Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: MAART 2018 PROJEK: UITSLAE EN KOMMENTAAR

Deur Inkmoderator
Datum gepubliseer: 11 April 2018 Aantal woorde: 4516 506 Kere gelees 5

Maart Projek Kommentare en uitslae:

Vanaf hierdie maand het ons besluit om die uitslae van die projekte in hierdie formaat bekend te maak sodat almal wat hieraan deelneem ook sommer gelyktydig leersaam daarby kan baat.
Soos voorheen genoem word elke vlak afsonderlik beoordeel wat daartoe lei dat jy slegs teen diegene kompeteer wat op dieselfde toegeroep as jyself is.
Gedigte Wenners:

Goue Vlak:

Wenner: (14) Die vrou weet waar vuur is – 84% Carma Shaw
2de Plek: (16) Laventelhuis – 83% Carma Shaw
3de Plek: (18) Rockbottom – 80%  Carma Shaw

Silwer Vlak:  

Wenner: (48) Skedelkus – 83%  Estelle Rubouw
2de Plek: (47) Soms – 77%  Estelle Rubouw
3de Plek “Finale verblinding” Anze Bezuidenhout 72%

Brons Vlak: 

Wenner: Die laaste klip – 73% Caren Kearley
2de Plek:  “Ek wil protesteer meneer” – 72 % Anton Bosch
3de Plek:  Die skande van my hande – 71%  Loretta Szikra

Verhale Wenners: 

GEEN WENNER – Opdrag nie nagekom nie

Rubriek Wenners:  

Sagte blou oë… – 76% Ano

KOMMENTARE OOR INDIVIDUELE INSKRYWINGS:
Versteende boom: Omdat leestekens desperaat hierin ontbreek, lees die gedig nie nét sonder ritme nie, maar ook kripties. In die digkuns is leestekens die enigste werklike ‘wapen’ wat die skrywer tot sy beskikking het om die toon van die vers behoorlik weer te gee. Moet nooit in die strik trap waar jy hierdie gereedskapstuk prysgee ten koste van behoorlike begrip nie. Indien ‘n vraag in ‘n gedig retories is, vra dit steeds ‘n vraagteken. Die inhoud in geheel is nie swak nie, en die gesprek tussen die skrywer en die boom kan slim geïnterpreteer word. Ek sou wou sien dat jy hierdie vers redigeer en met jou oorspronklike idee onderhandel vir ‘n toonryke en treffende gedig. Die vers het vir seker die potensiaal daarvoor.

Sou die Savanna my wou vertel…: Ek skop sommer af by die begin; die ellips in die titel is nie funksioneel nie. Die gebruik daarvan moet omsigtig oorweeg word aangesien dit meer as nié verkeerdelik gebruik word. Die funksie van die ellips om óf ‘n gedagte oop te laat vir interpretasie óf om ‘n atmosfeer van tydspeling te skep. Die gebruik in hierdie vers leen hom nie tot een van die bostaande nie. Ek het moeilik aan die vers geïnterpreteer. Die kort sinne beroof die ritme. Ek stel ‘n redigering voor. Gesels gerus met my in ‘n privaat boodskap indien jy verdere insette wil hê.

Spite your nose…: Met die gebruik van nodige lidwoorde help die digter die ritme (en sodoende die metrum) in die vers aan. Daarsonder kan ‘n vers kripties en hakerig lees wat die vloei belemmer. Die les hierin, en dit is natuurlik die doel van digkuns, is prysenswaardig. Ek sou aanraai dat jy hierdie vers redigeer en nodige veranderinge maak om die ritme en vloei te vergemaklik.

