Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Lied van die natuur

Deur Driekie
Datum gepubliseer: 20 September 2019 Aantal woorde: 353 63 Kere gelees 1

“As ek moeg word vir die lewe in die stad …”
Soms het mens nodig om bietjie weg te breek. Om weer stil te kan word en die eenvoud en ongekunsteldheid van die barre natuur te voel en te beleef.
Dit het ek weereens besef toe manlief uit die bloute voorstel dat ons vir ‘n week gaan uitspan op ‘n wildsplaas in die hartjie van die bosveld.
‘n Plek waar die stilte en rustigheid diep in jou gemoed kom trap en fyn stofspoortjies agterlaat.
‘n Plek waar jy die natuur kan hoor en toelaat dat dit jou sintuie afstof en opnuut bekoor.
Wanneer mens diep stil word en selfs jou binne lawaai hokslaan, hoor jy die lied van die natuur. Bome wat saggies sing, hul takke swaaiend in die wind met blare wat applous op elke fluisterkraak.
Soggens, wanneer die son sy perskewang oor die rante stoot, hef verskillende voëlspesies hul loflied aan om die nuwe dag vrolik te verwelkom.
Jy hoor die proes van ‘n bok wat naby wei, die skwatter van eekhorinkies in die bome hier bo jou wat luidkeels oor een of ander iets gesels of stry.
En as jy gelukkig is sien jy die lui, gemaklike gang van ‘n kameelperd wat stadig, statig verbystap, stil gaan staan en sy kop draai om jou vanuit die hoogte met sy groot langwimperoë stip aan te kyk.
Niks jaag jou nie, tyd is geen faktor nie. Geen dringende e-posse of telefoonoproepe wat wag of gemaak moet word nie.
Met ‘n stomende beker koffie groet jy die dag en kan vir ure buite sit en net luister. Die vrede om jou dorstig indrink en jou siel verkwik met die lied van die natuur.
Na ‘n salige dag van ontspan en lang engte se stap of rondry in die veld, sit jy salig terug en staar na die dansende vlamme van ‘n knetterende vuurtjie, wat saamsmelt met die groet en nagsê van die natuur voordat die nag sy swart wolkombers oor alles kom trek.
En wanneer die natuur uiteindelik tot ruste kom, hoor jy die veraf huil-roep van ‘n jakkals wat ontwaak.
©Driekie Grobler




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 32
Kommentaar telling: 128

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 116 gaste aanlyn

Bydrae Totale