Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Maskerbrigade

Deur Elna
Datum gepubliseer: 10 Augustus 2020 Aantal woorde: 1156 61 Kere gelees 2

Masquerade! Paper faces on parade…Masquerade! Hide your face, so the world will never find you… Hoe waar het hierdie woorde uit Phantom of the Opera nie in ons daaglikse lewe geword nie! ‘n Lewe agter ‘n masker om ons gesigte weg te steek. Ons bedek ons gesig, nie ter wille van mense nie, maar ter wille van ‘n virus wat deur mense oorgedra word. Ons doen dit omdat ons nie toegelaat word om self ‘n oordeelkundige keuse te maak nie, maar omdat ‘n wet ons forseer om ‘n masker te dra.

Ek was nog nooit ‘n maskermens nie. Maskers is iets wat in stories hoort! Ek geniet Kaapse verhale waar daar meeste van die tyd ‘n maskerbal ter sprake is. So romanties! (Moet net nie van my verwag om dit te dra nie!) Phantom of the Opera het die mistiek agter ‘n masker weer laat oplewe. As student was dit groot pret om tydens die jooloptog, met ‘n masker en vreemde uitrusting te pleit en te smeek vir ‘n paar sente, wetende dat jy onherkenbaar is. Tema partytjies is die afgelope paar jaar ‘n groot gunsteling en ek doen onwillig mee. Ek hou nie van maskers nie! Dit gee mens ‘n valse tydelike gevoel van selfvoldaanheid.

Baie mense gebruik ook emosionele maskers vir selfbehoud en beskerming. Dit word soms deur omstandighede op mense gedwing, ander verkies dit om hulle staande te hou. Ek probeer om sover moontlik maskervry te lewe. Ongelukkig is daar dikwels mense wat dit gebruik om hulle self te verryk. Dis interessant om te sien hoe emosionele maskers ook kan bydrae tot emosionele pyn.

Dikwels is die doel van so ‘n masker om ‘n pleister op emosionele pyn te sit, wat dan ‘n abses in die vorm van ander chroniese pyn vorm.

Dan kom die aankondiging – van nou af word Suid-Afrikaners aangeraai om maskers te dra. Dis nie ‘n probleem nie. Ek het altyd by my praktyk chirurgiese maskers beskikbaar, vir uitsonderlike gevalle. Ewe braaf sit ek my masker op. O wee! Deksels! Ek voel of ek nie asem kry nie! My gesig sweet vir die vale! Die woorde van die pasiënt raak weg in my stryd met die masker! Ek begin deeglik herbesin met elke pasiënt oor die noodsaaklikheid van my masker-uniform.

Ek gaan sit in my kantoor. Die masker is nog op my gesig. Ek sweet. My asma pompie word vinnig gebruik vir die gefluit in my bors. My neus jeuk. Ek kan nie by my neus uitkom nie! Die boek se blaaie is stram en ek wil my vinger natlek om die bladsy raak te vat. Nee! Jy mag nie!

Grimering is ook nie aanbeveelbaar met die masker nie! Het jy al probeer nies of hoes met ‘n masker aan? Ek pluk die masker dankbaar af om my koffie te drink. Ek neem aan dit is aanvaarbaar?

Ek giggel en lag as ek mense sien ry met ‘n masker aan. Daar is net een persoon in die kar! Hoekom, o hoekom wil jy ‘n masker dra? Is dit om ‘n punt te bewys? In die winkel loop talle mense met maskers rond. Verstaan hulle nie? Mens dra ‘n masker as jy siek is en nie as jy gesond is nie! Dis tog logika! Ek is seker nie almal het skielik siek geword nie!

Het ek regtig gedog dit kan nie erger word nie? Meteens lewe ons in ‘n maskerbal. Maskers is nou deel van die aanvaarbare kleredrag. Nee, verkeerd. Niemand gaan jou beboet oor die skoene of kouse nie, maar jy mag ‘n boete kry vir die gebrek aan ‘n masker. Die liedjie, “Almal dra ‘n jas” dwarrel in my kop. Die verskil – ‘n masker pas nie gemaklik nie.

My bril wasem toe. Ek kan nie behoorlik asem haal nie. Ek kom agter dat ek waarskynlik iewers bietjie doof begin raak het. Ek sukkel om alles te hoor wat mense sê. Is dit dalk ‘n geval van onwetend liplees? In die romantisering van maskers, is die persoon se mond sowel as hulle oë duidelik sigbaar. Nou is mense se monde weg en ook die helfte van hulle gesig. Dis asof iets van die persoon se karakter agter die masker verdwyn. Ek wonder hoe ander mense die gemaskerde Elna ervaar. Om pasiënte te evalueer raak ‘n moeiliker taak met meer barriers wat die terapeutiese verhouding beïnvloed.

Oogkontak raak verskriklik belangrik. Sommige mense se oë lag of huil. Ander se oë is deur omstandighede agter ‘n masker van ontoeganklikheid verberg. Hulle dra ‘n dubbele masker. Ek ontmoet ook mense wat die masker soos ‘n tweede vel dra. Jy kan hulle emosies in die oë en in die stem lees en dis asof hulle aura die masker laat verdwyn.

Die maskers het die plek van ‘n onsigbare muur ingeneem. Dis asof mense in die winkel ook bang is om oogkontak te maak. Die wêreld het ‘n eensame maskerbrigade sonder emosies geword, wat vererger word met sosiale afstand wat gehandhaaf moet word. Daar was mense wat al jare so geleef het. Vir hulle was dit ‘n persoonlike keuse en deel van selfbehoud. ‘n Masker wat die wêreld nie kan sien nie. Nou dra almal ‘n sigbare masker en die realiteit daarvan is skrikwekkend. Vir mense soos ekself, wat my bes doen om maskervry te lewe is dit daagliks; ’n fisiese, emosionele en sielkundige aanpassing. Dit voel of ons stukkie vir stukkie ons menswees verloor.

Ons word selfs verplig om in ons motors maskers te dra. ‘n Vrou is met R10 000 beboet omdat sy nie haar masker opgehad het toe sy haar venster oopdraai nie. Nou probeer ek met my masker ry. My oë en bril wasem op. As ek nou ‘n ongeluk maak, mag ek die regering blameer? My man sluit saam met my die praktyk oop. Hy deaktiveer die alarm en maak die hek by die parkeerarea oop sodat ek kan deurry. Ek probeer hom met ‘n soen te groet. Het jy al jou masker probeer wegskuif met ‘n bril op jou gesig? Alles koek en raak verstrengel. Dis hopeloos!

Maskers het nou nog meer deel van die lewe geword. Daar is nou ‘n verskeidenheid maskers te koop, volgens persoonlike grille ’n giere. Ons maak die beste van die maskerbrigade, want ons het nie ‘n keuse nie. Dis deel van ons oorlewingstrategie, of dit ons goedkeuring wegdra of nie. Elke een het sy eie mening daaroor. Sommige voel dis ‘n noodsaaklikheid, ander kan wetenskaplike redes daarteen gee. Tog is daar mense wat net doen, nie daaroor dink nie en net volg, wat dalk die maskerade beter hanteer.

Die maskers is vir eers hier om te bly en om deel van die lewe te wees. Die keuse is vir ons gemaak. Ek dink ek moet Liza Minelli se liedjie Cabaret verander na:
The only way is sitting in your room
and listen to the music play
life is a masquerade ball
of social distancing…

Kopiereg
Elna KRUGER 24/5/2020




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 0

Fisioterapeut, lief vir skryf

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 26 gaste aanlyn

Bydrae Totale