Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kleingelowig?

Deur Ano
Datum gepubliseer: 24 Maart 2019 Aantal woorde: 965 110 Kere gelees 3

Ek het myself nog nooit as ʼn ‘groot’ Christen gesien nie (wat dit ookal mag beteken). Dit klink soos om net ʼn bietjie swanger te wees. In my gedagtes is mens ʼn Christen of jy is nie een nie. Ek het nog nooit breë bors aan elke paar ore verkondig hoe voorbeeldig ek elke Sondag in die voorste banke van die kerk sit en ten minste aan drie Bybelstudie groepe behoort nie. Eintlik sal ek dit nooit waag om Bybel versies op te sê nie en ken steeds nie die perfekte volgorde van die Bybelboeke nie. Daardie kennis is vir my ʼn blote bysaak, alhoewel daar vele ander is wat waarskynlik in ʼn geskokte floue sal neersak. Inteendeel, ek is bepaald enige skrifgeleerde se nagmerrie want ek swem meer as net dikwels stroomop deur baie goed openlik te bevraagteken.

Daarby gaan ek nie die ewige lewe op my uitgebreide Bybelkennis beërwe nie, maar op dit wat, en in Wie, ek GLO.

Maar baie onlangs het iets vir my duideliker as daglig begin word. In die lig van die huidige onsekere politieke situasie in die land, is daar baie mense wat vrees onbewustelik of dalk selfs doelbewus aanwakker. Hul motiewe is nie heeltemal duidelik nie, behalwe dat hulle oënskynlik wil hê almal moet veilig wees, of so sê hulle. Nou ja, diegene wat daardie boodskappe so dringend en aanhoudend aanstuur is almal mense na wie ek sou verwys as ‘groot Christene’. Diep gelowiges. Wat ek ook saam met die ontvang van die negatiewe inligting agterkom, is dat hul gewone lofgesange en dweperige boodskappies terstond ʼn stil dood gesterf het. Elke boodskap spreek van vrees vir die onvermydelike tragedie wat ons binnekort gaan tref..

En byna almal eindig met iets soos “as jy jou geliefdes liefhet, sal jy hieraan gehoor gee” en by ons organisasie aansluit of so iets. Bespeur ek dalk ʼn bedekte dreigement of vingerwysing?

Terwyl ek so rustig saam met die honde deur die veld stap en voel hoe die taai grassade aan my kaal bene plak, oordink ek die laaste boodskap met ʼn bietjie meer aandag. As ek dit nou reg onthou (want ek het in elk geval net die eerste paar reëls gelees voor dit na die asblik gestuur was) is daar nou oor ons arme, arme blankes ʼn reusagtige swart vloek uitgespreek. En die selfoon seine gons soos dit van die een na die ander oorgedra word. Ek kan byna hoor hoe die aanstuurder se tande uit vrees onophoudelik kletter. Ek wonder of sy nog snags slaap?

Matteus 14:31 Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Nou wil ek weet kleingelowige, waar is jou vertroue dan? Is jou/my/ons God dat nie soveel groter as die ander se voorvaders nie? Word jy (soos ek) dan nie daagliks herinner dat God jou styf in sy arms vashou nie? Voel jy dan nie veilig in daardie omhelsing nie? In my diepste binneste het ek ʼn rustigheid en vertroue in God het wat baie oënskynlik ‘groot’ Christene blykbaar ewe skielik nie het nie. Miskien voel daardie’s net veilig wanneer alles volgens hul plan verloop. Miskien het dit te doen met die vreemde ervaring van ʼn paar jaar gelede, en ek weet diep in my hart dat of my liggaam iets gaan oorleef of nie, ek (Ano) sal OK wees. Selfs nog tonne meer as net baie goed. Immers is my gees is altyd veilig by my Skepper en ek weet ek het geen vrees vir die dood nie. “Got a taste of it and it is out of this world!”

Ek is nie naïef of hou my nie blind vir ons unieke omstandighede nie, maar gaan ook nie beheer oor my lewe aan ʼn ander oorhandig en my bloeddruk of stres vlakke laat opjaag omdat hulle bang is nie. “Hulle” kan maar bang wees en hul sleepwaentjies pak. (ʼn Kennis moes ʼn tweede waentjie aanskaf want die eerste een is reeds tjok-en-blok vol gepak. Ek sê maar net.)

Mense wat in vrees lewe, doen dom dinge want in ʼn tyd wanneer jou brein oorspoel word met adrenalien, tree mens maklik ondeurdag op. Jy maak foute – DOM foute. Wil ek werklik iewers ingekamp word saam met mense wat angstig waghou teen die groot gevaar? En ek het al genoeg met adrenalien te doen gehad om presies die uitwerking daarvan te ken. Inteendeel, ek kan voel hoe my denke verdof wanneer ek erge spanning ervaar. Dus, dit is iets wat ek ten alle koste vermy, want die eerste ding wat ek vergeet is my naam en waarheen ek op pad is. Presies die goed wat mens nie WIL vergeet nie!!

En met sulke vriende het niemand eens vyande nodig nie. Met so ‘n vrees wat jou iewers heen jaag, gaan die liewe Afrikaners sommer self die see inhardloop.

Die hele ding wys eintlik terug na een enkele gedagte toe. Dit maak toe wel saak uit watter hoek jy na die lewe kyk. Het jy/ek/ons werklik nog daardie diep vertroue dat dit nie nodig is om soos ʼn malkop hoender rond te skarrel op soek na veiligheid nie? Want as ons werklik vertroue het, sal ons mos nie nodig hê om te twyfel aan God se beskerming nie, of hoe? En wie sê daardie veilige plek is werklik so veilig en die pad wat gebruik gaan word gaan oop en beskikbaar wees?

As jy elke dag leef asof dit jou enigste dag is, sal mens minder bekommerd wees oor hoe volgende maand of jaar gaan lyk. Vir my voel dit soos vertroue in ʼn groter plan vir my lewe, en elke ding pas op presies die regte tyd en plek in. As ek nie die hele tyd probeer om aan beheer vas te klou nie, is daar mos niks meer om oor bekommerd te wees nie.




  • TEMAS
    4 Kommentaar
    1. Viooltjie

      Maart 25, 2019

      Goeie skrywe, Ano. Ek voel ook nogal so 😊

    2. Kiekies

      April 30, 2019

      ‘is daar baie mense wat vrees onbewustelik of dalk selfs doelbewus aanwakker’ Man nou praat jy so na my hart. Daai bek moet jem kry.

      Kan gelowiges dan so benoud raak? Blykbaar. En benoude katte maak benoude spronge!

    3. Ano

      Mei 14, 2019

      Ek soek daai ‘Like’ knoppie! :-))))

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 39
    Kommentaar telling: 76

    Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur.... HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015)Guppy en Anderste Stories (2018)vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 33 gaste aanlyn

    Bydrae Totale