Félicitations pour votre vie: Die gebruik van ‘n interessante titel is noodsaaklik want dit vang die oog van die leser en prikkel die nuuskierigheid. Wat egter belangriker is, is dat die leser weet wat hierdie titel beteken, of deur die inhoud van die vers te bestudeer of deur ‘n verklarende voetnota. Die tweede opsie werk vir my altyd beter. Na ek die vers gelees het is ek steeds nie seker wat die titel beteken nie. In lyn 9 gebruik jy die woord ‘gedeë’. Wat beteken dit? Bedoel jy eintlik gedweë? Leestekens in hierdie vers sou baie funksioneel kon bydrae tot ‘n sterker toon. Kyk na die voorbeeld hiernaas:
“op die duin:
daar is nie plek vir haat,
vir beuselagtigheid nie;
daar sweef gedagtes soos meeue”
So ‘n aanslag maak die vers aantreklik en lei die leser om die toon wat jy probeer skep het behoorlik te interpreteer.

Waarvan niemand weet: Let daarop om nié hoofletters te gebruik aan die begin van sinne wat nie deur ‘n leesteken voorafgegaan word nie. ‘n Vers wat met ‘n hoofletter begin moet met ‘n leesteken gesluit word. Ek begryp die idee wat jy in jou inhoud wil aanraak, maar ek dink effe redigering wat veral die vloei betref kan voordelig wees om die vers genoegsaam af te rond.

Rooi kleigrond: Herhaling in poësie is ‘n lieflike gereedskapstuk om klem te lê op sekere aspekte, maar ek dink in hierdie vers is die herhaling oorbodig en nie funksioneel nie. Jy kon die aanhef gemaklik as “in hierdie rooi grondkluite:” (met ‘n dubbelpunt) skryf en dan die res byvoeg sonder om aan die beeld te verander. Jy kan dit in die laaste strofe wéér herhaal indien jy sou wou. Woordorde is ook belangrik en in die 2de sin (lees hom hard en luister) is ‘n voorbeeld van hoe ons nié in die algemeen praat nie. Digkuns wat eie is aan die algemene spreekstyl maak beter verse. Bekend maak bemind.

Duskant Hermon: Hierdie vers is ‘n toonbeeld van hoe funksioneel leestekens aangewend kan word om ‘n sekere atmosfeer te skep. Die hakies bring ‘n terloopse fluistering teweeg, wat ‘n sommer-so gedagte by die geheel insluit. Die vers se inhoud, hoe kompak ookal, is treffend, tasbaar en meesleurend. Die koppeling van woorde (soos jou ampersomerwolke) is óók ‘n lieflike manier om die taal te verbuig sonder die kennismaking van onbekende neologismes. Jou vers lees lieflik, die atmosfeer is geskep en ek kon heerlik daaraan deel word. Pragtig.

Trouheid: Poësie behoort ‘n verlening te wees van hoe ons in die algemeen praat. Ek neem jou eerste paar lyne, aangepas, om te illustreer:
liefde en wysheid
het besluit om te trou –
die samekoms was groot,
‘n vreugdevolle gebeurtenis
waaruit ‘n kroos gebore is:
die oudste heet integriteit
As die sinkonstruksie natuurlike kommunikasie aanhelp, help dit die vloei en die ritme van die gedig. Dit vermy dus ook ‘n kriptiese aanslag wat eerder soos ‘n verslag lees en nie ‘n vers nie. Die inhoud van die vers raak aan ‘n belangrike les wat nie verlore moet gaan nie. Ek wil jou aanmoedig om die volle potensiaal van hierdie gedig te ontgun.

Bedelaar: Die strik van geforseerde rym is een waarin ons as digters maklik trap. Endrym moet altyd omsigtig benader word, want die woordkeuses nét om te rym maak meer as nie afbreuk aan die geheel. Gedigte hoef nie altyd ‘n rympatroon te hê om goeie poësie te wees nie. Let ook op die oordadige gebruik van leestekens in die vers. Jy kon baie gemaklik met minder punte hierin slaag. Let ook asseblief op spelling bv. “vinnig” “seëninge”.

