Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MEISIE VAN DIE NAMIB

Deur Martha
Datum gepubliseer: 23 Maart 2019 Aantal woorde: 2307 363 Kere gelees 3

En wat presies daarvan as ‘n prins Windhoek besoek? Wie traak nou eintlik of hy hier is en of hy by sy ouma op haar troon sit? Asof ek nou omgee waar hy is … hier of daar of waar ookal!

Sy slaan agter haar lessenaar op die stoel neer en probeer die los slierte hare uit haar oë vee. Magtag, hierdie hare irriteer die blou biesies uit my uit. Sy hoor haar ma se stem: ‘Helena, kyk hoe lyk jy, man. Geen opgevoede man sal twee maal na jou kyk nie. Doen net ten minste iets aan jou hare, my kind. Sny dit en kleur dit. Met sulke muisvaal haartjies …” Sy rol sulke tyd net haar oë en kyk anderpad.

“Helena!” roep iemand in die gang.

“Wat?”

“Die grootbaas wil ons sien. Kom gou.”

Sy sluip die raadsaal binne. Die vrou naaste aan haar bekyk haar asof die kat haar so pas hier ingedra het. Sulke byeenkomste is ‘n nagmerrie vir enige mens met selfrespek – die uitrustings wat almal dra is om van te gil.
Sies, hier is sowaar ‘n kol op my bloes. G’n wonder hierdie uitspattige vrou hier langs my beloer my so nie. As ek net so ‘n klein bietjie meer geld verdien het, kon ek dalk ook aantrek soos een van hulle.

“Dames,” kom die grootbaas, Arista Duvenhage se stem. “Julle moet nou mooi na my luister. Ons het uit betroubare bronne gehoor dat Prins Harry Windhoek gaan besoek volgende week. Die arme man is in sak en as oor sy liefde wat hom gelos het en kom soek ‘n bietjie rustigheid hier by ons. In elk geval, die besoek word afgesluit met ‘n maskerbal.” Sy bly ‘n oomblik stil sodat die gedagte mooi kan insink. “Die groot nuus wat ek vanoggend gekry het, is dat Arista Modehuis gekies is om die parlementslede se vrouens aan te trek vir die geleentheid.” Sy glimlag in haar noppies.

“Ongelukkig is daar weinig van hierdie mooi plek van ons wat genooi is na die geleentheid. Natuurlik sal ek en my drie dogters Arista Modehuis se naam hoog hou.” Sy kyk met uiterse trots na die drie wat elkeen aan iets staan en peusel.
“Ek verwag van een en elk om op hierdie oomblik alles te los en te begin skoonmaak en opruim. Ja, ek weet julle maak altyd skoon, maar ek praat van skóón!” Sy vryf ‘n denkbeeldige haartjie van haar skouer af. “Toe, toe, toe! Waarvoor wag julle? Ek sterf tien dode as die president en sy gevolg hier instap en iewers lê ‘n rafeltjie of ‘n stoffie.”

Jippie! Nou kan ek ook ‘n slag sien hoe lyk die binnekamers van Arista Modehuis. As jy mos in hierdie plek ‘n klerk is, beteken jy niks. Ek wonder of ou simpel Arista ooit my naam ken?

Sy drafstap om eerste in die stoorkamers te wees. Soveel luuksheid en prag en praal! Dit maak haar behoorlik naar om te sien hoe word hier met geld gemors. Besef daardie heks van ‘n Arista Duvenhage dan nie hoe sommige van haar werknemers honger ly nie? Nee, natuurlik nie, want dan sou sy (dalk) iets daaraan probeer verander het.

“Blommie, jy kan ook die onthaal bywoon,” fluister ‘n stout stemmetjie in haar oor.

Sy skud die gedagte met mening af en stof af en vryf blink dat dit ‘n naarheid is. Teen middagtyd kan sy dit nie meer hou nie. Sy weet nou dat sy die maskerbal gaan bywoon, buig of bars. Sy werk sommer harder en besef eers dit is tyd om huis toe te gaan toe die wag haar aan die arm kom vat en beduie dat hy wil toesluit.

