Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KRONKELPAD

Deur Nico Schamrel
Datum gepubliseer: 23 November 2020 Aantal woorde: 2560 63 Kere gelees 4

Haar lyf is sy kronkelpad; ’n reis oor ronde kurwes, gladde rante en heuwels. Vyf perde galop op die kruin van ’n knopperige berg. ’n Veer se kielie in haar nek – tot sy palm streelsag afdraand gly en prikkelend glip oor twee sandduine.
’n Liefkoos-oomblik toe hy ferm teen die wal afbeweeg, haar voete in sy hande neem en sagkens, motories, senuweewortels ontwrig. Pêrels, klein en rond, is spikkels op haar lyf.
Sy – hoeri van die paradys – seenimf, halfgodin, Evasvrou. Asof bloed stol; ’n ommesientjie se vervulling, oorweldig, gelukkig. In ’n breukdeel van vervoering en sielsverrukking, toe storms deur haar lyf bars en sy die aardbewing deur haar lyf se landskap voel, gaan haar hart se deur oop.
Binne glip dít wat sy nog altyd wou keer. Haar hande gryp die lakens vas. Haar gesig versmoor in die satyn kussing. Klein snakke, sagte preweling, kreune – ’n vermomde kerming wat hygend sagter word.
Stilte.
Hy het klaar gereis. Trek ’n laken oor die landskap en soen haar totsiens.

Sy glip uit die warm gloed van netnou se passie en skakel die lig aan. Die hotelkamer ruik na soet smeerolie: katjiepiering, narsings en kamille. Haar skuldgevoel vreet vraatsig aan haar gewete en krap bose woorde uit op haar Christensiel; vuil, sleg, verleidster, Eva-vrou, duiwelskind.
Die foon se gehoorstuk voel koud teen haar oor.
“Naand, hoe gaan dit daar?”
“Goed dankie. Dit is al laat, werk jy nog?” vra die manstem.
“Ja,” sy twyfel vir ’n oomblik, “dit is ’n moeilike ondersoek, Heinz. Waarmee was jý besig?” Sy trek die laken stywer om haar kaal lyf. Hou toe die vuil, steek weg die sleg.
“Ag, nie veel nie. Wanneer behoort jy terug te wees? Daar is besigheid om te bespreek en …” hy bly vir ’n oomblik stil, “en ek moet oor ’n week weer ’n vrag na die Kaap neem,” antwoord hy senuagtig, snuif en gee sy gewoonte kuggie wat sy ongemak bevestig.
“Ek sal dan weer terug wees.” Haar hare voel klam toe sy met haar vingers daaroor streel.
“Dan sal ons gesels. Lekker slaap.” Koud, soos hy is.
“Nag, lekker slaap.”
’n Kaapse bries waai liggies deur die venster. Die straatgeluide gedemp; ’n mishoring, ver weg, musiek wat verdoof tussen stege en strate.
Haar gemoed lê verbrokkel – broodkrummels vir voëltjies. Vermolm haar eie self tot die gewete gesus word met woorde wat alles vergoeilik. Die vermoording van haar beterwete word opsetlik vertrap deur haar verpligtinge teenoor hóm – die reisiger van haar lyf se kronkelpad.
Heinz kom Kaap toe met ’n vrag.
Daar is ’n bloedrooi appel op haar bedkassie.
Hierdie keer het dit té ver gegaan. ’n Maand gelede was sy ook in hierdie hotelkamer.
Sy het kontak gemaak met Haltzbein.
“Ontvangs, kan ek help?” vra die nag-ouditeur.
“Ja, dit is kamer 304. EK wil graag van jul na-ure masseringdienste gebruik maak.” Haar stem bewe.
“Ons het vanaand net vir Karel Haltzbein aan diens, mevrou. Pas dit u?”
“Is Nuan Kuai nie aan diens nie?” sy was nie verbaas nie.
“Nee, mevrou, hy is eers môreoggend aan diens.”
“Dan is dit reg so. Ek sal gereed wees oor ’n halfuur, dankie.”
’n Warm stort, hare gewas en gedroog en die groot wit hotel handdoek om haar lyf gedraai.
Sy het geen idee hoe Haltzbein lyk nie, maar volgens Nuan is hy aantreklik.
Sy en Nuan het die vorige dag by die koffiewinkel om die hoek ontmoet.
“Wees versigtig,” maan Nuan haar, “hy weet hoe om met vroue te werk. Staal jouself teen alles.”
“Ek weet wat ek doen,” sê sy en neem ’n happie van die tuisgebakte appeltert, “en jý weet hoe om heerlike appeltert te bak.” Dan kyk sy ongeërg na die groot bak Pink Lady appels in ’n glasbak op die toonbank. Rooi wange, blink gevryf, Evasvrug.
“Vars appels, van …” sy oë kyk vlugtig rond.
“So gedink.” Sy vee haar mond af met ’n blou servet.
Nog tien minute dan is Haltzbein voor haar deur. Lipstiffie, maskara, ’n druppel muskaat agter elke oor. ’n Sagte swart satyn nagrokkie glip parmantig oor haar kaal kontoere. Sagte kant bandjies wat maklik afglip. Net genoeg om die verbeelding te prikkel en nuuskierigheid by ’n man aan te wakker.
’n Klop aan die deur, sagter as haar eie hartklop.
Haltzbein, ’n bruingebrande appelboer van Elgin met ferm hande wat weet hoe om die Evasvrug te vertroetel.
Uit ’n duisend is daar altyd een wat jou verbaas. ’n Doodgoeie wat oor niks besonders beskik nie. Wat so algemeen is soos ’n appel wat aan ’n boom hang, by wie almal verby stap. Half sigbaar, maar half versteek. Is dit nie juis dié appel wat nie te ver van die boom val nie? Die één appel wat dalk die meeste gif dra?
Haltzbein staan voor haar in die gang – ’n houer met masseer-olies in sy een hand en ’n bloedrooi appel in sy ander hand.