Doen: By die koppeling (of nie) van woorde is daar ‘n maklike praktiese toets: as die twee woorde wat jy wil koppel se orde omgedraai word en dit klink steeds reg, kan dit gekoppel word. Indien dit nie reg klink nie skryf gerus die twee woorde (soos in die oorspronklike orde) los. Ek hou van hoe jy die mens wat opgewek is en ander beïnvloed, met die golwe vergelyk. Dit is ‘n vars aanslag. Ek het egter baie moeilik gelees aan die vers wat nie vir my ritmies en vloeisaam is nie. Maak gerus van leestekens gebruik om die toon in jou vers te versterk. Die leser is aangewese op die leiding van die skrywer om die impak van ‘n vers behoorlik te begryp.

Die vorm van water: Dit wil vir my klink of jy die titel by ‘n onlangse film geleen het. Dit het my onmiddelik opgeval. Jy maak gebruik van eienaardige [‘] afkappingstekens op snaakse plekke in die gedig. Ek begryp nie die funksie daarvan nie. Die afkapteken se doel is om ‘n klank (letter) se weglating aan te dui, maar jy gebruik dit lukraak sonder rede. Voël word met slegs een [e] geskryf. Ek moet bieg dat die vers vir my geen sin maak nie. In die eerste strofe spreek jy die invloed van die maan aan, die wind, water en klanke in die tweede en dan die invloed van water (in welke vorm ookal) op die gemoed van die mens? Ek kry nie die kloutjie by die oor nie. Miskien lees ek ‘n intensie mis en sal graag met jou daaroor wou gesels. Kontak my gerus per persoonlike boodskap.

n Klip kan ook breek: Ek hou van die vers. Aards en menslik, tasbaar en oordenk. Die ritme in strofe vier hinder effe aan die einde, maar dit is nie regtig steurend nie. Ek sou wou sien dat jou volta (verandering/gevolgtrekking) anders daaruit sien. Die vyfde strofe spreek die karakter se rol in die pragtige dagbreek (en selfs verby nét die dagbreek) aan, en ek sou dink dat die laaste strofe dan ‘n klarigheid sal gee oor die ‘verwarring’ in die gemoed. Ek lees dan verder en sien die laaste sin van die vers raak en wonder dan of dit opsetlik so geskryf is met die verwysing na ‘tentatief’? Miskien beplan die skrywer om die vers ongesluit te laat, en soos Da Vinci met sy Mona Lisa in ‘n knapsak op die rug te loop om later weer daaraan te werk. Ek benader die vers dalk te filosofies. Ek gesels graag met jou daaroor in ‘n persoonlike boodskap.

Stil is die bome: Die titel en die inhoud van hierdie vers is so ver verwyderd van mekaar dat ek verward is. Spreek jy die ‘mond’ aan of die ‘boom’. Die stilte van (in) die bome word nerens hierin ontwikkel nie, en dit maak die reis deur jou vers vir die leser baie moeilik. Ek het nie ‘n idee wat die vers vir my moet leer of vertel nie.

Die vrou weet waar vuur is: Daar is ‘n ongelookflike, amper simbaleslag-ritme in hierdie vers. Woorde soos ‘dis’ ‘also’ ‘immer’ ‘alvoor’ is bekende vreugdes wat jy ongekend aanwend. Ek is nuuskierig oor die gebruik van die [*] in die vers. Ek het gelet dat ander verse dit ook bevat en lei af, sonder nodige sekerheid, dat dit jou verse is. Gebruik jy dit vir ‘n wendingsstrategie en waarom op so ‘n wyse? Ek wil daaroor naslaan, maar ek dink nie dit is gebruiklik en/of funksioneel nodig nie. Die munt het egter twee kante: tipografie is ‘n gereedskapstuk wat die digter kan aanwend vir toon en atmosfeer en daarom is ek nié werklik begaan oor die gebruik daarvan nie. Ek sou egter wil weet wat jou persoonlike opinie daaroor is. Stuur vir my ‘n nota per inkassie boodskap.

