Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Memoirs van ‘n hoer se kind

Deur LieslSaayman
Datum gepubliseer: 12 Januarie 2020 Aantal woorde: 2022 25 Kere gelees 1

Jou verlede haal jou altyd in
“Wat was dit?” skrik Daniël met ‘n slag wakker. Die Kaapse wind waai buite. ‘n Somerswind, sommer so ‘n ongeskikte wind. Alles raas. Die huis se dak kraak, buite in die straat dans ‘n leë koeldrank blikkie vorentoe en agtertoe soos die wind ruk en laat los. Regte dronkmanspassies. Dit was egter nie die wind wat Daniël wakker gemaak het nie. Hy luister asemloos, staar stip na die venster, probeer bepaal watter skadus beweeg in ‘n ander ritme as die wind se polsslag. Na ‘n lang stilte met niks meer buite as net die wêreld se protes teen die wind se aanslae nie, begin sy spiere effe ontspan. Hy waag dit om op sy selfoon te kyk hoe laat dit is. Tussen die krake van die skerm deur gee die selfoon met ‘n skril florescent agtergrond die tyd – 01:24. Daniël weet maar te goed dat slaap nie meer op sy agenda vir die volgende paar duistere ure gaan wees nie.
Die kamer is warm, ‘n bedompige somer warm. Dit druk op hom, hoe meer hy aan die bedompigheid dink, hoe meer voel hy dat hy nie kan asem haal nie. Hoe meer beknop raak die kamer, asof die ou hangkas, die spieëltafel, die mure, alles veroordelende al hoe nader om hom drom. In ‘n helder oomblik kry hy dit reg om met een diep asem teug alles weer op hul plek terug te blaas.
Hy probeer om sy lê te kry op sy knopperige matras. Dit sukkel met sy gekneusde lyf. Dit kom al ‘n ruk lank aan. Vir jare eintlik, van daai dag wat sy ma daai scene by die skool kom maak het. Hy het nie eers geweet wie sy was nie. Hy was in Graad 2, juffrou Engelbrecht se opslaan klas was naby aan die skool se hoofingang. Oor die interkom het die sekretaresse se stem krakerig gekom, “Juffrou stuur asb vir Daniël Kok kantoor toe. Hy moet sommer sy tas saambring, sy ma is hier vir hom.” Sy ma?, het Daniël gedink. Lekker vandag gaan hy vroeg huis toe. Hy het van die mat af opgestaan en gou met juffrou se hulp sy kryte teruggepak in die roomysbak op sy tafeltjie. Gewapen met sy skooltas op sy rug stap hy soos ‘n soldaat met ‘n oorgroot wapenrusting aan, ontvangs toe. Hy sien oppad soontoe ‘n tannie met ‘n lelike vel voor die deur staan en rook. Haar hare staan woes en haar t-shirt is vuil en sy maak hom bang. Hy stap al stadiger en gelukkig vir hom sien sy hom nie en toe sy haar sigaret in die skool se dahlia bedding gaan gooi, glip hy vinnig agter haar by die deur in.
Hy het nie sy ma gesien nie en maar gaan wag op ‘n stoel in die portaal. Vir ‘n laaste oomblik het hy die soet sorgeloosheid van kindwees geniet terwyl hy op die hoë stoel gesit en wag het en sy bene in die son gesit en swaai het. Sy ma gaan nou hier wees. Toe kom die lelike tannie by die deur in. Sy sien hom en stap reguit op hom af. “Dênny-boy is dit jy?” sê sy met ‘n glimlag. Nie ‘n goeie glimlag nie. Haar lipstick was half op en half af in so ‘n gril pienk. Tussen haar krul lippe het hy gesien haar een tand is weg. Vinnig het hy gewonder of die tandemuis ook vir groot mense geld bring. Hy kon haar nie antwoord nie, sy tong het in sy verhemelte vasgevries. Dit het haar onmiddellik kwaad gemaak. “Groet jy nie jou mammie nie?” sê sy kwaai vir hom. Hy sit versteen en staar vir haar. “Ek sê groet jy nie jou mammie nie?” sê sy weer, maar die keer nog harder sodat die sekretaresse opkyk. Sy staan op en stap na hulle toe. “Daniël?” vra sy, “Is jy ok Boeta?”. Om een ‘n rede wat hy nou nog nie verstaan nie, begin hy huil. Die sekretaresse kom kniel voor hom, maar voor sy iets kan sê gryp die lelike tannie hom aan die arm en sê, “Hy het my net lanklaas gesien. Ons gaan nou huis toe.” Sy storm deur toe en sleep hom saam soos ‘n vlinder sonder wind agter haar aan. Hy het gehuil. Hy was bang. Sy was kwaai en het geskreeu, “Ek is jou blêddie ma! Is dit hoe jy optree as jou ma jou kom haal?” Vir die eerste keer breek sy stem los en hy gil “Nee!” en ruk los van haar en hardloop na die sekretaresse toe.
