Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Maart 2020 Triomfboog projek – Uitslae en kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 1 April 2020 Aantal woorde: 4355 15 Kere gelees 1

INK: MAART PROJEK “TRIOMFBOOG” KOMMENTAAR

Baie geluk aan hierdie 11 Lede!!

GEDIGTE
GOUD
WENNER: NO.3 – Carma Shaw met Sprake van hoop
2 DE PLEK: NO. 7 – Carma Shaw met Bakoven
3 DE PLEK: NO. 9 – Anzé Bezuidenhout met Seëpoort

SILWER
WENNER: NO. 4 – Caren Kearley met Haiku vir vandag
2 DE PLEK: NO. 2 – Morne du Preez met Ek begrawe vir jou ‘n storie
3 DE PLEK: GEEN

BRONS
WENNER: NO. 6 – Zebulon Kochk met Reisbeskrywing oor ‘n triomfboog
2 DE PLEK: NO. 13 – Zebulon Kochk met Plesieroord
3 DE PLEK: NO. 1 – Paula Paxton met Genade

GORRELS:
WENNER: NO. 2 – Marlene Erasmus met Nagedagtenis aan ‘n held
2 DE PLEK: NO. 1 – Marsofine Krynauw met Pappa, ek bou vir jou ‘n triomfboog

RUBRIEKE:
NO. 1 – Ano met Beleef ons moontlik ‘n tyd van groot verandering?

ARTIKELS:
NO. 1 – Marlene Erasmus met Parys – tuiste van die Arc de Triomphe

VERHALE:
WENNER: NO. 1 – Riaan Palmer met Verdwyning van die SS Waratah
2 DE PLEK: NO. 2 – Ronel Janse Van Vuuren met Dink aan my

Kommentaar:
GEDIGTE / BRONS
1.Genade

In my treurende Jobskleed
het my klaaglied geween
onder moedverloor se vlakte
waar roet se roes reën.

Met swere oopgekrap
oor selfkastying van skuld,
breek die Woord voor my oop
vind ek alle hoop.

Ruis my siel soos die arend
vind ek krag in die wind,
vaar ek klapvlerk na bo
na my triomfboog se punt.

Ek wil twee klein goedjies aanspreek in jou vers:
1. Die gebruik van “moedverloor se vlakte”. Dit is ‘n uiters geykte metafoor en dit sal interessant wees indien jy dalk met ‘n sinoniem daarvoor voorendag kan kom. Iets soos ‘n web van moedeloosheid, of slegs moedeloos /ontmoedig / melancholies / terneergedruk / platgeslaan / verslae ens. ens.
2. “my triomfboog se punt” Kan ‘n boog werklik ‘n punt hê? Sou dit dan aan die voet daarvan wees, en sal dit dan nie ‘n teengewig wees vir die wonder wat ‘n triomfboog simboliseer nie? Dit is ‘n filosofiese vraag en bloot semantiek. Daarom is dit nie werklika belangrik nie. Tegnies sou dit dalk ‘n verskil maak maar jy het ‘n gedig geskryf en nie ‘n dissitasie nie.
Ek hou van jou vers wat die gemoed lig wanneer dit op ‘n triomfantlike klimaks sluit.
Nota aan jouself: probeer die grense in jou woordeskat skuif en soek gerus nuwe en interessante woorde om in jou werk in te sluit.
Jou gedig is lieflik.

6.Reisbeskrywing oor ‘n triomfboog

My geelvelvoël
toe jou sensasiepers bene
konstraste maak
met jou spierwit
rand se blinkvlerkspreeu
wat altyd skyn
in die dageraad.

wou ek nie meer na jou
met sieleleed verlang nie

Ook nie toe opwellende drifte
van gekelpte wolke
wat inmekaar flans
jou liggaam gryp nie,

of toe die toeërige hemel
mistig makriel
en natrossies
laat val
soos orrelklank nie.

