Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Musiek in my ore. (BRONS)

Deur Marlene Erasmus
Datum gepubliseer: 28 Julie 2020 Aantal woorde: 401 57 Kere gelees 1

Musiek in my ore.

As die stad se rumoer vir my te veel word, is ek eensklaps weer die standerdses dogter agter op ʼn sleepwa in Keetmanshoop se stofstrate. Soos elke jaar met die aanbreek van Lente is almal in vrolike klere al singende die strate in. Ieder en elk is gegroet en soos net kinders kan, het ons uit volle bors gesing dat die biesies bewe. Ons het blomme uitgedeel en vreugdevol die nuwe seisoen ingegaan.

Die Wandellied draai in my geheue rond:
“As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad …”

Ek besluit dat ek vir eers genoeg gehad het van die geharwar en beplan ʼn besoek aan ons familieplaas.

Wat sal die langpad wees sonder ʼn fles koffie en lekker-luister liedjies waarop ek uit volle bors kan saamsing. My motor ken die pad na die platteland en dit is kompleet of hy die pad vrolik kafdraf. Met die ruite af speel die wind deur my hare.

Ek kan nie vinnig genoeg uitpak en afstap na die rivier nie. My gunsteling plek op ons familieplaas is beslis die rivierstroom waar ek op die naat van my rug lê en luister na die plaasgeluide. Die rustigheid van die plaasgeluide laat my vergeet van alles. Reg bo my op die wilgerboom se tak sit die tortelduif en roep vrolik: koerrr-koer, koerrr-koer. My hart klop warm in my binneste en die rustigheid van die natuur stem my so gelukkig. Die tortelgeluide laat my na my mammie verlang. Sy was altyd so lief vir die geluid.

Die skril skree van sonbesies straf my ore en versteur die rustigheid van die loom laatmiddag-stilte. Aan die oorkant van die oewer nael ʼn kiewiet spelerig rond “Tjierrrkk, Tjierrrkk, Tjierrrkk” hou hy hom groot meneer. Die geelvinke skree en raas behoorlik asof hulle die dag afsluit in ʼn koor.

Vergete is die stadsgeluide.

As ek terugstap na die opstal hoor ek die naggeluide wat in sagte note opklink oor die werf. Die plaaswerf is nou geverf in sagte donkerblou.

Ek maak vuur in die kaggel en sink in die ou leunstoel neer. Die vuur kletter vrolik in die herd en vonkies dans in die donker skadu’s teen die muur. Hier in die stilte van die naggeluide kan my siel tot rus kom.

Hier is waar ek vry kan asemhaal.

©Marlene Erasmus
28/07/2020

(406 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    29 Julie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2020 – Klanknabootsing projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 48
Kommentaar telling: 4

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 180 gaste aanlyn

Bydrae Totale