Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KUIERS BY MY OUMA OP UNIONDALE 1

Deur Lorraine
Datum gepubliseer: 4 Junie 2019 Aantal woorde: 1787 196 Kere gelees Hou van

KUIERS BY MY OUMA OP UNIONDALE
Vakansies kuier ek by my ouma op Uniondale. Ek het ‘n Oupa ook daar gehad. My oupa was ‘n waterwyser en ‘n boorman. Eendag boor hy toe ‘n plaasboer naby Robertson se dogter in die ander tyd in. Toe die boer uitvind van die vleeslike boordery wat op sy werf met sy dogter gebeur, skiet hy my oupa net daar dood. Die skieter is toe tronk toe, die dogter maak haar boorkind alleen groot en my oupa lê ses voet onder die grond iewers in die dorpsbegraafplaas, want my ouma het gesê op Vreugdefontein in die familiebegraafplaas agter die wit ringmuur met die engel by die hek raak sy oorskot nie ter aarde gelê nie.
My ouma stel toe vir haar ‘n plaasvoorman aan. Of liewer ‘n plaasvoorvrou – haar naam is Toanette. Toanette boer dat die biesies bewe, my ouma gee haar min of meer vrye teuels en die boerdery gaan vooruit. My ouma gee toe vir Toanette ‘n aandeel van die inkomste van die boerdery en ‘n stukkie grond waar sy ‘n huis van haar eie keuse kan bou. Toe boer Toanette met ‘n begeesterdheid wat jy nog in min boere op die lyf geloop het. So worry my ouma nooit weer dat die plaas dalk sal agteruit gaan nie, sy het nooit ‘n probleem met geld nie en sy kan rustig in haar plaashuis met die groot rooi wraparound stoep bly. Rustig en onverstoord gaan my ouma aan asof daar nooit ‘n Oupa Uniondale was nie. Sy vertel nie en ons vra nie en so verdwyn Oupa Uniondale met die tyd asof selfs sy geboorteserifikaat by home affairs op sinistêre wyse uitgebrand het.
Kuiers by my ouma was vir my altyd hemel op aarde. Ek het die stoep gelove! Op die voorstoep was daar twee rocking chairs, ‘n riempiesbank en een van hierdie diep, ronde rottangstoele – spesiaal vir my (en die twee plaaskatte). Daar was ‘n groot witgeskropte tafel met swart en wit geverfde stoele vir wanneer mens op die stoep wou eet. Dan was daar nog steeds plek om ‘n tweedehandse meubelwinkel te begin, as jy wou.
Die stoepe rondom die huis en die agterstoep was so ‘n bietjie smaller, maar steeds groot genoeg dat al die kleinkinders (daar was een en twintig van ons – gebore van my ouma se vyf kinders) op matrasse daar kon slaap wanneer die hele familie by ouma was vir krismis.
Ek en Ouma het op die voorstoep gelewe! Maandae het Ouma nét op die stoep gesit vir tee tienuur en koffie vieruur, want dit was wasgoed en huis skoonmaakdag. Dinsdag- en Donderdagoggende was Ouma baie besig, want sy het gebak vir tuisnywerhede in drie naburige dorpe. Smiddae het sy gaan aflewer. Ek het altyd saamgepiekel, maar daar was Woensdae en Vrydae. Dan het Ouma op die stoep gesit en brei of hekel of blokraaisels invul. Ek het in die soetkyste op die solder gaan krap en met iets op die stoep kom sit en Ouma het die storie van die item vertel. Elke ding op die solder het ‘n storie gehad.
Soos die storie van die swart vere stola. Ouma het my vertel dat sy die vere present gekry het by ‘n Engelsman wie sy verpleeg het net nadat sy stafverpleegster geword het. Die Engelsman se pa-‘le het ‘n plaas in Rhodesië gehad. Ek het gevra waar is Rhodesië en toe sê Ouma dis Noord. Ek het eers later geleer dis die ou naam vir Zimbabwe. Anyway, toe ry die Engelsman eendag met sy fiets deur die veld en ‘n landmyn skiet sy een been mors-af. Hulle het hom na die hospitaal in die Kaap toe gestuur waar Ouma hom verpleeg het. Hulle het goeie vriende geword en toe die Engelsman die dag ontslaan word gee hy vir haar die vere om dankie te sê. Ouma sê sy was so half verlieferig op die Engelsman, maar sy kon nie daai tyd goed Engels praat nie en hy is buitendien vort om op sy pa se grond te loop boer met een of ander soort Rhodesië-vleisbeesras.
Vertel van die groen aandrok, Ouma. Nee, sê Ouma, sy laaik nie meer om die storie van die rok te vertel nie. Ek vra hoekom nie en Ouma kry daai veraf seer in haar oë en sy sê sy het al vergeet van daai rok. Sy staan op en maak ‘n vuur. Ek word ge-order om die rok te loop haal terwyl sy vuur maak. Toe die vuur mooi brand, staan sy op en gooi die rok in die vuur. Sy sien die vraag in my oë en sê: “Dit was die boorman se favourite.” (My ouma het nooit meer van Oupa Uniondale gepraat nie – en die odd kere wat sy nie daaruit kon kom nie, was hy die boorman”)
Sy stuur my om iets anders te gaan soek waarvan ek die storie vertel wil hê. Ek grawe in die groot, groen koffer en haal ‘n swart kantrok uit wat ek nog nooit gesien het nie. Dit is vrekmooi! Ek gaan terug stoep toe en Ouma vertel van die swart kantrok.
