Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Koning Stefaans van Staden

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 18 Julie 2019 Aantal woorde: 2004 98 Kere gelees 2

Ek het van kleins af al ‘n probleem. Nee wag, kom ons stel dit eerder so: Die samelewing het van kleins af ‘n probleem met my. Sien, ek hou nie van harde handearbeid nie. Ek hou nie daarvan om iets op te tel en te dra nie. Ek hou nie van hardloop of selfs vinnig loop nie. Ek hou nie daarvan om iets met my hande te doen nie. Ek kan ure lank lê en kyk hoe iemand anders dit doen – maar net nie verwag dat ek dit self doen nie! Dit laat baie mense vir een of ander rede rooi sien. Veral my Ma wat my al reguit vertel het ek is “lui”. Maar sy’s verkeerd. Daar is ‘n baie eenvoudiger en ooglopende verduideliking vir my kondisie: Ek is ‘n afstammeling van koninklikes, wat beteken dat ek geen beheer het oor die feit dat ek nie iets vir myself wil of kan doen nie. Daar is ‘n gedruis onder die lesers soos wat hulle hulle oë vir my rol. Wel, na maande met my neus in boeke doenig met naslaanwerk kan ek uiteindelik bevestig dat ek reg was: Ek is die nageslag van ‘n koning. Nee, nie die Britse koningshuis nie. Ook nie Frans, Nederlands, Rusies of selfs Hebreeus nie. Ek is die afstammeling van die een en enigste Suid-Afrikaanse Koning van die Boere: Koning Stefaans van Staden. Aan my Ma se kant.

“Watse bog praat jy?” hoor ek julle vra. Dis die reine waarheid. Sien die ouens wat die geskiedenisboeke geskryf het, het baie hard probeer om Koning Stefaans uit te skryf asof hy nooit bestaan het nie. Vir redes. Ons sal later daarby kom. Maar ek het hom gekry. Daar in die nasionale argiewe – in wit en swart. Hulle het gedink niemand gaan hom kry nie. Hulle was verkeerd.

Johannes Stefanus Lafras Verematras van Staden is gebore 28 April 1882. As jy die sommetjies maak sal jy besef hy was moontlik die resultaat van ‘n viering van die einde van die Eerste Boereoorlog. (Maar wat sy ouers in hulle slaapkamer gedoen het is nie jou of my besigheid nie, so hoekom praat ons nou weer daaroor?) Hy was sy Ma se mooiste kind so sy was vreeslik beskermend oor die bloedjie. (Dat hy sy Ma se enigste kind was het niks met die prys van eiers uit te waai nie.) Sy het hom orals gedra waar sy gegaan het, totdat sy hom eenvoudig nie meer opgetel kon kry nie. Dit het toe nou beteken dat Stefaans eers op 15-jarige ouderdom leer loop het. (Ja, sy ma, Ta’ Klippies van Staden, was ‘n besondere sterk boere-antie gewees!) Sy het álles vir hom gedoen. Sy’t hom gevoer, hom aangetrek, hom gebad, sy skoolwerk gedoen en nog alles tussen-in. Al wat ‘n skindertong is het natuurlik bespiegel of sy Stefaans afgevee het waar daar af te vee was ook. Dit laat mens effe groen om die kiewe, so jy dink maar nie te hard oor die soort goed nie.

Daar is nie duidelikheid oor wat van Stefaans se pa, Johannes van Staden, geword het nie. Sommige meen dat hy sy goed gevat en gewaai het oor sy vrou en kind se vreemde gedrag. Ander merk dat Johannes min of meer presies dieselfde dag verdwyn het as wat die Royal hotel se kelnerin, Dubbel-D-Letta, verdwyn het. Wat ook al die rede was, Stefaans het nie ‘n vaderfiguur gehad nie. Dit was dus ‘n groot skok vir Stefaans se konstitusie toe sy ma in ‘n fratsongeluk dood is. (Motorkarre was mos nou maar ‘n nuwe verskynsel en Ta’ Klippies het ook nie geweet van kyk links en regs en weer links voor jy oor die straat stap nie. Stefaans se laaste herinnering van sy ma was die twee rooi strepe en een bruin streep wat sy in Kerkstraat gelos het. ‘n Sielkundige sal mos vir jou verduidelik dat dit waar van Stefaans se gedrag sy ontstaan gekry het.)

