Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Kardoesie se transformasie

Deur Lynne
Datum gepubliseer: 27 Mei 2019 Aantal woorde: 1489 83 Kere gelees 2

KARDOESIE se transformasie

“Kardoesie! Kardoesie, my lief!”
Madelein gooi die vadoek ergelik langs die wasbak neer en staan vir ‘n oomblik kop onderste bo voor sy hardop sug, haar kop optel, omdraai en vir die soveelste keer daardie dag gang af stap kamer toe.

“Wat is dit nou weer Gert-Jan?”
“Ag my ou vroutjie, ek is so jammer om jou weer te steur, maar ek is so lus vir ‘n koppie tee, dink jy jy kan vir my een aanmekaar slaan?”
“Ek kan seker…”

Vandat Gert-Jan sy vinger in die worsmasjien by die werk ingedruk het en sy baas besluit het die man is oormoeg en kort rus, lê hy, verbinde hand in die lug, in die bed. Dit is nou al bietjie meer as ‘n week dat hy haar so hiet en gebied en sy weet nie hoe sy die volgende paar dae gaan oorleef nie. Nogtans byt sy op haar onderlip, draai sonder ‘n woord om en loop terug kombuis toe.

Terwyl sy wag vir die ketel om te kook staar sy by die venster uit. Sy dra haar bynaam al byna lewenslank en dit het haar nog nooit gepla nie… tot nou toe.

Sy was nog maar ‘n kleine tjokker toe die welsyn haar by haar Hollandse oupa en ouma op die plaas in die Wes Kaap gaan aflaai het. Haar ma het jare tevore van die huis af weggeloop en êrens langs die pad swanger geraak. Sy kon Madelein net ses maande lank hou voor die dwelmduiwel maar weer die oorhand gekry het. Vir ‘n jaar of twee is Madelein weg gevat en terug gebring, maar later het die welsynwerker opgegee en omdat Madelein se ma nie toestemming wou gee dat sy aangeneem kon word nie, het hulle na familie begin soek. Hulle jarelange ondervinding het hulle laat besef dat die ou kleintjie nie ‘n kans staan saam met haar ma nie. Madelein was omtrent drie toe die welsynwerker met haar die eensame grondpad afgery het. Die gryskop oom en tannie was reeds op die stoep toe hulle stilhou.

Onbewus van die drama rondom haar bestaan het Madelein gedy op die plaas. Oupa het oral met haar op die plaas en in die dorp rondgery in sy ratelkas van ‘n ou bakkie en Ouma se skoot was warm en sag snags wanneer hulle voor die kaggel huisgodsdiens gehou het. Ouma se trane, toe die tyding van haar ma se dood uiteindelik kom, was vir klein Madelein ‘n rare ding en sy was te klein om te verstaan waaroor Ouma dan so hartseer is. Ouma se trane het met tyd opgedroog en die lewe het aangegaan. Madelein sou eers heelwat later uitvind wat presies gebeur het toe sy drie was.

Dit was juis hierdie rondryery saam met Oupa wat haar die bynaam besorg het. Oupa se laaste stilhouplek, nadat hy sy besigheid in die dorp afgehandel het, was die algemene handelaar op die dorp. Daar het sy saam met Oupa tussen die rakke op en af geloop terwyl hy al die items op Ouma se lysie bymekaar maak. Madelein was ‘n soet kind en het nooit vir iets gevra nie. Wanneer Oupa al sy inkopies klaar bymekaar gemaak en betaal het, het hy na Madelein gedraai, vir haar kleingeld in die hand gestop en vir haar gesê om vir die oom of tannie agter die toonbank te vra om vir haar ‘n kardoesie vol suikerlekkers te maak. Madelein was net toegelaat om een suikerlekkertjie in die bakkie oppad huis toe te eet. Tuis het Ouma die kardoesie hoog bo in die kombuiskas gesit vanwaar sy elke dag vir haar enetjie uitgehaal het. Daar was altyd net genoeg tot die volgende rit dorp toe.

Week na week het Madelein die kleingeld uitgehaal en gevra vir ‘n kardoesie met suikerlekkers. Dit het nie lank geneem voor die ou Griek en sy vrou haar Kardoesie gedoop het nie. Selfs Oupa en Ouma het naderhand aangesteek en haar Kardoesie begin noem. Vir Madelein was dit ‘n troetelnaam en ‘n klinklare bewys van Ouma en Oupa se liefde. Soveel so dat sy mettertyd geweet het sy is in een of ander moeilikheid wanneer Ouma haar op haar naam geroep het.

Oupa is in haar matriekjaar oorlede. Ouma is ‘n jaar later in haar slaap dood. Sy het te veel na Oupa verlang. Kardoesie is daardie nag saam met haar ouma dood en Madelein moes skielik groot word en na haarself omsien.

Gert-Jan, die nuwe blokman by Oom Piet se slaghuis, het toe reeds ‘n rukkie in Madelein se rigting geloer en die afsterwe van haar ouma het hom die geleentheid gebied om nader kennis te maak. Eers het hy uit medelye ‘n pakkie biltong kom aflewer en later het hy aangebied om ‘n kraan reg te maak en so aan en so aan.