Die dae gaan te vinnig na haar sin verby. Vanaand is die maskerbal! Hemel tog, sy het so baie om te doen en die tyd is so min. Teen etenstyd ontwikkel sy ‘n vreeslike maagpyn. Sy krul van die pyn toe die opsiener haar in die toilet kry.
“Wat gaan met jou aan? Het jy nou te goed geword om ons te help? Ons verwag nog baie kliënte vandag en kyk waar sit jy. Staan hier op en maak dat jy op jou pos kom.”

Sy antwoord nie, want die pyn is eenvoudig te veel. Sy klem haar maag vas en kyk met smekende oë na die kwaai vrou voor haar.

“Nou maar goed, gaan dokter toe en bring ‘n siekbrief, hoor jy my? Bring ‘n siekbrief as jy nog ‘n dag langer hier wil werk.” As ‘n nagedagtenis skree sy agterna: “En daardie tas? Wat sleep jy daar saam met jou?”

Helena mompel iets van klere wat haar ma vir haar van die plaas af gebring het. Die opsiener is so haastig om weer by haar werk uit te kom, dat sy nie die moeite doen om seker te maak dit is die waarheid nie.

Helena hink by die gebou uit en af met die straat. Die opsiener dink nie verder aan die stomme meisietjie nie – hoekom sou sy?
****
Die limousine wieg saggies tot stilstand. Kameras flits. Die skare juig oor die skoonheid wat op die rooi mat aangesweef kom. Hulle verwens die feit dat dit ‘n maskerbal is, want nou kan hulle nie die gesiggie agter daardie masker sien nie. Wie sou dit wees? Haar bloedrooi rok is van suiwer sy gemaak en ‘n paar silwer skoentjies loer parmantig onder die soom uit. Haar blonde lokke hang tot laag op haar rug. Lieflik. Asemrowend. Onbeskryflik mooi.

Die wag by die deur verkyk hom so aan haar, dat hy skoon vergeet om haar kaartjie te vra. Toe hy sy besef, is hy te skaam om agter haar aan te hardloop. Wie sal dit in elk geval waag om hiernatoe te kom sonder ‘n uitnodiging? Hy troos homself met die gedagte dat sy vir seker te opgevoed is om so ‘n kans te waag.

Die eerste een wat haar opmerk toe sy in die deur verskyn, is Arista. Sy snak hoorbaar na haar asem. Wie het die rooi rok aan hierdie vrou verkoop? Dit is ‘n skepping wat sy spesiaal vir haar dogter laat maak het vir haar veertigste verjaardag. As Pieternella net nie so ‘n bietjie oorgewig was nie, het sy die rok vanaand gedra. Wag maar, Maandag sal die personeel dit ontgeld. Hoe durf hulle haar opdragte so blatant verontagsaam en die rok aan iemand verkwansel?

Sy groet die blonde skoonheid agter die masker egter baie vriendelik. “Goeie naand. Baie welkom.”

Die meisietjie knik net haar kop en stap verby. Want, jy sien, Arista Duvenhage is benede haar stand. Voor haar moed haar begewe, stap sy na Prins Harry en sy geselskap toe. Hy spring regop uit sy stoel en buig gemaak nederig voor die blonde skoonheid.

“Goeienaand, skone dame. Sal u my die eer aandoen om by ons aan tafel te sit?” Weereens knik sy net effentjies en die prins trek galant vir haar ‘n stoel uit.

Deur die loop van die aand is dit opsigtelik dat Harry vergeet het van die liefde wat hy in Engeland gelos het. Hy is tot oor sy ore verlief op hierdie meisie.

“Haal asseblief jou masker af, toe? Ek glo dat jy nog mooier is as wat ek dink, want jy het die mooiste geaardheid en straal net liefde uit.” Hy probeer die masker sommer self afhaal, maar natuurlik keer sy hom.

Sy wil nie dat hy sien hoe sy lyk nie, want dan gaan hy onmiddellik belangstelling in haar verloor, weet sy. Sy wil hierdie een aand saam met hom geniet en vir altyd en altyd onthou dat sy gevoel het soos ‘n regte prinses. Nee, sy wil onthou dat sy vir een aand regtig ‘n prinses, aan die sy van haar galante prins was.