Daai dag in ‘n oomblik het hy geleer dat Mamma Mien met haar lekker kos, met haar gesondmaak soene, met haar sagte arms wat voel soos marshmellows wanneer sy hul om hom vou…nie sy ma is nie. Hy is Daniël Kok, weggooi kind, mishandelde kind, ‘n hoer se glips. Hy het geleer dat die merkies op sy lyf nie geboortevlekkies is nie, nie daar is omdat engeltjies hom totsiens gesoen het voor hulle hom vir sy ma en pa gestuur het nie, maar omdat sy “regte” ma en pa hom gebruik as asbak vir hul toppies, net voor hulle hom ook soos rubbish weggegooi het. Dat hy deur die welsyn afgevat is toe hy 3 maande oud was, dat hulle gesê het as dit ‘n paar dae later was, sou hy dood gewees het, dat hulle hom in sy eie braak gekry het.
Almal het rondom hom geskarrel en hy het net daar gestaan. Daniël Kok, weggooikind, wie se maatjies almal sy ware wortels gesien het. “Gaan gou na die tannie by die klerebank en kry vir jou ‘n droë skoolbroekie,” het juffrou Engelbrecht se woorde verder sy verleentheid op hom neergereën.
Daniël het besluit om nooit weer oor daai dag te praat nie. Die skool het nuwe sekuriteitshekke gekry, ‘n intekenstelsel vir ouers en ‘n bitter herinnering vir Daniël dat sy hoer ma die dag die hele skool kom verander het.
Daniël het daai dag vriende verloor en vyande gemaak. Hy het nou ‘n reputasie gehad en dit wou hom nie laat los nie. Dit het hom ingesluk soos ‘n taai swart modder. Hy was nooit weer iets anders as die hoer se kind nie. Hy het haar nooit weer gesien nie. Hy het laas jaar gehoor dat Ma Mien een aand laat ‘n oproep antwoord met ‘n gedempte stem, “Nee meneer hy sal verseker nie sy ma se begrafnis bywoon nie. Ek gee nie om of hy Joey Volschenk se enigste bekende familie is nie, sy het tik as haar familie gekies en tik het haar ingesluk en nou kan tik haar begrawe.” Dit is die eerste keer wat Ma Mien die foon in iemand se oor neergesit het.
Dit is nie die gedagtenis aan Joey Voschenk wat dus hom vanaand wakker hou nie. Dit is die verdomde kneuskol op sy niere waar Wayne hom vandag geskop het, wat die knopperige matras nog meer knopperig laat voel. Graad 8 het hy gehoop is ‘n nuwe blad. Hy het gebid dat niemand van sy ou skool na die skool toe sal gaan nie. Dat niemand hom hier ken nie. Dat hy nie meer die hoer se kind sal wees nie, maar stories is soos ‘n veldbrand. Net een vonkie spring oor die pad, die skeidslyn tussen hemel en hel en verwoes dan alles wat blom in nuwe hoop van ‘n nuwe lewe. Wayne se derde stiefpa was iewers in die tjoekie saam met Joey Volschenk se tikkopmaatjie. Dit was na die Maart vakansie wat Wayne teruggekom het en try deal het op die skoolgrond. Hy is vir twee weke geskors en het teruggekom met ‘n woede wat hy teen Daniël probeer uitslaan het. “Wie gaan jou kom help? Jou hoer mammie of jou dealer pappie?” het Wayne gespoeg in sy gesig net voor hy vir die eerste keer Daniël se kop in die seunstoilette se urinals ingedruk het. Daniël het besluit niemand gaan hom kom red nie, so hy moet homself help en het vandag teruggeslaan, maar Wayne het ‘n crowd gekry. Vinnig was daar vyf van Wayne se honde op hom. Hulle het vasgehou en Wayne het met sy bloedbek losgetrek en vir Daniël geskop, oral op sy lyf. Daar waar die merke nie uitsteek onder sy klere nie. Gelukkig het die klok gelui en dit het opgehou. Daniël het later opgestaan, sy trots in sy tas weggepak en huis toe gestap. Hy het besluit Ma Mien sal nooit hiervan uitvind nie. Vandat sy pa 8 maande terug vinnig aan kanker dood is, het sy genoeg om oor te worry. Hy sal nie ‘n las vir haar wees nie.