Verlange traan: Ek probeer ontsyfer waar die idee in hierdie vers ontgun is. Is die skrywer besig om die verlange met gebreekte en verbleikte skulpe te vergelyk en of die wonder van ongeskonde skulpe (wat ‘n klein wonderwerk genoem word) verwys na ‘n hipotetiese verhouding wat deur die stort van branders (wat hier ‘n metafoor kan wees vir dood, ongeluk, afskeid)vernietig word. Die titel word in die laaste sin herhaal, maar ek voel dat die res van die gedig werklik nie veel met die titel te make het nie, alvorens my omslagtige relaas hierbo dan korrek is. Ek besef al te goed dat interpretasie (en so ook skoonheid) in die oog van die behouer berus, maar ‘n gedig moet tog leiding gee sodat die leser nie total verswelg word met vraagstukke nét om te probeer sin maak daarvan nie. Ek hou van die metafoor: skulp soos ‘n verhouding ens. Maar dit kan slegs reg en waar wees indien ek die regte afleiding hierin gemaak het.

Laventelhuis: Ek is gaande oor die vloeiende gesprek wat die digter met die huis het. ‘n Pragtige voorbeeld van antropomorfisme wat dalk nie maklik geïdentifiseer kan word nie, maar tog deel uitmaak van die wisselwerking tussen die digter en laventelhuis. Die gesprek met die huis, wat dan soos ‘n goed ontwikkelde storie afwyk om ook ander karakters te ontwikkel, is werklik treffend. Die gebruik van funksionele leestekens is merkbaar en dra by tot die ontwikkelde toon. Ek sou die woordorde in die 1 ste sin van die laaste strofe verander het: Wanneer die lenteson (vroegaand), en dit kan selfs funksioneel sonder die hakie gedoen word. Die geheel is weldeurdag en pragtig gekonstrueer. Let daarop dat die ellips direk ná die woord gebruik word sonder enige spasie. Welgedaan met ‘n pragtige bydrae wat digkuns vier en die Afrikaanse taal bevorder.

Wolkombers: Ek krap aan jou vers om die volle potensiaal daarin te ontsluit:
ek droom: van ‘n witkombers
wat sag oor berge neersak;
van sagte geelperske reën
sag en strelend soos ‘n vrou se ween –
in hierdie wolk gevulde uitspansel
vind my siel sagte rus op ‘n verre duin
as die vroeë herfs wolkombers in die nag
snoesig sak dit – tog is jy tevre’;
kom freddie laat ons huistoe stap
en hitte soek voor ‘n kaggelvuur.
***
Die vers lyk, klink en lees beter sonder die versameling koeplette. In hierdie geval voel die strofes losstaande van mekaar en word die ritme erg versteur. Die redegering aan jou gedig is slegs ‘n voorstel en hoegenaamd nie evangelie nie. Gesels gerus hieroor met my in ‘n boodskappie.

Rockbottom: Dalk is ek bevooroordeeld aangaande die inhoud van hierdie vers omdat die felheid van die droogte vir ons almal ‘n intense bron van kommer geword het. Tog, vertrou ek my akademiese oordeel oor blote sentiment, en moet bieg dat die gedig my selfs sonder aandoening, roer. Die waarlik menslike inslag waarmee jy as digter die onderwerp benader is vars en lieflik. Die inhoud maak ‘n impak en dit is seker die belangrikste doel van digkuns. Ek moet egter sê dat die ritme verlore raak in jou volta. Daar is deurgaans ‘n heerlike metrum in die vers maar die laaste strofe laat die leser met ‘n swaar tong. Die gevolgtrekking of slot, soos hy daaruit sien is nodig, maar ek wil wonder of dit meer woordekonomies kon wees? Ek sien die stanza so:
‘n Dam wat vol water is
verruk nié met eweso krag nie.
‘n Hart wat nie dors ken nie
sal ook nimmer na lawing smag nie.
Ek hou van die titel alhoewel dit Engels is. Ek dink nie die vers (en situasie) kon beter beskryf word anders as “Rockbottom” nie. Die vers is waarlik lieflik.