Want
jou reisbeskrywíng
bo ñ triomfbóóg
het my hart geheel
met hereverering.

Die metaforiek in jou eerste stansa is baie swaar en beskrywend. Indien ek dit losstaande lees en nie interpreteer nie, lees die strofe moeilik. Maar, sodra die tweede strofe in aanvang neem, ontbind dit die gewigtigheid. Ek hou van die metafoor “geelvelvoël” wat vir my aanduidend op die son is. Ek mag verkeerd wees, en
dit maak ook nie soveel saak nie.

Jou gedig is waarlik poëties, gewigtig metafories en lieflik gebou en ontbind mooi teen die einde.
Waarom maak jy van geen punktuasie gebruik na jou 2de strofe nie? Tog begin jou derde stansa met ‘n hoofletter?

Dié woordkombinasies is pragtig en opvallend:
“opwellende drifte”; “toeërige hemel”; “mistig makriel”.

Ek gaan nie braaf genoeg wees om my volle interpretasie hiervan te deel nie, want ek mag dalk net verkeerd wees. Ek het die gedig geniet omdat dit beskrywend oop is en elke leser daaruit baat kan vind.

Jy sluit jou vers met ‘n neologisme: “hereverering”, saamgestel uit “Here” en “verering”
Het ek reg verstaan? Of beteken dit iets anders?

Baie dankie vir ‘n pragtige, deurdagte vers.
Ek het heerlik hieraan gelees en daardeur gekrap om te interpreteer.
Let op die [‘n] in jou vers.

10.ou grondpad

in my dag van oorsprong
met moederbors gesus
toe die somerson in sy skoot val
was hy aldeur daar in rus

nog kind pyl ons bult-af
op die kaskar baan
en saam dan moeg tuis
by die hang van n maan

op staalos se rug ywerig
die aarde gekloof
later hittig van bloed
ons onskuld beroof

voor die kalwers kon speen
en met liefde verdring
sluk dwerg-kapel dorp in
vir beloof met n ring

jou spoor na als gerank
en tyd bly maar duur
soms ons liefde gegroet
met groen monster gluur

bitter soet jare is gemerk
met spruitjies wat rek
toe jy grondpad haar steel
ver weg na n ander plek

salig daai dag moes sy
die dood opgekrul versteur
ons kleine wereld herskryf
ons harte droog getreur

toe nag die winterson wegjae
kon die traan hom nie keer
toe sus snik aan my been vra
wanneer sien ons mamma weer

Jy neem die leser deur ‘n lewensverhaal met jou gedig. Ek het egter geen verwysing / insinuasie gevind wat my laat dink jy het die tema “triomfboog” hierin gebruik nie.
Ek moet jou dus penaliseer.

11.fynsny

vir iemand

toe hy
nimmer meer kon wag
in lee skoot van vaderhuis

was stilte deur gebed gesny
en skelm fluister iewers
wie was hy

strak gelaat sy wederhelf en saad
in vrede nagelaat
toe ysterperd pad verlaat

lewe verkwansel is gese
vrouens drank baklei
tot in verderf hom verlei

vir oulaas besigtig ons die vent
stokstyf toegebou
in ewige kiaat tent

n knop steek dwars in my keel
toe ek terugkyk in n spiel

Kom ons spreek eerste spelling aan:
Leë; gesê; ‘n; spieël. Let op die gebruik van punktuasie in die volgende woorde.
Jy het nagelaat om die tema in jou vers aan te spreek.
Ek moet jou dus penaliseer.

12.Veertig dae en veertig nagte

Veertig dae en veertig nagte,
het die Vredevors bepaal.
Stuur Hy reën na hierdie aarde,
om die drek daaruit te haal!

Tussen planne en beradings
word ‘n heerskappy bedreig;
gryp die menigte grashalms,
wyl die watervlakke styg!

Te midde van die chaos
en vele wat verdrink,
weerklink die wyse woorde
“jou God moet jy bedink!”

