Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MEVROU…. Ê, DOMINIES

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 28 September 2019 Aantal woorde: 2042 109 Kere gelees 1

MEVROU… Ê, DOMINIES

Hede nee, dit sal nie eers help jy vra jou slim kleinkind om Ankersrust te GoogleMaps nie! Sal nog minder help jy vra daai GP? (kan nou om die dode nie onthou nie… Weet dit begin met iets wat ou Sannie verlede nagmaal op haar kerkhoed gehad het; lawwe vrou, tsk), hoe ookal. Ewentewille, nie eers daai GPSannie gedoente sal vir jou in Ankersrust kan inbeduie nie. Dis half so slap duskant Loxton, kan per dalks anderkant ook wees. Ag, kyk mens, eintlik weet net die Liewen Heer hoe die pad loop; sou jy nou strakkies daar wou kom inloer het.
Enne as jy nou heel per ongeluk (uhm… ja, heel per ongeluk, mos) ingeluister het terwyl ta Hetta van die swietsbord die regte drade nou in hulle eie persoonlike regte gate indruk, man ja; dan sou jy gehoor het van die GROOT gebeurtenis wat aan die kom was. Algar het geweet, hulle sê tot pasborenes het dit so saam met hulle moedersmelk ingekry: Ankersrust se splinternuwe, uit die boks uit kan mens maar sê, Dominies!
Mens, jy wil nie rêrig weet nie. Jinne tog – hier uit die skone bloue lug uit kondig ou Dominies Benadie die Sondag af dat hy gaan aftree! Hede nee mens, wie sal weet, maar seg Dominies dat hy na oor die veertigjaar se arbei hier tussen ou Ankerkop en die perdeblommietjies en die klompe en klompe kanniedoods; dat hy en Mevrou iewersters by die see gaan uitspan. Haai, dit was komplie of so ‘n droefgeestigheid op hulle ou klompie kom val het – dit was altevol aardig. Behalwe die jongklomp wat wou koordans van blygeit. Enne ja, behalwe vir ta Kittie wat bynatjies vergeet het dis nie die Happy Clappies nie: Hede mens, haar amen halleluja, prys die Here het op ‘n nerf na kliphard deur die kerk geklink…. ê ja, toe maak sy maar of sy van pure smart die een of ander asma aanval in aantog het. Gelukkig het geen niemand geweet dat dit byna die sproke was op ta Kittie se gereelde onuitgesproke gebedsversoek op hulle weeklikse blaadjie nie.
Hede mens, en dis nou presies daar waar al die raakvat, spoedvang en dese bedrywighede in alle erns beginne het.
Man, en so begin die Liewen Heer nou te skrywe aan die nuwe hoofstuk in Ankersrust se asemhaal. Moet darem sê dat Hy het nogals heelwat medewerkers gehad het, wante luigeit is mos die ou satan se gunsteling Psalm. Nouja… So vat Dominies en Mevrou onder ‘n sondvloedtrane die pad seetoe.
Enne so is Ankersrust se splinternuwe, uit die boks uit Dominies ook oppad! Glo nog ‘n nat agter die ore mannetjie van Beaufort-Wes se wêreld. Die ene Dominies Chris Dellmond – darem maar ‘n volksvreemde van wat die jong man het!
Hede mens… Maar als nou met die nodige respekte gesê, wante mens moenie sleg praat van iemand in die amp nie!
Jinne nee, sou nie kon sê nie; maar ek glo darem nie dat dit iets te doene het met die dat hy nou van Beaufort-Wes af kom nie. Maar so begin al wat jong weduwee, ongetroudes, oujongnooiens en al wat ongehude is tietiewyt (soos ta Malie Vyekonfyt altoos sê) dat dit ‘n aardigheid is. Daar’s selfs ‘n paar – uhm; ‘n paar effens geriatriese weduwees wat soos ‘n hupse Hannie wat weier om huur om te gee, aan die tietiewyt gaan. Hede mens! Arme Liefie van die Ankersrust Hairway (wat vir ‘n ding ‘n Hêrwai nou ookal is) kry die komende dae amper nie geslaap nie, so vol geboek is sy nou met die perms en blowwaves en purple rinses, en wie weet wat se se hare-tietiewyte ookal.