Vanaand was hul derde ontmoeting hierdie week. Haar derde appel. In sy houer met die olies was nog ’n appel. Is dit vir iemand anders bedoel, ’n appeltjie vir die dors bewaar?
“Nuan, jammer ek pla so laat. Kan ons môre ontmoet,” sy hoor hom gaap, “by die ou stasiegebou in Grabouw.”
“Wat het gebeur?” vra hy met ’n vaak stem.
Sy kyk na die appel op haar bedkassie.
“Hierdie keer het dit té ver gegaan.”

Die oggendson skitter pêrels oor groen appelbome, wingerde en rankrose. Sy gaan sit by ’n tafeltjie op die perron en kort daarna sluit Nuan by haar aan.
“’n Man wat bestuurder is op ’n appelplaas en ’n masseuse is – dit maak nie sin nie, Nuan,” sê sy met ’n gedempte stem.
“Hoekom móét dit sin maak? Ek is ’n speurder wat ’n masseuse geword word – maak dit sin?” vra hy en glimlag ondeund.
“Omdat jy moes,” sê sy skerp, “in elk geval was jy ’n masseuse in China – onthou dit. Jy was gewerf om vir die speurdiens te werk. Jy doen goeie werk, Nuan, maar iewers is iets nie pluis nie.” Sy sit haar sonbril op. Die oggendlig is skerp en weerkaats teen die wit gebou en perron.
“Dit was nie maklik om terug te gaan China toe na al hierdie jare hiér nie, maar ek moes uitspring en doen wat ek kon vir ’n bestaan. Kom ons vergeet daarvan. Kom ons gesels oor die saak en oor jou aand …”
“Vergeet van mý aand en konsentreer eerder op Haltzbein. Nie vir een oomblik dink ek hy smokkel nie. Al waarmee hy smokkel is met mens se kop …” Sy halt vinnig voor sy te veel sê van die vorige aand.
“Ek wil liewers nie weet nie. Moenie vir my sê jy het vir hom geval nie? Haltzbein is gevaarlik! Hoeveel keer moet ek jou nóg waarsku? Hu?” Nuan skud sy kop.
“Gevaarlike wat, Nuan? Smokkelaar, moordenaar, dief? Julle verdink hom van moord, maar terselfdertyd ook van smokkelary. Gee my die feite, nou!”
“Sagter, asseblief, Mary-Ann … Nou goed,” hy kyk rond om seker te maak niemand is in die omtrek nie, “Haltzbein, soos jy weet, kom van Duitsland. Hy was vir lank in Johannesburg en daarna verhuis hy na die Kaap. Hy was destyds in Duitsland aangekla van smokkel met verbode dwelmmiddels en het ook ’n klag teen hom gehad vir moord. Hy is vrygespreek – geen konkrete bewyse nie. Hy het na Suid-Afrika verhuis, maar ons was ingelig oor die twee sake. Hy het ’n verbintenis gehad in Suid-Afrika en ons vermoede is dat hy steeds ’n verbintenis met iemand het. Dit is wat ons probeer uitvis.” ’n Kelner kom neem ’n bestelling vir appelsap en ’n glas droë rooiwyn.
“Toe word ek die aas,” sy haal haar lipstiffie uit haar handsak en kleur haar lippe in, “om vrae te vra, uit te vis en wat nog?”
’n Glas koue appelsap, ’n glas droë rooiwyn waarin die son speels glimlag. Sy neem ’n groot sluk van die wyn.
“Vertel my wat presies gisteraand gebeur het en ek vertel jou die res. Reg?” Sy stem is meer simpatiek, maar verbeel sy haar of is daar ’n geheimsinnigheid wat iewers skuil? In sy donker oë is daar kommer.