So is Stefaans van Staden alleen gelos sonder enige bemarkbare vaardighede. Of selfs basiese vaardighede. Alhoewel Stefaans geen boekekennis gehad het nie, was hy darem innoverend. ‘n Mens wie se hande nie van werk ken nie het maar altyd plannetjies om kos op die tafel te sit. Dis toe wat Stefaans by die politiek betrokke raak, want ‘n politikus se werk is mos om vir ander mense te sê wat om te doen. Stefaans het die regte mense botter om die mond gesmeer en kort voor lank was hy die gewildste jong man wat Pretoria nog gesien het. (Die feit dat hy sag op die oog was het ook baie gehelp. Dáái gene het ek nou nie geërf nie.) Noem sy naam voor ‘n jong dame en sy bloos rooi soos ‘n tamatie en al wat ‘n Pa met ‘n dogter is doen gereeld navraag of Stefaans nog hubaar is. Dit is ook dieselfde tyd wat die Tweede Boereoorlog tot ‘n einde gekom het. Alhoewel die Boere die Engelse oorwinning ter wille van vrede aanvaar het, kon hulle nooit aanvaar dat hulle die onderdane van die Britse koning, Edward VII, was nie. In die geheim is daar vergaderings gehou, melktert geëet en mampoer gedrink totdat daar besluit is dat daar ‘n Boere koning moet wees. (Die feit dat ‘mampoer’ in daai sin verskyn verduidelik ook die besluit wat gemaak is.) ‘n Maand en ‘n paar kerkraadsvergaderings later gebeur dit toe dat Stefaans van Staden deur die NG Moedergemeente se dominee gekroon word as koning Stefaans.

Die Erasmus familie skenk ‘n paleis (jy kan dié grys en wit gebou vandag nog sien as jy die Ooste van Pretoria inry) en Koning Stefaans trek baie gewillig in. Aanvanklik het dinge redelik goed gegaan. Koning Stefaans word hand en voet bedien deur onderdane en die Boere loop trots en vertel hulle het hulle eie koning – die Engelse se holle. Maar dis nie lank nie voor die mense agterkom Koning Stefaans se kop is nie lekker 2-3 nie. Hy moet orals in die paleis rondgedra word, en daar word ‘n groot klong aangestel om die koning te abba. As Koning Stefaans moet reis, dan ry hy nie perd soos ander mense nie want “die goed” is glo vuil en die galoppeerdery is glo net te veel vir die “Koninklike Juwele” wat volgens oorlewering baie sensitief was. (En, nee, ek praat nie van sy kroon nie.) Die antwoord was natuurlik om vir die Koning ‘n motorkar te kry, maar na ‘n histeriese geskreeuery oor sy ma se drie strepe, was dit duidelik hy sou ook nie sy voete in ‘n motorkar sit nie. Koning Stefaans moes toe nou maar noodgedwonge deur 4 sterk jong mans rondgedra word na waar hy wou wees. (Die versoek dat die 4 sterk jong mans net in lende doeke moes wees, het die wenkbroue laat lig, maar is afgelag as maar net nog een van Koning Stefaans se eksentrisiteite.)

Koning Stefaans se daaglikse dieet het basies bestaan uit gebak en die boere meisies van regoor die land het baie gewillig beskuit, soetkoekies, koeksisters, Hertzoggies, pannekoek en al wat ‘n ander soet ding is paleis toe gestuur. (Ek wil net noem dat Hertzoggies eers Stefaansies genoem is, maar toe Generaal Hertzog vir Stefaans uit die geskiedenis help skryf het, het hy die koekies sommer na homself vernoem.) Almal het gehoop dat húlle gebak die koning se hart sou steel en hy uit liefde vir soet goed vrou vat. Hulle sê mos die pad na ‘n man se hart is deur sy maag. “Hulle” is verkeerd. Een na die ander jong gespierde staljong is by die paleis aangestel. Nou as jy bietjie sukkel om tussen die lyne te lees: Koning Stefaans het mos nie perd gery nie, so daar was nie perde of stalle by die paleis nie. Dit was vir vele staljongens ook net so ‘n verrassing, en keer op keer is daar in die middel van die nag uit die paleis gevlug – kaalgat en spierwit geskrik – as ‘n nuwe staljong uitvind hoekom hulle eintlik daar was. Die mense het begin praat, so dat daar naderhand weer ‘n kerkraadsvergadering oor Koning Stefaans gehou is. Die antwoord was eenvoudig. Óf Koning Stefaans moes ‘n Koningin aanskaf, óf hy word onttroon.