Toe! Toe breek dié grootse dag uiteindelik aan! Mens! Hulle jonge Dominies sou mos al Saterdagmiddag aangekom het, maar soos die ou verleier dit wou hê, breek sy kar iewersters tussen wie weet waar en ek kan nie meer onthou nie – so laat weet die een of ander vrou van die garage dat die Dominies ongelukkig nou eers hier in die vroeë oggendure in Ankersrust sal aankom; tsk, wat ‘n jammerte. Nou sal algar maar Jobs-geduldig moet wag tot Sondagoggend se kerkdiens om nou die oë te kan lê op hulle splinternuwe, uit die boks uit Dominies! Maar gelukkig is daar nie ‘n trek ook wat moet uitgesorteer word nie. Ou Dominies het geseg die jong Dominies kan die pastorie sommer net soos wat hy daar staan oorneem; hy en Mevrou se seehuis is vol meubels en ander handighede.
Ewentewille… Vinnig word daar raakgevat en vasgevat – Saterdag se verwelkoming word verskuif na Sondag na die diens. Enne daai ou vooraan Stoffel-haan van Servaas het skaars sy keel skoongemaak om te kraai, toe is Ankersrust se vrouens al in die kerksaal doenig. Ook nie hoe lank nie of die vrolike, keurigmooi gedekte tafels kreun byna hoorbaar onder al die lekkerte. Ragel van Koos Hansvat het effens tru gestaan om die prentjie so propvol lekkerruik en lekkerlyk te be beskou, toe ewe droog opgemerk dat sy ‘n maand se tiende sou gee om nou daai vuilbek Amerikanertjie – Gordon wie se kind nou ookal, vandag hier te kon gehad het. Hy sou vir hom skoon nederig en bekeerd geskrik het as hy hulle handewerk kon aanskou het. Dan sou sy vir hom Psalm 23 voorgelees het en hom met ‘n mandjie vol lekkergeit teruggestuur het na ou Donald Duck toe!
Sondagoggend is die horlosie halsstarriger as ‘n stoetbul onder huisarres, dit wil maar net nie loop nie! Ta Hetta loer vir die soveelste keer na die verbleikte muurhorlosie, nog ‘n volle 25minute en 10sekondes! Sy’t almal dit bitterbaie mooi ingeprênt dat die swietsbord vanaf 9uur sal toe wees! Sy wil darem ook nog tietiewyt voor 10uur se diens, en sy moet nog vir Miempie ook oorsien.
“Waffer nommer?” vra sy met ‘n bietjie meer geesdrif as gewoonlik, per dalks is dit ‘n lekseltjie nuus oor hulle jonge Dominies?!
“Hede mens! Die Fillistyne is op ons!”
Ta Hetta skrik so groot vir haar vriendin se skrilstem waarskuwing dat sy spontaan deur toe kyk, so of sy verwag om oorlee Goliad en sy spul heidense agterryers daar te sien! “Hester-mens, wat gaan aan; wie’s dood?!”
“Vrou!” ta Hester klink soos ‘n bekeerde hygroman. “Dis erger as ‘n lamferlap van rou,” vir haar tog so mooi – die lamferlap van rou; “dis…. sy is…. die….. Die nuwe Dominies se vrou… Sy’ s ‘n Delilah sê ek vir jou! Hede mens, jy moet sien wat ek sien,” en ta Hester trek die gordyn met die permanente kinkel in van baie loer nog effensertjies meer oop; klad met haar altyd teenwoordige kantsakdoekie en die nodige verdrietigheid haar oë. Wat sal die liewe Mevrou tog sê as sy die spektakel moet aanskou?
” Delilah? Hester, het jy jou bloeddrukpille gedrink?” per dalks sien die vrou ‘n hersinskimp!
Ta Hester vererg haar net so ligweg, is darem die Sabbat. “Hetta Rademan, jy moenie vir jou kom vooraan hou nie, ek’s by my volle verstand – ek ken ‘n Delilah as ek ‘n Delilah sien, tsk!” En nou het ta Hester soos ‘n begeesterde politikus gees gevang en sy gaan haar praat praat, al trap die opposisie ook nou die askoek – tsk, bloeddrukpille; pffft!
” Onse Mevrou loop halfkaal buite in die tuin; hopelik is haar man besig om met sy Heiland te praat… Maar vrou, sy’t ‘n kortbroek aan, en…..”
“Maar dis dan die Sabbat,” protesteer ta Hetta met net genoeg piëteit om nie te laat deurskemer net hoe geskok sy is nie, hede tog mens!
“Einste, vrou, einste – en,” nou fluister ta Hester, uhm, net vir die nodige effek en terwille van die gewete…. “en; sy het een van daai A-hemde aan…”
“T-hemde,” word sy ewe fluiterend reggehelp.
“Wat ookal – sy’t een van daai alfabet-gedoentes aan EN vrou, jy sal my nou nie glo nie,” weer kry die kantsakdoekie werk, steeds grootoog aan te loere wat Mevrou Dominies aanvang. “En daar staan iets van die een of ander bok op, ek kan nie mooi sien nie; Delilah woel te veel op en af…. Wag, dis iets soos blesbok of reënbok… Nee dis Reebok!”
