Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kerkhof Kaskenades

Deur Ronnie
Datum gepubliseer: 15 April 2019 Aantal woorde: 292 244 Kere gelees 4

Jan van Kerker,
was ‘n harde werker,
vir die eerste vyf dae van die week
het jy sonder rus geswoeg en gesweet

Maar as hy tjaila op Vrydag,
onthou Vrydag is paydag,
ken Jan se voete een pad
en dis na die dorp se watergat.

Dan begin die man flink
sy loon wegdrink,
en kuier en praat
tot Vrydagaand laat.

Soos die voggies vrylik vloei
begin sy leeuemoed wegbloei
want hy moet sy weg deur die kerkhof baan
vanaand as hy huis toe gaan.

Jan se vrou se hart was seer
want aan Jan was geen salf te smeer,
dit het haar absoluut niks gebaat
om oor sy drinkery met hom te praat.

Sy is later so desperaat
sy gaan vra sy vriende na raad
en hulle beraam ‘n goeie plan
om haar te help met hul vriend Jan.

So gaan wag hul tussen grafte
onder wit lakens, dik van lagte,
vir Jan om huiswaarts te keer
want ‘n les gaan hul hom leer.

Jan het tot laat gesit en kater
hy was vol lawaai water
toe hy die kerkhof se hek ingaan
daardie aand met die sekel maan.

Jan loop met wankelbene
toe uitspring agter die grafstene
spoke wat vir Jan begin vermaan –
‘sweer jy los die drank en ons laat jou gaan’.

Jan staan versteen van skrik
sal ek hardloop, het hy gewik
maar besef daar is geen kans
terwyl die spoke nader dans.

Moet nooit ‘n bang ou onderskat
Jan se hande het klippe raak gevat,
‘n bang mens gooi ook nie mis
het sy vriende gou gewis.

Sy vriende moes die aftog geblaas
Jan was baas van die kerkhofplaas
terwyl hy klippe gooi na die skimme
skree hy ‘gate toe julle bliksimme’

– ware storie, name verander




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    16 April 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek

  2. Riaan Palmer

    17 April 2019

    Uitstekend! Ek het dit baie geniet. 🙂

  3. Kiekies

    22 April 2019

    Dit was nou voorwaar ‘n lekkerlees storie-gedig!!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 9

My gesin skilder My ma kan skilder, kon skilder. Rumatiek het die hande krom en vingers dom gemaak. Ouderdom het die oë swak en kleure en lyne dof gemaak. Sy het laat in haar lewe begin drink uit haar kunsfontein, maar hoe het sy nie gedrink nie! Groot slukke wat my huis se mure versier in elke vertrek ... nie net mý huis nie, maar al drie ons kinders sʼn, en sommer baie ander mense sʼn ook. My man se fontein borrel ongebruik. Daar is mos altyd eendag ... wanneer die kinders uit die huis is ... wanneer ons op pensioen is ... wanneer ons ons pas begin vertraag. Ons begin ons pas vertraag ... die kinders is uit die huis ... tyd loop uit. Diabetes steel stukkie vir stukkie sy sig en ongemerk begin sy hande bewe, soos dié van sy oupa, sy ma en sy broer. Gaan sy fontein te vergeefs borrel, of gaan hy, soos my ma, en ek, diep skep, laat in ons lewens? My oudste dogter skep bekers vol uit haar fontein. Sy teken geboue en paaie op rekenaarprogramme en geniet die presisie en wiskundige berekenings wat vereis word. Die gebou moet kan staan tot die aarde vergaan, en in dié pad mag daar nooit ʼn sinkgat val nie. Sy begin versigtig, soekend drink uit al groter wordende houers en teken pragtige meubelprente in my huis. ʼn Ou tafel wat ‘n belediging vir ʼn ashoop is, word die pronkstuk in die eetkamer.   ʼn Pot wat vergete en nutteloos in ‘n kas staan, word die fokuspunt in die sitkamer. Weggooi t-hemde , vloerlappe sê my ma, kry ʼn tweede lewe as ‘n lappiesdeken op haar bed. My jongste drink klein slukkies uit ʼn soortgelyke fontein as haar ouma. Op tekenpapier, met kwas en potlood, kryt en pastel, teken sy die mooiste prente. Prente? Nee kunswerke. Teken? Nee, dis meer as teken, sy skilder. Daar is nog baie leë kolle op die mure in my huis. Die vertrekke wat ousus met ou tafels en potte en dinge mooi maak kort nog iets – iets unieks – iets besonders – soos daai tekening van die uil wat sy in Graad 10 se kunsklas gemaak het ... of daai skets van haar gesig gekombineer met haar indiaan-spirit-animal wat sy vir haar Graad 12 kunseksamen ingegee het ... of daai skilder wat nog sluimer in haar hande en kunstenaarsiel. Jy begin vroeg, jy het baie tyd, drink diep my kind. En ek? Ek teken met woorde, uitroeptekens, vraagtekens, koppeltekens, kommas en punte ... op leë Word Document bladsye, ...op my laptop se wit skerm. Vir die grootste deel van my lewe het ek net vaal korporatiewe prente geteken – advertensies, persvrystellings, toesprake, pamflette, brosjures, interne nuusblaaie ... Ek kon myself nie help nie en het telkens die vaalgeit probeer inkleur, maar in die koue, grys wêreld van harde besigheid in die finansierings industrie, is swart en rooi syfers al kleur wat geduld word ... en my siel het stukkie vir stukkie gesterf. Maar nou ... nou het ek tyd ... die kinders is uit die huis ... ek werk nie voltyds nie .... nou wil ek drink ... diep drink uit my eie borrelende fontein .... ek wil kleurvolle, woordprente skilder .... op die leë wit skerm ... in Word ... op my laptop.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 98 gaste aanlyn

Bydrae Totale