Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Mentorskap deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 13 September 2019 Aantal woorde: 1927 76 Kere gelees 2

My leespad het my al op heelwat interessante paaie gevat. Paaie van selfontdekking, avontuur, ‘n riller of twee en liefde. By elkeen leer ek iets nuuts, hetsy interessante brokkies van bekende plekke wat ek graag sou wou besoek soos Tuscany, Italië. In motiveringsboeke leer ek ‘n karaktertrek van myself wat ek nie voorheen oor duidelikheid gehad het nie; amper soos ‘n sielkundige les oor individuele psige. Insae oor sekere historiese gebeure, of ‘n fantasiewêreld wat my intrek. Ek lees baie en oor die hele spektrum. Behalwe zombie boeke… dit is totaal bo my kop wat geloofwaardigheid betref.
Boeke het vir my naslaanplek geword waar ek met sekerheid kan leer en implimenteer. Dit gee my die nodige kennis en agtergrond, agterna kan ek met meer insig saam praat. Dit verander my wêreldblik van die hier en nou en kring wyer uit. Tot daar waar dit grense oorsteek. Dit, sonder dat ek van my stoel af opgestaan het. In ‘n groot mate is boeke my mentor.
Wat boeke lekker maak is dat hulle jou nie veroordeel vir jou tekorte nie. Nee, hulle is geduldige leermeesters wat al jou vrae beantwoord maak nie saak hoeveel keer jy terug keer nie.
Vanoggend lees ek ‘n hoofstuk wat handel oor mentorskap, Practical Wisdoms @ Work deur Lynn M. Whitbeck. Die skrywer wys uit hoe belangrik dit is om met iemand hande te vat. Vernaamlik wanneer jy ‘n groentjie is. Dit is iemand wat bereid is om sy of haar kennis met jou te deel in ‘n oop omgewing. Sonder enige verskuilde agenda of jaloesie. Hierdie mentorskap is tot voordeel vir elkeen; die raadgewer en die leerling.
Dit vat my terug na tye waar ek onder raadgewers gewerk het, by sommige was dit tydelik maar tog het ek geleer. In my skryfberoep het ek hande gevat met gesoute skrywers van oorsee by wie ek ongelooflik baie geleer het. Hierdie kennis dra ek vandag nog saam en dra dit oor aan ander aspirant skrywers.
Toe ek die alleenpad begin wandel het moes ek werk gaan soek. Die enigste werk waar iemand bereid was om my ‘n kans te gee was by ‘n huisagentskap in Benoni. Hulle reëls was baie nougeset en by tye eng. Baie van die ouer mense het baie probleme gehad daarmee maar op 50 wou ek leer en het verby die negatiwiteit gekyk. Die mentorskap het my geleer hoe om gedissiplineerd te wees in my nuwe beroep. Verantwoordbaarheid was gereeld getoets, soos in ‘n skool opset.
Die drie maande was moeilik maar ook baie insiggewend. Hoe meer ek saam gewerk het hoe meer is in my belê van die maatskappy se kant af. As ek in my doel geslaag het met cold calling het ek ‘n incentive ontvang. Die eerste keer was ‘n stel messe. Ek was so trots daarop dit het gevoel ek loop op wolke. Vir ‘n gewese huisvrou is sulke klein mylpale ‘n groot stap om selfvertroue te kry, vernaam in hierdie cut-throat bedryf.
Ek is geleer hoe om die regte foto te neem. Wat is die regte hoek, beligting en hoe om ‘n gelyste eiendom eers netjies te maak voor jy daardie sluiterknoppie druk. Daarna is ek stap vir stap deur elke kontrak gevat en geleer wat beteken elke sin, die wetlike implikasie daarvan asook hoe om dit reg in te vul. Banke het ons kom toespreek en ingelig oor hul kriteria. Hierdie dinge is baie belangrik. So leer jy om kliënte te sif; wie mors jou tyd en wie is potensiële kopers.
Toe ek weg gaan het ek ‘n vaste fondasie gehad om op te staan. Dit sou nie saak maak by watter agentskap ek sou aansluit nie ek het presies geweet wat van my as eiendomsagent verwag word. My logbook veilig onder my arm om my werksaamhede te staaf.