KAAPSTAD: Hierdie gedig sou baie sterker wees indien jy meer woordekonomies omgegaan het. Neem as voorbeeld in strofe 2 waar jy ‘tafelberg’ én ‘berg’ gebruik, verder branderplank en branders ook in dieselfde sin. Die herhaalde gebruik van dieselfde idee (woord/term) kan baie funksioneel en sonder moeite vermy word. Die spelling in die vers laat ook veel te wense oor bv. ‘geleë’, ‘Robben eiland’, ‘natuurreservaat’. Die woord ‘see’ word ook onnodig herhaal. Ek stel redigering voor vir hierdie inskrywing.

STOOMTREIN: Woordekonomie? Onnodige herhaling van woorde; die woord ‘trein’ kom vyf keer in die gedig voor. Maak gebruik van metafore (of selfs sinonieme) om sulke herhalings te vermy. Herbedink die vers en ontwikkel hom tot sy volle potensiaal.

RICHTERSVELD: Onnodige woordherhaling kom voor in die gedig. Let daarop om ekonomies om te gaan met die gebruik van woorde in jou vers. Herhaling van sekere woorde moet slegs gebruik word om die impak van ‘n sekere geagte te versterk. Sonder nodige funksie verloor dit waarde. Ek sal graag help om jou gedig te skaaf sodat ek kan demonstreer hoe maklik dit verander kan word sonder om die idee (bedoeling) van die vers te verander. Stuur gerus vir my ‘n persoonlike boodskap.

Nardussalfwoorde: Die titel en die gebruik daarvan in die gedig lees moeilik. Sover ek weet is die algemene naam vir die Nardusplant Citroenella. Ek dink dit kan funksioneel sonder die insluiting van ‘salf’ gebruik word; narduswoorde? Die inhoud van die vers is interessant, maar ek vind soos volg:
1. Die gebruik van metafore (dalk koppelings) bv. ‘oordeelskyke’, ‘kanselklede’, ‘jubelbreek’ ens. die gedig swaar laat. Dit lees nie net moeilik nie, maar dra by tot ‘n oorversadiging van die sintuie. Ek sê glad nie dat dit verkeerd is nie, maar dit laat min tot niks vir die verbeelding oor nie. Die leser word gestimuleer op so ‘n wyse dat die hele crux van die gedig verlore raak.
2. Sekere sinne, veral in strofe 2 word op verkeerde plekke gebreek bv.
“ek stansas braak wat die bebloede
doringkroon se wond moet genees”. Enjambement is nodig in sommige gedigte om die vloei daarvan aan te help maar persoonlik voel ek een konsep hoort op een lyn en moet nie terwille gebreek word nie.
Die gedig is lywig en heerlik om te lees tog dink ek ‘n ongeoefende oog sal swaar daardeur kom.

Finale verblinding: Dit is ‘n sterk vers wat goed ontwikkel tot ‘n kragtige einde. Ek het slegs drie voorstelle hier: 1. Die gebruik van die [;] ná ‘brandend’ in die eerste strofe is nie funksioneel nie. Dit kan geheel weggelaat word en twee sinne kan gemaklik een word. 2. Die koppeling ‘Jakobtraplere’ is té lywig. 3. In die tweede laaste stofe sou ‘n akuut op ‘jou’ baie help vir beklemtoning.

Aalmoeslewe: Die inhoud is ‘n eerlike blik op die karakter se lewe. Ek voel egter dat die vers ontwikkel kan word tot sy volle potensiaal met die nodige redigering.

Buite reën dit: Dit gedig lees swaar as gevolg van al die onnodige herhaling van woorde. Dit is nie woordekonomies nie. Die spelling hierin kort aandag. Daar bestaan werklik genoegsame Afrikaanse sinonieme vir sekere terme dat die digter nie nodig het om in die strik van herhaling te trap nie. Gepaste metafore kan ook gebruik word om die gedig te ontwikkel.

As ek wakker word: Let op spelling, die gebruik van nodige leestekens en behoorlike ontwikkeling van jou vers. Op hierdie stadium lees dit soos ‘n dagboek inskrywing en nie ‘n vloeiende vers nie.

