Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: My Erfenis: my pot goud aan die einde van die reënboog.

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 24 Junie 2019 Aantal woorde: 2508 73 Kere gelees 2

My verhaal lê opgesluit in my geskiedenis. Dit is verweef in elke sandkorrel, gevormde klip en die fynste veld blom van hierdie land. Van die Ooste tot die Weste, van die Suide tot die Noorde is my storie verspreid. Daar is geen area in hierdie mooie land waar jy ons nie sal vind nie. Oor majestieuse berge gekleed met wolke komberse en donker, soms verskuilde klowe is ons skaduwees gegooi. Voetspore verweef in elke era van die geskiedkundige boeke. Ons paaie nou saam gevoeg, soos ‘n vlegsel in een gesmelt hier aan die suide van Afrika.
Voor my bestaan het my voorvaders se sweet die grond benat. Verlore hand-velle die bemesting van hul gewasse terwyl hulle die land bewerk het. Son gebakte velle beskermd deur ‘n veldhoed so eie aan elke boer in ons land. Spierwit voete die enigste bewys van hul werklike velkleur. Gebrei deur wind en weer het hulle hier ‘n lewe uitgekap om die beste te doen vir hul afstammelinge.
Terwyl die mans die aarde omgespit het, was die vrouens gebukkend voor die klei-oonde. Smullende warm brode en ander gebak ‘n daaglikse bedrywigheid terwyl kinders om hul enkels gespeel het; dolosse en lappoppe hul enigste speelgoed. Uitgelewer aan die natuur en barre landskap terwyl die geweer nie te vêr buite bereik gestaan het nie. Sorgsaam en getrou het hulle die vuur gestook terwyl hul mans in die veld was. Hul hartbeeshuisies se misvloere silwer skoon gehou met tuisgemaakte beesmispolitoer. Blink geskropte hout tafels waar kinders geleer en huisgodsdiens gehou het. Kerse gemaak van diervet, en klere geskep uit meelsakke. Hul skeppingvermoë sonder perke in die donker nagte met net ‘n kers vir lig. Uit niks het hul ‘n familie grootgemaak met net die skamele kennis, en ‘n wêreld geskep. ‘n Wêreld van gerief en gemak vir ons, wat jare later sou volg. Hul deursettingsvermoë en ywer virewig in die vroue standbeelde by die Voortrekker Monument.
Hardwerkende mense. Hartsmense. Geloofsmense.
Sout van die aarde mense.
Gevul met een drang: om vir hul familie te sorg in die land waar hul spore diep lê.
Toe Geurt Engelberts op 8 Augustus 1733 aan boord van ‘n skip gegaan het, was hy nie bewus dat sy familie sou wortel skiet aan die suidpunt van Afrika nie. Hy was oppad Batavia toe. As matroos in diens van die VOC moes hy ander idees gehad het vir sy toekoms en sy nakomelinge. Maar in 1733 het die Skepper ‘n ander plan gehad. Saam met 21 ander siek matrose is hy afgelaai om nooit weer terug te keer na hul geboorteplek nie. ‘n Dodelike plaag het Batavia geteister op daardie tydstip en sonder sy medewete was hy daarteen beskerm. Of hy bewus was daarvan sal ons nooit weet nie maar, indien hy daar sou beland het sou hy geen nageslag gehad het nie en my storie kortgeknip wees nog voor dit begin het.
Die feit dat hy skeerbuik opgedoen het en by in Tafelbaai afgelaai was drie en ‘n halwe maande later, is dus ‘n bedekte wonderwerk. Dit laat mens skoon aardig voel. Maar ook beskou ek my storie merkwaardig, selfs besonders. Om te dink dat ons Skepper alreeds my, my kinders en agter kleinkinders in gedagte gehad het deur hom te laat siek word. Dan besef ‘n mens net weer eens hoe groot God is en hoe klein ons is. Ons, wat net die onmiddelike sien maar die Skepper sien die groter prentjie. Te midde van die chaos sien hy die finale produk.
