Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Liefde in die suburbs

Deur LieslSaayman
Datum gepubliseer: 12 Januarie 2020 Aantal woorde: 2120 42 Kere gelees 1

Liefde in die suburbs
Dit is ‘n snikkende warm dag in Februarie. ‘n Kaapse warm wat jy kry wanneer Kapenaars lank genoeg gekla het oor die wind wat konstant waai en dan een dag waai dit nie. Dan kla almal weer oor die hitte en as daar tog net wind was wat lafenis wil bring. Dit is Saterdagmiddag en Alyssa is rusteloos, kriewelend. Dit is asof sy nie kan stil sit met die diep onderliggende irritasie in haar nie. Sy is nie lus vir by die huis sit nie en sy hoef ook nie, maar sy wou ook nie die vyfde wiel aan die wa wees nie. Andrea en SJ het gesê dat sy haar sak moet pak en saamkom die naweek Paternoster toe, maar sy wou nie. Sy is reeds meeste van die tyd die oorbodig in haar huismaat se verhouding, sy wou dit nie nog ook wees op hul naweek weg nie. Veral nie met die planne wat sy vermoed SJ het vir die naweek nie. Dit is nie sommer net vir ‘n naweek weg wat hy en Andrea besluit het om sy oom se huis te gaan oppas nie. “Daar is ‘n jacuzzi,” het hy vir Andrea vertel. “Een wat uitkyk oor die see terwyl die son ondergaan.” Sy is vas oortuig dat Andrea môre aand terugkom met ‘n vet verloofring aan haar vinger. Dan gaan sy moet op en af spring en opgewonde wees en vir die volgende wie-weet-hoelank moet hoor hoe wonderlik liefde is, hoe sy ook nou iemand moet kry of nog een van SJ se geskeide pelle op ‘n blind date moet gaan vermaak. Argh en die troue, dan moet sy nog ‘n metgesel ook kry. Asof Februarie nie erg genoeg is met sy soetsappige liefdes nuances nie. Sy het geglo dit is net tot die 14de, maar nou gaan Februarie vir ‘n ewigheid seker aangaan.
Skielik voel Alyssa skuldig oor haar suur gevoelens. Andrea en SJ verdien geluk en hulle is goed vir mekaar en hulle is goed vir haar. Hulle liefde is so perfek en eg, tog voel dit vir haar asof hulle liefde net die ewige ontwyking van liefde in haar lewe highlight. Laat uitstaan soos ‘n vinger met ‘n onsigbare papercut wat altyd iewers wil stamp en seerkry. Hoe druis haar ma se woorde ook nou nog deur haar kop, “Alyssa is mos picky oor mans. Nooit is daar een goed genoeg nie. Always the bridesmaid, never the bride.” Wel, haar ma is verkeerd. Sy was eens ‘n bruid. Oftewel amper, naby genoeg in haar oë in elk geval. Sy was Gustav se bruid, sy was verloof en alles. Sy het die rok gaan pas en die kos geproe, sy het die uitnodigingsontwerp, laat druk en ja, gepos ook. Sy het dit alles gedoen. Sy was ‘n bruid. As sy net nie die uitnodigings gepos het nie, sou dit soveel makliker gewees het.
Dit was juis die dag nadat sy dit gepos het wat Gustav die aand laat by haar huis opgedaag het. Hy het verward en verslons gelyk. Hy het op haar bank gesit en voor hom uitgestaar vir ‘n lang ruk, asof hy eers iets moes herkou voordat hy dit kan sluk. Sy het hom jammer gekry en vir hom ‘n glaswyn geskink. “Ek het jou verneuk Alyssa,” sny sy woorde deur haar siel.
Etlike ure nadat hy alreeds sak en pak uit haar lewe was, het sy die gebroke glasstukke van die vloer af gaan optel. Kristal skerwe, verpletter met impak op die vloer. ‘n Glasskerf het haar gesny en agterna was sy vir ‘n ruk lank nie seker wat het die meeste pyn veroorsaak nie. Was dit die diep sny van die glas in haar handpalm of die diep sny wat Gustav se skuld oorgawe oor sy eie ontrouheid, in haar menswees gelos het?
‘n Onverwagse ontmoeting met ‘n hoërskool eks van hom het in ‘n vinnige liefdesrendezvous verander en sy planne om met Alyssa te trou in die wiele gery. Gustav, die arme slagoffer van sy eie manlike drange. So het hy aan haar die kansellasie van hul troue verkoop. Dit was die storie wat sy vir almal moes vertel toe hulle RSVP om die liefdesviering by te woon.