Arend: Indien jy leestekens gebruik om pouses en toon aan te dui sal hierdie vers op die oog af reeds sterker lees. Let asseblief op spelling wat die grondslag van goeie poësie is.

Saad van ewigheid: Interessante ode aan die kosmos. Let daarop dat hoofletters in gedigte slégs kan volg op ‘n voorafgebruikte leesteken soos ‘n punt of vraagteken. Indien ‘n vers met ‘n hoofletter begin móét hy met ‘n punt afsluit.

Aarde se vernietigende bestaan: Dat die mens verniel wat aan ons toevertrou het, is ‘n gegewe, en dit bly die digter se plig om hieroor te skryf. Met so ‘n belangrike onderwerp is dit van uiterste noodsaak dat die gedig ‘n sterk impak maak. Jou vers beskik oor die potensiaal maar die essensie raak verlore in die langasem daarvan. Jou gedig sal sterk wees indien jy kan oorweeg om dit meer kompak te skryf.

Gedagtes: Gebruik asseblief funksionele lidwoorde en leestekens om die vloei en metrum hierin aan te help. Die vers lees soos die titel: (los) gedagtes.

Mis: Kontak my asseblief per inboks boodskap. Groete IM

Voëlvry: Ek lees jou vers so:

vry: soos meeue wat vlerk
bokant tierende blou branders,
:soos arende wat sweef
oor uitgestrekte landskappe
:soos digterlike woorde
draal bó mensegedagtes
:soos saakryke begrippe
versus ongekende emosie
:soos ‘n kind in sy moedertaal,
water spoel oor los klippe,
strome van seën wat riviere vorm
wat lewenskrag aan natuur bring
so! vlieg my gedagtes voëlvry
oor gebeure in ons land –
versigtig optimisties waak ek
en voorbereid op enige iets
Kontak my gerus per inboks om dit te bespreek.

Ek voel nog jou naam: Dit is ‘n lieflike vers. Ek het twee klein aanmerkings: 1. Die aandagstreep in die derde strofe is onnodig. 2. Die ellips móét knus ná die woord volg – geen spasie nie…
Jy het ‘n besonderse gawe om metries om te gaan met ons taal. Welgedaan.

Die laaste klip: Hierdie is ‘n interessante aanslag op die verhaal van die prostituut wat in die Bybel vertel word; dit is wel as ek die interpretasie reg verstaan. Ek het ‘n paar aanmerkings:
1. Ek weet nie of die klanknabootsing (Sjuut) goed in die vers werk nie.
2. “En vrywees word ‘n (nié in nie) weggooidroom” : Die ‘en’ kan weggelaat word en [;] kan vervang word met net ‘n gewone [,] komma.
3. Die slotstrofe, sonder die ‘sjuut’ natuurlik is kragtig! Die metafoor (personifikasie) van Sy Naam wat in haar handpalms bloei is onbeskryflik treffend. Hierdie vers het potensiaal om ‘n grootse treffer te word.

Teenstryd: Ek verstaan die skerp teenstelling in die duinesand en die stasie, waar die sand minder en die stasie (wat rigting en vooruitgang aandui) meer ordelik is. Die verwarring van die karakter wat duidelik hierin sigbaar is het ek maklik raak gelees. Die 2de strofe kan dalk tipografies anders daarna uitsien en bestaan daar spasie hierin vir verdere ontwikkeling. Ek het egter die metaforiek hierin geniet.

Landskappe geskets van herinneringe: Ek wonder of ‘strooi’ nie met ‘sleep’ of iets dergliks vervang kan word nie? Die tweede strofe behoort nie met ‘n hoofletter te begin nie aangesien die tipografie in die res van die vers anders leidend is. Die woordorde in die 4de sin (strofe 2) behoort so te lyk: “terwyl die wind in my spore speel”. So ook vir die slot frase: “voel ek hoe die koue//in my naakte bene kraak”. In die geval van ‘speel’ sluit die sin sag wat nie met ‘spore’ bereik kan word nie. Dan wil jy hê jou vers moet hard en sterk sluit en daarom is ‘kraak’ ‘n beter kandidaat. Die vers is nietemin heerlik om te lees, en indien jy die paar aanpassings maak kan hy selfs sterker uitstaan.

