Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KUIERS BY MY OUMA OP UNIONDALE 3

Deur Lorraine
Datum gepubliseer: 2 September 2020 Aantal woorde: 1781 59 Kere gelees 1

Of daar nie wragtag met my volgende kuier by my ouma wéér ‘n begrafnis is nie! Díé keer is dit ‘n van ‘n geliefde familielid wat afgesterf het en word daar ‘n properse familie begrafnis gehou. My ouma se susterskind is dood.

Antie Bybie is dood in haar kombuis voor die stoof aan haar hart. Sommer net so. My ouma se suster, Ant Nelie, wie se jongste dit is, leef nog. Haar vier oudste kinders ook. Oom Sarel is twee jaar voor Antie Bybie dood (dis Antie Bybie se pa). Ant Nelie vat dit sleg. My ouma vat dit ook sleg. Sy kook en bak vir die begrafnis, maar sy vee kort-kort die trane af, dan sê sy: “Ag, die Bybie was so ‘n dierbare kind! Altyd iets oor gehad vir haar naaste. Vir al wat ’n welfare organization is gewerk. Haar man en kinders op die hanne gedra… ai, die Bybie…”

Ek het vir Antie Bybie geken. Sy wás regtig ‘n gawe tannie. Sy het altyd Hertzoggies, wat sy self gebak het, gebring as sy vir Ouma kom kuier. Dan slaap sy in die spaarkamer en die hele kamer ruik soos lavender as sy more weer ry. As dit vakansie was het sy altyd vir my niekerbôls saamgebring, want sy het geweet ek is vakansies by Ouma. Ek huil ook sommer as ek aan Antie Bybie dink en dan sê ek:”Ai die Antie Bybie tog!” So help ek vir Ouma kook en bak en voor ons weet is dit die dag van die begrafnis.

Ek vra vir Ouma of ek Emmerentia se swart trourok wat in die groen koffer lê maar mag dra vir die begrafnisdiens. Ja, sê my ouma. Antie Bybie was ‘n goeie kind, jy mag maar die rok dra as ‘n laaste eerbetoon.

Van heinde en verre kom die familie aan, want almal was vir Antie Bybie lief. Die eerste om aan te kom, is die naby familie – Ant Nelie kom saam met die oudste broer en sy gesin. Die susters het vir mekaar nie woorde nie my ouma en Ant Nelie hou mekaar net vas en huil. Die oudste broer staan buite op die stoep en rook. Sy vrou huil en wag vir die res van die sibbe om aan te kom. Later is almal daar en Ou Dominee preek van die stoep af dat selfs die onbekeerdes die doodsengel sien. My oë soek na Ouma. Ek sien haar nêrens en almal is al in die stoet aan die beweeg kerkhof toe. Eindelik kry ek haar op die agterstoep.

Ek vra: “Gaan Ouma nie kerkhof toe nie?” Ouma sê nee, sy het na alles nie krag vir die kerkhof nie. Sy het vir Ant Nelie gesê haar enkels is te geswel vir die ent se stap en sy moet buitendien sien dat die begrafniskos en teegoed uitgesit word. “Is Ouma se enkels baie seer?” vra ek. My ouma sê nee, haar enkels is fine, maar sy sien nie kans vir die verrigtinge in die kerkhof nie. Ek vra hoe bedoel sy. My ouma sê: “Dit maak nie saak hoe geliefd die oorledene was nie, daar is altyd mense met duistere motiewe by ‘n begrafnis.” Nou is ek heeltemal gekonfoes, maar ek dink ouma sien ek slaan “NO SALE” soos ‘n plaas till en sy verduidelik verder. “Daar is altyd die grafspringers en aandagsoekers en afshowers wat net begrafnis toe kom om te kom wys hoe ryk en hoe grand hulle geraak het sedert die familie hulle laas gesien het. Die helfte is in elk geval net hier vir die begrafniskos”. Ek wonder wat is ‘n grafspringer en Ouma sê: “Loop trek vir jou iets anders aan en hardloop kerkhof toe dan kom vertel jy my wat jy gesien het.”

Ek trek vinnig ‘n ou rok aan en sit af kerhof toe. Ant Sarie is ‘n verlangse niggie van Antie Bybie en díé huil vreeslik. Dit ween hard en aanhoudend en klou aan haar man vas. Ant Nelie, wat die má is, huil net saggies en wil-wil flou word, maar die oudste seun is aan sy ma se sy en ondersteun haar as die dinge vir haar te veel wil word. Antie Bybie se twee broers staan net daar met kurkdroë oë en die twee ouer susters ruk soos hulle snik. Next moment skreeu Ant Sarie;”Nee, Bybie, nee! Hoe sal ons sonder jou lewe!’ en sy mik om in die graf te spring. Haar man gryp haar vas en sê kliphard: “Gedra vir jou! Jy het vir Bybie tien jaar laas gesien! Hier is mense wat regtig hartseer is!” Ant Sarie skrik haar skoon stil en Ou Dominee is sommer van sy koers af. Nou weet ek wat ‘n grafspringer is.

“Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” sê Ou Dominee vir ‘n tweede keer.
“Verskoon my, Ou Dominees.” verbreek Oom Ben die stilte. (Oom Ben is Antie Bybie se oom aan haar pa se kant . Ek ken hom nie en ek sien Antie Bybie se susters rol net hulle oë). “As die familie my tog sal vergun om oor Bybie ‘n woord of twee te sê.” Ou Dominee het nie regtig ‘n keuse as hy nie ‘n scene wil maak nie en die familie ook nie en Oom Ben trek daar weg met ‘n toespraak waarvan jy die gelyke nog nie eens in die parlement gesien het nie! Dis seker die aandagsoeker dink ek.

