Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kettie Vark se jaar

Deur Lila Bloeisels
Datum gepubliseer: 27 Mei 2019 Aantal woorde: 1105 79 Kere gelees 3

Swart is die aarde, wit is die maan. Hier kom Kettie die vark op sy rooi fiets aan. Hy is gewapen met kettie en klip en skiet vir Dingaan dat sy boepens so wip.
“Hierts Kettie, kyk waar jy ry!” gil skaap.
Hy jaag soos die wind. Skaap het rustig langs die dammetjie gestaan en staar oor die water toe hy haar amper om ry en sy in die water beland.
“Ek het jou gewaarsku, hoor jy nie die klokkie nie?” roep Kettie so in die ry.
Skaap kyk hom agterna, die stofstreep is sigbaar en sy skud net haar kop. Daar gaan hy al weer, wanneer sal die manewalis ooit end kry? Elke jaar is vark, genaamd Kettie, op ‘n missie. Nie ‘n gewone missie nie, maar ‘n oorlog missie. As die jaar se dae langer word en die nagte korter is Kettie ‘n besige man.
Kettie se naels is gepolitoer, sy stert is gekrul. Die bietjie hare op sy kop staan stokstyf gegel van denneboom gom. Sy kettie hang om sy nek. Die man, is gefokus op daardie rooi fiets van hom.
Elke jaar kom al die kraaie van oorkant die dam, hier op Kettie en sy maats se plaas bymekaar. Hulle saai verwoesting en vreet soveel sonneblomsaad as wat hulle boepense kan en vlieg dan huis toe. Kettie en sy vark voorvaders veg al jare lank om die kraaie in toom te hou. Dit is nogal ‘n gesukkel, maar daar is altyd ‘n vark op die plaas wat uitstaan met die sekuriteit op die plaas.
Kettie volg nou al vier jaar die beroep en wat hy doen is net sy beste. Hy is ‘n gewone varkie wat vroeg uit die huis uitgeskop was, want hy was so bietjie, soos sy ma gesê het, hiperaktief. Elke jaar het hy ‘n ander plan om die kraaie te verjaag. Hy wil mos nou die boer trots maak op hom. Hy het sy taktiek verander en gesweer dat nie een kraai weer saad sal vreet van vandag af nie.
By die dam loop Gans en Hoenderhaan vir Kettie raak. Hulle is ook op pad na die dam om die kraaie te gaan verjaag. Hoenderhaan staan bo-op Gans se kop, vriende al vir jare lank.
Skaap kom aan gehardloop, uit asem. Sy sit haar linkerpoot op Kettie se skouer terwyl hy op sy fiets rus.
“Kettie, uhmmmm,” hyg sy.
Arme Skaap wou nog praat, maar stomme Kettie hoor haar nie. Hy is gefokus. Hy trap sy fiets staander af en klim grasieus af. Skaap staan toe maar eenkant en hou, maar haar bek. Kettie staan nou wydsbene en gluur die kraaie aan. Dingaan, die leier van die kraaibende, staan ook nou op aandag en gluur vir Kettie aan. Hulle masseur voorentoe.
Skaap, Gans en Hoenderhaan vergader gou in ‘n kring om vir Kettie in die penarie by te staan. Hulle maak ‘n span en is mos al jare lange vriende. Af en toe loer Skaap na Kettie wat nog net so staan met sy hande in sy sye.
“Kettie, so wat is die jou plan?” vra Skaap.
Kettie trek sy broek op, sit sy donkerbril op en haal sy kettie van sy nek af. Hy voel-voel in sy sakkie na al die ronde spoelklippies wat hy al die hele jaar versamel en blink gevryf het. Hy haal daardie spesiale een uit.
Hy loer oor die rante van sy donkerbril en sê in ‘n diep stem.
“Vandag, is die gort gaar! Ons sal veg tot aan die einde toe.”
Hy draai in die rondte en dans met sy kort pote dat sy hele lyf wip. Hy skreeu die oorlogskreed uit wat nog steeds inroep van die vorige nag. Sy drie vriende staan agter hom. Skaap met haar handsak, Gans en Hoenderhaan op sy kop. En onthou, Kettie is gefokus!
“Pewww!” skiet die klip uit die kettie. Almal kyk verslae. Die klip skiet en trek ‘n groot klip, en skram reguit terug na Kettie se kant toe. Skaap, Gans en Hoenderhaan koes en val op die grond neer, maar Kettie word getref deur sy eie blink gepoetste spoelklippie tussen die oë dat die donkerbril eenkant toe trek. Soos ‘n groot sak patats val Kettie pens en pote op die grond neer, uit soos ‘n kers. Daar is ‘n paar minute van stilte gewees.
Skaap, Gans en Hoenderhaan kyk na mekaar so in die lê en kon hul oë nie glo nie. Dieselfde ding het vir Kettie weer oorgekom net soos al die ander jare vantevore. Kettie kan net nie korrel nie en is al weer deur sy eie kettie uitoorlê. Die kraaie lag almal so lekker dat mens hulle tot ver kan hoor.
“Ai toggie gedorie waar, swart is die aarde en wit is die maand,” sê Skaap en skud haar kop heen en weer.
Gans en Hoenderhaan krap kop terwyl hulle sug. Hulle staan op, Gans haal soos oudergewoonte sy selfoon uit en bel vir boer om te kom help.
Boer kom aangejaag met sy bakkie dat die stof so staan. Hy haal sy vangnet geweer uit en met ‘n groot lawaai vang hy al die kraaie netso. Hulle is vas gepen op die grond met sy net. Boer stop hulle almal in die ou honderhok in dat jy net vere sien waai. Dingaan hang met sy voorvlerke aan die tralies. Mens kry hom eintlik jammer. Hopelik het hy nou ‘n les geleer. Boer gaan hulle almal op ‘n ver plek anderkant die dorp aflaai en almal se vlerke knip.
En so kyk al drie vriende na Kettie wat op die grond nog bewusteloos lê. Sy kettie is nêrens te sien nie. Die klippies lê almal gesaai op die grond.
“Gaan ons hom wakker skud of los ons hom net hier?” vra Skaap.
Nee ek sal hom wakker maak. Hoenderhaan skreeu dat almal se ore tyd. Kettie skrik en sit sommer penorent en hou dadelik sy seer kop vas.
“Sjoe julle ouens, het ons hulle?” vra Kettie.
Die drie kyk na mekaar met ‘n glimlag op hulle bakkies en sê, maar net, ja!
“Kettie, jy was vandag weer ons held gewees, jy het vir Dingaan geskiet dat sy boepens so wip. Hulle sal nie weer gou ‘n draai op die plaas kom maak nie,” sê Gans.
Hulle klap die stof van hulle lywe af en help vir Kettie op om huis toe te gaan.
Skaap sit haar vertroostende arm om Kettie. Hy stoot sy rooi fiets met seer kop en al. Skaap voel tog so jammer vir hom.
“Kettie Vark, dit was weer voorwaar jou jaar gewees!” Toe lag al vier vriende kliphard op pad huis toe.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 7
Kommentaar telling: 0

Ek hou baie van stories skryf, want stories neem jou na 'n ander wêreld. Geniet dit.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 62 gaste aanlyn

Bydrae Totale