Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kiekies

Deur Estelle
Datum gepubliseer: 1 Maart 2018 Aantal woorde: 875 257 Kere gelees 3

Neef Hannes kom loer gister vinnig vanaf Suid-Afrika in en ons gesels heerlik oor die ou dae op die plaas, ons “skinder” met groot deernis en sentiment oor die familie se eienaardighede en verkneukel ons in die heerlikheid en nostalgie van onthou.
En ek besef weer eens dat ‘n meer gevorderde ouderdom soveel nuwe betekenis inhou – jy het ‘n verlede waaroor jy kan reflekteer, nostalgies raak, lag, huil – en familie het meer om oor te gesels…ons sien uit daarna om mekaar weer te ontmoet, van vooraf te leer ken en die drade op te tel – familie begin weer nuwe betekenis kry.
Net daar haal ek my albums uit en blaai deur my kiekies van lank gelede, meesal swart en wit, geneem met die ou Agfa boksie kamera. Die swart en wit kiekies wat ek met daardie ou kameratjie geneem het, het nog niks verbleik soos kleurfotos geneig is om te doen nie. Ek lag – en wil huil gelyk – oor die sorgeloosheid van daardie dae op die plaas. Ons vyf kinders op verskillende stadiums afgeneem. ‘n Hele swetterjoel nefies en niggies op ou Stompie, die donkie, my broer en pa op perde met name soos Ruby, Shapely en Byers, ek as baba saam met my ma op die grasperk voor die vyebome, ek as baie klein dogtertjie met die einste Agfa in die hand, my kleinboetie in verskillende stadiums en my pa wat ‘n handvol jakopregopblomme uithou, seker vir my ma…
Iemand bel my nou die dag omdat sy sien ek het in Keetmanshoop grootgeword en was in Stellenbosch op skool – sy ook – en ons gesels oor die ou dae. Ek haal my standard vyf skoolfoto uit van ons skooltoer na die Kaap in 1967 en ek kyk hom sorgvuldig deur. Die gesigte onthou ek almal, die name nie, maar ek was tóé slim genoeg om die name agterop te skryf…vir amper 50 jaar later se onthou. My beste vriendin van toe is vandag steeds my beste vriendin en haar sien ek redelik gereeld. Dit is een van die wonderlike dinge van ou vriendskappe, ons sien mekaar net elke soveel jaar, maar ons bly in kontak en deel steeds ons lief en leed met mekaar.
Ek blaai verder deur skoolkiekies van my Stellenboschjare, met die einste Agfa afgeneem en so helder soos die dag toe hulle ontwikkel is. En ek wonder wat van al my skoolmaats geword het en of hulle ook deur ou skoolkiekies kyk en onthou…
Dan kom ek by fotos van my universiteitsjare – meeste van hulle steeds swart en wit en ‘n klompie verbleikte kleurfotos, maar die onthou kristalhelder asof dit gister was. Die onthou van vele hennedinees met verspotte temas, jooloptogte, voorafgegaan deur die bou van vlotte, die jooloptog en daaropvolgende jooldans, saterdagaand-sokkies en huisdanse – ons uitgevat in die mooiste skeppings, lang vloeiende rokke met stolas, pragfotos in swart en wit geneem deur ‘n professionele fotograaf – en ek staan verstom oor die skoonheid en eerlike lewensvreugde van die jeug. Danksy Facebook kon ek ‘n paar van my ou universiteitsmaats opspoor, na ons mekaar in 1974 laas gesien het, 41 jaar gelede…en ek gaan van hulle weer opsoek in die Kaap. Ek wonder of ons net gaan hervat waar ons soveel jaar gelede afgebreek het – die fotos is daar om ons herinneringe vars en lewendig te hou, maar nogtans, daar het baie water in die see geloop en veertig jaar se meule het ons gemaal, ryper gemaak, ‘n verlede opgebou, dalk ‘n paar stowwerige geraamtes in die kas gelos. Ek weet nie wat om te wagte te wees nie, maar ek sien daarna uit om ou herinneringe uit te grawe, een vir een te herleef en ‘n leeftyd van veertig jaar se ervaring en gebeure te deel.
Wanneer ek reflekteer oor my lewe van 60 jaar, loop my kop wye en lang draaie deur die soet en suur van die lewe. Daar was baie vreugdes en ook hartseer tye, gebeure wat mens ryper en meer voorbereid op die klappe van die lewe moes maak, jou moes wyser maak. Maar steeds kom ek voor onbekende situasies te staan. Ek word steeds ontnugter deur mense se onsensitiwiteit teenoor kinders, bejaardes, ander mense, diere en die omgewing. Mense verstom my steeds en ek kom steeds voor situasies te staan waarvoor ek nie voorbereid is nie, wat ek nie verstaan of antwoorde voor het nie.
Maar uit elke ervaring leer ons weer eens iets nuut, vorm ons nuwe idees en ontwikkel nuwe hanteringsmeganismes. Ek glo onwrikbaar daarin dat elke ding met ‘n doel gebeur sodat ons steeds ryper kan word, nuwe ervarings opbou en beter toegerus raak vir dit wat die lewe ons mee gooi.
Elke nuwe lewensfase het sy eiesoortige uitdagings en probleme en elke keer moet ons wyses vind om dit te hanteer en die beste van ons omstandighede te maak. Daarom dink ek is dit belangrik dat ons altyd oop bly vir oortuiging en voortdurend aanpas by veranderende omstandighede. Ons kan nie in die verlede bly leef nie.
Geniet die herinneringe, gebruik die ervaring opgedoen, rou goed en diep oor verlies en pak die toekoms aan met ‘n positiewe uitkyk en ‘n oop gemoed. Laat die lig inkom en jou siel verryk en hou vas aan jou geloof, wat dit ookal mag wees.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 109
    Kommentaar telling: 68

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 755 gaste aanlyn

    Bydrae Totale