Stefaans, mal soos wat hy was, het besef dat hy nie die gans wat die goue eiers lê moet misbruik nie, en kondig toe aan dat hy opsoek is na ‘n vrou. Maar om vir tyd te speel, dink hy toe ‘n plan uit: Hy verduidelik hy sal die badwater van al wat ‘n maagdelike dame is drink, en die water van die dame wat die lekkerste proe sal hy mee trou. Nou moet julle ook ingedagte hou dat dit kort na oorlogstyd was, so maagdelike meisies was daar nie veel om van te kies nie. Tog het die dames wat te lelik, vet of preuts was vir sulke dinge hulle badwater begin paleis toe stuur. Party het in parfuum gebad wat die water te bitter gemaak het. Ander het weer in bokmelk gebad, maar teen die tyd wat dit by die paleis kom was dit al iewers tussen jogurt en kaas en dus nie meer heeltemal ‘n drinkbare vloeistof nie. Die tyd het aangeloop, en soos die water gekom en gegaan het, het die staljongens, hofknape, skildknape en kamer knegte ook gekom en gegaan; Koning Stefaans steeds vrou- en kinderloos.

Die NG Kerk dominee se senuwees kon dit nie meer hou nie en hy het persoonlik Potchefstroom toe gegaan om ‘n pragtige jong meisie tussen die boere gaan soek. Hy’t ook met ‘n bietjie finansiële aanmoediging en politiek die pragtigste jong meisie daar gekry. Met pragtige jong meisie bedoel ek natuurlik een met kort hare, gemaklike skoene, plat bo soos ‘n strykplank en wat eerder mansbroeke gedra het. Sy was lief vir perd ry, jag en was gereeld per ongeluk aangespreek as “jong man”. Soos die geluk dit wou hê was haar naam Lukas – want die ou mense het mos Oupa se naam gegee vir die eersgebore, ongeag of jy nou mannetjie of wyfie was. Lukas is aangery Pretoria toe met ‘n enkele tassie onder die arm. Koning Stefaans was in ‘n hoek en reël toe nou maar noodgedwonge die troue. Nogal ‘n hele gedoente. Gaste en gebak van regoor die wêreld. Meer blomme as wat jy ooit by die Bloemfonteinse blommeskou sal sien. En dosyne jong mans wat vir een of ander rede in wit onderbroekies staan en die gaste koud waai met palmtakke.

Na die groot onthaal was dit tyd vir wittebrood hou. Koning Stefaans se gemoed was swart. Koningin Lukas haar bes probeer het om die regte rol te speel. Sy’t die wit spookasem-pofrok uitgetrek en op die bed gaan sit. Koning Stefaans het van die jong mans in die onderbroekies na die kamer toe laat kom.
“Dis warm!” Verduidelik Koning Stefaans toe aan sy bruid. “Hulle moet ons waai.”
“Dis hoog winter!” Het Koningin Lukas probeer keer.
“Jy verstaan nie.” Het Koning Stefaans gesug.
“Ek verstaan presies.” Het Koningin Lukas geantwoord.
Haar hart was ook seer. Iewers in Potchefstroom was ‘n plaasmeisie wat se hart ook seer was. “Ons leef in ‘n wêreld waar niemand verstaan nie. Maar ek verstaan en jy verstaan.”

Koning Stefaans het daardie aand sy plig as eggenoot nagekom. Ook maar net omdat die man wat daai palmtak gewaai het baie gespierd was. Die volgende dag was Koning Stefaans van Staden weg. Die palmtak-waaier ook. Die Kerkraad het vergadering gehou en besluit dat ‘n koningshuis ‘n Engelse konsep is, en nie gaan werk vir die Afrikaners nie. Koningin Lukas is terug Potchefstroom toe gestuur – net as Lukas. Lukas Steyn. Nege maande later is my Ouma Isabel gebore. Honderd jaar later moet ek vir mense probeer verduidelik hoekom ek nie harde handearbeid wil of kan doen nie. Dis dan in my blou bloed. Gelukkig hoef ek nie my voorliefde vir gebak te verduidelik nie. Daar’s darem niks so lekker soos ‘n vars Stefaansie nie – of soos julle dit sal noem: ‘n Hertzoggie.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Kiekies

    18 Julie 2019

    Feit of fiksie, makiesakie! Ek het heerlik gelees, gegiggel en gewonner!! Puik skryfsel hierdie, applous vir jou.

  2. Riaan Palmer

    18 Julie 2019

    @kiekies – BAIE dankie vir die gawe woorde! 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 65 gaste aanlyn

Bydrae Totale