Die spotters en die loënaars,
se krag en geld verdwyn,
soos die maalkolk van die waters
hul asems ondemyn!

As die hoogste berg te laag word
en die mensdom ondergaan,
hang ‘n triomfboog oor die stilte,
in ‘n kleurespel getaan!

Ek hou nogal van die alombekende verhaal waarvoor jy ‘n splinternuwe baadjie aangetrek het. Jou rymskema, alhoewel dit effe geforseerd voel op sekere plekke, beïndruk.

Jy het “ondermyn” verkeerd gespel.

Ek hou van jou vers. Dit lees regtig gemaklik.

13.Plesieroord

Ek moet meermale
háár Amerika besoek
want haar Amerika
is my Rome

Ek moet meermale
haar natril beelde begluur
oor haar kolosseum
se spuwende oë besin
waar haar glinsterarenas
nog lewenwelend glim

Ek moet die mooi triomfe
van haar troimfboë terhart neem
tot my Amsterdam se hoop
weer splinternuut val op heuwels

uit die baftablou Triomfboog
van onse segevierende Alwyse.

*Eerste POGING tot interteks

San Dreyer se gedig “Vergewe”

Ek het San Dreyer se “Vergewe” gaan naslaan omdat ek nie met haar werk vertroud is nie.
Het jy suksesvol intertekstueel met haar vers omgegaan?
Het jy die inhoud van haar vers aangespreek in so ‘n wyse dat die leser dit beter sou verstaan?

Ek dink jy het aspris of konseptueel sterk gebruik gemaak van teenstellings om die inhoud van haar vers aan te spreek.

William Irwin het beweer dat die term intertekstualiteit amper so veel betekenisse as gebruikers het. Die streng veronderstelling dat IT nét die vorming van die betekenis van ‘n teks deur ander tekste is, mag dan misplaas wees. Ek handhaaf ook hierdie oortuiging dat enige omgang met ander se geskrewe werk, hoe dit ookal gedoen word, intertekstueel kan wees.

Jy het dus, soos jy vir jouself die opdrag opgelê het, geheel geslaag in jou poging.

‘n Paar opvallende dingetjies:
a. Die gebruik van hoofletters in strofe 2 & 3 pla omdat dit nie deur punktuasie voorafgegaan word nie;
b. Hoekom is Triomfboog met ‘n hoofletter in die laaste strofe?
c. Spelling van “ter harte” – twee woorde en die meervoud klink beter. Die enkelvoud is nie noodwendig verkeerd nie, want jy het geoorloofde vryheid, maar in hierdie geval veral, klink dit beter.

Ek dink jy het ‘n waardige vers voorgelê en ek salueer jou vir ‘n besonderse inskrywing.

14.Covid-19

Vreesbevange is mense oor die coronavirus
die nuus is op almal se lippe, en op al wat ‘n voorblad
wat die wêreld aanval oor die hele aardbol heen
skrikwekkend en geen genade betoon vir iedereen

Siekes en lyke lê in hospitale gestrooi
Gesigmaskers word oral gesien
Oral heers paniek en kommer
Die virus het die wêreld op sy kop gekeer

Dorpe en strate raak stil
Is dit alles God se wil?
Nou moet almal in hulle huise bly
om te voorkom dat die siekte verder versprei

Moet ons bang wees?
Hoekom al die paniek?
‘n loopneus en ‘n seer keel kry
wat tot akute respiratoriese sindroom,
en nierversaking kan ly

Bid vir mekaar bid vir ons land
die lewe van hier tot nou, het ons op God vertrou
onder hierdie triomfboog van die COVID-19
maak ons die kromme plat

‘Flatten the curve’

‘n Baie aktuele vers vir die tyd waarin ons leef.