Deur die Skelfseebrandings: Die titel is lees-aas (oog-aas; ‘clickbait in Engels). Ek geniet dit as daar ‘n interessante titel aangewend word want dit maak die verwagting groter. Dit is ‘n belangrike deel van ‘n goeie gedig. Die inhoud het my nié teleurgestel nie en presies gelewer wat die titel beloof het. Ek het net ‘n paar aanmerkings: In die 2de laaste strofe – sou ‘skuifeltree’ met opset as enkelvoud geskryf word, of moet dit eintlik ‘skuifeltreë’ lees? Ek sou ‘lofpsalms’ in daardie strofe nét as ‘psalms’ aandui aangesien die herhaling wat volg genoegsaam klem lê op die doel van die ‘psalm’ wat natuurlik na ‘lof’ verwys. Ek dink die laaste twee strofes sal funksioneel beter werk as dit ‘n enkele stanza vorm. Ek lees hom so:
in die afwaartse remming
van jou skuifeltreë
brand die hunkering
na nuwe psalms –
lofpsalms wat deur die branding
van die Skelfsee breek
Ek het ‘mag’ ook verwyder wat die proses as ‘n gegewe aandui, en nie twyfel laat of dit kan of mag gebeur nie. Jy mag natuurlik self besluit of dit aan jou oorspronklike idee verander en hoef geensins my redigering hierin te aanvaar nie. ‘n Goed deurdagte vers. Welgedaan.

Elegie aan ‘n versteende hart: Dit is ‘n goeie gedig. Goed ontwikkel met mooi metafore. Ek het ‘n paar opmerkings: Sediment kan funksioneel sonder die toevoeging van ‘lae’ geskryf word. In die eerste en die tweede strofes duik ‘n hoofletter van nerens op sonder dat hulle voorafgegaan word deur ‘n leesteken. Die ellips aan die einde van strofe een sou ek met ‘n aandagstreep vervang. Die vers word in die eerste persoon aangebied tot en met lyn 14, dan verander dit skielik na die derde persoon. Waarom? Ek sou graag wou help dat ons die volle potensiaal in hierdie vers ontgun. Laat asseblief vir my ‘n persoonlike inboks.

n Krummel van die tafel: Kontak my asseblief via inboks.

Gehawende reënboog: Ek hou van die metafoor dat die ‘son halfmas hang’ – dis vars. Die res van die gedig is goed. Ek sou die tipografie egter verander en minder korter sinne gebruik, veral in die eerste strofe. Ek dink nie die emjambement werk goed vir hierdie emosionele vers nie; leestekens kon baie bydrae tot die toon van die vers.

Ek wil protester meneer: Ek is eerlik dat ek nie veel kennis het van hoe die Kaapse streektaal behoorlik geskryf behoort te word nie . Ek lees die gedig en geniet hom maar ek kan nie aanwysings gee oor wat reg en wat verkeerd is nie. Ek moet sê dat ek van die onderliggende idee van die vers hou en dat die praatstyl ‘n eerlik en aardse aanslag het.

Moederland: Die gedig is goed. Dit wil egter vir my voel of daar ‘n eerlikheid ontbreek…miskien eerder ‘n distansie heers tussen die skrywer en sy/haar woorde. Ek druk myself baie swak uit want ek weet self nie behoorlik om die ervaring te beskryf nie. Ek sien die mooi in die Kalahari en elke ander gebied maar voel asof die digter self twyfel oor sy/haar plek. Akademies is daar niks skort nie.

Kerswens vir die wereld: Goeie vers. Miskien effe geyk op plekke maar wat vir die een outentiek is is dalk vir die ander vars. Kontak my per inboks. Ek sal graag saam jou hieraan wil werk.
Liewe Vincent: Hierdie vers het BAIE potensiaal en is nie tot sy volle glorie ontwikkel nie. Kontak my asseblief per inboks.