Ek het al baie gewonder wat hom gemotiveer het om wel as matroos te gaan werk? Soos Abram het hy sy land van afkoms, Norden, Oos-Friesland, in die laer Saxon area van Noordwes Duitsland agter gelaat. ‘n Plek van melk en heuning soos ‘n Ur van die Chaldeers van ouds. Wat laat ‘n man eenvoudig die bekende verlaat vir die onbekende? Of het hy ook ‘n stem gehoor en daarop gereageer soos die Bybelse patriarg?
Norden was ‘n gevestigde boerdery gemeenskap. Die beskawing ryk aan ‘n eie kultuur. Sy familie en vriende het om hom gebly maar tog het dit hom nie aangetrek nie en het hy die groot waagstuk aangepak. Ek glo dat die drang na avontuur en die ontdekking van nuwe lande hom op die skip, Castricium laat klim het. Daar is geen bewys dat hy weggehardloop het as gevolg van kwaaijongstreke of dat die land in die greep van oorlog of selfs hongersnood was nie. Wat ookal die rede, hy was gemotiveerd om die lang tog per skip aan te pak. Sy opgewondenheid oor die nuwe vooruitsigte moes onkeerbaar gewees het. Hoeveel keer moes hy nie by die reëling van die skip gestaan het en gedroom het van die geleenthede wat vir hom wag nie. Niks sou hom stuit nie; selfs nie ‘n tekort aan geld nie. Hy was bereid om te werk vir sy vaart.
Maar sy lewe het drasties verander toe hy siek begin word het op hierdie tog. In plaas van Batavia, land hy in ‘n jong land onder ‘n honderd jaar oud. ‘n Land gevul met moontlikhede maar woes en ongetem. Net die titel van die eerste vesting was al genoeg om menige mense verby te laat hou, Europa of Indië toe. Kaap van Storms was klein, die Kasteel die enigste werklike gebou naaste aan die beskawing waaraan hy gewoond was. ‘n Land heelwat anders as sy geboorteplek. Hy moes baie dae seker gewens het hy kon ‘n ander skip kry terug huis toe of dat hy wel sou wakker word uit die droom. Maar hoe dit ookal sy, met ‘n ongenadige son wat die aarde by tye geskroei het, die stryd met te min water en ontevrede boere wat nie meer onder die Engelse juk wou staan nie moes hy soms onseker gewees het oor hierdie nuwe wending. Dan praat ons nie eers van die afstande tussen dorpe en plase nie; wat gelei het deur onherbergsame plekke. Gevul met roofdiere wat op die uitkyk was vir hul volgende maal. Dit was ‘n lewe wat ons nie ons self kan indink nie maar tog het hy dit deurstaan. Hy moes ‘n onwrikbare geloof gehad het plus die deursettingsvermoë om deel van ‘n land te word waarop hy trots kon wees. Sy avontuursin moes heel moontlik die geleenthede raakgesien het en het hy gebly. Immers het hy ‘n geleentheid gehad om terug te keer na Nederland op dieselfde skip. Op 11 Maart 1735 het die skip 22 dae in die hawe vertoef en vertrek sonder Geurt Engelberts.
Oupa Geurt moes skielik sy eie weg baan met net die skamele besittings aan hom. Hy was duidelik nie bang vir werk nie en het verskeie poste beklee. Hy was ‘n skrynwerker, matroos en boer en toe later wa drywer in die Kaapse omgewing voordat hy vryburgerskap ontvang het in 1756. Dit moes ‘n heuglike dag gewees het. Hy moes sekerlik gevoel het hy behoort nou uiteindelik aan die land, hoe onvoorspelbaar ookal. As avontuurlustige sou dit juis vir hom die ideale omgewing gewees het. Hy moes geglo het dat al die hartseer en tekorte die moeite werd was want hy het iets groter in ruil gekry. Hy was nou ‘n erkende burger wat ook sy stem kon laat hoor met ‘n stuk grond wat hy kon bewerk. Ons vat daardie voorreg soms heeltemal te gemaklik op maar vergeet wat dit ons voorsate gekos het. et hul sukses het die Kaap ‘n nuwe naam gekry, naamlik Kaap die Goeie Hoop.