Dit was in die tyd wat sy pa al siek by die huis gelê het, wat Daniël een aand in die koue winter skemerte gou huiswinkel toegeloop het vir ‘n brood en melk, wat hy in hom vasgeloop het. Van ver af kon hy al vir Spenellis sien arms swaai in die ligstraal van die winkel se deur. By hom was ‘n man met stukkende klere, verslons, vuil en slu. Met die nader kom het Spenellis omgedraai en ingestap met die woorde, “You thief stay out of my shop. Next time I call cops!”. Dit was net toe wat die man omdraai en in Daniël se lewe instap. Daniël kon nie eers keer nie toe hy in die man se staalgrys oë vaskyk en homself sien nie. Sekondes het taai uitgetrek en die man het die stilte verbreek met “My fok, Dênny-boy! Die angles are smiling, my laaitie. Fokkit maar jy het mos man geword.” Sonder weerstand staan hy verlam in Scott Adams se arms, weer oorweldig deur die taai swart modder, die reuk van ou, soet sweet en sypaadjie. Die kots druk teen sy verhemelte, jou verlede haal jou altyd in druis Mnr. Dekker se woorde deur sy kop.
Hy wou nie vir Ma Mien sê nie. Hy wou haar nie worry nie. Daniël Kok het Dênny-boy die drug despatcher geraak. Hy moes, anders sou sy familie seer kry. Hy moes, want dalk is hy niks meer as die hoer kind nie. Hy moes, want hy het darem ‘n paar rand verdien en dit het gehelp met Ma Mien se pension om meds vir pa te koop.
Ma het gesukkel nadat pa dood is. Die huur is nie meer gebetaal nie. Daniël het geweet dat dit moeilik gaan en dat Ma Mien sukkel om alles uit haar pension te betaal, maar twee weke terug toe Shorty sy agterstallige huur kom op eis het en vir Ma Mien rondgestamp het in die kombuis, het Daniël besluit dat hy moet ingryp en help. So hy iets gedoen wat teen elke vesel van sy wese ingaan en hy het twee deliveries se profits vir homself gehou. Scott was moerig toe hy uitvind en vir Daniël gevloek en geskreeu, “Ek gaan nie jou fokken gat red by Smiley nie!”. Daniël weet nie wie Smiley is nie, maar dit is vir hom wat hy vroeër gesoek het in die boom se skaduwees. Smiley wat nie happy klink nie.
“Here help!” sny Ma Mien se gil deur Daniël se siel, deur sy hele wese.
Dit was ‘n klein beriggie in die plaaslike koerant. ‘n Spikkel in ‘n kosmos van plaaslike misdaad en geweld. Donderdagnag is die plaaslike gemeenskap geskok oor die gruwel moord op Hermien Kok(65) in haar huis in Plantasiestraat. Die polisie kon nog geen motief vir die moord vasstel nie. Die verdagte het moontlik toegang tot die huis gekry deur ‘n agterdeur wat uit sy slot gebreek was. Kok is vermoedelik aangerand voordat sy doodgeskiet is. Haar 14 jarige aangenome seun, Daniël Kok se lyk is in die gang gevind in ‘n plas bloed. Sy regterhand was vermis vanaf die toneel. ‘n Verdere raaisel in die koelbloedige moord is die smiley gesiggie teen die muur. Die polisie is nog opsoek na moontlike verdagtes. Die oorledenes laat geen naasbestaandes agter nie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    13 Januarie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 4
Kommentaar telling: 1

Woorde is my verfkwas waarmee emosies, herinneringe en gedagtes gekleur, geskep, geglans en gepoets word totdat daar 'n trilling van begrip, van stille onthou by die leser vibreer

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 78 gaste aanlyn

Bydrae Totale