Let daarop dat elke sin in jou vers nie met hoofletters geskryf behoort te word nie. Die ou meesters het, toe die taal nog in ontwikkeling was elke sin met hoofletters geskryf. Dit is egter nie meer die gebruik in poësie nie. Ek haal uit die AWS aan: “Die gebruik van hoof- en kleinletters berus grotendeels op konvensie en word dikwels ook bepaal deur stylvoorskrifte of vereistes wat vir individuele gebruikers of groepe gebruikers geld. Voorts moet gebruikers ook die konvensies wat vir bepaalde dissiplines geld, in ag neem. Gebruikers word aangeraai om altyd ʼn konsekwente en verantwoordbare beleid oor die gebruik van hoof- en kleinletters te gebruik.”
Die gebruik van hoofletters word streng gereguleer, soos alle ander spelreëls.
Hoofletters volg wel punktuasie in digkuns, maar elke sin begin beslis nie met een nie.

In jou gedig vind ek sekere sinne wat op die oog-af lank en lomp lyk, maar met die lees daarvan ervaar ek ‘n metriese ritme wat dus glad nie steurend is nie.

So uit nuuskierigheid wonder ek hoeveel gedigte met die titel “Covid-19” gaan ons, dwarsoor die wêreld sien.

Ek wil ten laaste net die einde van jou vers aanspreek. Maak die begrip vir jou werklik sin:
“onder hierdie triomfboog van die COVID-19
maak ons die kromme plat” ?
Het COVID-19 ‘n triomfboog, of personifiseer jy die idee dat die virus dalk oorwinning vier terwyl die medici die kurwe dringend aanspreek?

Jou gedig het my besig gehou en ek hoop dat alles wat ek met jou gedeel het behoorlik vir jou sin maak.

15.Virus van krone

onseker en verward, hande omhoog,
soekend en biddend na verlossing
van onder uit jou triomfboog.
In die holte van jou arm
ons tronk vir nou;
’n mensdom met hoop
in afwagting
saamgevou.

Indien jou vers met ‘n kleinletter begin, behoort jy nie punktuasie te gebruik om dit te sluit nie, tensy dit om ‘n vraagteken vra.
Jy het die huidige krisis mooi verwoord in ‘n kort en kragtig vers.
Oorweeg om saamgevou te vervang met “saamgekou” wat verwys na ‘n hok.
Jou titel laat my effe in die duister. Wat sou dit beteken? Sou “virus” nie genoegsaam wees nie, en waar pas die krone in?

Dankie vir jou deelname.

16.Soeke na vrede

ons kyk op na jou daar waar jy staan Brons
triomfboog geëts teen hemelblou
uit graniet gekap
bind jy ons saam in ons strewe na vrede

ek dwaal deur jou grys gange
sien die pioniere
vryheid hul vaste strewe
een veldslag na die ander
maar nooit vrede…

ystervoete wat oor die Drakensberg loop
lewens vasgevang in fresco
wat honger na rede
ons bloedland duur gekoop

die dors van vryheid bly in ons brand
wat sal die skaal laat balanseer
hoeveel moet ons nog betaal?
hoeveel bloed moet ons nog gee?

tog U het ons dié land gegee
U belofte staan verewig
dit is ons wat die gelofte breek
nou word die erwe van ons Vad’re
ons gelofteland gestroop
ons staan weer hier voor ’n Bloedrivier
‘n Drakensberg wat ons moet oor

maar hierdie keer o Heer
is ons uitgegiete water
met voete van klei wat na vreemde erwe loop
ons glo nie meer en sing nie meer:
“Dat die erwe van ons Vad’re vir ons kinders erwe bly”

net die wind van eeue huil
oor die kaal erwe van ons va’dre
ons bely o Heer
ons het papier geword
verstrooi in die wind
ons hol voetstappe weerklink in vreemde strate
soekende om eindelik iewers
ons vryheid te vind

Ek wil van die staanspoor (en pertinent) beklemtoon dat my kritiek en kommentaar nie geskoei is op die inhoud hiervan nie, maar streng op die akademiese fokus.