Dit was lank terug, meer as 10 jaar al en sedertdien is daar ‘n lang en eentonige pad van mislukte romanse, ongemaklike afsprake en al hoe meer kwynende hoop. Eintlik met haar veertigste verjaarsdag om die draai, dink Alyssa nie eers meer aan haarself as ‘n moontlike bruid nie, sy stel nie meer belang om voor die preekstoel ewige trou aan iemand te gaan sweer nie. As sy soms met genoeg wyn in haar are, eerlik is met haarself en net met haarself, sal sy erken dat sy mis eintlik net iemand om lief te hê. Seker die versorgersdrang wat veronderstel is om in haar te wees. Sy weet sy gaan nie meer kinders kan baar nie, maar as sy net nie na ‘n leë huis toe hoef terug te kom nie, sou dit alles die moeite werd wees.
Sy wonder hoe lank gaan dit wees voordat haar huis weer gaan leeg wees, hoe lank dit voor die troue gaan wees, wanneer gaan Andrea wil uittrek, gaan sy al by SJ wil intrek voor die troue? Die gedagte aan nog ‘n vreemde persoon waaraan sy weer gewoond moet raak laat haar in sweet uitslaan, of miskien is dit die ondraaglike hitte. Sy besluit om lugversorging te gaan opsoek in die nabygeleë winkelsentrum. Sy sien dit as ‘n voordeel in voorstedelike bestaan, daar is altyd ‘n winkelsentrum naby waar jy in totale eensaamheid kan gaan sit en tog nie oorweldigend alleen nie. ‘n Miernes van bydrywige mense om jou, vir wie jy deursigtig is.
Dit is dan met hierdie gesindheid wat sy in een van die rusbanke teen die muur wegsak in ‘n bekende plek se rokersarea. “‘n Sameswering van die goddeloses,” kom haar ma se veroordelende woorde by haar op, soos wat sy haar eerste sigaret aansteek oor ‘n klingelende glas ystee. Vanuit haar deursigtigheid fynkam sy die mense om haar en met ‘n direkte uitkyk op die roltrap is daar konstant nuwe materiaal om te oordeel. Vanuit ‘n superieure posisie gegrondves in haar eie selfmartelende innerlike kritici word elke man geweeg en te lig bevind. Haar hewigste kritiek val egter altyd op vroulike element in paartjies. Die alombekende, holruggeryde vraag wat haar soms waansinnig maak is, “Hoekom hulle en nie sy nie?”
En toe was daar Dirk. Dirk wat haar fyn observasie en ewige kritiek ontsnap het, asof hy haar kon sien in haar deursigtigheid en haar bekruip het. Dirk wat haar ruimte binnegedring het sonder dat sy besef het. ‘n Meester in kamoeflasie tussen tafels en stoele, koffie koppies en draffende kelners. “Ekskuus, het jy dalk ‘n lighter wat ek kan leen?” het die vraag onverwags van die tafel langs haar gekom. Alyssa het eers omgekyk of hy met iemand anders praat en toe besef daar is nie nog mense in die rokersarea nie. “Sekerlik,” het sy geantwoord en dit uitgesteek na hom. Met ‘n hand wat deur die lug tas, het syne hare gevind en vlugtig kontak gemaak voordat hy die lighter by haar geneem het. Aantreklik, het ‘n sporadiese gedagte sy plek gevind terwyl haar brein besig is om die man te weeg en te weeg en nogsteeds voel hy nie te lig nie. Met ‘n “dankie”, steek hy haar lighter weer terug uit na haar toe en sy wonder of sy ook maar sy hand vir ‘n rukkie mag raak wanneer sy dit neem. Net vlugtig kry sit dit reg om te skuur teen sy hand in die oorhandigingsproses en die kontak word deur hom begroet met ‘n stil en diep glimlag.
Die vreemde ervaring skuif skielik Alyssa se verwysingsraamwerk in ‘n nuwe en ongewone dinamika in. Uit die ongemak van die vreemde ontstaan daar ‘n gemak met die man wat homself dan non-chalant voorstel asof hy gevra is om uit te brei oor homself. “Alyssa” antwoord sy terug. “Ek weet” antwoord Dirk. “Jy kom gereeld hier.” Alyssa is onseker of sy geaffonteerd moet wees oor die man haar doen en late ken of gekomplimenteerd deur die feit dat iemand haar in haar deursigtigheid raakgesien het. Sy antwoord egter met ‘n neutrale, “Ek doen ja. Ek hou van die kos. Wat is jou rede hoekom jy so baie hier kom?” “Jy bestel nooit iets om te eet nie.” kom sy antwoord onkant. “Hoe weet jy dat ek nooit iets eet nie?” ontsteld oor die man wat sy nog glad nie gesien het nie, haar fyngenoeg dophou om te weet dat sy nie eet nie en tot ‘n meerdere mate ook omdat sy bloedrooi uitgeslaan het soos ‘n belaglike bakvissie toe sy op haar leuen uitgevang word. “Dit is my werk om alles te weet wat aangaan.” antwoord hy met ‘n glimlag. “Jou werk? Wat maak my doen en late nogal jou werk?” vra sy nog steeds effe op haar agtervoete oor die onverwagsheid. “Nie jou doen en later nie, alles wat hier aangaan is my werk. Die kans om jou vandag beter te leer ken, is egter wat werk ‘n plesier maak.” antwoord hy spelerig terug.