In 1745 is hy met die nooi, Catharina Elizabeth de Jong getroud en is hulle gevestig in die Drakenstein omgewing waar hy as boer ‘n lewe uitgekap het. Vir ekstra inkomste was hy ‘n skrynwerker op verskeie boere se plase. Die land, grond en grootwordende gesin moes sy tol geëis het.
Hoe hulle ontmoet het is ‘n onbekend maar ek glo die skugter agttienjarige meisie moes wel aangetrokke gewees het tot die uitlander. Sy vreemde aksent, blondekop en heel moontlik blou oë, die aantrekkingskrag wat haar soos ‘n magneet getrek het. Alhoewel skugter, moes sy op haar beurt iets in die jong Geurt wakker gemaak het en sy eie onsekerhede opsy geskuif het om haar die groot vraag te vra. Immers was hy op daardie stadium nog nie ‘n Vryburger nie en kon haar nie veel offer nie. Heel moontlik het haar pa eers teengeskop en geweier. Waar is haar dagboeke tog sodat ons verseker kon weet.
Op die ou einde is hulle getroud en die twee pas getroudes op hul eie. Die hele troue sou ook seker ‘n storie insigself gewees het want predikante was maar yl gesaai op daardie dae. Maar nietemin, die twee is getroud en vort. Waar hulle gebly het van 1745 tot 1756 weet ons nie. Heel moontlik was die wa ook woonplek en was hul oudste seun daarin gebore. Sy aankoms op 27 Oktober 1748 moes ‘n heuglike gebeurtenis gewees het. Geurt Engelberts moes geglo het dat sy geluk uiteindelik gedraai het en dat sy seun hom nou daardie eienaarskap sou gee wat wel gebeur het. Met sy seun se geboorte het hy waarlik gevoel hy behoort aan hierdie land. ‘n Land wat hom ten volle aangeneem het.
Vanuit hul lendene het nie net my familie ontstaan nie maar sommer ‘n hele paar ander families ook. Families wat met net soveel trots hierdie land as hul eie aanvaar het. Wat met die ander twintig siekes gebeur het weet ek nie, ek weet net my verhaal het daardie dag begin en in my en ander ‘n trots wakker gemaak. Ons almal het een ding in gemeen: dit het ons laat uitstaan met ‘n vaste vertroue dat dit ons land is. Dit is ons erfenis. Dit was immers duur gekoop.
Tye in die nuwe Suid Afrika was onseker en baie onrustig. Tye waarin oorloë met die Khoisan en later Xhosas, alledaags was maar tog het hulle oorleef. Sewe kinders is uit hul huwelik gebore en hulle het geleef, en gebou. Die ewige kringloop van lewe wat ‘n skare van nasate agter gelaat het. Deur die geslagte heen het elkeen hul lief en leed gehad, kinders gebaar en kinders aan die dood af gestaan. Geval en weer opgestaan sonder om eenmaal op te gee. Oorloë geveg, in die konsentrasiekampe beland, plase verloor om net weer te begin. Hulself in verskillende ambagte bekwaam, sommige heeltemal weg van die grond maar in wese nog lief vir als wat ons eg Afrikaans maak. Ons wortels so diep gevestig dat niemand ons kan wys maak dat ons nie van hierdie land is nie. Met net soveel besitreg as wat Geurt gehad het in 1756.
My voorvaders het niks opgeteken nie, meeste van hulle was eenvoudige mense met geen geleerdheid nie, maar hulle was nie dom nie. Hul hande het vir niks terug gestaan nie. Hulle het paaie en brûe gebou. Geboue opgerig, stelsels in plek gesit; als in die hoop vir ‘n beter toekoms hier aan die onderpunt van ‘n Donker Afrika. Maar ek wens tog ek kon net so ‘n klein kykie in hul lewe kry en verstaan wat hul dryfkrag was. Hoe hulle die lewe gesien het en wat hul drome was.