Jou vers is woordoorbodig, swaar en lomp. Herhaling van woorde onder meer: “vad’re”; “erwe”; “Drakensberg” ens. ens. dra verder by tot die oorbodigheid.

Die gedig is wisselvallig aanmekaar gesit en ek as leser het die “gedagtelyn” telke male verloor.

Ek stel voor jy sit weer met die gedig en skaaf daaraan totdat hy sprankel soos dit hoort.
Stuur gerus vir my ‘n e-pos na inkmoderator@gmail.com indien jy wil hê ek moet jou help.

Dankie vir jou inskrywing.

SILWER
2.Ek begrawe vir jou ‘n storie

Dis die tiekies op die spoor-
“wat is ‘n tiekie?” sou jy vra;
die klein-bietjie-liefde,
‘n knippie sout, ‘n bietjie blou
opgevou om té hou.

“Wat nog” sou jy sê
‘n hardeskyf met liedjies
en prente van diertjies en allerande goetertjies-
‘n sonkrag herlaaibare arsenaal
als op digitaal-dis hoe hy werk.

‘n Doos gemerk ‘spesiaal’-
“Hoekom spesiaal?” sou jy vra;
Want hierin bêre ek vir jou die geure-
‘n bietjie boegoe, ‘n bietjie olieverf, ou boeke, pastelle
en woorde vir jou sintuie.

“Wat is oudhede” hoor ek jou uiter
alles wat kennis sou dra-
soos hier ingesluit:
dit wat was en dit wat is,
die ek in jou en die jy in my.

“En die pakkie gemerk Triomfboog?”
Dit is die klein saadjie-wag hy sal ontkiem;
Sien jy die reënboog-dáár bó?
Dit is waar, ek waak…

Kom ons ontsluit hierdie vers saam. Ek wil by die twee laaste sinne begin om vir jou iets te demonstreer.
“Sien jy die reënboog-dáár bó?
Dit is waar, ek waak…”
Die gebruik van wat jy dink aandagstrepe is (na reën en voor daarbo) is, soos jy dit gebruik het eintlik koppeltekens. Dit is dus foutiewelik. Dan gebruik jy die akuut-aksent op al die vokale in “daarbo” en skryf dit ook as twee woorde. Dit is net een woord en jy kan nie die aksent so gebruik nie. Let dan ook op jou punktuasie:
Dit is waar, (met die komma beteken ‘waar’ eintlik ‘waarheid’ en nie ‘n ‘plek’ nie)
Lees nou weer die sin: Dit is waar ek waak…, met ander woorde die spesifieke plek waar die narrator waak, en dui nie op, hy waak en dit is die waarheid, nie.

Jou gedig het ‘n interessante invalshoek en die konsep kan suksesvol verkoop word as jy na die punktuasie omsien. Jy trap klei daarmee in hierdie vers, maar dit is nie, nie herstelbaar nie.
Ek dink jy skuld dit aan jouself om hierdie gedig te bestudeer en dit te ontvorm in ‘n meesterstuk.
Laat jou gedig jou “pakkie” word wat “triomfboog” genoem kan word.

Sterkte. Ek vertrou jou talent genoeg om te weet dat dit alles moontlik is.

4. Haiku vir vandag

vleg tog my hare
of triomfboog my herfslyf
met jou hart en siel

Wie sou kon dink dat een van die inskrywings ‘n Haikoe sal wees, en veral met so ‘n groot term soos “triomfboog”.
Jy het jouself pragtig gewkyt van jou taak. Die lettergreep voorskrifte is korrek; die volta is treffend en duidelik.
Regtig ‘n uitstaande stukkie werk.
Welgedaan.

