Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MENSEREGTE

Deur Toom
Datum gepubliseer: 10 Julie 2018 Aantal woorde: 949 613 Kere gelees 3

Mense het geen regte nie!

Daar is geen natuurlike regte wat vir mense geldig is nie.

Hoe kom mens (ek, jy) daartoe om te meen dat soiets kan wees? Of beter: Hoe het die begrip tot stand gekom? Waar lê sy wortels?

Ons gaan daarvan uit, menseregte” beteken dat enkelinge ongesteurd só kan lewe dat hulle gelukkig is, onder vriende en bekendes met genoeg om te eet en ‘n warm, droë plek om te slaap. Dit gun ons God, maar dit is wat mense mekaar toelaat – of verweier.

Moderne mense het verfynerings aangeheg, maar vrye skoolkeuse is nie ‘n reg uit God se genade nie, so ook asielreg nie. Sover hulle nie van mense toegestaan word nie, bestaan hulle nie.

¤

In oertye was die mense op mekaar aangewees. Het jy nie jou deel tot die lewensgemeenskap bygedra nie – het jy nie genoeg gejag of versamel nie, het jy nie vir die spinnekop opgepas nie, het jy jou kind voor die aan­stormende roofdier in die stof laat val – so kon jy die jaggroep, die gesin, die familie in gevaar bring. Almal moes toe ‘n bewussyn hê vir wat nou en hier van nood is. Almal moes ‘n lewendige pligbewussyn hê. Elkeen moes hom aan die ongeskrewe oorlewingswette hou. Want elkeen moes die ander groeplede kan vertrou. En elkeen was dankbaar dat die ander lede vir hom gevare uitstaan en dat hy op hulle kan vertrou.

In die begin was nie alles boos nie. In die begin was eerder dit wat goed is, daai Goeie” in die mens – pligbewussyn, hulpvaardigheid, vertroue, dankbaarheid, toegeneentheid. Liefde. Anders as wat die slim mense in hul slim boeke deesdae skryf: Nie haat en neid en gierigheid en agterdog nie. As dit só sou gewees het, het ons nie kon voortbestaan nie, sou ons ellendig ten gronde gegaan het, nog voor ‘n ontwikkeling kon plaasvind. Daar is ‘n ander boek wat iets anders vertel, ‘n geheel-en-al anderse beskrywing van hoe ons ontstaan het.

Mettertyd het die mens ontwikkel”. Dit wil sê, daar was al-hoe-meer mense op die aarde; hulle het al-hoe-verskillender vaardighede geleer en uitgeoefen; hulle het kultuurtegnieke” geleer – huisbou, skoene- en klere­maak, tuin- en akkerbou, skryf en lees, by voorbeeld – en het toenemend selfstandig geword. Dit beteken dat sommiges hulle aangematig het om, as eksperte”, oor andere baas te speel, eers op hul eie vakgebied en dan oral in die geselskap. Daar het menige sterkes” aangevang die swakkes te onder­druk. . . Selfsug het hom uitgebrei. En siedaar! Daar sit die slang ewe skielik midde-in die geselskap en soel hom in die stralende oë van sy bewonderaars.

¤

Die mens se bekwaamheid om te dink, om uit te pluis, om te beplan en te kalkuleer, het vir hom moontlik gemaak om die beste stukkies vir homself te behou. Die mens het geleer om oor andere te heers. Te beheers. Maar hy het gemerk dat dit met eensydige kraginspan en maguitoefen nie gedaan is nie: Hy het die ondersteuning van ander mense nodig gehad om sy doele te bereik. Toe begin hy om dinge te beloof, om verdrae te sluit: Kyk, as jy dit vir my doen, doen ek dat vir jou. Ek gee jou ‘n beloning as jy vir my werk.”

Deel van hierdie – ek sê maar — loonstelsel” was om die ander mense toe te laat om iets te doen wat hulle andersins nie durf nie. Die mens in beheer het die mense onder hom regte ingeruim”. Afhanklik van sy status in die geselskap kon hy verskeie redes, buiten suiwer maggier, vir sy beslissing noem, byvoorbeeld, beloning vir getroue diens, of iets vir die hele geselskap gedoen wat goed is, aldus die sekerheid of welsyn van die groep gesterk en sovoort. As hy uit die kaste van die priesters en sjamane was, kon hy verwys op ‘n toekomstige plek in hemel”. Langsamerhand het die mense dit as gegewe, godgegewe”, aanvaar en het verwag dat sulke beloftes vir sulke dienste vanself­sprekend was. (Dis nou maar net ‘n uiters klein eensydigeuitsnit uit die afdeling sosialisering” in die menslike geskiedenis.)

¤

Ja, maar waar is die sogenoemde menseregte waarvan ons hier praat? Is dit nie ‘n egte Godgegewe reg nie?

In die verskillende kulture het die ontwikkeling ongeveer gelyk of soortgelyk afgeloop; daar was oral klein afwykinkies, en aanpassings het oral plaasgevind. Heelwat dinge is in die wetsboeke opgeteken en het plig geword (verpligtend), moraal of sedes is nie opgeskryf nie (vanselfs­prekend) en word tog in die meeste kulture as belangriker, verpligtender as die geskrewe wette beskou. Afhanklik van die religieuse stelsel is menige sedes uit die heilige boek of boeke af te lees. God (of die betreffende gode) het die mense as vrye wese in die wêreld losgelaat met die plig, nie die reg nie, om op die aarde te leef, om sy menswees uit te leef.

Om sy regte moes en moet die mens werk en veg, teen ander mense, nie teen God nie. Hy moet met ander mense saam sy regte in ‘n bepaalde opset deur werk of stryd verkry, buiten hy behoort aan die regerende klas – dan kan hy vir ander mense regte verleen of skenk. Die krag om te veg en die veel groter krag om te skenk kom jawel van God. Dit hang af van hoe verskeie enkelinge God se wil interpreteer. In hierdie sin kan ons van God se raad of ingewing praat, maar van Godgegewe regte” kan ons nie praat nie. Reg en wetgewing behoort in die ryk van die mense op aarde. Menseregte word van mense aan mense verleen en kan by geleentheid weer deur mense onttrek word.

Mense het geen regte nie. Hulle moet dit besorg, op een of ander manier verdien.

¤

©10e.Julie2018___________¤¤¤_____________________tje




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 207
Kommentaar telling: 209

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 74 gaste aanlyn

Bydrae Totale