Sy het gedoen soos per instruksies: ontvangs geskakel, gevra vir die masseuse en hy het na haar kamer gekom.
Toe hy binne was, het sy hom eers op sy gemak laat voel en gevra of hulle eers kan gesels. Dit het ’n rukkie geneem om hom sover te kry om minder formeel te wees. Komplimente, ’n verleidelike glimlag, ’n tuit van die mond, ’n asemhaling wat ritmies skaars hoorbaar was.
“Dankie, vir die appel,” sê sy en sit dit op die bedkassie neer, “gee jy vir al jou kliënte so ’n mooi rooi appel?”
“Ja,” hy tik met sy vingers op die stoel se armleuning. Senuweeagtig, angstig – dink sy.
“Dis ’n mooi gebaar. Ek het jou nie by die vorige twee geleenthede bedank nie en nog minder het ons eintlik gesels. Ek moet sê, dit was beide kere ’n wonderlike massering. Ek het só ontspanne gevoel, dankie.” Sy besef sy klink geforseerd en haal eers twee keer asem.
“As ek mag vra – wat doen ’n aantreklike man van Duitse afkoms op ’n appelplaas en waarom sal hy masserings doen na ure of moet ek liewers nie vra nie?” Sy glimlag soet/guitig.
Hy glimlag half verleë, maar sy sien die donker in sy oë. Hy hou op om sy vingers teen die armleuning te tik en vryf sy palms stadig oor die stoffering.
“Suid-Afrika is ’n mooi land en het baie mooi vroue. Kyk byvoorbeeld na jou – du bist einer von denen.” Daar is ’n vreemde nuanse in sy stem. “Ek is alleen op die plaas saam met ’n paar werkers en sommige aande kan vervelig wees. Ek het net gereken – waarom nie iets anders doen, wel …, as net vroue optel en bed toe vat nie? Waarom nie die spel interessanter maak nie … So eenvoudig soos dit.” So eenvoudig soos dit?
“Het jy heelwat kliënte?”
“Ek reis wel, indien nodig.”
“Reis? Jy bedoel na kliënte toe wat jou skakel?”
“Ja, maar ek bedoel ook ’n reis in my gedagtes, wat ook joue word. Elke massering is ’n reis na die onbekende – ’n plek van vervulling, waar jy volkomenheid in alles ervaar en tot die punt kom waar die einde van die reis ’n vooruitsig raak … tot die einde wat alle emosies, hartstog en verwesenliking oortref – wat niks meer eis van tyd en ewigheid nie.”
Sy voel die gloed deur haar lyf vloei; die klam van haar rug, die spanning van ’n senuwee wat pynlik strek oor haar lyf.
Sy glip uit die nagrok en strek haarself oor die koel wit laken. Nakend.
Neem my.
Klein snakke, sagte preweling, kreune – ’n vermomde kerming wat hygend sagter word.
Stilte.
Hy het klaar gereis. Trek ’n laken oor die landskap en soen haar totsiens.
“Die einde van die reis kom nog,” sê hy toe hy die deur agter hom toetrek.