By die nuwe maatskappy was ek verder gevorm. Hier het ek geleer van verhurings, inspeksies, hoe om die regte kliënte te keur vir die spesifieke eiendom, ens. Eiendom het baie te doen met wette, en hierdie wette moet daagliks toegepas word om van elke transaksie ‘n sukses te maak. ‘n Verhuringskontrak is verskillend van ‘n koopkontrak. Die basiese dinge bly dieselfde: kwalifiseer hierdie persoon vir die spesifieke eiendom? Jou uitkyk is ook anders. Jy kyk na die persoon se geaardheid, byvoorbeeld. Sal die persoon die eienaar se eiendom oppas is een van die knellende kwessies.
Ek het geleer om plotte en plase te evalueer, petrolstasies en vakante grond te eien, my mentor altyd saam om my tou wys te maak. Ek was in bekostigbare behuising wat net so R300 000 werd was en in huise van R12 miljoen. Huise met vistas waarvan ek net kon droom. Plekke wat bouvalle was met net ‘n dak reg om in te val. Ek het oor argitekplanne gebuk en hul struktuur leer ken, wat is hul potensiaal en hoe ‘n belangstellende koper daarna sal kyk. Elke spektrum was na gekyk. Jou kreatiwiteit behoorlik getoets.
Vir ‘n middelmatige huisagent is ‘n huis net ‘n huis. Vir ‘n baie goeie agent is die huis meer as net die vier mure met ‘n dak daarop. Sy ligging is soms die rede dat die koop verseker word, en wat hy bied kan so ‘n huis oplig na nuwe plekke as te ware, dit kos ‘n fyn oog om dit raak te sien. Saam met Stan kon ek dit raak sien.
My grootste transaksie waarvan ek deel was in die begin was ‘n R3.3 biljoen rand se behuising plan. Hier sit ek, wat sukkel om haar kar se tenk vol te kry en praat oor ‘n drie punt drie biljoen transaksie wat my mond laat kwyl. Die syfers waarvan die ontwikkelaar gepraat het het my duiselig gehad. Agterna moes ek bely dat ek eintlik heel uit plek gevoel het. Dit was asof my kop net nie om hierdie bedrae kon werk nie. Vir die wat my verlede ken sou verstaan hoekom dit so ‘n groot impak in my lewe gemaak het. Maar Stan het dit goed hanteer en ons het lank daaroor gesels. Dit het my baie insae gegee wat ek andersins nie sou gehad het nie.
Net soos in eiendom is dit waar ook in enige ander area van jou lewe. Dit leer jou meer as net van die bedryf. Dit raak jou fisies, emosioneel en geestelik. Hoe jy dit hanteer is wat jou laat uitstaan bo die res.
Die grootste plek wat ek self gelys het was ‘n nuwe woonstelblok van R42 miljoen in Pretoria. Deurentyd was my mentor aan my sy. Hy het my geleer om die regte vrae te vra, seker te maak dat elke plan en munisipale wet nagekom is. Daar was tye wat ek die eienaar alleen besoek het ander kere wat hy saam was. Elke stap ‘n leerproses en ontgunning.
Die waarde van mentorskap in my lewe was onskatbaar. Boeke gee jou die detail maar die leer is daardie indiepte gesprekke wat jou leiding gee en help met die toepassing daarvan. Geld kan dit nie koop nie. Die agt maande het my geskuur as te ware. Weereens deur mense wat bereid was om hul tyd op te offer om my te leer.
Die lesse wat ek daar geleer het kon ek toepas by die derde maatskappy waar ek aangesluit het. Dit het my voorberei en geleer om die regte vrae te vra. Om nie skaam te wees nie en om self gedissiplineerd te wees. Die grootste wat ek hier moes leer was hoe om op te tree teenoor boellies.
