Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Moeilike Maan

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 30 Junie 2018 Aantal woorde: 2869 417 Kere gelees 11

Moeilike Maan

Ek kyk af na die monsters vergader in die binnehof. Dit was makliker om hier op die balkon te staan. Dit verseker dat hulle onthou dat hulle altyd moet opkyk om my te sien.

‘Wesens van die Nag, ons werk is vir ons uitgesny. Die planeet is besig om dood te gaan. Mense is daarvoor verantwoordelik,’ sê ek vir die monsters voor my. Die enigste lig kom van die maan af. Maar dis genoeg. Ons is op die maan.

‘Wat verwag jy moet ons daaromtrent doen?’ vra ‘n weerwolf met gevoude arms.

‘Populasie beheer,’ antwoord ek grimmig.

‘Jy bedoel… Vermoor hulle?’ vra hy.

Ek het hierdie groep monsters laas in 1350 saam gesien. Dit was die laaste keer wat ek ‘n vergadering hier geroep het. Net toe het ek hulle gestop om massamoord te pleeg. I grinnik oor my eie wispelturige natuur.

‘Nie almal nie,’ al klink dit nogal goed. ‘Ek sal julle presies vertel wie en waar.’

‘Wat doen ons met die lyke?’ vra ‘n lang vampier. Hy is een van my gunstelinge om dop te hou op aarde.

Ek kyk na die monsters wat bymekaar gekom het en evalueer hul verskeie kragte. Ek weet dat sommige, veral die Beskermers, nie sal kan doen wat gedoen moet word nie. Ander sal dit net ‘n bietjie te veel geniet. Veral die Ongesiendes wat soos ‘n swart rook deur die mensdom beweeg en ongelukkigheid versprei.

‘Weerwolwe, jul konstruksie en tuindienste besighede doen baie goed. Vampiere, julle het beheer oor verskeie herwinningsnywerhede.’

‘Verminder, hergebruik, herwin!’

‘Ja, ja,’ sê ek ongeduldig soos hulle die kreet opvat. ‘Ek wil hê dat julle al die vullishope moet leegmaak, vul met die lyke, afrond met kompos en die tipe plante wat goed daar sal aard.’

‘En hoe verwag jy moet ons dit doen sonder dat die mense dit agterkom?’ vra ‘n elf.

Ek glimlag en maak seker ek wys my tande.

‘’n Tyd-stop.’

‘Jy verwag dat ek my toorkragte moet gebruik om hulle te help?’ vra Kersvader ontstig. Sy oë lyk skoon asof dit uit sy kop wil pop. Die ander Beskermers wat om hom staan lyk ook nie te gelukkig oor my plan nie. Ek ignoreer hulle.

‘Ja. Om die wêreld te help. Jou toorkragte is spesifiek daar om te help, dan nie?’ vra ek heel onskuldig.

‘Goed dan!’ Hy vou sy arms en staan nukkerig een kant.

‘So. Wie gaan ons vermoor?’ vra my gunsteling vampier.

‘Al die slegte mense,’ antwoord ek.

‘Spesifiek? Daar is so baie betekenisse vir sleg.’

‘Ag, kom ons begin sommer met die moordenaars, vroueslaners en verkragters.’

‘Kan ons martelaars en diegene ook byvoeg tot die lys?’ vra hy hoopvol.

‘Ja. En nie net dié wat al in die tronk sit nie. Gebruik jul vermoë om gedagtes te lees om die populasie uit te dun – meeste kriminele word nooit gevang nie,’ sê ek met woede wat deur my bruis. Ek dink aan hoe die mense se regssisteem toegelaat het dat so ‘n krimineel vry gaan en die laaste meermin martel en vermoor.

Die grond skud en die vreeslose monsters tree terug van die balkon in vrees.

‘Sluit dit diegene in wat geweet het van die onheil en niks daaromtrent gedoen het nie?’ vra ‘n elf.

