Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Moedertjie se dag

Deur Ano
Datum gepubliseer: 11 Mei 2019 Aantal woorde: 1016 228 Kere gelees 8

So byna versluk en verstik ek aan die soet tee toe Hubby sê hy beheer ons nou. Die ‘ons’ is natuurlik Ano en Guppy, en hierdie mens hou nie van sulke liederlike vloekwoorde nie. Toe hy sien dat ek hom nou ernstig stip aangluur word dit inderhaas reggestel. Nee sien, hy bedoel eerder dat hy ons eetlus beheer. Oe-oe-oe! Hy krap darem nou op ‘n plek waar dit sweerlik nie jeuk nie!

“Ag nee, dis nog steeds nie wat hy bedoel het nie!” Hy meen eintlik dat “hy plaas ʼn beperking op die hoeveelheid dae van die week wat ons koekies mag eet, anders gaan ons twee (word gewys met die vingers) gou-gou baie uhm, baie rond raak en dan is HY in die moeilikheid.” Asof HY nie so pas ʼn graf met sy tong gegrawe het nie! Maar soos die man sê, hy is die koekieblik se oppasser want anders sal dit net heeltemal te jolig in hierdie huishouding gaan. En siende dat ek Hubby met kos (veral lekkernye) assosieer, is dit nogal ʼn stryd om die knaende hongerpyne onder beheer te hou, veral sedert hy as pensionaris aangemeld het.

Ek sien net vir Hubby dan vertel my brein dit is tyd om te eet, en verkieslik koekies. Die feit dat ek en Guppy nou ‘beheer’ word, het nie gekeer dat my oë blink-blink omgedop het toe die kardoesie met Woolworths se suurlemoen doughnuts voor my neergesit word nie! Moedersdag of nie, hy ken darem wraggies die pad na sy vrou se hart en daardie bruin papiersakkie is enige dag, enige uur welkom in hierdie huis.

Maar terwyl ons so gemaklik saam by die kombuistafel sit en smul, lig ek hom sommer net so terloops in dat ek nie sy moeder is nie. Nie gister, vandag of more nie. Sy mammie? Uh-uh. En hy is darem ook al bietjie te oud om nog ʼn behoefte aan ʼn moedertjie te hê.

Die uitdrukking op sy gesig is te kostelik.

Wat ek eintlik daarmee wou sê is dat ek asb. nie wil hê hy moet geld op blomme, sjokolade of selfs ʼn kaartjie spandeer nie. (Wat ek nie bygevoeg het nie, is dat indien hy vir my iets koop, dan moet ek sorg dat ek nie op Vadersdag met leë hande gevang word nie.) Ons is darem mos nou al bietjie oor die lus om geld te spandeer tydens die uitspattige gekommersialiseerde dae wat dan vir dié een, dan vir daai een uitgemerk word.

(Maar daar is altyd nog Internasionale Doughnut Dag op 7 Junie as hy nou rêrig iets wil vier!)

Beide onse moedertjies het jare gelede reeds die tydelike met die ewige verwissel en Dogter bly ver genoeg dat sy my nie kan oorval met allerhande bederfies nie. Selfs nie eens ʼn telefoonoproep is werklik so belangrik nie. Ek weet mos sy is lief vir my en waardeer my en het ek nie ʼn spesiale Sondag, een maal per jaar nodig om daaraan herinner te word nie. Ons sê dit vir mekaar enige tyd, enige maand.

My ego is darem ook nie so oorgroot en fyngevoelig dat ek in trane sal uitbars indien ek nie op daardie ‘spesiale’ dag van haar hoor nie. In elk geval was hierdie dag oorspronklik nooit bedoel om tot ʼn groot geldmaakskema te verander nie, dit was bloot geskep deur ʼn dogter wat haar ma wou vereer – niks meer nie.

Maar waar sou die oorsprong van hierdie viering dan eintlik lê?

Die presiese oorsprong van Moedersdag is moeilik om vas te stel, maar dit kon moontlik wees in die tyd van die antieke Grieke en Romeine toe die jaarlikse lentefees deur die Grieke ter ere van een van hulle godinne, Rhea, gehou het. Die Romeine het weer hulle lentefees Hilaria genoem, ter ere van Cybele, ‘n moedergodin.

Later in Europa is “Mothering Sunday” deur die Anglikaanse en Rooms-Katolieke Kerk as ʼn spesiale Sondag uitgesonder. Omdat groot dele van die bevolking in huise van welgestelde mense, ver van hul eie families gewerk het, was dit die gebruik dat werkgewers hul werknemers op ‘Mothering Sunday’ af te gee sodat die mense hul families kon besoek. Blomme is op die dag in die veld gepluk en aan ma’s oorhandig.

Julia Ward Howe het in 1872 in Amerika ʼn pasifistiese protes teen onder meer die bloedige Amerikaanse Burgeroorlog, ʼn dag vir ma’s in die lewe geroep. Sy wou hê dat ma’s moes saamstaan en nie meer toelaat dat hul seuns oorlog toe gestuur word om mekaar dood te maak nie. Haar voorstel was dat Moedersdag op 2 Junie gevier moet word.

In die vroeë 1900 het Anna Jarvis ʼn handelsnaam aan die begrip “Moedersdag” gegee en word beskou as die stigter daarvan. Sy was nooit getroud nie en het nie kinders gehad nie, maar het haar beywer vir erkenning aan moeders en kinders. (Dit was waarskynlik in ʼn tyd toe daar nie iets soos vroue- en kinderregte bestaan het nie.) Ongelukkig het hierdie dag so gekommersialiseerd geword dat Anna tot haar dood in 1948 ʼn teenstander daarvan geword het. Sy het voor haar dood gesê dat sy spyt is sy’t die dag begin omdat dit so buite beheer geraak het.

Moedersdag word tradisioneel op die tweede Sondag van Meimaand gevier, maar iets waarvan die minderheid mense kennis dra is dat die eerste Sondag van Meimaand bekend staan as “International Bereaved Mother’s Day”.

Carly Marie Dudley het in 2010, ʼn paar jaar nadat haar seuntjie se stilgeboorte, hierdie dag uitgeroep ter erkenning aan die moeders wat ʼn baba in stilgeboorte of miskraam verloor het en selfs vir diegene wat nie swanger kan raak nie. D.w.s., daardie persoon wat volgens die samelewing nie as ʼn ouer erken word nie. Die gedagte is egter dat dit slegs ʼn tydelike herdenking sal wees en dat so ʼn vrou mettertyd Moedersdag saam met al die ander mammas vier.

Maar soos met baie ander dinge is daar selfs ʼn bygeloof dat indien ʼn moeder nie ʼn geskenk op hierdie dag sou ontvang nie, sy baie ongelukkig sal wees. Ai tog, wat sal die mens tog sonder sy ellelange lys bygelowe wees?

https://www.vrouekeur.co.za/redakteursbrief/13-mei-2011-vir-ons-ghrend-mas
https://www.checkiday.com/d636fd535322245c76bc62ecd9e2cc3b/international-bereaved-mothers-day




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    11 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Kiekies

    13 Mei 2019

    Ons praat nogal uit dieselfde mond. Sodra iemand iets doen oor hy/sy voel dis ‘n moet, dan MOET hulle liewer nie.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 87

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 81 gaste aanlyn

Bydrae Totale