Ek het my rieme vasgeloop met een persoon wat homself as mentor aan my voorgestel het en na twee maande moes ek besef hierdie man is daarop uit om my af te breek tot daar niks van my oor was nie. Dit was tussen agentskap twee en drie, die rede dat ek sak en pak Pretoria toe verhuis het. Hierdie was ‘n duur les en ek betaal nog steeds die prys daarvoor. Volgens hom sou ek nou die rykste vrou duskant die ewenaar gewees het. Hierdie man het my in absolute vrees gehad. Ek was ‘n senuwee wrak agterna.
Hy het ‘n probleem gehad oor hoe ek die foon antwoord. Ek het ‘n hele preek daaroor gehad. Toe ek op een stadium die ontvangs se foon antwoord omdat die dame uitgestap het vir ‘n paar oomblikke het hy ‘n ander vrou aangesê om die foon uit my hande te neem en die foon eenvoudig doodgedruk. In die oor van ‘n klient.
Op ‘n ander keer het hy ‘n klient so verskree en uitgeskel oor die foon, een wat ek ingebring het dat ek nie geweet het hoe ek hierdie eienaar ooit weer in die oë sou kon kyk nie.
Toe het hy probleem ontwikkel met my tablet se cover. Ek was vertel dat hy ‘n bepaalde beeld uit wil dra en die omslag doen niks vir sy besigheid se beeld nie. Vandaar was ons vir twee dae in die kantoor toegesluit om die kantoor te skuif. Ons kon geen foon antwoord nie. Elke koppie is uitgegooi wat nie aan sy standaarde voldoen het nie. Tafels is geskuif en weer geskuif. Wat na niks gely het en eintlik ‘n vermorsing van tyd was. Toe ek eendag net gou ‘n kam deur my hare trek, in die privaatheid van my eie kantoor kry ek daaroor ‘n skrobbering. Ek was afgekraak tot in die grond in. Agterna sou hy my probeer sus met die woorde moet dit nie persoonlik opneem nie.
Ek haat daardie woorde. Ek is eerlik, wanneer iemand vir my dit toesnou sien ek rooi. Dan sal geen mentor, goed of sleg my rustig kry nie. Die blote feit dat ‘n persoon dit as ‘n verskoning aanbied sê iets van sy/haar karakter en nie van joune nie.
Kortom, mentors kan ons maak of breek. Die reeks Suits is ‘n baie goeie voorbeeld van mentorskap. Die hoofstuk het die skrywer dit ook uitgehaal deur haar eie ondervindinge.
Om ‘n goeie mentor te wees in mynsinsiens is iemand wat dieper kyk as net die oppervlakkige. Dit is ‘n persoon wat eerlik en reguit is maar met wysheid jou bou. So ‘n persoon se insae is geweldig belangrik en ek moet sê ek mis daardie insig.
As skrywer is ek meer en deels op my eie. Goeie mentors is min en ek is redelik afgesonder, indien ek iemand nie betaal nie is hulp, spesifiek hier in Suid Afrika nie beskikbaar nie. Dit is vir my hartseer. Ek sien dit oor en oor; mense wat seer kry onder sogenaamde professionele mense om weg te stap ontnugterend.
Een motiverings spreker het tydens ‘n konferensie in Sandton vertel hoe hy geleer is, die pad wat hy met sy mentor gestap het en die voordele daarvan. Hy reken sy sukses toe nie net op sy eie vermoëns nie maar verhoog sy mentors geweldig. Sonder hulle sou hy nie kon opstaan van die rusbank en ‘n mult-miljoenêr word nie.
Alleen kan ‘n mens nie die pad na sukses loop nie. Ek leer so baie uit Steven King se boek, On writing, a memoir of the craft. ‘n Mens kan net nie genoeg leer van die skryfproses nie. Sy uiteensetting gee vir my die leiding wat ek nodig het. So maak ‘n mens die beste van elke geleentheid.
Of jy net ‘n bietjie weet of baie, jou aanslag en uitreik is wat jou ‘n goeie of slegte mentor maak. Die res van ons moet daardeur sif tot ons by die regte persoon kom wat bereid is in ons lewe te belê.
Kopiereg voorbehou.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 66
Kommentaar telling: 14

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 71 gaste aanlyn

Bydrae Totale