“Donkiejare en vyf eeue terug was daar ‘n Jood met ‘n kontantwinkel op Humansdorp. Hy het enige ding van tange tot naalde en koffie en klere verkoop. As ‘n vrou ‘n spesiale rok vir ‘n okkasie wou hê het die Jood se vrou dit gemaak. Sy was ‘n baie goeie seamstress. So bly daar toe op die dorp ‘n mooie meisie met die naam Emmerentia Scheepers. Emmerentia was verlief op ‘n seesoldaat wat sy op ‘n keer in Simonstad ontmoet het. Hulle het maar meesal met briewe gevry, want Simonstad is nou nie hier nie. Wanneer hy die slag of wat ‘n tydjie op land was, het hy by Emmerentia kom kuier. Dan bly hy in die losieshuis op die dorp en hulle twee loop hand-aan-hand die hele wêreld vol en soen dat die spoeg loop as hulle dink dat niemand hulle sien nie. Maar die langafstand-ding bly maar moeilik en die twee sien min van mekaar. Op ‘n dag kom daar ‘n vreemde kar in die dorp in gery en stop voor die Scheeperse se deur. Die dorpmense het te vertelle gehad dat jy net een helske gil gehoor het, toe ‘n slag en toe kom die vreemde seesoldaat by die Scheeperse se huis uit en ry weg uit die dorp uit. Vir Emmerentia sien niemand weer in die dorp vir jare nie! Die mense vra vir haar huismense en vind so uit dat Emmerentia se seesoldaat tydens ‘n storm op see vergaan het. Sy kom Sondae saam met haar ma’le kerk toe, maar loop dadelik weer huis toe sonder om ‘n woord met enigiemand te praat. Dan sien niemand weer vir haar nie, tot volgende Sondag.
Op ‘n dag besluit Emmerentia se pa dit kan nie so aangaan nie, Emmerentia moet trou dat die familie darem kan voortleef. Emmerentia wil niks weet nie, maar sy het dit nie in haar om teen haar pa of die lewe of die gang daarvan te baklei nie. Haar pa kry vir haar ‘n verlangse neef wat op Jansenville bly wat ook nie tot trou kan kom nie vir ‘n bruidegom. Die man kom kuier so drie of vier keer by Emmerentia en al praat hulle min, praat hulle darem – oor die weer en hoenderboerdery en so. Toe begin die twee ouerpare reël aan ‘n bruilof van ongekende proporsies. Al wat familielid en verlangse familie van familie word genooi met algar se gades en kinders. Emmerentia gaan sien die Jood se vrou en bestel vir haar die allerfynste kant vir haar trourok. Sy bestel genoeg lap om sewe van diesefde rokke te maak. Die rokke kom tot op die voete en het geen sleep of veil nie. Sy dreig die Jood se vrou met die dood as sy enigiets vir enigiemand, haar ouers inkluis, van die rokke vertel. Dit kos ouderling Scheepers ‘n jong fortuin vir die ‘trourok’, maar hy betaal dit gewillig om sy Emmerentia tog net weer aan die lewe te kry.
So kom die troudag en omtrent die hele gemeenskap paas uit toe Emmerentia met haar swart kantrok in die isle afgesweef kom. Sy het nie ‘n druppel grimering aan nie en haar skoon gewaste swart hare het sy net met ‘n swart lint in die nek vas gemaak. Sy lyk soos ‘n afgestorwene. Haar bruidegom lyk self soos ‘n spook toe hy haar sien en so wroeg die twee lewende dooies deur die seremonie en onthaal terwyl niemand kan ophou staar na Emmerentia en haar swart kantrok nie. Die rok is beeldskoon – die arme Jodevrou het haarself oortref om te probeer opmaak vir die kleur – maar dis SWART!
Na die bruilof is die twee daar weg Jansenville toe – hul toekoms saam tegemoet. So is daar toe nooit kinders nie, want elke dag doen Emmerentia haar plaasvrou pligte in een van haar swart trourokke en elke aand lees sy vir haar nuwe man een van die seesoldaat se liefdesbriewe wat hy met soveel passie vir haar geskryf het.
Drie jaar later kan die bruidegom van Jansenville dit nie meer hou nie en gaan laai vir Emmerentia by haar ma’le af. Die ding met Emmerentia gaan nie werk nie, sê hy vir die Scheeperse en vertel hulle hoe die huwelik tot dusver verloop het. Hy klim in sy kar en los vir Emmerentia net daar. Haar pa gryp die soetkys wat sy by haar het met al haar swart kantrokke in – behalwe vir die een wat sy aanhet en loop steek die hele soetkys net so aan die brand. Emmerentia druk haar handsak met die liefdesbriewe styf teen haar vas. Sy gaan trek haar swart rok uit en hang dit oor die stoel in haar kamer en sit die handsak met die briewe op die stoel neer. Dan gaan lê sy op haar bed – poedelkaal. Sy voel hoe die trane oor haar wange loop. “Totsiens, my lief!” sug sy as sy vir die handsak kyk en blaas haar asem uit.
Haar ma het haar later so gekry – dood op die bed met haar rouklere oor haar seesoldaat oor die stoel. Sy het die swart kantrok opgerol en in ‘n soetkys gebêre. Jou oorle’ ouma grootjie het op een of ander manier in die Scheeperse se testament beland en die groen koffer was tussen die klomp goed wat sy geërwe het. Sy het die spul erfgoed van die Scheeperse net so op die solder gebêre – waar jy dit vandag gekry het.”
Ek het gevra hoekom my Ouma al die goed hou. Al die goed het stories, het sy gesê en mens gooi nie stories weg nie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Kiekies

    5 Junie 2019

    En as sy het, kon ek nie nou daai storie lees nie. Dankie Ouma!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 15
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 87 gaste aanlyn

Bydrae Totale