5.Ek mis jou

hier
in die donkerste hoekie van my tuin
het ek ‘n rankroos geplant
pienk klimop rosies wat fyngeur
sagte herrinneringe in die aandlug strooi

daar
onder die sekel van die hartseer maan
het ek jou geplant
‘n houtkissie gevul met stof
want uit stof was jy en stof is jy
en stof sal jy wees

oral
sien ek jou, voel ek jou
onthou ek jou in my tuin van herrinnering
onder die triomfboog
van fyngeur rosies
in die hoek van my tuin.

Dit is ‘n lieflik, aardse en nostalgiese vers wat die leser vanaf die eerste woord betrokke maak. Die gebruik van die losstaande “hier”, “daar” en “oral” is baie slim. Dit versterk die reis deur die skrywer se gedagtes, soos ‘n verlede, hede en toekoms. Die inhoud is onopgesmuk en lees heerlik, MAAR…

jy het die heilig-nodige oortree deur spelfoute in jou vers te laat deurglip. “Herinnering” word met een (r)gespel. Jy het dit twee keer in een gedig gedoen. Ook sal “hartseermaan” een woord wees. Hoekom is spelling so belangrik? Veral in poësie (maar ook in alle ander skryfwerk) is dit jou enigste gereedskap om die taak te verrig. Abraham Kaplan sê: “If all you have is a hammer, everything looks like a nail.” Dit beteken as mens onder druk geplaas word om net ‘n taak af te handel ten spyt, dan doen mens dit verkeerd. Dit is baie belangrik om jou werk deeglik te hersien voor plasing.

Spelling is ongelooflik belangrik, en dit is vir my ‘n heilge ononderhandelbare kwessie.

Jy kon ‘n kategorie-wenner gewees as dit nie daarvoor was nie.

GOUD
3.Sprake van hoop

o perste, perste vygie
o doring aalwynblaar
kyk hoe rus die Bolandberge
sommer net maar daar

o dynserige vertes
o ligsteblouste lug
swerfplek vir windswawels
so-heen-toe en terug

o eens verlate vlaktes
o uitgestrekte land
deur wind en water hier gekerwe
tot krans, tot klip, tot sand

o soele, soele lentedag
o mooiste mooi seisoen
’n tafereel in onskuld –
elke skadukloof verbloem

o wingerde en weivelde
o plaas en landery
eens se lappe, lappe fynbos
– vir altyd nou verby

o Paarlpêrel in die son
o Boland, o geskonde
solank hange nog so purper bloei
is daar salwing vir jou wonde

o perste, perste vygie
o aalwynsteek en -vaal
hoe anders in jul wese –
tog deel jul dié verhaal

van koepels en van torings
van tale in graniet
en spreek jul triomfboog monumente
oor hierdie grondgebied

Dr. Jacomien van Niekerk skryf in “Twee digters op die podium. Performatiwiteit in die oevres van Antjie Krog en Tom Lanoye” (Tydskrif vir Nederands en Afrikaans: 13 de Jaargang (2006) II:2 Uni. Van Pretoria) en haal John Austin (1962) se Speech Act Theory aan wat “performatief” definieer as: “…as ‘n stelling wat nie slegs ‘n aksie beskryf nie, maar ook tegelykertyd daardie aksie uitvoer.”*
Ek sien soortgelyke performatiwiteit in hierdie vers van jou raak.

Dit is nie leë woorde en dooie ink op papier nie, maar die simfoniese herhalings (meesterlik en uiters smaakvol) wat aangewend is, skep die illusie van ‘n ritmiese voordrag. Ek wil nie druk op jou plaas deur jou skrywe met die van Krog en Lanoye te vergelyk nie, maar dan weer, waarom nie?

Jou gedig is ‘n ‘performance’; ‘n beeldend meesleurende vers wat ek oor en oor sal lees.

Dit is voortreflik. Ek is bevoorreg om sulke talent eerstehands te ervaar. Baie dankie vir die sorg met jou aanbieding en dat jy jou talent met ons deel.