“Kom ons gaan stap ‘n bietjie buite in die tuin. Het jy gesien hoe mooi is die maan vanaand?” nooi hy. “Hierdie aand is toe baie beter as wat ek verwag het, hoor. Ek is so bly ek het jou hier ontmoet, my meisie.”

Sy haak by hom in en hulle stap buitentoe. Die maan skyn helder, maar sy waag dit om die masker af te haal. Hy neem haar in sy arms en soen haar saggies op haar mond.

Is dit moontlik dat ‘n mens hartseer en gelukkig kan wees tegelyk? Sy weet die aand is byna om en daarom wil sy haar dood huil, maar aan die ander kant is sy so verlief dat niks nou belangriker is as sy en haar prins nie.

“Ek wil jou asseblief weer sien, mooie meisie. Mag ek môre my ampsmotor stuur om jou te gaan oplaai?”
Sy knik skaam. “Ja, dit sal vir my ‘n baie groot eer wees.”

Sy kyk opeens op haar horlosie en skrik groot. “Sal jy my asseblief ‘n oomblikkie verskoon?” vra sy saggies.

“Natuurlik, skone dame, ek wag net hier vir jou,” fluister hy in haar oor.

Helena besef dat sy in groot moeilikheid is. Sy moet voor twaalfuur by Arista Modehuis wees en die klere wat sy ‘geleen’ het terug op hulle plekke sit. Twaalfuur kom die vervoerders wat ‘n groot besending skoene en rokke moet verpak en na ander stede te vervoer. Sy hoop om, terwyl hulle besig is, stilletjies alles op hulle plekke te gaan bêre.

Sy stap so normaal as moontlik deur die saal. Toe sy egter by die deur uit is, begin sy hardloop. In haar haas trap sy een trappie mis in die donker en slaan met ‘n slag op die trap neer. Sy spring op en hardloop verder, net om ‘n endjie verder te ontdek dat sy die skoene verloor het daar waar sy geval het.

Sy weet egter dat sy dit nie kan gaan haal nie, want hierdie rooi rok moet ook nog terug op sy plek kom. As die vervoerders ry, is die plek weer gesluit en dan is sy in groot moeilikheid.

Niksvermoedend kom Helena Maandag by die werk aan. Sy merk dadelik op dat daar iewers iets groots verkeerd is. Die plek wemel van polisie en ou miesies Duvenhage trippel rond soos ‘n kat op warm kole.

“Kan jy dit glo?” vra sy vir niemand in besonder nie. Hierdie rooi rok hang nou hier, maar ek kan sweer daardie blonde vrou het dit gisteraand na die maskerbal toe gedra. Daar is net een van sy soort in die hele wêreld.”

Weereens word almal raadsaal toe geroep. “Mense, hier is ‘n dief tussen ons,” sis Arista. Die rooi rok … Maar wag, dit gaan nie nou oor die rok nie. Die pakkers het aangegee dat daar een paar silwer skoene te min was. Ek is seker die getalle was reg … wat beteken iemand het ‘n paar skoene gesteel.”

Almal trek asems in en slaan die hande voor die monde. ‘n Dief tussen hulle? Dit is te verskriklik! Kan dit waar wees? Maar ja, as Arista reken daar is ‘n paar skoene weg, dan is daar ‘n paar skoene weg.

Sy kry ‘n peinsende uitdrukking. Rooi rok. Silwer skoene. Blonde pruik wat iemand vanoggend in die gang opgetel het. Die dief is definitief in hierdie gebou, daar is geen twyfel aan nie.

“Wie ookal daardie persoon is, moet weet daar wag groot moeilikheid op jou. Jy het my goed gesteel en dan nog die maskerbal wederregtelik bygewoon. Sies! Daar is nie ‘n ander woord daarvoor nie, hoor. Jy is ‘n dief,” sis sy terwyl iemand haar met ‘n nat lappie lawe.

Die polisie kry speurders wat met die ondervragings begin. Arista beveel al die lede van die personeel om nie die gebou te verlaat nie. Vandag is die dag wat daardie dief gevang sal word, al weet sy self nie hoe nie. Wat ‘n skande: Arista Modehuis huisves ‘n dief!