Alyssa dink dat hy haar glad nie ken nie, maar tog voel sy of die man besig is om haar leisels in te trek en sy kla glad nie daaroor nie.
Die verhaal van Dirk ontsluit ‘n nuwe wêreld vir Alyssa, dit ontsluit nuwe gevoelens en hoop. Dirk die sjef wat vir etlike jare in Europese restaurante allerhande puik disse opgetower het. Wat daarna in New York vir net die beste gewerk het en bekend was in die kompeterende mark vir sy kreatiewe kookkuns. Dirk wie onverwags moes terugvlieg Suid-Afrika toe vir sy ma se begrafnis. Enkelkind in die voorstedelike Kaapstad, alleenloper, weeskind na sy ma se dood. Dirk die enkellopende sjef, die sogenaamde casanova in the kitchen, die man wie se loopbaan as wêreldklas sjef kortgeknip is oppad terug lughawe toe, nadat die bestuurder van sy uber moes uitswaai vir ‘n sementblok in die pad net voor die lughawe se ingang en die motor gerol het. ‘n Ongeluk waarin Dirk bykans niks oorgekom het nie, behalwe dat hy sig in beide oë verloor het. Dirk wat besluit het om nie te gaan lê nie en met sy erfgeld het hy sy liefde vir kos voortgesit en ‘n koffiewinkel in die winkelsentrum naby sy huis, sy ma se huis gekoop het. Dirk wat elkeen van sy gereelde klante uitken aan die manier hoe hul loop, hul stemme en hoe hul ruik. Hy ken hul voorkeure en afkeure. Sonder sig sien hy nóú meer as ooit vantevore. Dirk die man met die sensuele mond en die donker hare wat leksel grys op sy slape wys, Dirk met sy diep donker blinde oë wat vir Alyssa in haar deursigtigheid raakgesien het. Dirk, wat verligting gebring het in haar lewe net soos die weggewensde wind op ‘n warm Februarie dag, wanneer dit laatmiddag sy opwagting maak. Haar Dirk.
Dit is ‘n warm Sondag in Februarie, maar die koel seebries bring verligting en verfrissing vir almal wat die keuse gemaak het om die voorstedelike te verruil vir die vryheid van die strand. Alyssa geniet die warmte waar sy in die yskoue water van Bloubergstrand stap. Die bekende koue van die Benguela seestroom om haar voete balanseer die hitte uit van die Februarie son.
Alyssa is nog op ‘n euforiese wolkie na gisteraand se troue. Wat ‘n fees het Andrea en SJ nie gehad nie. ‘n Ware liefdesfees. Gisteraand was hul sprokiestroue op ‘n Stellenboschse wynplaas presies ‘n jaar na hul verlowing. Wanneer sy dink aan haar twee vriende se liefde, twee mense wat werklik een geword het en mekaar aanvul tot ‘n beter eenheid, twee mense se halwe hoop op ‘n goeie lewe, word saam een fenominale hoop op die waar word van groot drome. Die liefde is tog asembenemend dink sy, terwyl sy aanstap in die koel water. Aanstap op die strand na hom toe, Dirk, haar verloofde. Aanstap na die man in haar hede en toekoms en tog eintlik as sy nou terug dink, voel dit of hy nog altyd ook deel was van haar verlede. Die man wat hom nooit blindgestaar het teen haar deursigtigheid nie en haar raak gesien het.
Om enkellopend te wees beteken nie gebrokenheid nie, dink sy by haarself, maar om lief te hê, bring ‘n nuwe vlak van heelheid wat sy voorheen nie besef het nie. ‘n Magiese ervaring van meer as een wees en tog ‘n eenheid. Nog 2 maande tot hul troue. Sy het gister al die uitnodigings uitgestuur. Die keer via epos, net vir ingeval.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    13 Januarie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 4
Kommentaar telling: 1

Woorde is my verfkwas waarmee emosies, herinneringe en gedagtes gekleur, geskep, geglans en gepoets word totdat daar 'n trilling van begrip, van stille onthou by die leser vibreer

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 57 gaste aanlyn

Bydrae Totale