Vrye teuels: Ek sien jou vers so:

Versteek niks;
maak jou hart oop
en laat dit oor jou tong rol
verby jou lippe, die wydheid in
met geen perke op jou pen
waar die ink vrylik vloei –
maak die kruike leeg
(die houers in jou siel)
en laat die heelal
jou elke woord beleef.
***Kontak my gerus per inboks dan gesels ons verder oor jou vers.

Hierdie vrou van Afrika: Dit is ‘n aangrypende vers. Goed bewoord en wel deurdag. Ek wonder of daar ‘n manier sou wees om die herhalende ‘U’ effe in te kort? Dit is ‘n teken van eerbied, ek verstaan, maar vir my dra dit nie by tot die gedig nie. Dit kan gebruik word, verstaan my reg, maar minder sou meer wees in hierdie geval.

Soms: Dit is aards, eenvoudig en pragtig. Miskien sou geselekteerde leestekens kon bydrae tot die sagte toon, maar ek dink die enkambiese aanbieding werk ook mooi. Ek sou die eerste sin in die 2de strofe so aanbied: ‘soms, die somerson’ wat die herhaling van ‘is jy vir my’ funksioneel kon vermy. Pragtige, eerlike vers.

Skedelkus: Dit is ‘n besonderse mooi en beskrywende gedig. Jy het die mooi woorde en beelde gebruik wat die leser sommer sintuiglik saamvoer tot daar waar al die beelde geskep word. Die sin “waar heuwels teen die blou lug welf” ontgin ‘n tasbaarheid en selfs vanaf die eerste sin in hierdie gedig is die leser (asof self daar) betrokke en intrigant. Welgedaan.

Die skande van my hande: Jou Villanelle is geslaagd. 19 lyne. Slegs 2 rympatrone en herhalende sinsnedes. Ek weet nie of dit jou eerste poging met hierdie digvorm is nie, maar as dit is het jy jou baie goed van jou taak gekwyt. Jy kan jouself op die skouer klop. Dit is net die titel waarmee ek ‘n effense bloutjie loop: ek bring nie werklik die titel in verband met die res van die tema nie. Miskien verstaan ek iets verkeerd. Jy kan gerus per inboks vir my verduidelik waarom dié titel jou keuse was.

RUBRIEKE:
Sagte blou oë agter ‘n goue raam bril: Ek het die inligting hierin leersaam gevind. Die aanbieding is deurdag en die insluiting van sy mooiste verse dra by tot ‘n goeie rubriek. Goeie navorsing en aanbieding.

VERHALE:
Dora se mooiste dag: Alhoewel ek baie van die verhaal gehou het vanuit ‘n ander hoek. ‘n Bekende verhaal wat vars aangebied is. Die opdrag is egter nie nagekom nie. Jou verhaal maak geen verwysing na die besondersheid van digkuns op die kunste nie.

Baie dankie vir almal se deelname. Ek vertrou hierdie nuwe aanslag, wat persoonlike kommentare en raad insluit sal bydrae tot die ontwikkeling van almal se skryftalent.
Lekker skryf.
IM




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Viooltjie

    10 April 2018

    Baie geluk aan al die wenners 😊 En ek wil net ‘n baie groot dankie aan IM sê vir jou harde werk. Jou kommentaar is baie werd vir my, want dit help my om te weet hoe ander mense my werk ervaar.

  2. Estelle

    11 April 2018

    Baie dankie vir jou terugvoer, baie waardevo9l en word waardeer!
    Geluk aan my ander digtersmaatjies!

  3. Estelle

    11 April 2018

    Baie dankie vir jou terugvoer, baie waardevol en word waardeer!
    Geluk aan my ander digtersmaatjies!

  4. Ano

    31 Desember 2018

    Dankie IM!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 126

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 38 gaste aanlyn

Bydrae Totale