Jongste aktiwiteit:

LEEF LIG HIERDIE SOMER (Brons)

Met die aanbreek van ‘n nuwe seisoen is daar altyd so ‘n afwagting in die lug, veral na die winter. Die afgelope winter was, soos alle voriges, maar koud en dood vir die meeste. Maar … 2020 se winter het eise gestel bo almal se verwagting. Tog is daar mense wat floreer in die winter. Mense wat hou van die snoesige slaap, die heerlike warm trooskosse, soos sop, melkkos, bredies, ens.
Meeste van ons sien uit na elke nuwe somer. Wanneer die natuur homself begin klee met ‘n blommerok, begin daar so ‘n fonteintjie van vreugde en nuwe lewe ook in die mens ontspring. Die vrolikheid en ywer van die voëls wat vrolik kwetter en nuwe nessies aan boomtakke bou, steek ook ‘n opgewondenheid in ons harte aan die brand. ‘n Begeerte om die vensters wyd oop te gooi, die winterstof weg te vee en die skoon, vars lug diep in ons longe in te trek. Selfs ‘n loflied (saam met die voëls) aan te hef in dankbaarheid. Nog ‘n somer wat ons gegun word!
Somers is saamwees-tyd, kuier-tyd …
Somers is ligter as winters. Fisies en emosioneel. Dink maar aan ons kleredrag. Te veel en te dik klere kan swaar en ongemaklik raak, net so kan te veel kommer en klagtes ook baie swaar op ons gemoed lê, en daarvan het ons die afgelope winter meer as genoeg gehad, veral as gevolg van die gedwonge afsondering. In die winter broei ons onder warm, dik komberse, en net so kan ons ook in ons gemoed begin broei oor goed wat gesê is of wat gebeur het, natuurlik tot ons eie nadeel.
Maar, ons leef ligter in die somer. Ligter klere, ligter kos, ligter beddegoed, ligter gemoed, ens.
Kom ons laat die somer in ons gemoed toe, na 2020 se koue, neerdrukkende winter. Gooi die vensters van jou hart wyd oop en begin met “spring cleaning”. Stof af al daardie donker gedagtes; daardie wroeg oor goed waaroor jy geen beheer het en waaraan jy niks kan verander nie; daardie ongelukkigheid omdat ander mense anders dink en doen as jy; daardie ontevredenheid omdat jy nie altyd jou sin kan kry nie, daardie jaloesie omdat ander beter af is as jy; daardie afgunstigheid en verwyte; daardie smagting en verlange na samesyn. Gebruik die verestoffer van VERGIFNIS en AANVAARDING, want dit is al hoe jy van al hierdie onnodige lading ‘stof’ in jou gemoed ontslae gaan raak.
Wanneer jou huis en hart weer deeglik skoongemaak is, en jy die winter finaal weggepak het, gaan jy ligter voel en kan jy weer met verwagting uitsien na ‘n nuwe somer vol belofte. Dalk nuwe projekte aanpak; goed klaarmaak wat jy lank gelede begin het, maar mettertyd van vergeet het, dalk nie meer lus voor was nie; nuwe vriendskappe bou.
Die lewe is mos ‘n geskenk uit God se hand en dit berus by elkeen van ons WAT ons daarmee maak.
Ek het onlangs hierdie gesegde raakgelees en dit het my tussen die oë getref:

“die grootste
TRONK
waarin mense
kan leef, is
die VREES
vir wat ander
mense dink.”
Ek ken daardie vrees en het jare gesukkel om daarvan ontslae te raak. My ma het ons altyd as kinders vreeslik bewus gemaak van ons voorkoms en optrede “oor wat ander dink” totdat ek haar vergewe het en hierdie onnodige swaar las van my kon afstof.
Kom ons leef in hierdie nuwe somer wat nou aangebreek het ligter, kom ons wees dankbaar vir die voorreg om nog hier te kan wees om dit te kan geniet en maak dit die beste somer van ons lewe! Vergewe en vergeet en geniet die samesyn van jou geliefdes in hierdie feesseisoen.
©Driekie Grobler (611 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed