle soveel onontginde skatte in hulle het. Hulle gee onvoorwaardelik en vertroetel soms te veel. Hul liefde onvoorwaardelik en sonder aarseling. Maar in dit vind jy krag en inspirasie. Selfs groot mans, regte breker tipies sal openlik erken hul ma is hul rolmodel.
Corlea sing, “’n Vrou alleen, is uitgekap in klip en steen. Haar pyn, haar seer, word diep gebêre en beheer. En stadig maar seker probeer sy die trane keer. Gee my, gee my net ‘n rede, bring my hart sy vrede. Wys my net U plan, hier. Wees my lig in die donker. Ek weet ek sal weer opstaan. ‘n Vrou kan baie vat. Want sy is uit klip gekap.” Die pragtige woorde is deur Johan Vorster geskryf. Ek moes dit eers gaan naslaan, juis omdat dit my so geraak het.
As vrou kan ons almal daarmee vereenselwig. Die lagies van ons bestaan so goed weg gesteek onder lae en lae rots. Ons ondervindings beitel aan hierdie lagies, een vir een. Soos yster word ons geslyp met yster. Die vroue by die Voortrekker monument wat uit klip gekap is byvoorbeeld. Hoeveel moes hulle verdra? Hulle kinders het voor hul oë weggekrimp tot geraamtes en dan moes hulle toekyk hoe hulle toegegooi word. Sommer argeloos, so asof daardie kind niks beteken het nie. Haar moederhart aan flarde deur die ontkenning van ‘n lewe wat sy in die lewe gebring het. Vroue se vindingrykheid en deursettingsvermoë is my maatstaf en ek weet ek kan dit ook doen. Met vellies is hulle oor berge met net een rok om ‘n nuwe plek vir ons te ontdek, uitgekap in klip. Die ossewa se kreune en stampe die enigste buffer teen die natuur. Kinders is gebore op hierdie togte, siekes verpleeg en nooit het hulle gekla nie.
Met een arm het my oumagrootjies aan moederskant haar kroos van agt groot gemaak. Hoe, ek weet nie. Maar tolletjiebrei was haar gunsteling tydverdryf en het sy sommer ook ‘n paar rand gemaak daaruit. In stilte was sy die rugmurg van die familie. Haar onthou nogsteeds blywend, selfs jare nadat sy alreeds weg is.
Iemand het eenmaal gevra hoekom skryf ek altyd oor verkragtings in my boeke. Verkragtings in my oë is die mees laakbaarste, onrespekvolste, afbrekendste daad wat teen ‘n vrou gepleeg kan word. Alhoewel dit fisies gebeur raak dit haar hele wese en lank, ja jare later sukkel sy nog met die letsels van daardie daad. Sy steek dit weg, gaan aan met haar lewe. Maar daardie letsels bly. Soos ‘n kanker, wat so nou en dan met chemoterapie behandel word en in ressessie is. Dan eendag kom daar weer ‘n simptoon na vore en sy weet. Soms ignoreer sy dit maar dit haal haar in, en sy kom weer te staan teen daardie velle seer en vernedering en dan word sy nog verder gekap. Maar sy bly staan, uit klip gekap.
Die vrou se vermoë om op te staan en aan te gaan laat my in verwondering. Dink net daaraan, Generaal De La Rey se vrou het met vyf kinders in die veld oorleef vir plus minus vier jaar en was nooit gevang deur die Engelse nie. Hoe kan jy nie so ‘n vrou admireer nie? Hoe kan jy nie na haar kyk en dink: ek wil soos sy wees, nie? Onverskrokke en begeesterd staan sy, uit klip gekap en trotseer die lewe. Gevul met die drang om te oorleef en te oorwin ten spyte van wat in haar lewe aangaan.
Daarom kan ek onomwonde sê vroue is my rolmodel. Haar krag my aansporing en inspirasie.
©Lynelle Clark 2019




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 57
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 100 gaste aanlyn

Bydrae Totale