Madelein en Gert-Jan is op haar een-en-twintigste verjaarsdag getroud. Madelein het die plaas verkoop en vir hulle ‘n huis op die dorp gekoop. ‘n Swetterjoel kindertjies is een na die ander gebore. Madelein was altyd tevrede en het stil-stil haar gang gegaan – tot so twee jaar gelede. Die vier oudste kinders het matriek geslaag, twee het gaan werk en twee het gaan studeer. Met net die twee jongstes nog in die huis het Madelein skielik meer tyd op hande gehad. Tyd om te dink en tyd om haar omstandighede te betrag.

Toe Oom Piet skielik een nag in sy slaap sterf moes Gert-Jan die slaghuis vir ‘n ruk bestuur. Madelein het hulle spaarrekening geraadpleeg en aan Gert-Jan voorgestel dat hulle die slaghuis koop. Gert-Jan het hierdie kant toe gepraat en daardie kant toe gestry. Madelein was egter vasberade dat hulle die slaghuis koop, sy salaris het maandeliks skaars kos in hulle monde gesit en sy moes gereeld in die res van haar spaargeld, dit wat oorgebly het van die plaas se verkope, in ploeg om die kinders se skool- en studiegeld te betaal. Gert-Jan het later ingegee en gesê dat hy die prokureur sal gaan sien. Wanneer Madelein hom daarna vra het, het hy met lang onbeduidende stories gekom oor die boedel wat nog nie afgehandel is nie en so voort. Ses maande na Oom Piet se dood hoor Madelein egter by haar buurvrou dat die slaghuis reeds verkoop is en dat die nuwe eienaar aan die einde van die maand gaan oorneem.

Madelein was nog nooit werklik kwaad vir Gert-Jan nie, maar daardie dag was sy woedend. Toe Gert-Jan daardie dag by die agterdeur instap was sy reg vir hom.

“Jou lae lak van ‘n leuenaar…”
“Kardoesie wat is dit met jou, my lief?”

Hulle argument het tot in die vroeë oggendure geduur. Die volgende oggend was Gert-Jan weer sy joviale self werk toe, so asof niks gebeur het nie.

Madelein is so verdiep in haar gedagtes dat sy nie eers die ketel hoor fluit nie.

“Kardoesie, waar is jy my skat? Daardie teetjie trek darem nou al lank…”

Iets knak in Madelein. Soos iemand in ‘n beswyming loop sy gang af.

“En nou Vrou, waar is die tee…? Kardoes, wat gaan vandag met jou aan…?”

“Ek is nie jou Kardoes of Kardoesie nie…” Met geen bewustheid van haar dade nie, slaan Madelein die eerste hou met die swaar koekroller, “Net mense wat my lief het en nie vir my lieg nie mag daardie naam gebruik…” nog ‘n hou, “jy is ‘n slegte, luie, leuenaar, slapgat javel…”nog ‘n hou…

Gert-Jan probeer oor die bed wegrol, maar sy stil, liefdevolle vrou is buite haarself.

“Vir jou is ek niks anders as ‘n dekselse bodemlose bruinpapiersak waaruit jy net kan uithaal, wel ek is leeg, leeg, hoor jy my…” De volgende hou vang Gert-Jan bokant sy linkeroog en uiteindelik verslap hy en oorval die donker hom.

NASKRIF : Die verhaal van die vrou wat haar bynaam so gehaat het dat sy haar man met ‘n koekroller toegetakel het, het vir ‘n wyle in die plaaslike koerantjie vir ligte vermaak gesorg, maar die wat van beter geweet het, het geweet dat daar daardie dag ‘n baie nodige transformasie plaasgevind het in ‘n vrou wat verdien het om uiteindelik uit haar kokon bevry te word. Ons sluit dus af met die laaste aflewering van hierdie verhaal:

Dit was reeds middag toe die ambulansmanne met Gert-Jan daar weg is. Madelein was besig om middagete vir die kinders voor te berei toe hulle daar aankom. Sy het hulle gang af beduie en aangegaan met die kospotte.

Gert-Jan het herstel en is terug huis toe, moontlik omdat hy nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. Maande later het die nuwe eienaar van die slaghuis se vrou besef dat sy nie uitgeknip is vir ‘n klein dorpie nie en het Madelein die slaghuis by hulle gekoop. Gert-Jan moes toe maar teen wil en dank vir sy vrou gaan werk en nooit ooit weer het hy (of enige iemand anders) dit gewaag om vir Madelein Kardoesie te noem nie.

Kopiereg : Lynne Lexow




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    27 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Riaan Palmer

    28 Mei 2019

    Oulik! 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 10

Skrywer, dromer, kunstenaar, dromer, ontwerper, dromer, naaldwerkster, dromer, ma, dromer, ouma, dromer, lewensreisiger, dromer...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 99 gaste aanlyn

Bydrae Totale