‘Ja.’ Ek onderdruk my woede. Ek wil nie hê dat dit moet uitspoel oor my makkers nie. Die grond hou op met beef.

Die skare bespreek dit.

‘Waar sal ons begin?’ vra ‘n weerwolf met ‘n sug.

‘Afrika. Die hele kontinent. Die res van die wêreld sal nie eens agterkom nie,’ antwoord ek met walging oor die mensdom se hardhartigheid.

‘Hoe lank sal jou toorkragte hou?’ vra my gunsterling vampier vir Kersvader.

‘’n Volle vier-en-twintig uur. Sal dit genoeg wees?’ vra hy sarkasties.

‘Ons moet al hul bloed en organe oes voordat ons hulle begrawe,’ sê my gunsteling vampier. Sy stem kalmeer die woede binne my.

‘In vier-en-twintig uur?’ vra ‘n elf ongelooflik.

‘Ons kan beheer uitoefen oor die mense – dokters en verpleegters wat dit vir ons kan doen,’ antwoord ‘n ander vampier.

Ek luister na hulle soos hulle hul planne maak. Die gestryery maak dat my woede weer kop uitsteek, maar ek hou dit onder beheer. Ek weet hulle sal nie sommer weer maak net wat hulle lekker kry nie. Hulle is vers te bang vir my. Veral na 1353…

‘Kan ons ander rampe ook probeer regmaak – soos myne – terwyl on besig is?’ vra ‘n weerwolf.

‘Sodra al die vullishope skoon en reg is,’ antwoord ek.

‘Kan ons die mense maak om vir ons te werk? Veral die wat inelkgeval gemerk is vir die dood? Dit sal tyd spaar,’ antwoord ‘n elf.

‘Binne rede. En moenie die onskuldiges beseer nie.’ Ek wonder somtyds wat sy soort wil hê.

‘Na Afrika – waar gaan ons volgende?’ vra my gunseling vampier opgewonde.

‘Al die eilande. Dan Suid-Amerika, Noord-Amerika, Asië en Europa. Teen daardie tyd behoort julle klaar te wees. Al wat julle dan hoef te doen is om te herwin.’ Ek kan nie glo wat ek besig was om goed te keer nie. En tog… dinge het nog nooit so uit hand geraak nie.

‘Die wêreld behoort skoner te wees. Moet ons dan almal terug stuur na hul eie lande?’ vra ‘n elf.

‘Die krygers…’ verduidelik ‘n ander.

‘Ja,’ stem ek in. Oorlog behoort nie meer ‘n probleem te wees wanneer die wesens van die nag eers hul werk gedoen het nie.

‘Sal die bloed en organe nie sleg word nie? Ek bedoel, daar is so baie slegte mense. Selfs al eet ons dag en nag, gaan ons nie deur dit als kan kom nie,’ sê ‘n jong weerwolf.

‘Dit kan als by my plek gehou word. My toorkrag sal dit baie lank vars hou,’ sê Kersvader.

‘Gaaf van jou. Sal ons nou begin?’ vra my gunsteling vampier die groep.

Hulle almal stem in en verlaat die maan.

Die vampiere verander in vlermuise in en styg bo die massa uit. Ek hou die monsters dop soos hulle deur die poort gaan wat hulle terug na die Aarde sal vat.

Ek bly alleen en kyk af na die Aarde. Ek was nog altyd haar beskermer. Dit gebeur maar selde dat ek al die wesens van die nag na my eensame maan nooi. Om dit te doen is net te veel moeite. Gewoonlik lei ek hulle sommer net uit die hemelruim uit. Maar vanaand was anders. Ek kan voel hoe die Aarde ly. En ek kan dit net nie meer hanteer nie.

Nou gaan die mensdom my wraak voel.

Die wesens van die nag gaan terug na die Aarde, baie meer opgewonde as wat ek hulle sedert die dertienhonderds gesien het.