Sy bly gepas stil, sodat haar nuus helemal kan insink, en dit doen ook – dit sink baie diep in. Hede mens, kerkmense soos hulle verdien dit mos nie!
” Heigent hert der jagt onkomen! ” is al wat die nou bleek geskikte ta Hetta uitkry.
Sien, klein Fien van groot Fien het laas maand by haar niggie in die dorp gaan kuier enne daar het sy die een of ander Brown vrou se boek oor die ou duiwel en sy werke gelees – tog te vreeslik, so sê klein Fien. Uhm ja, en nou is sy volgens haar so ingelig oor die bose dat as hy ‘n franchise was sy hom sou kon uitkoop! Dis ook die einste klein Fien wat hulle vertel het dat die bose so ‘n ding het oor bokke!
“En mens,” voel ta Hester haar gelei om die swaar, donker stilte te verbreek, “tot die toonnaels is gepaint en dit lyk nie asof sy ‘n borsel besit nie, en…. Agge nee, sies!”
“Wat? Wat nou?” in haar geestesoog sien die arme ta Hetta ‘n hansboklam by die pastorie se voordeur uitkom.
“Jinne tog, die vrou hoort nie in ‘n pastorie nie, dis mos darem geheiligde grond, mens!” Nee, hier twêr 3baster brakke saam met haar rond EN sy’t nou sopas die een gesoen; oe tog, en nou is dit die ander se beurt. EN daar gaan die hele lot terug die huis in.”
“Haai nooit,” is al wat ta Hetta kan uitkry. Honde hoort buite – hede mens, sy kan noual sien hoe vol brakhare haar klere gaan wees as sy so vir ‘n heen en weertjie die pad sou vat pastorie toe om vir Dominies hulle ‘n lekkerte of ‘n karmenaatjie te bring. Hoewel sy nou nie seker is dat sy ooit weer die binnekant van daai gewyde huis gaan sien nie. Nie met Delilah en haar trop honde en… bokke nie.
Sy’s nou so ontstig, sy sny sommer vir Hester af. Dis met ‘n swaar gemoed wat sy sluit en begin huistoe loop om tog maar te gaan tietiewyt. Sy’s vies vir ou Dominies wat hulle sommer net so vir die wolwe gegooi het. En sy’s vies vir die bose omdat hy sy intrek in hulle pastorie geneem het. Maar sy’s die heel vieste vir die nuwe Diminies – vir wat het hy nou ‘n vrou (Delilah of te not), sy’t tog soveel hoop gehad vir Miempie, sy sou ‘n goeie pastoriemoeder uitgemaak het. Ag ja, ou wêreld wat is jou waarde?! Daar is die 2de gelui al.
Die 3de gelui. Ankerrust se kerk bars uit sy nate, ou Dominies sou hom verstom het oor al die lidmate wat hy nie geweet het hy het nie.
Almal se oë bly vasgenael op die konsistoriedeur, net ta Hester en ta Hetta se oë dwaal kort-kort deur die kerk – waar is Delilah dan?
Dan piep die orrel.
Die konsistoriedeur gaan oop.
Hede mens! DIT. KAN. MOS. NIE. WEES. NIE!! Dis… Die… Dis dan… Hulle splinternuwe, uit die boks uit Dominies, sy… Hulle Dominies dra dan ‘n rok! En om als te kroon; dis Delilah wat ewe eerbiedig hoof buig en bid voor sy die trappies opklim kansel toe! Waar is die kerkraad, die sinode, die wêreldraad van kerke – iemand doen iets. Hede mens tog!
Toe word die kakafonie van stemme stil, so stil dat jy die taai kanniedood sou kon hoor sterf. Dis Miempie, sy gee die gemeente net een kyk en toe slaan sy daai orrel met soveel lekkerkry dat dit klink soos ‘n openingslied vir ‘n partytjie…. “Laat Heer U seën op haar daal,” weergalm Miempie se suiwer stem deur die verskrikte kerk. Toe val tant Kittie en oom Sorsie in. En dan word dit ‘n ‘magtige dreuning’ wanneer elke liewe jongmens uit volle bors begin saamsing: Ja Heer, laat U seën op haar daal… Welkom in Ankerrust, Dominies Christelle Dellmond.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en my die lewe vandag soos troostjoklits jou hart verower en jou ganske wees omvou.
©Liza Daniells




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 68
Kommentaar telling: 21

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 117 gaste aanlyn

Bydrae Totale