Na wat soos ses ure voel, kom almal weer bo by die huis aan om begrafniskos te eet voor die familie wat ver bly weer in die pad val. Sara en Selina en díé se twee dogters is almal stemming in swart voorskote geklee en bedien die begrafnisgangers.

Ek kry vir Ouma op die riempiesbank op die voorstoep. “Wat het jy gesien?” vra my ouma.
“’n Grafspringer en ‘n aandagsoeker.” sê ek. My ouma sê ek sal nog die afshower ook sien. Ek wil weet hoe mens weet wie is net hier vir die begrafniskos. “Hou die borde dop.” antwoord sy. “Díé wat hier is vir die kos se borde is oorlaai. Hulle vreet of daar more niks kos op die aarde gaan oor wees nie!” Ek kyk by die voordeur in na die begrafnisgangers. Daar is sowaar ‘n hele klomp wat rondloop met oorvol borde. Hulle gesels asof hulle nie tien minute terug langs Antie Bybie se oop graf gestaan het nie. Die meeste van hulle is dik. Twee van die anties is seker professionele begrafnisgangers, want hulle sweef in somber kleurige tente daar rond en nie een van die twee het enkels nie. My ouma vra of ek kan sien wie is die begrafniseters en ek sê ja, sy het mooi verduidelik ek het hulle sommer dadelik uigeken. Die mense wat regtig hartseer is oor Antie Bybie eet omtrent niks.

Nou moet ek nog net die afshower sien.
Ek vra my ouma wie die afshower is en ek weet sy wil sy dit nie vir my maklik maak nie. My ouma sê net ek moet kyk vir iemand wat verwoedelik grand probeer lyk. Ek kyk rond, maar daar is seker omtrent so vier van die anties wat lyk of hulle uit ‘n modeboek uitgestap het. Die een het so ‘n wulpse grys bolla hoog bo haar nek met flirtkrulletjies wat voor haar een oor uit die bolla losgekom het. Sy lyk eintlik vir my baie mooi – al is haar oë bloedrooi gehuil. Sy het sagte make-up aan en ‘n lang string pêrels hang om haar nek. Sy het ‘n navy slooprok aan met fraaings rondom die soom just for good measure. Ek wys haar vir ouma en sê dis seker sy, maar my ouma sê ek is verkeerd. Dit is Antie Bybie se ousus en sy dink sy is grand nie, sy is altyd so: vreeslik elegant, maar die liefde self. Moet net nie vir haar antie sê nie, want sy sê dit is platvloers. Sê vir haar tannie of Nelia, net nie antie nie. Jy kan seker vir haar professor ook sê want sy is ver geleer in Hollands, Duits en Frans.Sy gee klas by die universiteit in die Kaap. Die vrou sal ‘n floute kry as jy vir haar Antie sê en wie wil dit nou op ‘n begrafnis sien gebeur! Ek kry groot respekte vir tannie Nelia.

Ek wonder van voor af oor die afshower. Nou bekyk ek die karre wat op die werf rondstaan. Die meeste is ou karre. Daar staan net ‘n handvol wat vir my nuut lyk. Die een kar is so ‘n lang, slappe. ‘n Valiant, sê my ouma. Ek dink dit is ‘n bitterlike duur kar, maar dit is nie vreeslik flashy nie. Wie se kar is dit wil ek by my ouma weet. “Nelia s’n.” sê sy. Dit maak dadelik vir my sin en ek weet sommer dis is nie die afshower nie. Daarvoor het tannie Nelia te veel class. Sy is nie die soort wat nodig het om af te show of ‘n entrance te maak nie. Jy weet sommer net as sy in ‘n vertrek is – selfs die vloekbekke praat nie vieslik as sy naby is nie.

Daar staan ook ‘n nuwerige Volkswagen Beetle, ‘n BMW wat niks ouer as twee jaar is nie en ‘n splinternuwe Ford Cortina MK 3. Die Cortina is so ‘n flashy bloue. “Wie se kar is die bloue?” vra ek my ouma. Sy wil weet hoekom. Ek sê ek dink dis die afshower s’n. My ouma sê ek is reg en beduie na ‘n man van so in die veertig. Hy maak seker dat hy elke familid groet. Hy dra ‘n grys wye pyp langbroek, ‘n swart kraaghemp en ‘n pull over volgens die nuutste mode. Sy hare is langerig en binne toe ge-blow wave. Hy dra ‘n dik goue ketting om sy een pols en ‘n groot goue horlosie op die ander. Aan sy pinkie is ‘n goue ring met ‘n swart steen. Aan sy arm hang ‘n blonde vrou wat ten minste vyftien jaar jonger is as hy.
“Wie is dít?” vra ek – my bek hang oop.
“Dít,” sê my ouma, “is Bybie se grillerige neef en dít is die afshower!” Ek vra wie die vrou aan sy arm is. “Who knows!” sê my ouma. “Sy vroumense is soos sy karre. By elke begrafnis, doop of troue moet hy kom afshow met die nuutste een!’

Dan sê sy: “Dít is hoekom ek familie byeenkomste verpes. Die familie wie ek lus het om te sien, sal ek voor loop kuier.” Sy snuif weer ‘n slag en druk haar sakdoekie teen haar oë: “Ai die ou Bybie tog…”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 79 gaste aanlyn

Bydrae Totale