Ek haal diep asem en maak my oë toe. Ek is nie seker of ek die regte ding gedoen het nie. Vir eeue hou ek hulle beteul. Maar die planeet is besig om te sterf.

Ek het so hard probeer om die mensdom te kry om om te gee. Ek het selfs die vampiere gekry om deur hul besighede die hele “verminder, hergebruik, herwin” ding populêr te maak. Hulle probeer so hard om die planeet skoon te maak. Steeds gee die mense net nie om nie.

As hulle nie wil hoor nie, moet hulle maar voel. As hierdie plan om meer as die helfte van die wêreld se populasie dood te maak nie genoeg is nie, sal ek maar iets anders moet uitdink.

Maar ek is tevrede vir nou. In die volgende week gaan daar ‘n drastiese vermindering van mense en hul vullis wees.

‘Ek hou nie van hierdie plan nie,’ sê die onnutsige ryp kabouter.

Ek draai om. Vier van my gunsteling Beskermers staan daar. Hulle lyk almal ongemaklik.

Eeue terug het ek elkeen van hulle gekies om die onskuld van kinders te beskerm. Maar, natuurlik, is hulle heel welkom om dit in grootmense ook te doen.

Die tandmuis beskerm hul herinneringe. Die paashaas bring hulle hoop elke April. Kersvader versprei hoop, geluk en onskuld elke kersfees. Die onnutsige ryp kabouter herinner hulle in die koudste deel van winter dat daar pret is om gehê te word.

Daar is ander beskermers ook, maar hierdie vyf is my gunsteling. Nie regtig vir wat hulle doen nie, maar vir hul persoonlikhede.

Hulle almal doen wat hulle moet om hoop in die wêreld te bring. Ek het hulle gekies, gemaak, sodat ek myself eenkant kan hou. Vir goeie redes.

Steeds, ek was teleurgesteld in hulle. Selfs in kersvader wat saam met die wesens van die nag gegaan het om te doen wat reg is op aarde.

‘Jy moet dankbaar wees. Ek red jul kosbare kinders. Hulle is diegene wat julle veronderstel is om te beskerm.’ Ek probeer myself beheer. Maar die donkerte probeer weer oorneem en die maan se lig flits in reaksie.

Ek hou hulle dop. Hulle lyk steeds ongemaklik.

‘Om hulle te gebruik… Dis net nie reg nie.’

‘Wat, wou jy al die slegte mense dood gemaak het, Jack?’ vra ek die onnutsige ryp kabouter.

‘Nee. Maar…’

‘Die planeet is besig om te sterf. Julle het nie deurgedring tot die kinders dat hulle dit moet red nie. Die wesens van die nag sal nie.’

Ek draai weg.

‘Die skade…’ die tandmuis waai sy stert voor my en ek gluur vir hom.

Ek kyk in die onskuldige oë van die tandmuis en voel ‘n steekpyn waar my hart eens op ‘n tyd was. Lank gelede het die meerminne dieselfde uitdrukkings gehad. Mense het dit verander.

‘Wat as kinders skuldig is aan die sondes wat jy wil hê daai klomp moet straf?’ vra die tandmuis.

‘Dan is hulle nie meer kinders nie,’ antwoord ek sonder simpatie. Te veel kwaad het ongestraf gegaan. Om jonk te wees is geen verskoning nie.

‘Maar –’

‘Ek wil geen argumente hoor nie. Ek het julle klomp in beheer gelos. En kyk net waar is ons nou,’ sis ek vir hulle. ‘Nee. Ek kan nie meer ander vetrou om my werk vir my te doen nie.’ Ek gryp die balkonreeling; my kneukels pas by die maansteen.

Al die meerminne – net weg. Hulle is óf dood óf hulle is verander is erger monsters as wat die vampiere of weerwolwe ooit kan wees. Danksy die boosheid van die mensdom. Hulle het die oseane besoedel en die lug – en dus die harte van die wat daarvan afhanklik is. Ek het ‘n spesiale plek vir die see en almal wat daarin woon. My verbintenis met die maan self het dit veroorsaak.

Beweging van die skaduwees laat my opkyk. ‘n Vlermuis is reguit oppad na my toe.

‘Ek moes jou sien voordat ek gaan,’ sê die vampier toe hy terug verander.

‘Hoekom?’ vra ek my gunsteling vampier. Die woede voel ligter.

‘Ek is bekommerd oor jou. Die laaste keer wat ons ontmoet het was jy nie so hartseer nie.’

‘Die see was nie in gedwang nie.’

‘Ek is jammer.’ Hy plaas sy hande op my skouers. ‘Ek weet hoe diep jul verbintenis is.’

Ek staar in sy oë, glad nie verbaas oor sy woorde nie. Hy was anders as die ander wesens van die nag. Hy is nie soos die ander wat net doen wat lekker is nie, hy dink dinge deur. Dis een van die redes hoekom ek daarvan hou om hom dop te hou. Ek begin kalm te voel soos ek in sy swart oë staar.

‘Ons misie gaan nie die oseane red nie. Jy het ons nie gevra om agter rommelstrooiers aan te gaan nie. Hoekom nie?’ hy hou my dop met bekommernis en verwarring.

‘Die misie kan nie net oor wraak wees nie,’ erken ek.

‘Ons sal die oseane so skoon as moontlik maak. Veral daai oogseer in die Stille Osean. Kan ons ten minste die idoot doodmaak wat dit goedgekeur het?’

Ek lag.

‘Ek’s seker daarvan dat jy my woorde kan draai om dit reg te kry.’

Hy glimlag stout vir my voordat hy my soen. Verbasing vries my.

‘Sien jou môre aand!’ hy knip vir my oog voordat hy in ‘n vlermuis verander en weg vlieg.

Ek glimlag skaam en hou hom dop waar hy by die ander by die poort aansluit.

‘Wat het hy bedoel dat hy jou môre aand gaan sien?’ vra die tandmuis.

Ek draai na die reuse muis wat my met gevoude arms dophou. Die ander beskermers lyk ook nie gelukkig nie.

‘Hy bedoel die maan. Sedert ons ‘n paar eeue terug ontmoet het, waai hy nog elke aand vir die maan en verbeel homself dat ek hom dophou.’

‘So hy’s stapelgek. Seker al die bloed,’ sê die paashaas vanwaar hy teen ‘n pilaar staan en aan ‘n wortel kou.

‘Ek hou steeds nie van hierdie gemaklikheid tussen Luna en die wesens van die nag nie,’ sê die onnutsige ryp kabouter.

‘Jy vergeet jou plek,’ sê ek ysig. ‘Ek is die een wat vir julle rigting gegee het. Dis deur my mag dat jy die posisie wat jy het hou – en vir so lank.’

My skaduwee hou die maan se lig van hulle af. Pyn bruis deur my, maar ek ignoreer dit.

‘Die wesens van die nag werk vir my. Dis deur my mag dat vampiere die nag heers. En dis deur die volmaan dat weerwolwe heeltemal kan verander. Nie die son nie. Nie deur julle wat hoop versprei nie. Ek.’

Ek voel hoe die donkerte my wil insluk. Hoe meer ek faal as ‘n beskermer, hoe meer sukkel ek om helder te skyn.

Die maan se lig flikker. Ek gryp weer die balkonreeling vir ondersteuning.

‘Luna! Is jy okay?’ vra die tandmuis bekommerd. Selfs die paashaas het ophou kou.

‘Ek het julle gekies om my te help om my las te dra. Hoe meer ek betrokke raak, hoe meer word ek onstabiel.’ Ek maak my oë toe soos die pyn deur my skiet. Die grond ruk. Die hele maan bewe met die pyn.

