Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KUIERS BY MY OUMA OP UNIONDALE 2

Deur Lorraine
Datum gepubliseer: 22 Oktober 2019 Aantal woorde: 1201 49 Kere gelees 2

Een vakansie is ek by my ouma op Uniondale toe iemand kom sê Dorothy is dood.
“Wie is Dorothy?” vra ek, want van haar het ek nog nooit gehoor nie. My ouma sê dis haar niggie van Oos-Londen. Ek sê vir my ouma ek dink nie ek het haar al ooit ontmoet en my ouma sê ek het nie, want Dorothy was te grand vir ons. Ek vra hoe bedoel ouma nou en sy begin vertel.
“Haar naam was g’n Dorothy nie! Sy is Dorothea Jacomina gedoop en sy was van altyd af sommer net Thea. Het ook net standerd agt gehad en toe loop word sy ‘n nurse. Sy het in die verpleegsterstehuis ingebly en net so elke tweede naweek huis toe gekom om te kom kuier. Omtrent ses maande na sy begin nurse het, kom werk daar so ‘n maer Ingelse studentdoktertjie by die hospitaal en díé twee raak verlief. Haar pa en ma wil niks weet van die Ingelsman met sy verfynde maniertjies nie, maar Thea is verlief en bly sommer maande van die huis af weg van beneukgeit oor haar ma’le nie die doktertjie wil aanvaar nie. Haar ma huil en smeek, maar Thea sê as Niel nie welkom is in haar ouerhuis nie, is sy ook nie. Hy is die liefde van haar lewe. Haar pa en ma gee later bes en een maal ‘n maand ry die twee in die studentdoktertjie se nuwe kar (wat sy pa van oorsee af aangestuur het) uit na haar ma’le toe op King William’s Town. Die dokterjie noem haar Dorothy en sy dink dit is die mooiste ding wat sy nog ooit gehoor het. Haar pa en ma moun oor die Ingelse naam, maar Thea sê net sy verstaan nie hulle probleem nie, want hulle bly dan op ‘n dorp met ‘n Ingelse naam. So is die kuiers baie lank, want die Ferrreira’s kan nie Ingels praat nie en die doktertjie nie Afrikaans nie, maar my Oom Albertus en my Ant Malie se harte word sag vir die Ingelsman met die kar, want hulle voel alte grand as hy daar voor hulle huisie stop. Thea kom teen díé tyd al mooi reg met die Ingels en buitendien is vry allemanstaal. Na die doktertjie toe afgestudeer het, koop hy vir Thea ‘n duur ring en die twee raak verloof. Nie baie maande daarna nie, trou die hulle in ‘n Ingilse kerk – ‘n verskriklike affêre gewees. Sy ouers het van Ingeland af ingekom met die skip en al die gaste is na die seremonie by die kerk na die hotel toe waar daar geen onkoste vir die onthaal gespaar is nie. En so verander sy toe van Dorothea Jacomina Ferreira na Dorothy Whitehall. Hulle eerste kind ís dalk bietjie te vroeg gebore, maar ek het altyd my bedenkinge gehad.”
“Hoe só, Ouma?” vra ek grootoog.
“Hulle eerste dogter, Abigail, is sewe maande na die troue gebore. Ouma het jou al vertel dat dit nie rêrig die ooievaar is wat die babies bring nie. Alhoewel dit regtig kan gebeur dat ‘n baba te vroeg gebore word, het ek ‘n spesmaas dat hulle met seks beginne het lank voor hulle gelicense was om dit te doen.”
Ek sê toe haai ouma en sy sê ja sy moet seker nie so van die dooies praat nie. Mens moet darem respekte hê vir die dood. Ek vra of hulle ander kinders ook het en my ouma sê ja daar is nog ‘n broer en ‘n suster en die hele lot het sulke Ingelse name, want Dorothy het heeltemaal te grand geraak om vir haar kinders familiename te gee en buitendien, het sy gesê, pas Afrikaanse name nie by Whitehall nie. Die seun is so ‘n vaal tingerige rekenmeestertjie wat nooit tot trou gekom het nie. Henry is sy naam. Die ander dogter is Madeline en díé het ‘n wynboer van Stellenbosch getrou en is amper grander as wat haar ma was. Achenbach is haar van. Nie een van die kinders kon ‘n dooie woord Afrikaans praat nie, sê my Ouma, maar Madeline moes maar leer, want die Achenbach’s is van Hollandse oorsprong en so Afrikaans soos melktert. Die ergste van alles is dat daar nou ‘n graf met ‘n Ingelse naam in die familiekerkhof gaan wees. Sy beter loop bel en hoor van die begrafnis.
Daai jare het my ouma-hulle sulke slinger telefone gehad. Jy tel die foon op, draai die slinger en wag bietjie. Dan sê iemand anderkant in jou oor nommer asseblief. Jy gee die nommer wat jy wil bel en sit die foon weer neer. ‘n Rukkie later lui jou foon en dieselfde stem van netnou sê so singerig: “Deu-er…” en dan kan jy met die mense praat wie jy gebel het. Ek weet nie wat het bel met ‘n deur te doen nie, maar dis hoe dit werk.
My Ouma verdwyn in die huis in om te bel. Toe sy klaar haar nommer gegee het, kom sy weer op die stoep sit, want dit kan partykeer nogal ‘n rukkie vat. Die foon lui haar nommer – elke huis het sy eie lui. My ouma s’n is kort-kort-kort-lank. Sy verdwyn weer in die huis in. Sy is net ‘n kort rukkie weg voor sy weer uitkom. Sy is hoog ontsteld. Ek vra: “En nóú Ouma? Shame, is Ouma hartseer?” My ouma sê nee sy is nie hartseer nie, want díé grand Ingelse niggie het sy nie juis geken nie, maar sy sal my nou vertel as sy net eers weer haar wind terug het. Sy roep vir Sara om ‘n glas en “ounooi se brêndie” te bring. Toe weet ek iewers is die hel nou los, want my ouma vat nooit helder oordag brêndie nie – behalwe in ‘n krisis.
My ouma gooi ‘n twee-vinger-brêndie sommerso skoon in haar keel af. Sy hyg na haar asem van die skoon drank en dan gooi sy ‘n tweede een wat sy stadig vat. Ek wag, want ek weet nie of ouma nou al haar wind terug het nie. Daar sal nie ‘n graf met ‘n Ingilse naam op in die familie kerkhof wees nie, sê sy eindelik. Ek vra, maar is dit nie ‘n goeie ding nie? My ouma sê ja en nee. Ek verstaan nie mooi nie, maar ouma is nie klaar gepraat nie. Ja, want a) nou sal die kerkhof agter die wit ringmuur darem nie met ‘n Ingilse naam ontsier word nie want my oupagrootjie draai in sy graf om en b) sy sal haar nou ook nie hoef dood te werk vir ‘n familie begrafnis waar die helfte van die mense net aansit huil nie.
MAAR, sê my ouma, sy sien liewer die grand Ingilse niggie in die familie kerkhof as haar verstorwe siel in die ewige verdoemenis. Ek vra hoe nou en my ouma sê nee, die grand dogter van Stellenbosch het gesê Ouma moet nou nie oor ‘n begrafnis worry nie, want Dorothy se oorskot word saam met haar oorl’e Ingilse dokter op die wynplaas begrawe. Nádat, bid jou dit aan, stoom ouma voort, hulle haar lyk veras het – asof die satan nou hulp nodig het!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 15
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 96 gaste aanlyn

Bydrae Totale