Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KRUIP-KRUIP

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 22 April 2019 Aantal woorde: 964 295 Kere gelees 1

Dis April skoolvakansie. Na baie smeek en beloftes om ons deel elke dag te doen, het ma ingestem dat my liefde én Boeta se liefde, saam op vakansie mag gaan.

Soos altoos voor enige vakansie, bak ma genoeg koekies en beskuit vir ’n hele koshuis. Verder word daar ook met geblomde Sungleam lap vir elke meisiekind ’n nuwe sonrokkie gemaak. Dit maak my geensins opgewonde om tuisgemaakte rokke en boonop presies dieselfde as my sussie s’’n, te moet dra nie.

Wat my hierdie jaar egter baie opgewonde maak is dat ma ook vir ons elkeen ’n nuwe bikini op haar ou Singer aanmekaarslaan. My heel eerste bikini. Ma het glo die patroon in verlede maand se Sarie Marais gekry. En hierdie keer, dank Vader, hoef die meisiekinders nie weer dieselfde lap te hê nie. Dankie tog!

Sussie s’n word in bloubont rekkerige lap gemaak, maar myne word geskep uit ’n handdoekstof. In al my gunsteling kleure. Pers, blou en groen wat soos binne-in albasters, inmekaar en deurmekaar vloei. Ek kan nie wag om op daai strand te kom nie. Mensig, ek gaan sexy lyk!

So is die hele kaboedel in twee motors hier weg. Pa se ’71 goue Valiant en ousus se man se Hillman Vogue. Al tien van ons en almal se bagasie. Én kruideniersware vir twee maande, al gaan ons net vir twee weke. Ma glo aan ‘liewer te veel as te min’. Én die stoompot moet ook saam. Én natuurlik al die blikke koekies en beskuit, waaraan vier van ons een hele dag gestaan en bak het.

Ons land al voor middagete by die strandhuis en ek hoop ons kan sommer daai dag al strand toe gaan. Allesbehalwe! Ma het ander planne. Ons moet nou eers al die beddegoed van die beddens aftrek en opvou. Sy slaap g’n op ander mense se beddegoed nie. Ons trek die beddens van vooraf oor met die linne wat ook saamgery is. En toe moet die baddens, toilette en storte en die vloere met ontsmetmiddel uitgewas en afgewas word.

Ma kry solank die vleis, wat gevries was toe ons vier-uur vanoggend by die huis weg is en padlangs ontvries het, in die stoompot om sag te raak. Behoede ons as ons nie elke dag rys, vleis en aartappels eet, soos dit enige sout-werd Afrikaanse gesin betaam nie. Nie sommer net roosterbrood of iets vinnig soos die luigat Engelse nie.

Al wat ons van die strand te siene kry, is ’n wandeling voor sononder. Gelukkig is ma te pootuit om saam te stap en ek en Boeta en ons liefdes waag om hand aan hand te stap. Pa sien nie sulke goed raak nie. Hy soek goeie visvangplek en die regte rots om op te staan.

Die volgende oggend breek aan. Eers ordentlike ontbyt; mieliepap en melk. Daarna word ’n wavrag toebroodjies met roereier vulsel gepak. Rooibostee in die fles en koeldrank in die koelsak. Twee sambrele, matjies om die sand uit die handdoeke te hou, handdoeke, hoedjies, smeergoed, leesgoed en ’n soetigheid. Alles word in die ossewa gelaai. Nee darem nie so erg nie, maar as daar een beskikbaar was, sou dit handig gebruik kon word.

Skuins voor twaalf is die kaboedel op die strand. Alles wat opgeslaan moet word, is opgeslaan. Alles wat oopgegooi moet word, is oopgegooi. Uiteindelik kan ek my strand jakkie uittrek en my nuwe bikini, my eerste bikini, ten toon stel. Ek kan sien my liefde se oë straal en sy lippe tuit effe van genoegdoening.

Ons draf wulps oor die sand tot in die vlakwater met klein golf-walletjies wat uitrol oor ons voete. Die reuk van die see maak my altyd opgewonde. Dieper in, is die golwe groot en skuimend, maar as ons eers agter die krullende waters kan kom, word mens net rustig op-en-af, op-en-af gewieg. Dis ons mikpunt.

Dis eers toe ek vollyf in die water is dat ek ontdek; handdoekstof was dalk nie die beste keuse vir my sexy swempakkie nie. Soos enige handdoek raak dit swaar as dit nat is en ek moet klou vir ’n vale om die broek bo te hou en alles wat moet in, binne te hou. In die kalm water, gaan dit darem beter.

Na ons heerlik geskommel en gewieg was vir amper ’n uur, noop die honger en dors ons weer strand toe. Op pad uit, my rug op die golwe gekeer, vang ’n yslike golf wat onverwags en onverhoeds uit die oppervlak rys, my agter die kop en rol my gat oor kop bollemakiesie. Al waaraan ek dink: hou vas jou broek. En dit doen ek ook. Met albei hande.

Dis eers toe ek my asem terugkry, na ’n geproes en gespoeg, en die soutwater uit my oë kan vee, dat ek besef: die broek is heel skeef, maar daar alles is darem toe. Alles wat egter in die bostuk moet wees, het ontsnap en uitgewip.

Ek kyk rond om te sien of iemand dit raaksien en sak vinnig terug in die water in, maar die golf trek vinniger terug en die water raak gouer vlak, as wat ek weer alles kan terug pak en toe trek. Kruip-kruip skuur my kniekoppe rou oor die sand, maar ek kom nie laag genoeg nie en die water is nie diep genoeg nie. Al hoe ek my skaamte kan bedek is om plat op my maag uit te strek.

Daar bly ek lê tot my sussie verstaan ek beduie dat sy my handdoek onder die sambreel moet gaan haal. Ek vra nie wie wat gesien het nie. Ek wil nie eers opkyk nie. Die res van die dag hou ek my jakkie aan en bly onder die sambreel. Die res van die vakansie dra ek my ou eenstuk swembroek. Elke dag. Nooit weer my eerste én laaste bikini nie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    23 April 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 44
Kommentaar telling: 558

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 125 gaste aanlyn

Bydrae Totale