Opeens staan prins Harry in die deur. Hy stap tot by Arista en sit die twee silwer skoene voor haar op die tafel neer.
Sy spring regop en vergeet skoon om eers te groet. “Waar kry jy daardie skoene?”

Hy lag verleë. Jy sal my nou nie glo nie, maar ek het dit opgetel. Die meisie van my drome het hulle verloor en nou soek ek asseblief na daardie meisie.

“Oor my dooie liggaam,” hyg sy. Die persoon wat daardie skoene gedra het, is niks anders as ‘n dief nie.”
“Ek wil haar nogtans sien, asseblief,” hou hy voet by stuk.

“Meisies,” begin sy ergerlik, “daar bly vir ons niks anders oor as om hierdie skoene te kom aanpas nie. Ek glo die regte persoon sal dit in elk geval ontken dat dit sy was wat dit gesteel het.”

Almal storm nader om die skoene aan te pas. Sowaar, hulle sal enigiets doen om hierdie prins se meisie te kan word. Arista se drie oorgewig dogters kom pas ook aan, maar die skoene kom nie naastenby oor daardie vet voete nie.
Harry raak moedeloos, want dit lyk of die skoene vir niemand pas nie. Hoe moet hy maak om daardie wonderlike meisie weer te sien? Hy kan mos nie terug Engeland toe gaan sonder dat hulle twee ten minste mekaar weer een keertjie gesien het nie, kan hy?

Heel laaste kom Helena aan die beurt. Sy is angsbevange, maar sy weet sy het geen ander keuse nie. Wat gaan nou met haar gebeur? Sy kan nie bekostig om sonder werk te sit en boonop tronk toe te gaan ook nie.

Sy sit haar een voet versigtig in die skoen. Jy kan ‘n speld hoor val tussen die res van die personeel. Toe sy die tweede skoen ook aan het, kyk sy stadig en angsbevange op na die prins toe.

Hy staan met die grootste glimlag. “Kom, liefste meisie. Ek het lank genoeg na jou gesoek. Ek dink ek vat jou sommer saam Engeland toe.”

Maande later is daar weer ‘n berig in die koerant: Prins Harry haak af met ‘n meisie van die Namib.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    23 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

  2. Toom

    23 Maart 2019

    Vlot, vlot, vlot!
    Baie mooi vertel.
    (Hoe kom dit my so skelmpies voor dat ek soiets reeds gehoor het?)
    Maar baie mooi vertel!
    Dankie.
    GvT

    • Martha

      23 Maart 2019

      As jy alreeds so ‘n storie gehoor het, dan dink ek en iemand anders waarskynlik dieselfde. Ek hoop nie jy dink ek pleeg plagiaat nie? Groot asseblief tog nie!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 45
Kommentaar telling: 12

Ek is 'n Namibier in murg en bloed. Ek hou my lewe lank skook, met hier en daar 'n kort tussenpose. Ek is getroud, het drie kinders en (op die oomblik) drie kleinkinders. Dit het my my lewe lank gevat voordat ek die moed gehad het om te begin skryf. PUBLICATIONS Books: Tuiskoms, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2018), 193 pages. ISBN 978-1-928413-65-3 Hagar, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2017) 270 pages, ISBN 978-1-928413-70-7   Short stories: ·         My lewe in ink – ‘n versameling van inspirerende dagstukkies. Published by Carpe Diem Boeke (2002) ISBN 1-919912-07-X Martha’s contribution: Jesus, ek is blind! (page 180) ·         Keur van verhale 4 – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers. ISBN 978-1-928413-40-0 Martha’s contribution: Die Misverstand (page 72) ·         Kierangspruit se Sirkus – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers ISBN 978-1-928413-90-5 Martha’s contribution: Rocco se hartseer vertoning (page 82) ·         Verspeelde Matriekafskeid Published by Huisgenoot (8 February 2018) and read on Maroela Media  (2 February 2018) ·         In die grasie van jou wese – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers   ISBN 978-1-928415-57-2 Martha’s contribution: (V)oorbegin

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 104 gaste aanlyn

Bydrae Totale