*(Bennett en Royle, 2004: 237)

7.Bakoven

êrens in die weste waar die branders breek
daar waar die hemel saans ’n vuur aansteek
anderkant die einders waar die son wegsink
dis dáár waar die dag in die see verdrink

en haar vlam in triomboog bo die water skyn
alvoor avond se gloed in die niet wegkwyn

Die titel is baie interessant. Sinspeel dit op die (‘n)sonskynland?
Die woorde “alvoor” en “avond” is pragtig en word geheel té min in Afrikaanse poësie gebruik.
Pragtige kragtoertjie in hierdie vers.
Heerlik.

8. as die winter breek

by die poorte van Betlehem
plant ek vir jou ‘n olyfboom
met sy wortels geanker by waterstrome,
takke wat tot by die triomfboog strek,
stories vertel tot aan die blou se blou
waar die voëls kwetter en raas

op sy blare sal ek my liefde los,
uit die stam vir jou ‘n kruis uitkerf
waaraan jy jou smarte kan hang,
sy koelte sal jou trane sus,
terwyl sy olie jou salf en jy
triomfanklik in vrede kan rus

by die poorte van Jerusalem,
sal ek in wit gekleed by die
verskeurde voorhangsel vir jou wag
al is dit ook tot lank na die winter breek

Die geestelike ondertoon hierin wil bekende beelde van vorige gedigte vir my oproep maar daar is tog ‘n heerlike onbekendheid hierin.
Die gedig sluit groots en salwend.

Daar is metafore of beelde wat ek persoonlik sou verander, soos:
“wortels geanker by waterstome”;
“op sy blare sal ek my liefde los” en
“uit die stam vir jou ‘n kruis uitkerf”, wat veral maklik geyk kan lees.

Ek wil weereens sê die vers sluit vernuftig.

Dankie vir jou deelname.

9. Seëpoort

kwylend vlerk my oë
oor die vergane triomf
van ‘n gevalle Jerusalem
wat agter ‘n dowwe konstelasieglans
tralies trek oor my sig

wurgend gord verwarde denke
die lamheid van my lendene
as jy onnoembare afgode aanroep
knielend voor triomfboë
wat in stomheid
op bergtoppe skreeu

my redding kom uit die blou-blou lug
vanuit die Goddelike triomfboog
van die Almagtige God

Ek is effe verward oor die titel van jou vers. Sou dit verwys na die horison, ‘n reënboog dalk? Ek sukkel om dit in verband te bring met die inhoud. Gesels gerus met my daaroor.

Ek beoordeel altyd versigtig (en met beangstheid)aan verse met ‘n geestelike ondertoon. Dié digters is juis gevoelig oor die inhoud omdat dit vir hulle ‘n godsaak is.
Ek moet egter sê dat ek nie “verpreekd” voel by die aanlees van jou vers nie maar eerder ‘n persoonlike konflik ervaar wat eerlik weergegee word.

“Konstelasieglans” is ‘n pragtige nuutskepping. So is “kwylend vlerk my oë” ook ‘n heerlike vars beeld.

Dankie vir jou deelname.

GORRELS
1.Pappa, ek bou vir jou ‘n triomfboog
Dit is ‘n pragtige ode aan iemand waarvoor jy blyk baie lief te wees.
Daar is een klein dingetjie: Dit sal geleentheid wees as iemand jou laat saamry en nie “geleë” nie.
Ek het saam jou elke emosie weer ervaar en dit is die werk van ‘n skrywer, om die leser betrokke te kry.
Dankie vir jou triomfboog-storie.

2. Ter nagedagtenis aan ʼn held
Wat ‘n lieflike humoristiese verhaal wat smaaklik vertel is.
Dankie.

RUBRIEKE
1.Beleef ons moontlik ’n tyd van groot verandering?
Jou gorrel is interessant. Dat die lewe egter ‘n illusie is, stem ek nie geheel saam nie. Jou sinkonstruksie en aanbieding is geslaagd. Ek wonder as jy beide kante van die argument kon aanraak en dan tot ‘n gevolgtrekking kom of die rubriek meer gebalanseerd sou wees? Jou eie standpunt het egter duidelik na vore gekom en dit is presies wat ‘n rubriek behoort te wees.