Nuan is vir ’n oomblik stil.
“Ek is jammer oor wat jy moes deurmaak,” sê hy en leun vorentoe, “en dit ter wille van …” Hy staan op en drink die laaste bietjie appelsap, sit die glas terug op die tafel en stap ’n paar treë weg. Hy kyk na die Hottentots Hollandberge – blou tot teen die witgrys wolke – en draai dan om na haar.
“Haltzbein is nie ’n smokkelaar nie. Hy is ’n huurmoordenaar.”
Die rooiwyn in haar glas is dik soos bloed.
’n Laaste keer, het Nuan gesê.
“Waarom ek?” het sy gevra toe hulle na die parkeerarea stap.
“Kolonel se opdrag en …” toe swyg hy verder en verander die onderwerp, “en jy sal nie alleen wees nie. Onthou, Mary-Ann, ons weet wat ons doen, reg?”
“Tot môre dan,” groet sy.
Verdomp, sy haat sulke opdragte. Hierdie is haar laaste ondersoek. Sy wil uittree; ’n huis by die see, alleen. ’n Boek skryf oor al haar menigte ondersoeke en dalk ’n ander man ontmoet. Sy en Heinz werk nie. Geld uit die vervoermaatskappy is oorgenoeg. Dit is haar gevestigde besigheid op die kantlyn, ingeval dinge nie reg uitwerk nie en dit werk nie vir haar nie. Heinz is oorbodig. Daar is geen vonk nie.
’n Laaste keer maak sy haarself reg. Grimering, hare los en gekartel, ’n kort rooi satynnagrok.
Klop aan die deur.
’n Rooi appel in sy hand – Evasvrug. In sy donker oë brand ’n reislus tot die einde wat alle emosies, hartstog en verwesenliking oortref – wat niks meer eis van tyd en ewigheid nie.
Sy poog om nonchalant voor te kom, maar senuwees is knoppe saamgekoekte garedrade.
“Vertel my van jou reis tot die einde. Ek het gedink die reis eindig juis wanneer …” sy sluk aan haar eie speeksel, “… wanneer die volkome bereik word, maar dit klink of jy dit op ’n ander manier sien?”
“Maak jou reg, dan wys ek jou.” Hy glimlag verleidelik en kyk deurdringend na haar onder sy swart wenkbroue deur. Gluur hy?
Kwesbaar, haar rug na die vyand, uitgestrek. Sy hande wat oor haar rug streel, op tot by haar skouers, bak maak om die agterkant van haar soepel nek. Sy duime wat haar nekwerwels vryf, vingers wat liggies stywer teen die kante druk.
Dan volg ’n stywe greep. Een ruk en haar nek is af, maar sy stram teë en begin skop.
“Moenie roer nie. Lê doodstil,” fluister hy sag. Sy doen wat hy sê.
Die deur bars oop.
Nuan.
Een skoot.

Die kronkelpad slinger deur blou berge, ’n immergroen woud, verby plekke waarvan die name nie saak maak nie. Teen die helling af, ry sy stadiger om die uitsig te bewonder. Kalm blou see, wit branders wat speels teen rotse bars, skulpe wat blink op ’n ongerepte strand.
By die uitkykpos hou sy stil en klim uit. Die wind is ’n baba-asem deur haar hare. Haar nuwe tuiste. Sy maak haar oë toe en ruik die see met ’n diep asem; sout, vars, ’n vae en onbekendheid wat nog gestalte sal kry – met tyd.
“Ek is werklik jammer,” sê ’n bekende stem agter haar. Sy skrik en draai om. Sy het hom nie hoor aankom nie.
“Ek probeer nog alles verwerk, maar dit is só moeilik,” sê sy en kyk weer na die grysblou see.
“Hy wou jou dood hê en daarvoor was hy bereid om enigiets te betaal.”
“Of iemand te betaal,” voeg sy by.
“Heinz was ’n slinkse besigheidsman, Mary-Ann, maar nie slinks genoeg nie.”
“Daar was in elk geval geen vonk tussen my en hom nie. Met my uit die prentjie was die besigheid syne. EK weet steeds nie waar jý in die verhaal pas nie, meneer Speurder,” sy draai om en kyk in sy oë.
Alles leuens. Die verlede is ’n leuen, maar die hede is die waarheid.
“Sal ons langs die strand gaan stap?” vra hy, “Ons het immers iets om te vier.” Hy glimlag en trek sy hemp uit.
“Soos wat?” vra sy en kyk na die skrams wond op sy skouer.
“Heinz en Nuan is vandag gevonnis.
“Dan is dit eindelaas verby.” Sy sug.
“En ’n nuwe begin vir ons,” fluister Haltzbein.
Sy hand reis oor haar lyf; ’n spinnekop se kielie in haar nek, ’n liefkoos-oomblik waarin die reislus hunkerend brand tot ’n einde – wat niks meer eis van tyd en ewigheid.

UIT: Prente in my kop – Nico Schamrel




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 10
Kommentaar telling: 10

My werk wissel tussen fiksie, roman, komedie en erns. Verskeie van my kortverhale is gepubliseer in drie bundels - Vlerke, Ses Dae en Tydpalet - asook op verskeie platforms. Ek het ook 'n Croyez-benoeming ontvang vir 'n kortverhaal wat in 'n keurbundel verskyn.  Ek werk tans aan my eerste Afrikaanse kortverhaalbundel - Engela - asook 'n boek (komedie). http://pendit.co.za/

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 91 gaste aanlyn

Bydrae Totale