‘Ek verstaan nie,’ sê die onnutsige ryp kabouter.

‘Die maan en ek is een. Die Aarde is afhanklik van die maan vir baie dinge. Ek –’ My liggaam begin te val, my bewussyn begin te flits.

Al die beskermers vang my.

‘Wat is dit?’ vra die paashaas soos hulle my op die grond neersit.

‘Die donkerte in die harte van mense,’ antwoord ek swak. Ek weet dat ek hulle beskerm, hulle sterk hou. Ek hou die skaduwees van hulle weg sodat hulle hul werk kan doen. Die maan skud soos pyn van my na dit beweeg.

‘Dis hoekom jy altdy so stil is,’ sê die onnutsige ryp kabouter met trane in sy oë. ‘Jy hou ons almal veilig. Ek is jammer ek het gesê dat jy nie omgee nie.’

‘Dis okay,’ sê ek saggies. Ek kan nie meer my oë oophou nie. Maar ek weet dat as ek eers ingee tot die duisternis, daar geen terugdraai kans is nie.

Lig van die planeet onder ons verlig die duisternis.

‘Wat was dit?’ piep die tandmuis.

‘Dit het begin,’ sê ek met ‘n glimlag. Ek kan die dood van elke bose siel voel. Dit maak dat ek ligter voel. Met elke slegte persoon wat doodgaan, verloor die duisternis sy mag oor my en ek word sterker.

‘Kom ons help haar op. Dis onwelvoeglik vir die koningin van die nag om op die grond te lê,’ sê die paashaas.

‘Jy lyk moeg,’ sê die tandmuis.

‘Ek kan nie slaap sedert die laaste meermin dood is nie,’ erken ek.

‘Miskien sal hierdie help om hulle skreeue stil te maak,’ sê die tandmuis met sy arm om my om my op te hou. Ons hou die aakligheid op die Aarde dop, die slagting in Afrika deur my vorste.

‘Sodra hulle klaar is met ‘n kontinent kan julle gaan om hoop te bring aan die oorlewendes. Kry hulle om nie sleg te wees nie en om die planeet te beskerm. Julle kan dit doen, nè?’

‘Ja, Luna. Ons sal jou nie weer teleurstel nie,’ sê die onnutsige ryp kabouter.

‘Ons moet die ander beskermers laat weet,’ sê die tandmuis.

Ek knik en glimlag gerustellend. Hulle verlaat my om hul plig na te kom.

Ek hou die monsters dop wat my wense uitvoer op Aarde en wonder of ek weer die vreesaanjaende Luna gaan moet wees soos in 1353 toe die Onsigbares my ondermyn het nie. Meeste van die monsters het opgehou om mense te vermoor na 1350, maar die Onsigbares het die Swart Dood lewendig gehou. Dis toe ek besluit het om hulle te straf. Ek het hulle vervloek om slawe van die son en die maan te wees. Behalwe die Onsigbares – ek het hulle verban na die skaduwees.

Maar miskien hoef ek nie daaroor bekommerd te wees nie. My gunsteling vampier het leierskap gevat in hierdie oorlog. Die ander respekteer hom. En hulle vrees hom. Miskien omdat hy nie omgee om een van sy eie uit te haal as hulle nie na hom luister nie…

Ek glimlag. Hy was regtig iets. Vir eeue het ek hom dopgehou soos hy elke hindernis oorkom het en sy soort tot beterskap gelei het sonder om my kwaad te maak. Sy aanhoudende flirtasies met my het amper ongesiens verby gegaan. Maar ek let nou op.

Die nag is weereens gevul met moontlikhede. Miskien sal my hart weer begin klop? Ek lag sorgvry vir die eerste keer in eeue.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    2 Julie 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2018 – Poëtiese orde projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 93
Kommentaar telling: 264

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 60 gaste aanlyn

Bydrae Totale