ARTIKELS
1.Parys – tuiste van die Arc de Triomphe.
Ek begin deur een van jou sinne aan te haal:
“Die eenvoudige ontwerp en die grootte van Die Arc de Triomphe is tipies van die 18de-eeuse boustyl: Neoklassieke styl.”
Hierdie is ‘n voorbeeld hoe ‘n skrywer woordoorbodig kan raak, en as jy nie konstant daarop let nie, gebeur dit so maklik. Lees gou weer die sin soos ek dit hieronder verander het:
“Die eenvoudige ontwerp en die grootte van Die Arc de Triomphe is tipies van die 18de-eeuse boustyl: Neoklassiek.” Die verandering is so klein dat dit amper nie eers raakgesien word nie. Tog maak dit ‘n wêreld se verskil.
‘n Artikel word aangewend om “inligting” wat feitlik korrek is oor te dra aan jou leser, maar as skrywers moet ons waak om nie die aanbieding soos ‘n geskiedenis les te laat lees nie. Jy het genoegsame skrywersvryheid om die omgewing in te kleur sonder dat jy die feite verwring.
Let op onnodige (oorbodige) woorde.
As jy ooit kans kry lees Dot Serfontein se “Kroonstad geskiedenis” om te sien hoe keurig geskiedenis werklik oorvertel kan word.

Ek het jou artikel egter geniet en aanvaar jy het goeie navorsing gedoen om dit te skryf.

Baie dankie vir jou deelame.

2.’n Boog vir Hartbeespoortdam
Dankie vir jou deelname.
Daar is egter feitlike foute in jou navorsing en aanbieding.
Hendrik Schoeman het nie die Hartbeespoort dam gebou nie maar wel ‘n dam (vernoem na sy vrou: Sophiadam. Dit is hierdie dam wat deur ‘n vloed weggespoel is.
August Karslon (Sweedse engineer) het eers in 1905 betrokke geraak en het aan die destydse regering voorstelle gemaak om ‘n dam in die Hartebeespoort te bou.
Ek kan nie jou artikel beoordeel in hierdie geval nie.

VERHALE
1.Verdwyning van die SS Waratah
Dit is wonderlik dat jy ‘n stukkie geskiedenis kon neem en ‘n verwerkte verhaal kon skryf.
Gegewe die woord inperking, en dat jy nie baie spasie gehad het waarin om te manoeuvre nie, het jy jou baie goed gekwyt van jou taak.

Baie dankie vir jou deelname.

2.Dink aan my
Woordorde in die konstruksie van sinne is baie belangrik. Skrywers kan nie in Engels dink en in Afrikaans skryf nie want dan word die woordorde versteur. Ek gaan dit demonstreer met een van jou sinne:
“Maar geen fee kan kies wat hulle as gebore word nie.” met die regte woordorde soos volg:
“maar geen fee kan kies as wat hulle gebore word nie.”
en in Engels sal dit so geskryf word:
“No fairy can choose what they get born as.”
Sien jy? Omdat ons voortdurend gebombardeer word met Engels, trap skrywers in die strik deur ontwetend hul woordorde te verander. Let asseblief hierop.

Kyk na woordoorbodigheid, nl.:
“Zee knipper haar ooglede en fokus op die fee wat langs haar sit en haar hand vasklem in hare.” waar die sin korrek so sal lees as:
“Zee knipper haar ooglede en fokus op die fee wat langs haar sit en haar hand vasklem.”

Jou verhale is altyd interressant en ek geniet om dit te lees.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 252
Kommentaar telling: 2790

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 38 gaste aanlyn

Bydrae Totale