Oorwegend Protestante, moes hul geloof ‘n groot rol gespeel het in elke stap wat hulle geneem het. Hoe anders sou hulle kon voortgaan? Ons sien dit soos ons deur dorpe reis. Kerke opgerig as monumente van hul geloof en krag. Met een doel voor oë: om God ‘n plek te gee in die midde van hul bestaan.
Daar was ‘n stadium in my lewe wat ek skaam was vir my Afrikaner erfenis en heeltemal verengels het. Nie dat ek dink dat daar iets fout was daarmee nie want dit het my ‘n waardering gegee vir kennis, vir kommunikasie en om hande te kan vat met die mense om my. Geen mens is ‘n eiland nie en kan ons verdraagsaam wees teenoor die mense wat saam met ons die pad wandel. Hoe ook al sy, dit het ‘n paar veranderinge in my lewe gekos om weer my wortels op te soek. Om te besef hoe kosbaar my taal en kultuur is en weer met hernude trots my taal te praat. Juis toe ek op my swakste was het my voorouers se durf en daad my aangespoor om aan te hou. Hul dade van oorlewing het veroorsaak dat ek nie moed op gegee het nie maar te glo daar is ‘n uitkoms hoe steil die pad ook was. Om ‘n lewe opnuut weer oop te kap. Ek het toegelaat dat daardie selfde krag weer deur my are bruis sodat ek weer die lig kon sien. Met dieselfde begrip en liefde vir die land, die grond en my mense. En in die proses weer hande te vat met die Skepper. Ons kultuur die maatstaf van ons bestaan.
As man het ons Geurt Engelberts nooit geken nie maar sy nalatingskap was onmisbaar in hierdie lewensplot. Ons kan hom net bedank vir sy onwrikbare geloof in hierdie land wat hom aanvaar het vir wie hy was. Deur sy lewe het ons die insig en die vermoë om aan te hou bou ongeag wat om ons aangaan. Mense het gekom en gegaan, lande het ons probeer uitwis maar ons is nog hier. Selfs die feit dat ons boere tans afgemaai word deur haatdraende groepe kleef ons nogsteeds aan die hoop vas dat ons besitreg hier het. Ons bloed gevloei om deel te word van die aarde. Van uit die dieptes roep ons voorvaders se bloed uit om nie op te gee nie. Om nie toe te laat dat ons huidige situasie ons onderkry nie. En, om op te kyk na die Een wat ons kan red. Die een wat ons weer kan herstel en ons eiendomsreg kan terug gee.
Dit is juis hierdie moed en daad wat ons vyande dryf om ons uit te wis. So asof ons nooit bestaan het nie wat fataal is van hulle kant. Daarvoor lê ons wortels te diep, ons spore te wyd en ons bloed te deel van die land se polsslag wat ritmies voortklop. Die tik tok van tyd altyd hoorbaar in die agtergrond.
Sy nalatenskap is ons grondslag wat ons ewewig bewaar in ‘n wankelrige wêreld. Ek glo dat ons weer ons plek in die son sal kry. Ons toekoms geweef in elke reënboog, berg en duin. Die pot goud die mense; ryk aan krag en durf. Ons vyande kan skree, selfs ons dreig maar hulle kan nie ons fondasie skud nie. Ons pilare is onwankelbaar vasgeslaan. Dit maak ons uniek in elke opsig en gee ons die vertrekpunt om voort te beweeg; aan te hou en te oorwin.
So waar as wat die son sak vanaand, so waar is ons bestaansreg. Ons sal altyd deel wees van hierdie land. Selfs al gaan sommiges weg bly hulle in hart nog steeds eg Suid Afrikaans. Met die diepte van die vlaktes in hul murg en die berge wat antwoord gee in hul gebeentes. Is ons hier om te bly en ons storie nog verder uit te bou. Tot aan die einde van die reënboog.
Kopiereg voorbehou 2018




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 55
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 53 gaste aanlyn

Bydrae Totale